Wie is dan Afrikaans se taalmakers?
“Dis ek en jy wat daagliks Afrikaanse e-posse skryf, dis die leksikograwe en terminograwe, die subredakteurs en vertalers, die skrywers van liedjies en e-posse. Alle Afrikaanstaliges wat talig besig is om die taallig brandend te hou.”
– Prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie.

Voorblad van die 1917-AWS

Voorblad van die 2017-AWS
In die voorwoord van die 1917-AWS skryf die samestellers: “… want wil iemand uiting gee aan sij siel en gebeur dit nie deur middel van sij siel, en gebeur dit nie deur middel van sij moedertaal nie, dan staan sodanige taalvorm tussen hom en die uitdrukking van sij diepste wese… vanself dus wil ons sôre dat ons taak in ieder opsig tot sij reg kom; dat dit die draer word van ons kultuur…”
Na ure se bloedsweet, die “kers aan drie kante brand”, baie praat en ’n paar driftige debatte oor of dit nou Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse woordeboek (teenoor *Afrikaans-Engelse/Engels-Afrikaanse woordeboek); iemand is ’n handvol (teenoor *hand vol); skimmelperd (teenoor *skimmel perd) is, is die nuwe AWS – daardie onmisbare boek wat die kopseer uit spelling haal – nou kant en klaar en reg om sy ereplek op jou lessenaar in te neem.
Alhoewel hierdie nuwe 2017-uitgawe omvattend bygewerk is, neem die AWS nie elke Afrikaanse woord op nie. Dit is bloot ’n lys woorde wat moontlik spel- of skryfprobleme kan veroorsaak. Die AWS skryf ook nie voor watter woorde in Afrikaans gebruik mag word en watter nie. Daarom is dit belangrik om die AWS altyd saam met en aanvullend tot verklarende woordeboeke soos die WAT en die nuutste HAT te raadpleeg. En omgekeerd. Soms word woorde in die AWS opgeneem omdat dit nuwe woorde is wat erkenning verdien en soms word woorde geskrap omdat dit in onbruik verval het of omdat dit nie meer spellingprobleme oplewer nie.

’n MOET op jou boekrak
Die elfde uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), saamgestel deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is vanaf 19 Julie 2017 beskikbaar. Dié uitgawe sluit talle nuwe woorde in en reëls is aangepas en vereenvoudig om spelling en skryfwyse makliker vir gebruikers te maak. Jy kan o.a. uitsien na die volgende:
- Die nuutste woorde om hedendaagse tegnologie en ontwikkelinge in die samelewing te verwoord.
- Leenwoorde of nuutskeppings waarvoor daar nie Afrikaanse woorde is nie. Voorbeelde sluit in: hommeltuig, meem, selfie en skermgreep, bewarea, Bricsland, brownie, muffin en venue.
- Nuwe woorde uit Afrikaans se gebruiksvariante is ook opgeneem, byvoorbeeld antie, gangster en poenankies.
- Reëls wat verander… soos onder andere die afstandsamestellings wat voortaan slegs met ’n koppelteken geskryf word (hoof- uitvoerende beampte, reuse- politieke vergadering) en die multiwoordeiename in samestellings en afleidings wat behou word (Derde Wêreldse in plaas van Derdewêreldse).
- Hoe om leestekens reg te gebruik en die kopseer word uit die trappe van vergelyking gehaal.
- ’n Lys Oosterse plekname, landname met geldeenhede en ISO-kodes.
- Die wetenskap vind sy regmatige plek in Afrikaans… met name van elemente in die periodieke tabel in Afrikaans en skryfhulp vir die SI-stelsel.

Eindredaksie van AWS-11 tydens die sitting in Januarie. Vlnr agter: dr Frikkie Lombard (WAT), Jana Luther (HAT), Sophia Kapp (VivA), prof Gerhard van Huyssteen (voorsitter) (NWU, VivA), Suléne Pilon (UP). Voor is Annemie Stoman, AWS11 se toegewyde redakteur en hoof van Pharos.
Altyd byderhand
“Die AWS is ’n kenteken van Afrikaans se lewenskragtigheid in ’n digitale wêreld – ’n dikke boek wat ook aanlyn beskikbaar is vir ’n ieder en elk wat Afrikaans wil skryf.”
– Prof. Van Huyssteen.
Die nuwe AWS is volledig omgeskakel in digitale formaat, met behulp van Pharos Woordeboeke, Tswane DJe en die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Noordwes-Universiteit. Dus kan jy jou vinger as’t ware altyd op die knoppie hou, selfs al is jy van rekenaar en woordeboek geskei en het jy net jou slimfoon byderhand.
Liefdestaak
“Hierdie uitgawe van die AWS is ’n eerbetoon aan die tientalle taalkenners wat oor ’n tydperk van ’n eeu as lede van opvolgende Taalkommissies ’n vaste plek aan Afrikaans gegee het,”
sê dr. Dionē Prinsloo, uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die nege lede van die huidige Taalkommissie, akademici sowel as taalpraktisyns, het sedert 2009 meer as 700 uur slegs aan gesamentlike vergaderings bestee om die AWS op te dateer – sonder enige vergoeding.
Bestellings
As jy dalk ver van ’n goeie boekwinkel af woon, kan jy gerus jou AWS sommer by NB Uitgewers bestel.
Navrae: henk.viljoen@nb.co.za
Het jy geweet?
- In totaal is daar 5 704 mensuur se vergadertyd aan die nuwe AWS-11 spandeer. (Dit sluit reistyd uit, asook ure en ure se navorsing en ander werk wat lede tuis doen.)
- Besluite word meestal geneem op ’n konsensusbasis – d.i. lede praat en praat en praat tot almal oortuig is (of nie) van ’n bepaalde standpunt.
- Daar is in totaal 21 715 kopieë van AWS-10 (die vorige ene) verkoop.
- Media24/Naspers gaan 1 000 kopieë van AWS-11 vir skole oor die hele land skenk.

Die Afrikaanse Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is die amptelike liggaam vir die standaardisering van Afrikaans. Die huidige TK bestaan uit vier vroue en vyf mans. Hulle is: prof Herman Beyer; prof Frank Hendricks (ondervoorsitter); me Sophia Kapp; dr Frikkie Lombard; dr Phillip Louw; me Jana Luther; prof Marné Pienaar; me Suléne Pilon (sekretaris) en prof Gerhard van Huyssteen (voorsitter).
Taalkommissie se Facebookblad: https://web.facebook.com/Taalkommissie?_rdc=1&_rdr
Nog wenke vir eksieperfeksie spelling:
- Laai die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA ) se app op jou selfoon/tablet af. Die woordelys van die AWS is deel van die app.
- Jy kan inteken op ’n aanlyn woordeboek, byvoorbeeld die nuwe HAT en die WAT, of kry hierdie woordeboeke op VivA se webwerf.
- Gebruik ’n goeie speltoetser, soos byvoorbeeld Afrikaans SkryfGoed.
- Skryf in by Beter Afrikaans en leer speel-speel meer oor spelling. Jy kan ook die Beter Afrikaans-app in die Play Store of App Store aflaai.