Vrystaat Kunstefees: 8 – 14 Julie 2018 – ’n Fees wat jou asem sal wegslaan!

Foto links: Maricelle Botha, Bloemfontein Courant, foto regs: Erwin Maas

“Die Vrystaat Kunstefees, in wese ’n Afrikaanse fees, is besig om hom as een van die belangrikste internasionale kunstefeeste op die Afrika-vasteland te vestig.” – Dr. Ricardo Peach, Feesdirekteur

Vandaar vanjaar se tema: Migrasie.  Vanaf 8 tot 14 Julie gaan dit weer gons op die Kovsiekampus in Bloemfontein. Die Vrystaat Kunstefees is die besoek werd, afgesien van die winterweer, want hier kan feesgangers uitsien na die “beste toneel, musiek, visuele kuns, rolprente, performance-kuns, lewende kuns, eksperimentele kuns, kunsvlyt en koskuns in die land”.

Vanjaar is daar meer as 40 internasionale skrywers, digters en kultuurpraktisyns uit talle wêrelddele betrokke by die fees. Dit sal ook die eerste keer wees wat daar ’n uitruilprogram aangebied sal word, die Pan-Afrika Kreatiewe Uitruilprogram (PACE) wat deur die borgskap van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief  (NATi) moontlik gemaak is. Drie dae lank gaan daar gepraat word oor die ontwikkeling van Afrikakultuur. Die Projek vir Innovasie en Kunsvormontwikkeling (PIKO) en NATi  help ook om ko-produksies van Holland, België, Australië en Singapoer aan te bied.

Links; Wie’s jou pappa – lees meer oor die produksie hier. Regs: DEUR-nis een-tot-een teater – lees meer oor die ervaring hier.

Die Vrynge: 7 – 14 Julie 2018

Nou in sy derde jaar, bars die Vrynge vanjaar uit sy nate met opkomende kunstenaars wat hulle talente met gehore gaan deel. Hier word jy meegevoer na die toekoms van kuns en kultuur en is daar talle produksies en werksessies asook ateljeetoere en kortflieks om na uit te sien.

Vrynge-koördineerder: Michael Garbett Michael.Garbett@Volksblad.com

Denver Breda, ’n skrywer, taal- en kultuuraktivis en digter van Lavender Hill op die Kaapse Vlakte, is ’n ambassadeur vir Afrikaans. Sy nuwe stuk, “Kawakawas” (die Khoi-woord vir restoration), is ook te sien by die Vrystaat Kunstefees.

“Kawakawas is ‘n komedie wat handel oor die kerk en hoe ons mense soms vasgevang is daarin. Dit gaan oor wat gebeur met mense wanneer hulle hul spiritualiteit verloor. Dit raak kwessies aan van magsmisbruik en manipulasie. Wanneer mense hulself verloor, is hulle maklik kwesbaar vir manipulasie.”

Lees ook:

Denver Breda, ambassadeur vir Afrikaans

Foto’s: LitNET

Die Vrystaatse Literatuurfees: 10 – 14 Julie 2018

Vanjaar gaan sprekers en digters hulle veral toespits op migrasie en kulturele beweeglikheid.  Kry jou grysstof aan die gang en woon gerus van die gesprekke by. Die bykans 60 voorleggings dek ’n verskeidenheid onderwerpe en temas en daar is beslis iets wat in elkeen se smaak sal val. Taal, kultuur, ras en identiteit is van die onderwerpe wat ondersoek sal word.

Daar gaan hulde gebring word aan mense soos CJ Langenhoven, Dan Sleigh, Hermann Giliomee, Dalene Matthee en Flaxman Qopane. ’n Groot hoogtepunt is dat besprekings en werkswinkels asook huldeblyke in drie tale, Afrikaans, Engels en Sesotho aangebied sal word.

Feesgangers kan ook uitsien na gesoute joernalis en TV-persoonlikheid Ruda Landman se Diskoersreeks. Sy gaan onder andere gesels met Jan-Jan Joubert en Mondli Makhanya oor die toestand van Suid-Afrikaanse politiek en Liza Smit oor die brutale en steeds onopgeloste moord op haar pa, Robert Smit.

Philip de Vos, Piet Grobler en Niki Daly gaan praat oor die vertalings en illustrasie van kinderstories en Christien Neser beklemtoon die belangrikheid van moedertaalonderrig.  Verder kan uitgesien word na besprekings oor die talle gesinsmoorde wat die afgelope paar jaar plaasgevind het.

Gaan loer ook gerus by die Digkunskafee (Poetry cafe) in waar daar ’n ryke verskeidenheid is om uit te kies.

Literêre Feeskoördineerder: Corneli van den Berg – Corneli.vdberg@volksblad.com – 072 802 0220 / 051 404 7765

“Kom saam na die ryke verskeidenheid wat die kunste jou bied en gordel vas vir ‘n soms ontstellende en/of gevaarlike, maar meestal avontuurlike en opwindende oorgrensreis.” – Annalize Dedekind, voorsitter van die Vrystaat Kunstefees se bestuurskomitee en adjunk-redakteur van Volksblad

Vir die volledige program: https://www.vrystaatkunstefees.co.za/files/VK2018-digital-sml.pdf

Navrae: Adri van Veijeren, Ontwikkelingsbestuurderkonsultant: Tel: +27 (0)51 404 7947 Adri.VanVeijeren@volksblad.com

Kaartjies: Computicket

Lees meer:

www.vrystaatkunstefees.co.za

http://www.volksbladfees.co.za/

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!