
Aangename kennis
Vriende en familie, toekomsdrome maar veral musiek, is die dinge wat Danie du Toit soggens uit die bed laat spring. Hy is een van die stigterslede van die gewilde musiekgroep Spoegwolf wat in 2012 gestig is. Danie het aan Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer en is tans besig met sy MA (Geskiedenis) aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy ook klas gee. Hy dien tans op Huis Vesta se HK as die hoof van die seniorskomitee. In 2015 is die HB Thom-beurs aan hom toegeken vir uitstekende prestasie op verskillende gebiede wat kultuur, leierskap en akademie insluit. Danie se pad was deurlopend met musiek verweef en op vyftienjarige ouderdom het hy die musiekgroep Ysterkoei help stig wat in 2007 die Rockspaaider “Battle of the bands” gewen het. In 2015 was hy een van die beoordelaars van die ATKV se Liedjieskryfskool. Danie se belangstellingsveld strek veel verder as net musiek. Hy het die Kaapse Fietstoer twee maal voltooi en was ook in 2015 deel van Maties se roeispan.
Hoe lyk sy Afrikaans?
Danie beskryf sy Afrikaans in drie woorde: soos Indiana Jones.
Hoe leef hy in Afrikaans?
Alhoewel hy deesdae by die Universiteit van Stellenbosch meestal in Engels klas gee, maak hy musiek in die taal waarin hy grootgeword het: Afrikaans.
Sy projek:
Vir Danie is sy betrokkenheid by Spoegwolf, ’n groep wat Afrikaanse musiek maak, besonder lekker. Hy is verantwoordelik vir die skryf van die meeste lirieke en is ook die sanger en kitaarspeler van die groep. In 2013 is Spoegwolf by die MK-toekennings as die beste nuwelinge aangewys. In 2016 het die groep ’n Ghoema-toekenning ontvang vir die album Somer in die kategorie Beste Alternatiewe Album. Danie en ’n goeie vriend, Marius Boonzaaier het ’n musiekskool begin in die Middelvlei-gemeenskapsaal waar hul kinders uit die Devonvallei leer kitaar speel. Dit is gedoen in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se Maties Gemeenskapsdiens. Danie was tot aan die einde van 2015 deel van die projek. Enigeen wat hierby betrokke wil raak, kan op Facebook meer hieroor uitvind. Spoegwolf het in Junie 2017 hulle nuwe CD, Die donker toring, vrygestel. Die CD kan bestel word by: https://shop.spoegwolf.com/collections/all
Maak gerus kontak:
Stuur ’n e-pos aan danie@spoegwolf.com of skakel hom op 082 497 3006.
Besoek Facebook: www.facebook.com/spoegwolf of https://www.facebook.com/MiddelvleiMusic/?fref=ts