Dorp van die jaar - inskrywings

Die kompetisie het nou gesluit.

Ontmoet die wenner ...

Kyk hieronder na die inskrywings ... 

 

 

Albertinia  •  Beaufort-Wes  •  Bloemfontein   •  Bredasdorp  •  Bultfontein  •  Hartenbos  •  Hoopstad  •  Kuruman  •  Lichtenburg  •  Lindley  •  Mctaggerskamp  •  Meyerton  •  Mosselbaai  •  Murraysburg  •  Namakwaland  •  Onseepkans  •  Orania  •   Phalaborwa  •  Pretoria   •  Randfontein •  Riebeeckstad  •  Slangrivier  •  Stilbaai  •  Swellendam  •  Tzaneen  •  Upington  • Virginia  •  Vryheid  •  Walvisbaai  •  Welkom

 


Albertinia

 

Theuns Coetzee van Albertinia het 'n passie vir volstruise en het sommer drie inskrywings gestuur.

Albertinia: Kiekiesdorp. Volstruise.

Theuns Coetzee: Langnekstories. Ou Langenhofie Volstruis van Oudshoorn se wêreld was sy lewe lank ‘n man wat nie kon stilsit nie en het altyd gehunker om groener weivelde anderkant die berg na die see se kant toe, te gaan soek. So land Langenhofie toe op Tuinplaas en omdat hy baie betroubaar lyk, word hy aangestel as wag. Sy werk behels sekuriteit en algemene toesig oor die voertuie en gaste wat die plek besoek. Na ‘n paar weke raak dit darem maar baie eensaam en veral in die aande en naweke mis hy sy familie en vriende. Hy laat kom toe vir Floozie en reël dat oom Dik Faan haar sal deurbring met sy geel lorrie. Floozie is ‘n besondere sjarmante en aantreklike dame van edele inbors en stam uit ‘n baie goeie familie met ‘n stamboom wat sover terugstrek as tot kort na Jan van Riebeeck se eerste volstruise. Die familie van Floozie geniet baie aansien in Oudtshoorn se volstruisgemeenskap. Of dit nou toeval was sal ons nou nie weet nie, maar sy arriveer op Valentynsdag hier op Tuinplaas. Die mooie dame gehoed en geveer en getooi volgens die nuutste mode en daar is liefde in die lug met die eerste oogopslag. Floozie laat haar ook nie twee keer nooi nie en trek sommer baie gou by Langenhofie in sy mooi houthuisie in. Onnodig om te sê, die liefde het geblom van dag een af en Langenhofie se glimlag het al breër geword en sy oë al blinker as Floozie so op en af paradeer met haar donkerbril en bloedrooi lippe. Oom Dik Faan wat haar met sy geel lorrie gebring het, kry toe bietjie teëspoed met sy lorrie se ratkas en word genoodsaak om ‘n ruk lank oor te bly om vir die parte te wag wat van Kaapstad bestel is. Intussen kry hy ‘n tydelike werkie op Tuinplaas. Hy het baie ondervinding van tuine en groente plant en word nuttig gebruik in die tuin. Hy staan dikwels by die hek om mense welkom te heet en geselsies aan te knoop. Kyk uit vir hom as jy Tuinplaas besoek, want hy het toe ook maar ingetrek en die geel lorrie steek vierwiel vas op Tuinplaas. Drie gelukkiger volstruise sal jy nêrens kry nie en volgende keer vertel ons julle van die nuwe aankomelinge op Tuinplaas. Groete van huis tot huis. Vollie Volstruis."

VOLSTRUISSTORIES Die lewe op Tuinplaas is rustig en vredevol. Oom Dik Faan se geel lorrie se parte het gekom en hy het ‘n ou vriend met die naam Mekeniks gevra om hom te help met die herstelwerk en gou-gou was die foute en lekplekke “gefieks” . Antie Stienie van Woudshoorn (oom Dik Faan se houvrou) het laat weet hy moet haar kom haal, want agter elke man staan daar mos darem n bekwame vrou en sy dink hy het haar nodig daar op Tuinplaas om agter hom te staan. “Want agter elke volstruis...”. Vrydagmiddag val hy en Mekeniks in die pad. Hy ag dit gerade om sy werktuigkundige saam te neem vir die wis en die onwis op die pad. Floozie en Langenhofie is nog baie gelukkig en tevrede op Tuinplaas. Toe die broeiery begin, besluit die twee om vir hulle ‘n nes bietjie eenkant te gaan maak - hoog in ‘n boom nie baie ver van die besige N2-snelweg nie sodat hulle lekker kan sit en uitkyk vir al die karre, motorfietse en trokke wat verbyjaag. Dit is mos sommer baie beter as om daar eenkant in afsondering plat op die grond in die stof en sand te sit. Nou gaan die dag ook sommer vining om. As julle op die N2 verbyry, kyk uit vir haar. Julle sal haar glimlag sommer van ver af sien en sy sit hoog en droog daar op haar platformpie met haar hoed en donkerbril op, want die son is darem onmenslik warm. Al lyk haar nes soos ou Swart Kraai s’n, met al die blinkgoed en vlaggies, is sy baie trots op Langenhofie se kunstige bouwerk. Intussen het oom Dik Faan en Mekeniks baie gesels op pad en planne beraam om ‘n eie vervoerbesigheid op die been te bring aangesien hulle nou byna elke week familie moet aanry en oom Dik Faan het nou tot ‘n voltydse werktuigkundige tot sy beskikking. Hulle besluit toe na baie oorweging en bepeinsing op die naam: Vinnige Faan se veilige verantwoordelike vervoer (Afkorting: vFvvv). Dit is vir hulle die beste beskrywende naam vir die onbaatsugtige diens wat hulle gaan lewer. By Woudshoorn se Volstruisplaas aangekom, is Antie Stienie se “soetkyste” gepak en haar susterskind by name Lady Dye het besluit sy gaan saam, want hierdie avontuur gaan sy nie misloop nie! Toe die bagasie gepak en die familie wat agterbly almal gegroet is, val hulle die volgende dag vroeg-vroeg in die pad. Die geel lorrie gee weer probleme. Die enjin oorverhit en hulle moet kort-kort stilhou om water in te gooi. Dit gaan maar baie stadig so met al die stilhou en wag. Tot oom Dik Faan se ontsteltenis ontdek hy later die middag dat die twee wyfies elk ‘n eier gelê het agter op die bak en hulle verseg om af te klim. Hy en Mekeniks dra toe maar droë gras en stokkies aan en probeer die twee so gemaklik as moontlik te hou. Hulle arriveer lank na die son gesak het op Tuinplaas - doodmoeg en honger, maar die eiers het darem heel gebly. Antie Stienie het vroegoggend haar krullers in die hare en Lady Dye haal haar juwele en serpe uit om haar koninklike voorkoms gestand te doen. Oom Dik Faan is op sy pos by die hek en groet almal wat inkom en Mekeniks is klaar al weer hard besig by die geel lorrie om probleme uit te sorteer. Die lewe hier op Tuinplaas raak by die dag interessanter en elke dag het nuwe uitdagings. Tot volgende keer - Groete van Huis tot Huis. Vollie Volstruis

LANGNEKSTORIES Baron van Groot Vogel is van die eerste aankomelinge op Tuinplaas. Waar die titel “Baron” vandaan kom kon niemand met sekerheid se nie, maar dat hy ‘n baie gesiene man is met groot aansien en bewondering, kan niemand oor stry nie. (Daar word beweer dat daar iewers in die verlede ‘n paar blink klippies op sy pad gelê het en of hy hulle nou opgepik en ingesluk het kan niemand met sekerheid sê nie, so ons laat die gordyn oor die verlede sak.) ‘n Verkiesing word uitgeroep en die man wat alles hanteer, is natuurlik die Baron. Hy hanteer self die stembriewe, want niemand anders is bevoeg om dit te doen nie. Sommige stembriewe vul hy sommer self in, want baie van die Vogels kan nog nie lees of skryf nie. Toe dit by die tel van stemme kom, hanteer hy ook sommer die ou spulletjie met gemak. Na afloop van die stemtelling, word Baron von Vogel as die eerste president verkies. Hy wen loshande die eerste demokratiese verkiesing. Die parlement moet nou saamgestel word. Baron verteenwoordig die o.v.v.k. (onafhanklike voëlverkiesingskommissie) en die eerste minister wat aangestel word is ‘n dame met die naam van Marilyn. (Haar grootste bate natuurlik haar lyf en haredos.) Sy word aangestel as minister van almal se sake. Die volgende aanstelling is Blitzvogel met die bynaam van Slakkie, want hy was nog nooit die skerpste potlood in die pakkie nie, maar ‘n dierbare voël. Hy word minister van ontwikkeling, vermeerdering, vinnige aanwas van getalle en behuising genoem. Hy is nou wel bietjie stadig, maar baie betroubaar. Daar word nou hard gewerk om al die owerhede in kennis te stel van die Republiek genaamd R.O.A.R (Royal Ostrich Ancestral Republic) wat vir die vogels op Tuinplaas gestig is. Daar is baie briewe wat moet uitgaan en baie administratiewe werk wat gedoen moet word. Baron het ‘n hele paar sekretaresses aangestel om te help. Die keuring van die dames is deur hom behartig en onnodig om te sê hulle is almal iets vir die oog, want die beeld wat hy na buite moet uitsit moet goed lyk. Almal op Tuinplaas is gelukkig. Vir sommige gaan dit bietjie vinnig en almal hou nie mooi by met al die verwikkelinge nie, maar hulle het baie vertroue in hulle president. R.O.A.R is die beste ding wat met hulle kon gebeur. Hulle rek hulle nekke net al hoe langer en tel hulle koppe ekstra hoog op en jy sal nie sommer daardie gelukkige glimlagte afgevee kry nie. Tot volgende keer. Groete van huis tot huis.

   
  

  Lees meer ...

 

 

 

Beaufort-Wes

 

Liedjiesdorp: Afrikaanse musiek is gewild.

Muhammad Plaatjies: Ons dorp Beaufort-Wes is ‘n Afrikaanse dorp. Mense luister meestal net Afrikaanse liedjies omdat Afrikaans ‘n goeie taal is. In ons dorp is die meeste kunstenaars en liedjieskrywers rymkletsers. Ek self het ‘n rymkletsgroep van 13 kunstenaars wat vir Afrikaans wil lewe. Hier is baie talent en groot drome, soos om Afrikaanse flieks te skiet, maar ons het nie die nodige fondse en toerusting tot ons beskikking nie. Tog lewe ons hier in Beaufort-Wes vir Afrikaans.

 

 

Bloemfontein

 

Bloemfontein: Afrikaans in my dorp

Kleinbooi Mote Matlakeng: Ek praat Sesotho by die huis. Afrikaans is nog goed in Bloemfontein, maar ek word altyd teleurgestel as ek Afrikaans praat, want mense wil nie saam met my praat nie. Hulle praat Engels as ek praat, en ek begin altyd praat om hulle te laat weet dat ek Afrikaans kan praat. Ek wonder hoekom is die mense so? Hoewel my Afrikaans nie baie goed is nie, probeer ek dit altyd praat en ek verwag hulle moet ook terugpraat. Hulle dink ons wil nie praat en dit is nie so nie. Al die Afrikaanssprekendes moet saampraat as iemand Afrikaans met hulle praat. Die mense wat my Afrikaans geleer praat het, het hulle nie vir my geskaam as ek dit met ander taal meng nie. Hulle sou altyd sê ek praat mooi, tot ek beter word. Nou wonder ek hoekom ander mense skaam word as ek woorde nie kan onthou nie. Ek is lief vir ons tale in Suid Afrika, ingesluit Afrikaans. Praat, praat, en praat Afrikaans. Ek het nie ’n probleem daarmee nie - ek sal terugpraat.

 

Bloemfontein: Sakedorp - Afrikaans my taal

Noelene Hartzenberg: Bloemfontein is ‘n kookpot van kulture, maar hier praat ons lekker Afrikaans. Bloem sit in die hartland van Suid-Afrika en hier klop ons harte warm vir Afrikaans. Ons gooi Afrikaans die kant toe en daai kant toe, maar hy val altyd net waar hy moet. As die kaas muf dan sê ons "daar is wol op" as jou onderklere pla en in jou boude optrek sê ons "die koei eet lap". As ons baie geld aan die begin van die maand het, sê ons "die kinders spring riem(tou) met die wors, en maandeinde as die geld skraps is en ons eet min, want die stoof staan stil, sê ons "die kat sit op die stoof". Die bye is my getuie as ek te sterwe kom en eendag boontoe "Upingtington" toe gaan, dan sal ek daar ook Afrikaans praat net soos in Bloem!!! Kaching!! 

 

 


Bredasdorp

 

Marika Davel van Bredasdorp voel so passievol oor die Overberg en haar dorp, Bredasdorp, dat sy sommer vier inskrywings gestuur het.

Bredasdorp: Kuierdorp. 'n Dorp met 'n verskil . . .en talent om elke hoek en draai

Marika Davel: Hier in die pragtige Overberg is die mense so eie soos hulle taal Afrikaans. Dis hier waar jy van die stad af vlug om jou skoene uit te skop en jouself weer te vind. Ons dorpie Bredasdorp is 'n gewilde kuierdorp vir almal van heinde en verre, want dis hier waar hulle nog regte boerekos by 'n restaurant kan bestel, soos kerrie-skaapafval en soet-suur-hoenderlewertjies of selfs heerlike bobotie met geelrys. Afrikaans is deel van ons dorpie se geskiedenis en erfenis en dit ervaar jy orals waar jy loop en met die mense op straat te doen het. Van die kassiere by die bank tot by die petroljoggie, glimlag almal vriendelik en groet jou op 'n eg Afrikaanse manier. Ons mag dalk nog baie plattelands wees, maar onse mense - jonk tot oud - is vir ons so kosbaar en waardevol. Soos ons taal, is onse mense en die pragtige natuurskoon hier die geheim wat die Overberg uitsonderlik maak vir elke persoon wat hierheen kom om te rus. Hoe kan jy nie welkom voel tussen hartsmense nie? Mense wat weet wat dit is om goeie en slegte tye deur te maak, maar dit nie wys nie. Met 'n Afrikaner-trots stap elkeen daagliks na waar hulle net dalk 'n verskil kan maak in iemand anders se lewe. Hierdie is my dorp, my mense en my taal - wat meer wil ek hê? God se genade rus daagliks op ons hier en bewys dit voortdurend deur die reën wat Hy stuur, wanneer ons dit die nodigste het. My mense is Godvresende mense wat hulle geloof net in hulle Hemelse Vader plaas. Toeriste of kuiermense kom maak vakansies 'n groot verskil in ons almal se lewens en so wil ons mense elkeen weer terugstuur met kosbare herinneringe wat verewig op 'n foto of selfs net in hulle gedagtes vasgevang sal wees. Dis lekker om in 'n kuierdorp te woon, want hier ontmoet jy mense van verskillende lande, wat weer dink dat hulle taal vir hulle uniek en mooi is. Maar 'n Afrikaner sal ek bly al toer ek die hele wêreld vol in 'n week deur die oë van 'n ander - bly hierdie my land, my taal en my mense. Hier is ek gebore en hier sal ek sterwe met 'n dankbare hart en 'n eg-Afrikaanse lied op my lippe - "Ons vir jou Suid-Afrika!"


Talent om elke hoek en draai.



Waar sal jy ooit 'n plattelandse dorp vind met soveel talent! Hier skryf en sing onse mense in hulle eie taal wat diep in hulle harte gebêre lê. Mense met hulle eie, kleurvolle stories oor die liefde, swaarkry, dankbaarheid of selfs net oor die skoonheid van ons omgewing, pen elke woord geduldig met soveel smaak neer. Liedjieskrywers en sangers soos Chris Els kan nie genoeg sing oor ons mooi Overberge nie. Ons dorp en sy mense ken mekaar almal en ken elkeen se storie en dis wat ons so spesiaal en uniek maak. Jonk en oud sing en skryf in Afrikaans. Wanneer dit tyd is vir 'n lekker musiekaand, dan sien jy hoeveel talent ons dorpie werklik het. Hier is almal trots om Afrikaans te praat en te sing, want dit is ons hart se taal ... ons moedertaal. “Skipskop, Skipskop wanneer hou die dinge op”, het David Kramer ook al gevra. Bredasdorp met jou boeregemeenskap, jy vloei soos bloed deur my are en jou mense is my hartklop! Hier kan kind nog kind wees met vryheid - hier kan mense verbymekaar loop en almal groet jou in jou taal. Skryf vir my 'n liedjie sodat ek deur jou oë die wonderlike mense van die Overberg kan sien. So eie aan ons en waarmee ons kan spog, is ons eie Gemeenskapskoor, wat die hele omgewing met soveel passie en liefde bedien met sang. As jy na 'n reënboog kyk, na welverdiende reëns en jy kyk na elke kleur daarvan - die uniekheid van elke kleur wat daardie reënboog laat uitstaan en spesiaal maak - dan kry jy net 'n voorsmakie van hoe uniek en spesiaal onse mense hier in die Overberg werklik is. Ons rykdom van kleur, kultuur en tradisies maak ons taal Afrikaans uitsonderlik, jy kan dit omtrent proe en ervaar. Sing van jou berge, jou kanola-lande wat ver uitgestrek lê soos die strale van die son wat neergedaal het. Soos soet heuning rol die woorde van bekoring oor onse lippe, jy sal nie verstaan nie voordat jy dit self ervaar het nie. Hier maak ons herinneringe wat vir ewig sal bly. Geen dorp kruip so in jou hart en onder jou vel soos ons eie plattelandse dorpie nie. Bredasdorp, niks kom naby jou en jou mense nie! 

 

Loop saam met my deur ons dorp

"Was ek maar 'n digter sou ek dalk kon beskryf, wat jy aan my doen en hoe ek oor jou voel." Dis die bekende woorde van ’n ou Afrikaanse liedjie van oorlede Kupido. Dis hoe ek voel oor Bredasdorp. Kom saam met my en ervaar Bredasdorp soos ek dit elke dag ervaar. Ons begin ons kort toertjie deur die hoofstraat en maak 'n vinnige pit stop by ons gewilde koffiewinkel. Hier word jy vriendelik ontvang en bedien deur wonderlike kelnerinne. Die geur van filterkoffie hang sterk in die lug, die aroma laat my mond water vir 'n heerlike boeretroos saam met 'n dik sny sjokoladekoek. Die atmosfeer is gesellig en almal kom kuier hier vir ontbyt, middagete of sommer net omdat hulle wil, want dis die plek waar jy voel jy kan net wees. 'n Besoek aan ons gewilde slaghuis, maak die koop van vleis vir jou 'n avontuur en nie 'n straf nie. Hier word jy vriendelik gegroet deur werkers, almal ken mekaar - almal lag en is vrolik en dit laat jou voel asof jy familie is. Die vleise wat voorberei word, is geurig en beslis goeie gehalte. Dan kan 'n mens natuurlik nie daaruit loop sonder 'n stukkie biltong of droëwors nie. So eg Suid-Afrikaans voel ek, terwyl ek met 'n stukkie biltong by die deur uitloop. Ek kies koers in die rigting van ons ouetehuis. Hier sit die mensies en wag vir 'n kuiertjie van vriende of familielede. Soos ek instap, kan ek die dankbaarheid op elke geplooide gesig sien, soos hulle my vriendelik groet. Ek gaan sit by 'n gryskop oompie en hy begin in sy ou bewerige stem te vertel van die ou dae. Tye toe hy as kind nog kattekwaad gedoen het saam met sy vriende, net soos Trompie en sy Boksembende. Ek lag so lekker vir al die stories en die manier hoe die oom sy gesig trek, soos hy elke storie vertel. Afrikaans was nog altyd deel van hierdie gryse ou oom se lewe en hy praat dit vandag nog met soveel trots. Na my lekker kuier by die oumensies, kies ek koers na 'n plekkie waar ek net rustig en alleen kan sit en dink oor alles. Ons dorpie is nie baie groot nie en is nog steeds aan die uitbrei, maar dit bly steeds 'n tipiese boeregemeenskap. Hier ken en groet alles en almal mekaar - hier is jy deel, dit maak nie saak of jy geld het of nie, jy is Bredasdorp - dis jy wat hierdie dorp spesiaal maak en laat uitstaan. Onse mense kyk na mekaar en ons sorg vir mekaar en ons harte is oop vir mekaar. Hier gaan dit nie oor kleur, kultuur of status nie, hier gaan dit oor die mense. Dit maak my so trots om deel te vorm van hierdie lekker kuierdorp, as 'n Afrikaner en as 'n Afrikaanssprekende persoon. Afrikaans is groot hier by ons in Bredasdorp, ons ervaar dit met elke boeremark of kerkbasaar. Van koeksisters tot braaivleis, eg Afrikaans gaan jy nêrens kry soos hier by ons nie. Kom, skop jou skoene uit en ervaar 'n kuierdorp soos geen ander, waar jou taal alles is. Op die lande lê die kanolas geel uitgestrek en almal kan vanaand om 'n vuurtjie gaan sit en ontspan met 'n ietsie te drinke en die dag se gebeure hersien. Ek kan net met 'n dankbare hart vandag sê, ek is so geseënd om deel te vorm van 'n wengemeenskap soos die in die Overberg, waar jy net jy kan wees en almal het jou lief en dra jou in goeie en moeilike tye. Afrikaans is die taal wat my gevoelens net beter kan uitlig en dis wat ons dorpie aan my doen en dis hoe ek oor almal hier voel - dankbaarheid, liefde en 'n gevoel van net wees. Ek is uiteindelik by my hartsmense en ek is so gelukkig! Wanneer laas was jy in die Overberg, spesifiek Bredasdorp? Kom ervaar dit soos ek, kom kuier en ontspan en vergeet van alles hier en wees net tuis.

Ietsie van alles dorp!

As jy na 'n dorp soek wat ietsie van alles het, dan is Bredasdorp in die mooie Overberg net die plek. Soek jy 'n lekker kuierdorpie, dan hoef jy nie verder te soek nie. Hier kuier almal lekker om 'n braaivleisvuur na 'n rowwe week en kan jy net asemhaal en saam met vriende die aand of naweek geniet. Almal ken mekaar in ons mooi dorpie en dit is so lekker om tuis te voel en te wees. Vir die mense wat daarvan hou om kiekies te neem, kom en sien ons mooi wêreld en dorpie deur jou lens. Dis 'n mooi kiekiedorp soos julle op die foto kan sien, wat deur een van ons trotse dorpenaars geneem is. Vir die liedjieskrywer sal jy so baie hê om oor te skryf, want ons dorp is beslis 'n liedjiedorp met soveel talent wat jy nog nooit op 'n ander dorp of plek gesien of gehoor het nie. 'n Skoledorp is ons beslis en die trots wat ons het vir ons skole kan jy oral sien. Ons kinders presteer ongelooflik goed in ons skole en maak naam waar hulle kom. Puik onderwysers, ouers en kinders maak 'n puik skool wat uitstaan, in goeie en slegte tye. Hier sal jy ons dorpie ook vind as 'n sakedorp - besigheidsmanne en -vroue wat vir soveel werksgeleenthede wil skep. Plattelandse besighede wat internasionaal hulle merk gemaak het. Dan as jy na 'n Taaldorp soek, is Bredasdorp net die regte plek vir jou. Hier sal jy 'n mengelmoes van tale vind. Maar 'n taal wat jy orals waar jy beweeg in ons pragtige plattelandse dorpie sal vind, is Afrikaans. Hier is almal trots op hulle taal, want dit is ons taal en dis so eie aan wie ons is en dis wat ons Afrikaners maak. Afrikaans is in die kos wat ons eet, die kiekies wat ons neem, die liedjies wat ons skryf en sing, in ons skole en op die sportvelde en selfs in ons eie besighede. Wat maak Bredasdorp die uitstaandorp? Dis nie net sy betowerende omgewing of sy mense nie, maar dat Afrikaans nog groot is hier. Kom kuier gerus vir ons hier op Bredasdorp en beleef Afrikaans saam met ons.

'n Ietsie van alles en nog meer dorp!

Wanneer ek so kyk na al die ander dorpe in ons mooi land Suid-Afrika, is ek so bly om te weet dat ek op ons plattelandse dorpie, Bredasdorp woon. Vir so baie mense wat hou van die stad se gewoel en werskaf, is hierdie 'n dorpie waar jy net rustig kan raak en jou menswees weer kan vind, maar net nog 'n dorpie. Maar vir my is Bredasdorp net meer as net 'n vaal plattelandse dorpie. Daar is so baie fasette van Bredasdorp wat niemand ken of van weet as hulle net verbyry nie. Maar as jy stop en begin om met die mense hier te praat, hoor jy baie stories van so oor die jare wat van geslag tot geslag oorgedra is. Stories wat jou weer na hierdie dorpie sal laat kyk en jy sal weet dat jy hier in die middel van 'n juweel staan. Hier is die mense baie trots, maar tog nederig. Hulle weet waar hulle hulp vandaan kom, wanneer die droogte elke boer wil platslaan. Elke mens wat hier woon se hart is op die regte plek, of jy ryk of arm is. Ons gemeenskap se mense is mens mense. Wanneer nood ons dorp of selfs Knysna en ander dorpe tref, dan spring almal in om te help. Hierdie mense is trotse Afrikaanssprekendes, wat elke dag probeer om 'n lewe te maak. Wanneer tragedie ons dorp tref soos iemand wat in 'n motorongeluk gesterf het, dan voel almal die pyn en seer van daardie betrokke huisgesin of familie. Hierdie is nie net 'n plattelandse dorpie in die Overberg nie, maar dis 'n boeregemeenskap wat uitreik na bekend of onbekend. Afrikaans is ons taal - ons sing in Afrikaans, dans in Afrikaans, groet in Afrikaans, skryf in Afrikaans, eet in Afrikaans en kuier eg Afrikaans. My liefde vir hierdie plattelandse dorpie en sy mense is ongelooflik groot. Elkeen so kosbaar en so spesiaal - daagliks word iemand se lewe verander deur sy medemens. Hier is ons geloof in ons Hemelse Vader 'n werklikheid, ons afhanklikheid van Hom ons Vader is eg en opreg. Hierdie is omtrent 'n dorpie van 'n ietsie van alles en nog meer. Kom en vind uit oor ons ryk geskiedenis, die warm harte van ons mense en die heerlike atmosfeer wat heers in Bredasdorp! My dorp, my mense en my taal - Afrikaans.

  Lees meer ...

 

 

 

Bultfontein

 

Bultfontein as kuier-kiekies-liedjies-skole-sake-taal-feeshou-boeredorp

Linda du Plessis: Bultfontein is 'n mengelmoeskardoesdorpie as taal-kuier-liedjies-skole-sake-kiekies-boeredorp en ons praat, hoor, ruik, sien en voel Afrikaans met al ons sintuie, al is ons so klein en klop ons harte warm en haal ons asem en leef ons Afrikaans in ons dorp. Een keer per jaar trek die dorp en Suid-Afrika by die Boertjiefees laer waar Afrikaans as taal en ons kultuur gebruik, bevorder en gevier word. Die gunstelingkamera as kiekiesdorp is die selfoon, daar word konsert en musiekaande in die dorp gehou en ons skool is waar in Afrikaans as hooftaal gelag, gespeel, geleer en onderrig word. Ons doen ons sake in Afrikaans en hier tree net Afrikaanse kunstenaars en sangers by die fees op. Sopas het twee inwoners se eerste foto-digbundel die lig gesien waar hulle Suid-Afrika deur die oë van hulle lense en met kiekies en gedigte ambassadeurs vir ons dorp is en was hulle ook al as Suid-Afrika se filantrope gekies en het hulle trots Afrikaans deelgeneem. BULTFONTEIN IS TROTS AFRIKAANS!

 

 

 

Bultfontein as 'n skoledorp: Matriekklas - voorlesing van gedig en behandeling van foto-digbundel

Linda du Plessis: Ek het vir julle die twee tuis-video's (skoledorp) van ons matriekklas gestuur. Die eerste video is deur Volla du Plessis geneem en ek het die tweede video geneem. Ek stuur albei waar Bultfontein Hoërskool se matriekklas se Afrikaanse onderwyser, mnr Venter, in die Voorgeskrewe klas my gedig: "Was ek in Afrikaans..." voorgelees het en die foto-digbundel "Suid-Afrika deur die oë van ons lense met kiekies en gedigte" deurgeblaai en bespreek het. Dankbaar dat ons Kwêla en Afrikaans.com aan die klas kon voorstel. Ek het hulle uitgedaag om vir 'n week lank suiwer Afrikaans te skryf (Facebook, Twitter, WhatsApp, sms'e en enige manier van kommunikasie) en te praat, en as hulle hul trots op Afrikaans wil wys, daarmee vol te hou. Op die bord het ek www.afrikaans.com geskryf en gevra dat hulle tuis die webtuiste moet besoek om te kyk watter verskil afrikaans.com maak en ook deel te neem.

 

 

 

 

Bultfontein as 'n skoledorp: Bultfontein Hoërskool: Hoe lyk ons Afrikaans op ons dorp en in ons skool

Volla du Plessis: Bultfontein Hoërskool: Ons skool in 'n mengelmoeskardoesdorpie waar ons kuier, sake doen, boer, waar ons trots in Afrikaans leef, leer, werk, praat, lees, skryf, skep, woeker, sing, huil, lag, deel, ontspan, konserte hou, toer, gaan vakansie hou, en waar die leerkrag, leerders en ouers asook die gemeenskap en boere weet wat beteken "Eendrag maak mag" en hulle harte oop is vir liefdadigheid! Tussen die rugby, netbal, swem, atletiek en tennis spog ons met matrieks met agt onderskeidings en 'n 100% slaagsyfer vir Graad 12  - nou reeds 16 jaar. Maar alles geskied omdat ons GLO, BID, VERTROU, HOOP EN BOONTOE KYK na ons Hemelse Vader deur wie ons tot alles in staat is. 

 

 

Hartenbos

 

Hartenbos – Kuierdorp

Juliana Reyneke: Hartenbos, Mosselbaai is 'n Afrikaanse, skoon, gasvrye, vriendelike dorp met baie kultuur en geskiedenis. Ek wil in geen ander dorp bly nie. Hier is ons mense, praat ons taal. Puik dienste en goeie infrastruktuur. Lieflike gematigde klimaat. Aangename gemeenskap.

 

 

Hoopstad

 

Hoopstad: Jy praat nog altyd my moedertaal . . .

Truida Genis: Afrikaans in my dorp . . . Hoopstad bring my herinneringe, my wortels en waar ek myself tans weer bevind. 'n Afrikaanse bekendheid, nie net my praattaal nie, my lag-, huil- en reistaal, wat jou terugbring waar jou siel begryp en nie noodwendig spreektaal regverdig nie. Dis 'n harmonie van reuke van omgeploegde lande met 'n rooigrondhorison na 'n welverdiende somer-donderbui. 'n Junievakansie se speel in 'n vrag witmielies en biltong maak. Die sandsteenkerk 'n rusplek van helde, verryk met my moeder se as en Japie Greyling se beeld. Hoërskool Hoopstad-atletiek is die plek waar sweet, pannekoek, jaffels en Deep Heat ten volle sin maak in een omgewing. Tyd snel verby en jou volwasse reis bring jou terug na Hoopstad. Met ongesegde leemtes plant jy weer wortels in, gee rivierwater en hoop vir genade van ouds. Jy bevind jouself in 'n grootmens-gesprek wat baie sin maak in jou taal. My “taaldorp”, ek skryf vir jou 'n hartsbrief. 'n Huldeblyk van helde, party geval en ander aan die vet kant van die lewe. Dankie vir die reis en die vreugdes van liefde wat wag. Jy praat nog altyd my moedertaal . . . 

 

 

Kuruman

 

Afrikaans in Kuruman

Lynette Jones: HOE LYK AFRIKAANS OP MY DORP: KURUMAN. Die ding van Kuruman is dat ons hier groot gaan! Wees dit wat dit wil, “groot” bly die ding. Of jy doen dit ordentlik, of jy los dit. Kuruman het ‘n diverse gemeenskap. Verskeie nasies, verskillende tale en kulture bymekaar en waarvan baie van hierdie mense tog so ‘n ietsie van Afrikaans aangeneem het. Mens kan baklei daarteen, maar Afrikaans kry sy loop en vloei deur elke aspek van ons dorp se bedrywighede en maak onverwags ‘n draai in ‘n onvermoedende hart en siedaar … ‘n Afrikaanse woord of sê-ding glip daarin. Ek werk naby die bushalte en Kuruman Mall en dis ‘n miernes van bedrywigheid met straatsmouse, banke, eetplekke en verkeer. Ek kan sommer vinnig gedurende my etenstyd inkopies gaan doen. Sommer vlak voor ons ingang begin die ingekleurde Afrikaans. “Morning Tannie, lekker dag. Mevrou, mooi loop, baie skelms today." Straattaal, waarskutaal, groettaal. Kuruman se Afrikaans is ‘n respektaal, ‘n omgeetaal, ‘n uitreiktaal, ‘n oor-grense-heentaal en ‘n bidtaal. En om te hoor “Mevrou, lekker dag. God Bless You”, gee my vlerke vir die dagtaak. Die son sak op ons dorp Kuruman, en op sy diverse mense, maar lank nie op Afrikaans nie. 

 

 

Lichtenburg

 

Boeredorp, sakedorp en mensedorp.

Quentin Viljoen: Lichtenburg is van ouds af, 'n hegte Christen "boere-dorp", wat elke jaar toeneem in lidmate, van oraloor in ons pragskoon land. Stedelikes verruil voortaan hul "gevorderde" leefstyle, vir die samehorigheid van die geharde gemeenskap, om sodoende 'n geloofsrus te vind, wat nie in die groter stede te vinde is nie. Met die onlangse droogtes en gemeenskapsonrustigheid, is hierdie gemeenskap nouer verbind, en neem elkeen sy posisie in, met oorleg, sodat 'n Goddelike vrede nagestreef word, wat ons gemeenskap net goed te staan kom. Selfs ons buurdorpie, Coligny, leef uit die voorsienings wat elkeen se gemeenskappe verbind, met veel in gemeen. Beide dorpe vlieg onder een boeregemeenskapsvaandel, en die verdeling van welstand vind deurgaans stelselmatig plaas, met elkeen wat aanspraak maak op sy regverdige aandeel, ten goede van beide. Die huidige stand van die plaaslike staatsdienste gee egter aanleiding tot voortdurende kommer, wat steeds teweegbring dat probleme elders, in beter-toegeruste gemeenskappe, voorkom. Maar, gee kans. Ons toedrag van sake sal binnekort verbeter, aangesien die geleerdes onder ons tans veel meer pogings aanwend om die stand en waardering van veral ons produsente onder almal se aandag te bring. "Ons" is "Liggies".

 

 

Lindley

 

Lindley Rollermeule

Johan Colyn: Oom Hekkie verskaf Afrikaanse meel aan die 'nasi van die fyftigs'.

 Oom Hekkie (of mnr H A M van Rensburg soos niemand hom hier noem nie) voorsien reeds sedert 1959 mieliemeel en gruis aan die nasie.

Oom Hekkie het in 1956 net 'n leë dop van 'n gebou wat eenkant in Lindley gestaan het, gekoop. Dit was maar 'n gesukkel in die begin, maar in September ’62 sit oom Hekkie af Pretoria toe en gaan haal dié enjin by 'n loodmyn in Pretoria. Dit was behoorlik 'n gedoente met die vervoer van 'n vyf ton vliegwiel. Terug in Lindley haal oom Hekkie eiehandig alles uitmekaar en met groot vaardigheid, deernis, liefde en sweet word die meule soos 'n legkaart aanmekaargesit en kry hy sy staanplek waar hy tot vandag toe staan. Gaan lê gerus besoek af daar waar jy dié twee steeds hard aan die werk sal aantref; steeds besig om die nasie te voed ... in Afrikaans.

Die hart van die bedryf is oom Hekkie en sy eensilinder Ruston Hornsby-enjin. Saam dryf die twee die hele meule.

 

 

Mctaggerskamp

 

Mctaggerskamp – Versteekte juweel

Elriaan Rooi: Dis 'n plekkie wat deel vorm van historiese gebeurtenisse soos oorloë tussen die Britse weermag en Koranas. Kaptein Dyson en vele meer. Ook langs die Oranjerivier geleë en omring deur die groenigheid van wingerde en bome soos die kameeldoringboom. Hier kan jy jou bederf met 'n wynproe en etes by Bezalel Estate wat tweede is op die Tripadvisor-lys van dinge om te doen in die Noord-Kaap. Dit spog met 'n Rooms-Katolieke Kerk wat reeds vir meer as vyftig jaar bestaan en storievertellers soos oom Sampie en oom Willem Petrus wat jou kan vermaak met die geskiedenis van Mctaggerskamp self, wat vele mense verbyry. Dis 'n baie intieme dorpie waar almal vriendelik is en graag 'n geselsie wil aanknoop. Vroue wat bemagtig word deur groentetuine te maak. 'n Laerskool wat vir dekades lank staan. Die pragtige foto is deur Elriaan Rooi by Bezalel Estate geneem. Ook 'n rotsagtige gebied met vele interessante rotse en klippe om te sien. Kom hoor stories in Afrikaans, praat in Afrikaans, verstaan in Afrikaans en hoor ook die Afrikaans van 'n Tswanasprekende persoon wat regtig ons taal, Afrikaans, wil praat met 'n gebroke aksent. Dis hier waar jy rus, vrede en stilte vind.

 

Meyerton

 

Meyerton – Skoledorp: Hoërskool is lekka

Inge Wattenbach: Hoërskool is waar jy pelle en herinneringe maak. Daar is ook ongelooflike onderwysers wat 'n groot verskil in ons lewens maak. Daar is ook sportdae, civvies-dag, geesvang, sokkies, skryfkompetisies en vele meer om ons tienerbreine aan die gang te hou. Hoërskool is lekker.

 

Mosselbaai

 

Mosselbaai – die mooiste rondomtaliebaai

Belinda Schoeman: Mosselbaai, die mooiste rondomtaliebaai. Die baai met die mooiste blou see en alles te sien van hoek tot kant. Jou oogkontak is permanent in voeling van een hoek tot die ander met die diepe bloue see en die ope buitelug. Of jy ry of loop, jy sien die wonderwerk en skeppingswerk van Mosselbaai. Restaurante, winkels, inkopiesentrums - alles in die nabyheid van 'n oogwink  - om nie eers te praat van die skoonheid en netheid nie. Ons as mense van hierdie baai, veral Mosselbaai, is so dankbaar vir hierdie prag en praal wat ons daagliks beleef. Ons kan nie anders as om te bly leef in en om Mosselbaai nie. Ons wil ons uitleef en laat leef hier reg in ons eie Mosselbaai. Een van ons groot pluspunte is die feit dat ons ontspanning verniet, mahala, is. Ons kan swem, duik, snorkel, stap, visvang - ons kan kyk na die mooiste see en alles verniet, jy moet net jouself geniet. Wat 'n voorreg as Mosselbaaier, die stad van vrede, geluk en voorspoed.

 

 

 

Mosselbaai: Kuierdorp – versier jou plesier as 'n Mosselbaaier 

Shamone Selister: Mosselbaai is 'n plek om te wees, wat jy maak of doen en hoe jy Afrikaans-wees benut, is jou besluit. Mosselbaai is die dorp met drie seisoene, met baie perlemoene om almal in Mosselbaai te versoen met geluk en te gaan duik in die bloue see met die vars soutwater. Mosselbaai is soos HIER KIEP~KIEP, DAAR KIEP~KIEP.

 

 

Mosselbaai: Taaldorp – Dit wat ek sien 

Alisa Visser: Afrikaans word gevier in die wyse waarop Mosselbaaiers mekaar raakloop by ‘n inkopiesentrum, dan eers stil staan en lang geselsies aanknoop. Dit is vuil grappe deel, rugby op die grootskerm, vuur aansteek, karaoke sing en jou worshond saamneem na die plaaslike kroeg waar almal jou naam en gunstelingdrankie ken. My moedertaal beweeg grasieus in die geritsel van die herfsblare wanneer die windjie so waai in my buurt en die klanke begin weer vorm soos in Graad 1 - “t-t-t-t s-s-s-s-tss-tss”. Afrikaans maak dat ek smag na ‘n koppie boeretroos in die winterson op die voorstoep van ‘n ou plaashuis met die reuk van varsgebakte beskuit en die houtvloer se kraakgeluide. My taal het my geleer mens speel nie met ‘n bal in die huis nie. Mens praat nie met ‘n mond vol kos nie en dat Sannie nooit sal sê sy sleep swaar aan daai sout nie. Afrikaans het sy merk gemaak in geskiedenis en het nog baie om te sê. Daar is net ’n paar dinge waaroor ek op my agterpote sal staan: My God, my geliefdes, my land en my taal. Mosselbaai is eg Afrikaans.

 

 

Mosselbaai: Kiekiesdorp – Waantoe nou 

Michal Vermaak: Kykie dis nou nie hientoe of daantoe nie ma hierie dorp is nie net 'n kiekiesdorp nie ma ook 'n kuierdorp. Hier kuier die mense van die Klein en Groot Karoo al vi jaare oor Desember en die pase. Hille gat see toe en dan is dit mos nou hoekom hille na die naaste en lekkerste dorp toe kom - dis nou Mosselbaai en Hartenbos. Dit het nou al so uitgebrei dat ons nou al tot Limpopo mense ok hier kry - die wat maar altyd Natal toe gegaan het, en om elke hoek en draai is daar altyd iets moois te siene of iets lekker te eet en drinke. As jy lus is vir kultuur en geskiedenis dan sak jy af museum toe. As jy sielevoedsel nodig het, dan besoek jy een van die baie mooie kerke innie dorp. Wil jy wyn proe, dan het jy ook nie ver om te ry nie - dis maar alles hierond. Jy fênsie bly in een vannie hotelle of jy kan loop uitkamp in een vannie karavaanparke; ietsie van alles vir enige een en dan natuurlik die moet niemand vergeet nie - dis 'n kusdorp. Jy kry die see en alles wat daarmee gaan saam met die pakketjie. Ons sê nie verniet: Leef die lewe rustig in Mosselbaai - hier moet niks jou jaag nie.

 

Murraysburg

 

Murraysburg: Taaldorp – Kombers

Naude Avenant: Die klein Karoodorpie Murraysburg, is weggesteek soos 'n ou, antieke trommel onder die grond langs die N1, tussen Kaapstad en Johannesburg. Daar is wel mense wat die trommel al gevind en oopgemaak het. Die antieke trommel het 'n ou lappieskombers in. Elke stukkie lap wat die kombers vorm verteenwoordig of kultuur, geloof, menings, of sienings. Wat almal in gemeen het, is die taal, wat soos die gare die kombers aanmekaar hou, wat die trommel vol lê. Dit is Afrikaans, elke lappie van die kombers het sy eie storie. Daar word vertel in Afrikaans. Of dit in die woonbuurt, skool, winkel, tronk, hospitaal, plaas of deur kind, ouer, boer of krimineel vertolk word. Die taal loop deur die dorpie soos ‘n rivier wat afkom na goeie reëns in die Karoo. Almal is bewus van die water wat die droë veld weer soos ‘n groen kryt inkleur. Almal, ryk of arm, mooi of lelik, vet of maer praat oor die reën wat geval het in hulle moedertaal ... dit is Afrikaans wat die dorpie skoonwas.

 

Namakwaland

 

Namakwaland – die mense is hier baie na aan mekaar

Wilmien Cloete van Garies:
In Namakwaland is ek gebore en het hier grootgeword
hier is ek gelukkig en kom niks kort
In Namakwaland kry jy die pragtigste blomme
en die mense is so beskaaf hul gooi al hul vullis in die dromme
Hier is kerrieafval ons tradisionele kos
en hier skut oud en jonk hulle lywe los
Hier sal jy baie vriendelike mense kry
en mense met rygoed sal jou nie verby ry
Ons luister hier na ons nommer een-radiostasie
en so nou en dan vat mense nog 'n glasie
Ek is trots op my aksent want ek is 'n xhounaar
en hier sal mense al jou geheime bewaar
Ons eet sommer tee en koffie met bakbrood
en bou mekaar saam met 'n bemoedigende woord
Hier in Namakwaland is baie talent
en ons help mekaar met 'n rand of sent
Ons Namakwaland is tog so mooi en by ou mense sien jy nie eers partykeer 'n plooi
Die mense is hier baie na aan mekaar
en ouers is lief vir hul kinders al kry hul soms van praat 'n gryshaar
Nooit sal ek uit Namakwaland trek
want hier help ons mekaar al het jy ook 'n gebrek.

 

 

Onseepkans

 

Onseepkans: Natuurdorp

Leana Wentzel: Onseepkans lê knus aan die oewers van die alombekende Oranjerivier in die Noord-Kaap - met sorg genestel tussen die klipkoppies... Hier seg, praat en verduidelik ons alles in Afrikaans. Onse taal is ryk en geil soos die natuurskoon wat eie is aan die geweste. Oorvloedig en passievol beeld kiekies die verlede, hede en toekoms van Afrikaans uit. Ja, stories, vasgevang en gestoor vir die leser. Hierso is die taal prettig, vars, wakker, gloeiend, sterk en ingewortel. Soos met dagbreek sny goue sonstrale deur die lug en maak fyn patrone op die grond en daaruit vloei woorde wat bou aan Afrikaans. So, omring deur die natuur, bring nuwe woorde, bou aan die taal, verbreed die taal, buig en vou die taal tot groot hoogtes. Van lekker-sê, sag op die oor, rooiwarm onder die kraag, 'n kies vol kleintyd se onthou, vloei hierdie taal deur die mense van Onseepkans...

 

 


Onseepkans: Bewarings- en koesterdorp

Leana Wentzel: Onseepkans, 'n besproeiingsnedersetting geleë langs die kronkelende en magtige Oranjerivier in die Noord-Kaap. Ook 'n grenspos met 'n enkelbaan na Namibië. Die rykdom van Onseepkans lê in sy mense, maar ook in die kragtige Oranjerivier met water in al sy vorme. Die mooi en die wonder hiervan is uitdagend en blywend. Die rykdom, glorie en erfenis is raar, skaars en die skatte moet bewaar en gekoester word. 'n Meesterstuk soos die kleipot, is in die klipkoppies gevind en dekades gelede deur die Khoisan vir die hede gevorm ... 'n Toonbeeld van vakmanskap, gemaak uit staal en gevorm tot 'n boot wat gebruik is vir visvang, soos moddervis in die Oranjerivier. Ja, Afrikaans is stewig ingemessel in onse mense, so baie om te vertel, kort stories, lang stories en onthou stories... Hierso praat ons Afrikaans met respek, bewaar die taal vir ons kinders en hulle se kinders. Hier koester en omarm ons die taal, danksy onderwys voed ons die taal, leef ons die taal voluit, en glo my, hier sien jy die taal. Uit volle bors sing ons die taal, hierso is die rieldans deel van onse taal. Ja, net soos die duidelike roep van die visarend, so eggo en weergalm Afrikaans sterk en kragtig tussen die berge, klipkoppies en kranse.

 

 

 


Orania

 

Ons taal en Orania

Hannes Snyman skryf: Orania, ʼn dorpie waar ek in my jaar se verblyf ʼn onuitspreeklike liefde vir Afrikaans en sy mense ontwikkel het. In al die talle gemeenskappe waar ek tuis was in meer as vyftig jaar, is Afrikaans nooit so geliefkoos soos in hierdie pragtige dorpie nie. Dit is hier waar ek gelag het dat die trane loop toe ek een van die rekenaar-tegnikusse vra om tog asseblief my rekenaar te ‘backup’ en hy ewe bedees vra of hy dit die volgende dag kan ‘rugsteun’. Afrikaans is die spreektaal hier en soos ons eie kultuur word hierdie soos ʼn kleinood bewaar en deeglik by ons kinders ingeskerp dat die vryheid en geskiedkundige belangrikheid van ons taal ʼn deel van ons daaglikse doen en late is. Ons dorp is die wegkruipplek vir ʼn taal wat vermoor word deur sy eie mense, dis mos ‘cool’ om so te praat. As jy Afrikaans wil ondervind in alle vorme, in ons skole, besighede, ons eie radiostasie, in ons kuns en kultuur, besoek die plek waar jy nooit weer wil trek nie. Almal wat hier bly strewe na die beskerming en beklemtoning van die liefde vir ons taal aan ons nageslagte.

 

Orania: Die dorp van die klein reus en die koeksuster

Christo Hattingh: Orania is die dorp in Suid Afrika wat 'n werklikheid vir die Afrikaner skep met egte Afrikaner etos. Karnaval met Steyn Fourie en Jannie Moolman. Met 'n kaalvoet konsert. Twee skole met Afrikaner waardes en Christelike waardes. Suksesvolle besighede. Die dorp groei teen 'n konstante tempo. Dit skep koop vir baie. Boonop aan die Orania rivier met 'n pragtige en gewilde oord. Hier skep ons ons eie toekoms self.

 

Orania: Om 'n plekkie te herdoop deur Ann-Suhet Kamffer:

As jy nog nooit Orania besoek het nie, raai ek jou aan om dit persoonlik te beleef. Ek arriveer laatmiddag in Orania. Dis Sondag. Dis stil en alles is gesluit. Ek word deur drie boerseuns, elkeen op ‘n perd met khaki-kortbroeke, vellies en gekamoefleerde baadjies, gegroet. Die een wat ‘n hoed dra, lig sy hoed op toe hy groet. Gedissiplineerd. My eerste amptelike ontmoeting begin met vier jongmense wat my per voertuig na my tydelike vesting neem. Ons stel onsself voor en begin bande bou oor ‘n koppie koffie, terwyl die son oor die Karoo-horison sak. Ek besluit net daar dat ek by verre die mooiste sonsondergang in Orania, nee, die hele Noord-Kaap vanuit my plekkie kan beskou. Die Strydom-kinders neem my in ‘n hartklop aan as een van hulle eie. Ons speel bordspeletjies en drink diep rooiwyn. Ek kry ‘n opgenoemde kortlysie van die moets en moenies van Orania. Die moets sluit onder andere ‘n Hoekie Vetkoek, Daleen se tjips, Seb se bier en Francis se koeksisters in. Die moenies sluit net in dat ek nooit in twee spesifieke mense se geselskap, tegelykertyd, moet wees nie. Ek vergeet in elk geval hulle name, en besef nou ek kon miskien maklik hierdie moenie wel oortree het. Die aand eindig met ‘n terugstap na my nessie. Iets wat baie vreemd gevoel het om tien-uur die aand, in strate, te loop doen. Ek loer kort-kort oor my skouer, maar nie opsigtelik nie – want hierdie kinders om my lyk nie of hulle vir enigiets kan skrik nie. 

Die volgende oggend klok ek agtuur in by my vakansiewerk. As regsstudent is hierdie tipe geleenthede en ervaring belangrik. En dit was ‘n groot bonus om hierdie geleentheid, tesame met die verkenning van ‘n nuwe dorp, ‘n nuwe staat, waaroor almal bespiegel, te kon aangryp. Ek leer so baie en vind ‘n opregte trots vir my keuse van studierigting. Tussendeur die werk ontmoet ek die “locals”. Ek ontmoet Orania se eie Tant Stienie. Hulle noem haar Tannie Poeksie en haar tweede sin, naas haar voorstelling, is dat ek net nie die “k” van haar naam moet vergeet nie. Ek beloof om dit nie te vergeet nie en tannie Poeksie dra koffie vir dae aan. Haar karakter spreek van iemand met opregte bedoelings wat haar laaste vir iemand anders sal offer, solank dit net goed met almal om haar gaan.
‘n Baie, baie opvallende eienskap van die plattelandse staat is hoe almal groet. Almal lig hulle hand op in groetgebaar of knik as ‘n “Goeie dag”-simbool. Dit is ontsettend aansteeklik en laat jou tuis voel. My eerste Woensdagaand is sulke tyd. Tyd om nog mense te ontmoet. Dit moet Woensdagaand wees, want dit is die aand van die week wat ‘n amateur sanger, van die dorp self, by die Blou Hings optree. Die Blou Hings is die plaaslike kuierplek en die Pienk Zebra, die restaurant, is langsaan. Die Blou Hings is dus vir die grootmens-drankies en die Pienk Zebra vir jou lus na ‘n melkskommel. Albei dié plekke is in “Stokkiesdraai” gebou met nog geskenkwinkeltjies vol plaaslik-vervaardigde produkte. Alles handgemaak, in Orania. Een van Die Blou Hings se reëls is dat geen drank aan persone onder die ouderdom van 18 verkoop sal word nie, “dit is immers Die Blou Hings en nie die Persvers nie” en geen wangedrag sal enigsins geduld word nie. Die aand is vol nuwe mense, nuwe gesigte, nuwe name. Vol lekker lag en lekker herinneringe. Daar hang Oranje, wit en blou vlae tesame met Vierkleur-vlae. Dit hang in baie van hierdie plekke. Want dit is ons geskiedenis.
Vol Jan, Piet en Koos. Dit is die plaaslike bierbrouery se drie spesialisbiere – Jan vir Jan van Riebeeck, Piet vir Piet Retief en natuurlik, die Leeu van die Wes-Transvaal, Koos vir Koos De la Rey. ‘n Vriend het al gesê jy kan vir Dingaan proe by die Piet-bier, want hy skop maar soos ‘n saalperd. Die eerste week is vol vestiging en voete vind. Ek leer eerstens waar ek kan kos kry, en my eerste ete in Orania is Daleen se tjips. ‘n Definitiewe moet en so goed soos almal sê. Een van die eerste beginsels wat jy hier leer, is dat hierdie mense wérk, kan werk, wil werk en nie bang is vir werk nie. Maar, soos enige bekende in ‘n vreemde plek, probeer ek die hele gebied en dorp verken deur te gaan na die woorde wat my trek. So eindig ek by Die Ou Karooplaas op. Dit is een gebou wat Drommedaris reisagentskap, Sterreland bioskoop, Prima Pizza en Die Plaaswerf omvat. Die Plaaswerf is ook ‘n deels-bakkery en verkoop dus beskuit, malvalekkers, fudge asook handgemaakte produkte uit Orania om plaaslike entrepreneurs te ondersteun. In die gebou sit ‘n bejaarde egpaar en drink hulle Rooibos waarvan hulle nog twee koppies bestel. Die Oom drink sy tee uit sy piering. Ek het al gehoor van hierdie gewoonte, net nooit my daaraan gesteur totdat ek dit self gesien het nie. Ek besluit om hier middagete te geniet en kies hulle spesialiteit – die Heeldag Ontbyt met sterk filterkoffie. Alles bedien saam met selfgebakte brood – want dis lekker. Ek neem my “Tussen Stasies” leesstof saam en lees in ‘n ongelooflik rustige atmosfeer my boek terwyl ek vir die kos wag.
Ek stap hier en daar deur die plekkie om te sien hoe kreatief die mense voetkomberse uit skaapwol maak en verkoop. Ek eet ‘n plaasontbyt vir middagete, sluk twee koppies Jacobs Kronung af en beweeg na die toonbank. Die jong, blonde plattelandmeisie met ‘n rasper-stem kyk my fronsend aan terwyl ek die geld uit my beursie haal. “Jou rekening is gedek” knik sy vir my. “Nee”, lag ek, “ek moet nog betaal”. “Nee, daardie oom het jou rekening betaal. Die een wat nou net hier was. Toe jy by Drommedaris was. Hy’t gesê hy sal graag jou ete vir jou betaal”. Ek sê maar ek ken hom nie. Sy trek haar skouers op asof dit die normaalste ding onder die son is, lig een wenkbrou en fluister-lag “Dan is dit seker jou dag vandag”.
Oor die naweek besoek my ouers vir die tweede keer Orania sedert 2013. Ons verken die dorp, besoek ‘n gebied waar vier Eerste Ministers, naamlik Malan, Hertzog, Strijdom en Verwoerd asook President Kruger se borsbeelde opgerig is. Dis teen ‘n koppie – asof hierdie vyf grotes oor Orania uitkyk. Daarna is dit braai-tyd. Dis die Strydoms, ek, Boer Darius en sy meisie, Melanie. Ons rits op Darius se plaas rond en ek herken die plaas soos wat dit op Boer soek ‘n Vrou verskyn het. Ons klink ‘n glasie op die plaas se hoogste koppie en kyk hoe die son oor die Karoo-horison vir die maan opsyskuif. Ons praat oor toekomsplanne, die lekker wat daarin wag. Ek het gedurende die aand opgemerk dat hierdie mense ons land se toekoms is. En dit het my gelukkig gemaak. Ons lag. Ons maak herinneringe. Die kosbare sê-goed bly my by en ek gaan met ‘n ligte hart terug na my nessie, net om op pad daarheen deur ‘n raakgetrapte haas op die grondpad gekonfronteer te word. Die een Strydom-sussie sê vir die ander een: “Tel op die haas, jy is die haas-mens” terwyl die ousus ontwyk met: “Van wanneer af is ek die haas-mens?”. Die broer wil instaan en die situasie beredder deur die haas se lyding te stop, maar gelukkig is dit nie nodig nie en die haas se asempie word in sy kort lyding uitgeblaas. ‘n Onafgewerkte, growwe, groot en mooi liefde vir die natuur en al sy kreature is iets wat ek by hierdie mense opgetel het. My mense.
Die volgende dag is Sondag en almal is kerk toe – ongeag watter kerk jou geestelike leemte vir die komende week sal vul. Ek kies die Afrikaanse Protestantse Kerk, want ek weet waar dit in die dorp geleë is. Die dominee preek uit Psalm 104 as danksegging aan God vir ‘n wonderlike skepping. Die liefde vir natuur en mens kom weer hier na vore. Ek neem die dag as ‘n normale, rustige Sondag aan en die dag hanteer my goed. Die dorp is stil. Die mense is stil. Almal rustig in dit wat God geskep het. Ons God.
My tweede week begin rustig en, omdat ek nie daarvan hou om van roetine af te wyk nie, begin my Maandag met ‘n koppie sterk boeretroos en ‘n opdatering van wat in die wêreld aangaan. Hier maak jy van die Volksblad en sosiale media gebruik vir die nuutste in die nuus. Die werk varieer maar bly konstant. Ek kry middagete by die plaaslike deli waar Daleen se tjips ook gesout en asyn word. Ek kom aangestap en “Dag” die Oom wat ook by die Deli staan. Hy draai stadig en stiptelik na my. ‘n Kort oom met ‘n sagte stem. “Sê jou naam” kom sy groet terug. “Ann-Suhet, Oom”. Sy lyf leun nog terug asof my naam dalk êrens op my geskryf staan. “Sê weer” kom die oumens-stem. Ek glimlag en sê stadig en hard “A-n-n-S-u-h-e-t, Oom”. Hy kyk, nog nie tevrede nie. “Nou van watter kultuur is dit” vra hy. “Nee, dis die oumas se skuld, Oom”. Hy en die tannie agter die toonbank lag. “Ann-Sunet, reg?” Ek gee toe en sê maar net “ja, my Oom”.
Die Dinsdagmiddag is ek na Kleingeluk, ‘n gebied van Orania waar die karre en huise klein, maar die geluk groot en tevrede heers. Ek het ‘n wassery hier opgespoor en besluit dis nou sulke tyd. Met my uitstap uit die wassery sien ek ‘n nederige gebou, mooi gebou, met “Biblioteek” uitgespel bo die deurkosyne. ‘n Ouerige vrou beman die lessenaar en daar is vyf kinders in die biblioteek. Die tannie vra al hande-vrywend waar ek vandaan kom. Hoe kom ek hier. Wat maak ek vir ‘n lewe. Hoekom Orania. Sy vra. En ek vertel. Maar dis met die besef dat haar susterskind ook op die PUK swot dat ons gesprek opvlam en ons werklik geséls. Want nou ken ons mos ‘n gemeenskaplike mens. Ons albei stem dat die wêreld klein is. Politiek word die onderwerp en sy vertel dat sy matriek was in die jaar wat Hector Peterson doodgeskiet is. Sy vertel dat sy Biblioteekkunde by Stellenbosch studeer het. Sy vermaak self haar kwalifikasie deur daarna te verwys as “Boeke-stempel-tannie”. Ons gesels lank. Die woorde: “Ons het ja gestem, weet jy. Ons het ja gestem en nou vlug ons vir dit waarvoor ons gestem het” is wat my neem na ‘n wêreld buite Orania. Ek groet en sê ek sal weer kom wanneer ek my wasgoed kom oplaai. Met die uitrapslag sien ek dit. Tussen die wassery en die biblioteek. “Hoekie”. Ek stap die 10 by 10 meter winkeltjie binne en voel asof ek in Delareyville, Noordwes is. Die pryse is op gekleurde papier geskryf en in patroontjies uitgeknip en opgeplak. Daar is alles te koop – lekkers en Simba tjips, goedkoop toffies, gewone koeldranke, badkamer-benodighede, kos en hout. By die toonbank sien ek die koslys en merk allerhande vetkoeke te koop op. Ek kies die kerrie-maalvleis vetkoek en trek ‘n denkbeeldige kruisie agter “moet” nommer 2. ‘n Hoekie Vetkoek. Ek groet en groet almal wat inkom – want dis wat hierdie mense doen. Terwyl ek vir my vetkoek wag, sien ek ‘n bordjie by die toonbank wat lees: “Wees geduldig. Ek werk net hier omdat ek te jonk is vir pensioen, te oud vir lappop en te moeg vir ‘n affair”. Ek lag lekker op pad terug kar toe.
Kleingeluk beslaan ook “Elim”. Elim is ‘n gebied waar mans, wat Orania as laaste strooihalm gebruik, geplaas word. Hulle word eers gestabiliseer met kos en verblyf, daarna gerehabiliteer oor welke rede hoekom hulle in ‘n verwronge toestand by Orania aangekom het. Laastens geïntegreer deur werk te kry om te verrig. Maar, dan moet jy werk. Want as jy speel, word jy so vining uitgesit soos wat jy nog gedink het jy hier gaan tjaila. Hierdie mense kan werk. En jy moet werk om aan te pas en in te pas. Die gebied, soos Elim, maar vir vroue is in ‘n ander deel van Orania. Teen hierdie tyd groet ek al almal. Nie op die naam noodwendig nie, maar hier hoef jy nie iemand te ken om te groet nie. My hand skiet later sommer vanself op of ‘n “Hallo Oom, Hallo Tannie” kom maklik.
Die Woensdagmiddag is ek weer by die Pienk Zebra vir ‘n geroosterde toebroodjie gemaak van selfgebakte brood. Want dis lekker. As hulle praat van winkelbrood, trek hulle hul neuse in so bolletjie wat die frons op hulle voorkop deurtrek. Ek glimlag, want ek voel ook so oor winkelbrood. Ek let op na die kelners en kelnerinne. Kinders. Blanke, Afrikaanse, kinders. Hulle tannie my voor en agter. ‘n Seuntjie in ‘n blou rugbytrui met “Wikus” agterop neem ‘n ander tafel se bestellings, kom gee die bestelling vir die tannie in die kombuis, gryp sy rugbybal en gaan skop dit buite op die gras. Netnou-netnou kom bêre hy weer sy rugbybal en gaan vra of alles by sy tafel reg is. Ek word ingelig dat kinders oor vakansie hier kan kom werk. Moenie dit sien as goedkoop-arbeid nie – hierdie kinders leer van vroeg-vroeg af om te wérk. Dis kaalvoet-kinders wat baljaar in reënwater. Dis tong-krul-lekker woorde en frases soos hartlam, skattebol en sakkie-sakkie. Dis opstaan en aangaan. Dis sterk. Trots. En edel. Dis hier om te bly. En hiér het ek dit weereens beleef. In hierdie dorpie, in hierdie verlate provinsie. Na middagete vertrek en na ‘n toer deur die H.F Verwoerd Gedenkversameling. Buite is ‘n tienerseun besig om hier en daar papiertjies op te tel en in ‘n plastiesksak te gooi. Ek sien die seun elke dag in die strate – op en af – en hy tel rommel op en hy lag en waai. Glimlag skeef en waai vreemd met ‘n krom handjie terug. Ek dink hy is verstandelik bietjie gestremd. Ek vra nie. Die H.F Verwoerd Gedenkversameling is geallokeer in die huis waar tannie Betsie Verwoerd haar laaste jare deurgebring het. Hier – in Orania. Die versameling strek van borsbeelde wat nie meer in museums oor Suid-Afrika gehou mag word nie, tot media-artikels, klerasie, foto’s, artefakte en hoe tannie Betsie geleef het. Die huis begin met die normale goed wat mens van ‘n Eerste Minister kan verwag: sertifikate, geskenke, uniforms. Maar dan tref jy ‘n vertrek. ‘n Vertrek wat jou keel in een greep vasgryp en koue rillings deur jou lyf stuur. Jy skuif die deur oop en begin die vertrek met ‘n replika van die parlementsbankie waarop dr. Verwoerd vermoor is. Net ‘n replika, maar genoeg om jou terug te neem na daardie dag in 1966. Baie mense vergeet egter dat dr. Verwoerd in 1960 met ‘n .22 in die regterkantste wang en kakebeen geskiet is. Die stoel waarop hy na hiérdie gebeurtenis gaan sit het, is in die vertrek. Die regte stoel met die regte bloedvlekke. Dan skuif jy na ‘n glaskas. Die vertrek se hoofpunt. ‘n Stilswyende klimaks. Sy pak klere wat hy die dag van 1966 aangehad het, in die Parlement, in Kaapstad. Die klere wat hy aangehad het met sy dood. Vier gate is duidelik op die kraaghemp sigbaar. Die gat genommerd “1” was die noodlottige steekwond wat Tsafendas aan die Eerste Minister toegedien het. Van hier beweeg jy na ‘n vertrek waar geskenke aan dr. Verwoerd deur Afrikastamme – voor en na sy dood – bewaar word. Hy was geliefd onder meer as net een volk. Dis knopkieries, assegaaie, ‘n luiperdvel. Dis geskenke uniek aan die stam. Die res van die vertrekke lê besaai met artikels oor sy dood. En ‘n groot foto van sy Engelse Boelhond, Punch, hang ook in die huis. Die titels staan duidelik: “Die land Treur”. In sy begrafnisbrief sien ek tannie Betsie het geskryf: “God het gegee. En God het geneem”. Foto’s van haar betrokkenheid by die Voortrekkers pronk in die huis en dan ook, glo dit of nie, foto’s saam met Nelson Mandela. Hy het besoek aan tannie Betsie in Orania kom aflê. Hy’t koeksisters en koffie gekry en dis wat ek glo Orania reg doen – hulle absolute diplomatiese benadering tot sake. Hulle beskaafdheid.
Ek besoek die Kultuur-historiese museum. Dié museum is langs die Orania dorpskantoor en wek opnuut ‘n trots vir waardeur my mense moes gaan om vandag hulle plekkie onder die Afrika- son te kan hê. ‘n Fantastiese stukkie erfenis wat ek hoop vir altyd mag staan. Ek bevestig my afspraak vir die volgende oggend by Tannie Rina Wiid se Doornbult erfenisterrein en gaan tel dan die drie dosyn koeksisters by tannie Francis op. Dis die laaste moet op my Orania-kortlys en die koeksisters sal my huis toe vergesel.
Orania is trots op Afrikanererfenis deur die oprig van die Koeksistermonument asook die gebruik van ‘n koeksisterpatroon op hulle eie geldeenheid – die Ora. Elke Ora noot het ‘n Afrikanerheld/-heldin aan die voorkant. Racheltjie de Beer is op die 10 Ora, dit is ook die enigste Ora wat ek besit. En sal besit. Want dis so kosbaar, dat ek dit nie kon weggee nie en eerder met rande oral betaal het.
Terug by tannie Francis. Ek stap in ‘n beskeie huis met ‘n Pomeranian-hondjie wat my waagmoedig wegblaf van sy huis af. Tannie Francis heet my welkom, vra waar ek vandaan kom, wat is my lewenstorie, hoekom Orania. Ek teken in haar besoekersboek en met die uitgaan sê sy dat hierdie ‘liefkind’ moet onthou om weer die kar se deure te sluit as ek Vrydag uit Orania ry. Dis sulke dik, groot, soet en sappige koeksisters.
My laaste aand in Orania loer ons hoe die son oor die Oranjerivier totsiens sê by ‘n afgeleë plekkie genaamd “Noord-Kaai”. Ons lag, gesels, ruil stories oor universiteite. Ons lag vir die kantlyn-kommentaar en raak nostalgies oor dit wat was. Maar ook opgewonde vir dit wat kan wees – veral met in agneming van die groot gebiede wat die Orania Beweging uitgesit het vir hulle eie tersiêre instituut waar Akademia ook uitgesien sal word.
Daar is mense wat al hulle hele lewe in Orania is, daar is mense wat ‘n week en ‘n half hier is en mense wat al vir ‘n dag Oraniërs is, maar almal is welkom. Niemand is verhewe bo iemand en almal mag in die Afrika-son sy plekkie inneem. Die volgende oggend pak ek en rat myself vir die lang rit huis toe. Die Melktertkommissie se “Proudly South African” begin speel. Ek laat die note afrol en val, want ek het in hierdie afgelope dae besef – die land het nie my mense in die steek gelaat nie. Die mense in beheer, het wel. Ek is steeds ‘n trotse Suid-Afrikaner. En die mense in Orania is veral trots Suid-Afrikaans. Dis hoekom hulle hier is. Ek tel die twee selfgebakte brode by Krummels Bakkery saam met die wit beskuit op, ek groet en bedank al die mense wat my vir twee weke gedra en gehelp het. Soos ek die kar aanskakel, begin dit drup. Dit drup-drup egalig in Orania, die wolke trek saam. Vandag spoel God hierdie wêreld af. Nie skoon nie – want jy sien nie ‘n enkele rommel iewers of êrens gestrooi nie. Dus is dit nie nodig vir skoon nie, Hy spoel net af. Terwyl ek uit Orania ry en die Klein Reus (Orania se simbool) agterlaat, sing ek uit volle bors saam met Coenie: “Ruik jy katbos en kambro, as dit reën in die Klein Karoo”.
Ek ry verby Hopetown en op Kimberley wonder ek of ek nie maar moet terugdraai nie. Ek groet en groet, maar niemand waai terug nie. Die opgewondenheid na my eie huis lê egter diep. Maar ek voel ek los iets agter. Duskant Warrenton staan dieselfde vier padwerkers by dieselfde groot slaggat. Hulle het nog nie in die twee weke kon vorder nie. Maar in Orania word ‘n paar bakstene ‘n hele muur in ‘n paar ure. Soos ek die Noord-Kaap verlaat en Wes-Transvaal binnedring, weet ek, tannie Carike is reg. Daar is ‘n land van kleure en klank. ‘n Land van oorvloed en dank. Dis hierdie land. Ek sing uit volle bors saam en begelei vir tannie Carike tot op die einde van die note. Later besef ek, ek luister net die Afrikaanse musiek en skiet verby die Engelse liedjies – nie omdat ek enigsins iets teen Engels het nie. Afrikaans klink net soveel mooier. Veral nou; nou dat ‘n mens voel daar is ‘n plek vir hierdie taal en dat jy voel jy daarop màg trots wees, sonder dat iemand ‘n kamma politiese simbool daaraan heg. Dis ‘n taal. My taal.
Twintig kilometer voor Wollies is ek deur die speellys en begin Lianie se “Vergeet my nie” speel. Ek groet nie meer nie, want niemand groet nie. “Wat sal dit vat om ‘n honderd myl te loop. Wat sal dit vat om ‘n plekkie te herdoop”. Ek dink aan waar ek twee weke gelede was én waar ek nou is. En ek besef, my volk het met ‘n ossewa baie verder as net honderd myl geloop, Lianie. En my volk het hulle eie plekkie gaan herdoop. Dit het baie gevat, maar dit is alles werd. Dit is moontlik, dit het gebeur. En hier bou ons, my mense, my volk weer aan hulle eie plek. Ek, Afrikaner, het hierdie plek van my volk besoek. Ek sal oor en oor. Want daar behoort ek. My antwoord op die vraag: “Hoekom het jy Orania gekies?”. Ek sal help hieraan bou – want dis wie ons is. Dit het my nie eens twee weke geneem om te besef, my volk was nie altyd verkeerd nie. Ek skink my koppie Rooibos en besluit daar en dan, ongeag wat, ‘n liefde vir eie taal, eie kultuur, eie godsdiens, eie tradisies en eie volk sal nooit oorbodig wees nie. Adam Tas se Hooglied word maar gespeel en ek luister, roerend-roerend die Rooibos, na die woorde. In Afrikaans. My taal. Van my mense. Soos die in die Noord-Kaap. Soos die in Orania – ‘n plekke herdoop vir my volk. (Foto aangeheg is by Orania se ingang, deur my moeder, Corna Kamffer, geneem).

   
  
 

  Lees meer ...

 

 

 

Phalaborwa

 

Phalaborwa: Taaldorp – Afrikaans reën soos katte en honde in Phalaborwa

Bronley Ngobeni: Hoe lyk Afrikaans in Phalaborwa? Skole soos rooi skool en groen skool laat die taal reën oor Phalaborwa. Ek is swart en Afrikaans is die eerste taal wat ek kon skryf. Ek het van diftonge, meervoude, idiome soos "Jou brood in die sweet van jou aangesig eet" geleer. In Phalaborwa is Afrikaans vir alle kleure mense. Afrikaans lyk baie pragtig in Phalaborwa.”

 

Pretoria

 

Pretoria: Kiekiesdorp – My Dorp is Afrikaans

Erinda Esterhuizen: Ek geniet my taal, Afrikaans en in my dorp is dit oral rondom my. Dit is in die strate van Pretoria, die kuierplekkies en eetplekke, asook in die atmosfeer om ons. Heerlike musiek van my moedertaal. Ek is verlief op Pretoria. Ek is hier gebore en dit is deel van my. Die Magaliesberge en Pretville Piekniek oor naweke by die ou Wonderboom en oefening en draf op teen die berg om die Fort te sien, weggesteek van die besige wêreld. My dorp, Pretoria, skitter met die reënboognasie.

 

Randfontein

 

Randfontein: Taaldorp – Afrikaans in my dorp

Bianca Masser: Randfontein ons klein dorpie, maar verseker die dorp wat die Here loof en prys in Afrikaans. In my Afrikaans-klas het my Juffrou Elzita altyd gesê: "Wat is my trots?" Dan sê die klas: "My taal Afrikaans". En dis wat ons elke dag in haar klas moes gesê het voordat ons kon sit. Hoekom jou taal meng as jy dan 'n wonderlike taal het wat eg Suid-Afrikaans is en nêrens anders in ons wye wêreld gepraat word nie? Jannas die Hoërskool wat Randfontein verseker trots maak. Jannas het hul eie lid van die ATKV en lewer elke jaar fantastiese graad 12-uitslae in Afrikaans. Die foto wat ek aanheg is ons Afrikaans-juffrou, sy gee nie net Afrikaans nie, maar sy is ook Jannas se religie-groep se voog. Ons groepie jong mense help elke jaar die minderbevoorregtes en ons gee ook ‘n helpende hand by ons bejaardes se oorde.

 

Riebeeckstad

 

Riebeeckstad – Afrikaanse taaldorp by uitstek

Arnoldus Schoeman noem homself ’n geharde boerseun en woon reeds 69 jaar lank in die Goudvelde. “Kyk, hier word nog eg-Afrikaans gepraat. Menige swart mense het by my Afrikaans geleer. Hulle is absoluut mal oor ons taal en sy mense. My vrou, Antoinette, is beslis ’n ambassadeur vir die behoud van Afrikaans. Haar passie vir die taal, haar mense en haar land is onmeetlik kosbaar. Sy het die HAT van die eerste tot die laaste bladsy deurgewerk en glo my sy het weer van vooraf begin! Dis haar tweede Bybel en waar ons gaan, toer haar HAT saam. Ons maak ons gemeenskap baie bewus van die behoud van ons pragtige taal. Ons is ‘n groepie mense wat al jare bymekaarkom om meer oor Afrikaans en sy kultuur te leer. Ons ruil woorde uit en skep dan die beeldskoonste woorde – woorde wat in geen boek voorkom nie. Dit is groot pret. Ek sal veg vir die behoud van my moedertaal tot die dag wat ek hierdie wêreld groet. Ek sal beslis my liefde vir my taal voortsit wanneer ek eendag in die Hemel is!”

 

Slangrivier

 

Slangrivier: Liedjiesdorp - singers en rymkletsers in een dorpie

Denique Pretorius skryf: Elke dag word hier in Slangrivier buite die "boks'' gedink. Glo dit of glo dit nie - hier in dié dorpie sal die jaarlikse KKNK op sy beste vertoon. Hier word Afrikaans teen die grond gepraat, ge-rap, gesing en geleef. SLANGRIVIER - die liedjiedorp. Kom kyk self.

 

 

 

Stilbaai

 

Stilbaai: Taaldorp

dr Jan Vosloo, (D.Litt., US)
Uit Stilbaai laat weet dr Jan Vosloo, (D.Litt., US), dat daar by hulle talle sakeondernemings is met die mooiste Afrikaanse name wat ook lekker op die tong val.

Name soos:
Blombos en Fynbos (apteke); Die Withuis (eetplek); Botterkloof (eet- en verblyfplek); Jakkalsvlei (kelder); Alikreukel (gastehuis); Allegaartjie (winkel); Atlas (sportwinkel); Brugstories (winkel); Oppierivier (winkel); Dolfyn (sweiswerke); Drie Ankers (dansplek); Fontein (gastehuis); Gister se Goeters (tweedehandse goedere); Kekkel en Kraai (pluimveeprodukte); Kiewiet (eiendomsagent); Kloof (houtwerke); Voëltjie se Werf (houtwerkprodukte); Knijpers Kreatief (naaldwerk); Preekstoel (woonwapark);
Lappiesbaai (eetplek); Lapskuit (eetplek); Pakketmoles (skryfbehoeftes en drukwerk); Duine-Mall (sakegebou); Kraantjie (drankwinkel); Mamma Mia (kunshandelaar); Mengelmoeskardoes (winkel); Visparadys (vishandelaar); Die Wasbalie (washuis); Takkiesrug (vakansieverblyf), Lappies & Lint (materiaalwinkel).
Dan is daar ook verskeie straatname wat opval, soos Perdekuil, Kershout, Noemnoemsingel en Kinkelbossteeg.


   
  

 

 

Stilbaai: Kuierdorp – ’n skrywersparadys. 

Ingestuur deur dr Jan Vosloo, (D.Litt., US).

Bedrywige Afrikaanse skrywers op Stilbaai

Stilbaai beskik oor ‘n produktiewe skryfkring met ongeveer 25 lede wat gereeld publikasies die lig laat sien. Die Skryfkring was self verantwoordelik vir die volgende publikasies:

  • Onder een hoed
  • Erfgoed
  • Storie-rondomtalie
  • Melkhoutfontein
  • Skulp teen die oor
  • Walvisstories

Lede van die skryfkring en ander skrywers het soos volg gepubliseer:

  • Kortverhale van Marianne Collen en Hella Dockel verskyn in “Sonvangers” saamgestel deur Rita Gilfallen en Marianne Collen
  • Gedigte van Antoinette Klein. Elize Calitz, Wilna Meyer, Marie Cronje, Pat Scott en Ann Hiemstra verskyn in die “Nuwe Kinderverseboek” saamgestel deur Riana Scheepers.
  • Elise Calitz, Antoinette Klein, Mariette de Beer Marianne Collen en Jan Vosloo se verhale het in “Die melkweg het ‘n ster laat val” (Riana Scheepers) verskyn.
  • Henk Bierman “Leer die Bybel speel-speel ken”
  • Antoinette Klein “As hoenders agteruit vlieg”
  • Hella Dockel “Stilbaai Kosbrief”
  • Hella Dockel “Omdat ons omgee”
  • Elise Calitz “Argeloos”
  • Elise Calitz “Spatsels in die wind: haikoes”
  • Aletta Hanekom “Fransmanshoek”
  • Aletta Hanekom “Diepadkloofin DIE HEL”
  • Louw van Schalkwyk/ Ann Hiemstra “’n Plan is ‘n duineboerdery”
  • Rina Liebenberg “Stories uit die windviool”
  • Jan Vosloo “ Wyd en syd uit Stilbaai”
  • Jan Vosloo “Versvreugde”
  • Jan Vosloo “Vonkelverse”
  • Jan Vosloo “Stoeriesjêmpyn”
  • Piet Hugo “Van melkstoel tot preekstoel”
  • Koosie Delport “Die ja-woord is uit”
  • Koosie Delport “Sewe sakke sout (Boustene vir ‘n gelukkige huwelik)”
  • Koosie Delport “Ons gaan trou”
  • Koosie Delport “’n Bril vir Bybel lees”
  • Koosie Delport “So is die lewe”
  • Wilna Meyer “Verskillende vensters”
  •  Wilna Meyer “Waaruit ek na vlerke reik”
  • Wilna Meyer “Skeur”

Sekerlik die hoogtepunt van Afrikaanse skryftalent op Stilbaai is geleë in die feit dat die veel bekroonde skrywer, Marie Heese, ook haar jongste publikasies hiervandaan die letterkundige wêreld ingestuur het:
“Karoo-kantate” (2013)
“Vuurklip” (2013)
“Maestro” (2016). 

Op Stilbaai sê hulle dit in Afrikaans.

   
  

 

  Lees meer ...

 

 

 


Swellendam

 

Swellendam: Kuierdorp - Kuiertaal

Lucreshia Pietersen: Hiergh pgraat ons Afrikaans! Hetsy met 'n bgry, soos in "Antie het djy nie vir my biechie,(bietjie uitgespreek as sulks), gogrt nie." Met die Kaapse Vlakte Afrikaans-Engels mix. "Ek wil biechie veggie soup maak man. " Die Namibianer, soos sy haarself noem, het verreweg die mooiste aksent vir my! "Die d... tjenners het weer hoe laat in die se huis gekom. Hulle se pa is weer dik de m*&# in." Moenie vergeet van: "how much my fwend" by die spaza-shop. "Sikety six land my fwend". Bedoelende, "R66,00 my friend". Dan nog onse Xhosa-buurman: "Jirre myvrou wannergh jou man sy kom by die hys?" Jy trap in die strik. Besef eers agterna jy het sy aksent aangeneem met jou antwoord: "Nee medulla, hy gan goed. Wanner jy gan by die laaaand?"

 

 

 


 

Tzaneen

 

Tzaneen: Kiekiesdorp

Willie Botha

 

Die foto is laatmiddag by die Politsi-brug oor die Tzaneen-dam geneem. 

 

Magoebaskloof-dam.

 

Debegeni-waterval net buite Tzaneen.

 

Die foto is in Agatha van Serala geneem.

 

Tzaneen-dam.

 

 

 

 


 

Upington

 

Upington: Kuierdorp

Heidi-Jane de Wee skryf: Gee my nog 'n taal so mooi soos Afrikaans,'n taal met 'n uitdrukking vir elke emosie onder die son. Vir die mense in my dorp is Afrikaans hulle gemaksone. Wanneer daar Afrikaans gepraat word,voel jy letterlik die rooi woestynsand vuurwarm onder jou voetsole. Die inwoners van my dorp is Afrikaans gemaak en net so laat staan. Afrikaans is by een en elke individu in my dorp ingewortel, en dit sal baie moeite neem om hierdie wortels ooit los te grawe. Die Afrikaanse taal vloei uit die monde van die mense in my pragtige dorp net soos die water van die Oranjerivier gemaklik en rustig tussen die riete deurvloei. Die taal Afrikaans takel jou hartsnare, en laat jou die mooiste liedjie sing, in Afrikaans natuurlik. Afrikaans is die taal wat al die mense van my dorp bind met 'n band van diversiteit, omdat elkeen sy of haar eie dialek van Afrikaans praat. Op die einde van die dag bly dit hierdie einste band wat almal in die dorp eintlik een groot familie maak. Afrikaans is 'n taal wat verdien om gevier te word, want Afirkaans is waarlik plesierig!

 

 

 

Virginia

 

Virginia: Kuierdorp - Klein maar lewendig

Elize Haasbroek skryf: Wanneer donker, swaar wolke neersak oor die klein dorpie, hoor jy oom Piet sê: "Vandag speel ons maar die 18 gate in die kroeg." Dis waar die manne praat en kuier tot diep donker, en selfs Julius, die kroegman, praat lankal nie meer Sotho nie. Dis hier waar ons nog die sonsondergange waardeer, waar die mielies hoog groei en waar die tuine nog spog met die lelies. Dis waar jy jou skoolvriend van 30 jaar terug raakloop in die Spar, en die swaar verkeer beteken die brandstoflorrie voor jou ry NET 40 km/uur. Die kerk sit stampvol en kinders ry nog fiets in die straat. Hier is waar ons plan maak om Afrikaans in die skole te hou, al beteken dit dat ons twee skole sal saamsmelt as een. Dis wie ons is, nie ‘n dorp nie, maar een groot familie. Ons baklei, speel, waardeer, eet, bid en kuier nog eg Afrikaans.

 

 

Vryheid

 

Vryheid: Taaldorp - Paddadam

Lourika de Bruyn: Vryheid KZN is 'n groot boeregemeenskap wat nog bestaan uit baie ou geboue, soos ons ou Klipkerk - een van die mooiste geboue nog oor in ons area. Dan is daar ook ons LMS Museum - steeds trots outyds in voorkoms. Ons het ook twee baie goeie skole in ons dorpie, LMS en Pionier. Ek wil julle egter meer vertel van ons die "Paddadam". Die dam bestaan al baie baie jare, maar onlangs het van Vryheid se inwoners bymekaargekom en die dam van voor af skoongemaak en so te sê nuut oorgedoen. Daar is nou stoeltjies, ’n klimraam vir die kinders, asook 'n klomp gansies wat rondswem in die dam. Die Paddadam het ook sy eie staproete. Daar is ook 'n nuwe instelling wat hul die jaar begin het met die "Paddadam Market Days" waar almal 'n stalletjie kan huur/koop om hul goedere uit te stal - van kos tot tuisgemaakte konfyt, ens. Daar word dan ook boeresport gehou. Een van die hoogtepunte by die Paddadam markdae is die goed wat gehou word vir jonk en oud. Tydens die tweede markdag was daar 'n Mnr en Mev Paddadam-konsert waar almal in iets groen moes loop/dans en dan was daar wonderlike pryse vir die 1ste tot 3de prinsessies in verskillende ouderdomsgroepe. Die volgende markdag hou ons ons eie "Paddadam IDOLS"-kompetisie. Dit is werklik iets wat ons gemeenskap saamtrek en alle ouderdomsgroepe geniet die samekoms. Ons hou ook elke jaar op 10 Junie ‘n motorskou waar mense van heinde en vêr saamkom om hul ou karre te kom wys. Daar is dan ook onder andere musikante wat optree om die dag meer gesellig te maak. Vryheid is ’n wonderlike lekker dorpie. Hier is ons eg Suid-Afrikaans!

 

 

 

Walvisbaai

 

Walvisbaai – Sakedorp: Afrikaans in Walvisbaai

Eveline Rosenau: In ons hawedorpie, Walvisbaai bestaan die industrie hoofsaaklik uit vis, die mynbedryf, en bootherstelwerke en instandhoudings. Hier is baie Spanjaarde, Portugese, Duitse en selfs Chinese inwoners wie al ons taal begin leer praat het. Uit respek sal ons Afrikaners hulle taal ook probeer aanleer om mekaar beter te verstaan en sodoende meer besigheid doen. Al praat ons soms 'n mengelmoes van tale, lag en kuier ons altyd na 5 in Afrikaans! Die foto is geneem by 'n Air Namibia funksie saam met twee van my kliënte. Foto is deur 'n fotograaf geneem.

 

Welkom

 

Welkom – die ideale kuierdorp ... in Afrikaans

Antoinette Schoeman beskryf Welkom met sy pragtige vlaktes en die mooiste sonsondergange as die ideale kuierdorp. Sy woon reeds 66 jaar lank in die Goudvelde waar daar eg-Afrikaans gebak, gebrou, gespot, gebabbel en geraas word. Antoinette sê: “Hier glo ons nog in bring-en-braai boekbesprekings, tydskrifontledings en word daar net Afrikaans gepraat ... die mooiste en suiwerste Afrikaans. Die tannies van die tuisnywerhede bak eg-Afrikaanse disse soos bobotie met geelrys en rosyne, afval met ’n lekker lang sous. Daar word melkterte gebak en die heerlikste Jodetert. Hier is Afrikaans beslis oppibôl en slaan behoorlik bollemakiesie in ons Afrikaners se huise. Ons eet, slaap en kuier in Afrikaans. Ons is absoluut verslaaf aan die mooiste taal in die wêreld. Kyk hier word die mooiste woorde in Afrikaans uitgebeeld. Ons het ’n Afrikaanse vroueklub wat ons taal en sy mense en selfs ons land promoveer. Ons is onmeetlik lief vir ons taal en baie andertaliges het al vir ons gevra om hulle hierdie pragtige taal te leer. Ons het al vyf hoog-Engelse dames by ons klub betrek en kyk hierdie meisies praat meer Afrikaans as hul eie taal! Ons harte klop Afrikaans – dit is ’n feit wat ek al hoe meer besef. Afrikaans is ons liefde en ons hartklop. Hier het Afrikaans ’n baie spesiale plek, want ons Goudvelders is eg-Suid-Afrikaans. Ons doen alles in ons taal. Lank lewe die mooiste, beeldskoonste taal in die wêreld!“

 

Welkom – kuierdorp

Antoinette Schoeman: Goeiemiddag, my eg-Afrikaanse familie wat woonagtig is in die beeldskoonste kontinent van die wereld! My dorp se naam is WELKOM - hier is ons absoluut gek oor ons taal, ons tradisies en ons onmeetlike liefde vir ons medemens. Ons braai nog elke naweek - ons kyk rugby saam - ons dans saam - ons gym saam... ons is een baie groot Afrikaanse familie en glo my 50% is andertaliges, maar hulle is mal oor ons taal. Ek self het al baie andertaliges my pragtige taal Afrikaans geleer. Ons is 'n Engelse gemeenskap wat mal is oor ons Afrikaners se tendense en ons vorm een GROOT gelukkige familie. Daar word melkterte gebak, koesusters gebore by baie Engelse families, die wals word gewals en boeremusiek vier hoogty in hierdie Vrystaatse dorp. LANK LEWE MY TAAL, MY MENSE EN MY PRAGTIGE LAND!!