US Woordfees – verskillende harte deel ‘n Afrikaanse ritme …

Vanjaar se US Woordfees was inderdaad ‘n fees met vele gesigte en grensverskuiwende konsepte waar groot treë gegee is om die groter Afrikaanse gemeenskap die geleentheid te gee om so ‘n bietjie nader aan mekaar te staan.

Die 100 persente-inisiatief was ‘n konsep (eerste van sy soort) wat hopelik uitgebou sal word en wat moontlik by ander feeste sal inslag vind. Feesgangers het die geleentheid gehad om kaartjies aan te skaf namens mense wat dit nie kan bekostig nie en die konsep is selfs ondersteun deur mense wat self nie vanjaar se fees kon bywoon nie.

100% Stellenbosch was nóg ‘n eerste en ‘n ware feestelike samekoms van identiteit, gedeelde herkoms en unieke verskeidenheid. Hierdie was ‘n unieke ervaring wat die aandag kon vestig op die ryk samestelling van ‘n gemeenskap wat saam ‘n kleurryke en interessante toekoms bou.

Nog ‘n hoogtepunt was Sihle Lubanga, ‘n vierdejaarstudent in Opvoedkunde, se #amagama (Woorde) -projek.

Feesgangers kon 100 Xhosa-woorde aanleer in die loop van die fees en in die strate kon jy hoor hoe maak mense kennis in Xhosa met “ngubani igama lakho!”

Buiten hierdie lekkertes was daar natuurlik produksie op produksie, ervaring op ervaring en Afrikaans.com het vanjaar besluit om feesgangers en deelnemers nader te hark en te vra … hoe was dit vanjaar by die US Woordfees?

Shannon Kelly Ryan en Mntuwomzi Mrali.

Mntowomzi Mrali, Johan Stimi, Elsje Dirks en Johan en Elsje se twee kinders, Ryan en Shannon, Shannon Kelly Ryan, Paul Khambule en Vida Viljoen (projekbestuurder).

Kleedrepetisie – foto bo: Pierre Rommelaere.
Foto onder: Universiteit van Stellenbosch.

Saartjie Botha (US Woordfees-feesdirekteur).

100% Stellenbosch

100% Stellenbosch, aangebied ter viering van die Universiteit Stellenbosch se 100ste verjaarsdag, was vanjaar die US Woordfees se vlagskipproduksie. Die produksie is aangepak saam met Rimini Protokoll, ‘n Duitse teatergroep uit Berlyn, wat soortgelyke produksies al in 34 stede regoor die wêreld aangebied het.

Die 100%-teaterstuk werk só: ‘n Honderd deelnemers is gekies wat 1% van die Stellenbosse bevolking en demografie verteenwoordig. Byvoorbeeld, volgens die 2011-sensus is 51% van Stellenbosch se inwoners vroulik en 49% manlik. Dus was 51 van die deelnemers vroulik en 49 manlik.

Tydens die vertoning het die 100 deelnemers op ‘n ronde verhoog wat in segmente verdeel word, byeengekom. Vrae oor ‘n groot verskeidenheid kwessies is gestel en die deelnemers beweeg telkens na die deel van die verhoog wat by hul siening pas.

Die resultaat was ‘n fassinerende blik op Stellenbosch se vele koppe en harte.

Saartjie Botha, US Woordfees-direkteur sê in ‘n onderhoud met Naomi Meyer (LitNET) dat ” waar die projek beslis verskille uitwys, sal dit ook wys hierdie baie diverse groep mense (en dorp), word gebind deur verskillende ervarings, oortuigings en drome “wat ons, uiteindelik, as ‘n eenheid saambind”.

Die aanbieding was vir die US Woordfees die kersie op die universiteit se verjaarsdagkoek.

Volgens Saartjie verteenwoordig die projek die hoekstene van die fees – inklusiwiteit, heel word van mense en die verruiming van denke. Die statistiek rondom die demografie en samestelling van Stellenbosch is baie interessant. Die gemeenskap bestaan uit 52% bruin mense, 28% swart mense, 18% wit mense en 0.83% ander.

René Arendse kon namens Afrikaans.com luister na die refleksie en ervaring van die deelnemers, die projekbestuurspan en ook toeskouers. In ‘n neutedop: lewensveranderend.

“Ek het besef dat ek die sosiale plig het om ander se lewens te help verbeter ..” sê Johann Stimie (deelnemer).

“Dit was baie meer as net ‘n produksie vir my … dit het mense se denke van mekaar heeltemal verskuif …” – Vida Viljoen (projekbestuurder).

“Dit het my nuuskierig gemaak om meer van ander se kultuur en taal te leer … ” – Paul Khambule (deelnemer).

“Omdat ek die hele proses kon aanskou dwarsdeur repetisies en optrede kon ek sien hoe mense transformeer en mekaar beter verstaan en inneem … Mercy Kannemeyer.

Lees meer oor die produksie hier.

Piet Matipa met sy skreeusnaakse stories in Dwarsklap.

Gerhard Scholtz, Piet Matipa, René Arendse, Sherene Crotz en Marilyn Gantana.

Sihle Lubanga van #amgama.

Shannon Kelly Ryan

Shannon Kelly Ryan – Deelnemer van produksie 100% Stellenbosch
“Jongmense KAN ‘n sukses maak van hul lewens ongeag waarvandaan hulle kom of watter talente hulle het… Hierdie produksie het my lewe verander…”

Jan Mutton

Jan Mutton – Voormalige ambassadeur van België en feesganger
“Ek is omring deur Afrikaans … wat anders genoeg is om uitdagend en boeiend te wees en tog eenders genoeg is om my tuis te laat voel.”

Kyle Seconna

Kyle Seconna – Kunstenaar: Sanger, akteur en deelnemer van Club Cabaret & Ballades 2. “Ons land beweeg met ‘n unieke ritme wat ek nêrens in die wêreld ondervind nie. Na ‘n jaar in die buiteland maak die fees my positief oor ons diversiteit.”

Quinton Adams

Quinton Adams – Opvoedkundige sielkundige/ navorser/ sosiale kommentator – feesganger
“Met al die geprekke en diskoerse tydens die fees is dit belangrik vir my dat mense die diepte van menswees verstaan. Ons moet die reuk van armoede verstaan …”

Jaydean Swartbooi

Jaydean Swartbooi – Laerskoolleerder van die Swartland – feesganger
“Ek het die VVA-Leeskonferensie van WOW bygewoon. Dit was baie lekker. Ek is geïnspireer om meer te lees.”

Sumaya Pool

Sumaya Pool – Voorportaaldienste tydens fees
“Dis ‘n fantastiese ervaring … om bekendes en nuwe mense daagliks te ontmoet, is ‘n belewenis.”

Prof. Andries Visagie

Prof. Andries Visagie – Universiteit Stellenbosch, Departement Afrikaans & Nederlands – feesganger
“My hoogtepunt-produksie was Liewer. Dit het my op die punt van my stoel gehou!“

Mntuwomzi Mrali

Mntuwomzi Mrali – Deelnemer aan 100% Stellenbosch
“Hierdie produksie het my honger gemaak om meer van ander se kultuur en menswees te leer.”

Sima Mashazi

Sima Mashazi – Kunstenaar en sangeres van My Miriam Makeba Story
“My hoogtepunt tydens die Woordfees was om 100% Stellenbosch te beleef. Die statistiek oor die samestelling van Stellenbosch was verstommend en moedig ons aan om die MENSE van Stellenbosch raak te sien.”

Marlene Fry

Marlene Fry – Bestuur WOW Leesprojekte in skole
“Die Woordfees bring gemeenskappe nader aan mekaar … en help dat Afrikaans lewendig bly.”

Eureka Barnard

Eureka Barnard – SASNEV Uitvoerende Hoof – feesganger
“Die Woordfees gee nuwe taal horisonne … Ek ondervind ‘n verruiming in Afrikaans … binne en buite ‘n Nederlandse en Vlaamse inhoud …”

Prof. Johan Anker

Prof. Johan Anker – Leeskundige, KSUT – Leeskonferensie-gasspreker
“Binne ons Afrikaanse leefwêreld sal daar altyd ‘n plek vir die Woordfees wees. Ons het hierdie gesprekke en die teater nodig om ons taal te laat voortleef.”

Piet Matipa

Piet Matipa – Skrywer en gasspreker by Teetyd in Idasvallei
“Dis okay om omstrede te wees … solank ons almal se opinies kan respekteer. Afrikaans is ons almal se taal … leef dit uit.”

Bridgette Farao

Bridgette Farao – Skoolleerder en voorportaaldienste
“Sjoe … dis so lekker om so baie mense te ontmoet … veral die akteurs en bekende mense. Die beste van alles is dat almal om my Afrikaans praat.”

Gary Naidoo

Gary Naidoo – Akteur en Woordtrofee-paneellid
“My hoogtepunt by die Woordfees was sonder twyfel die produksie, Womb of fire. Met ‘n eenvoudige stel is ‘n baie dramatiese en hartroerende boodskap oorgedra. Teater op sy beste.”

Danie van Wyk

Danie van Wyk – Projekbestuurder, Fedsas Wes-Kaap en DAK-Netwerk ondervoorsitter – feesganger
“Daar was verskeie hoogtepunte vir my … maar die belangrikste vir my is dat hierdie geleenthede geskep word by Afrikaanse feeste soos die Woordfees om Afrikaans as ‘n inklusiewe en vriendelike taal voor te stel en uit te leef …”

Chantell Swartbooi

Chantell Swartbooi – Hoërskoolleerder van Malmesbury – feesganger
“Ek het die fees baie geniet. Die Leeskonferensie was my hoogtepunt. Ek is herinner oor hoe belangrik dit is dat ek lees … Ek sien lees nou as my mensereg …”

Sihle Lubanga

Sihle Lubanga – Vierdejaarstudent van US Opvoedkunde Departement
“Ek geniet dit om tydens die fees mense my taal te leer praat. Die #amagama-projek help ander om hulself te verruim en ander se taal te leer … ”

Elsje Dirks

Elsje Dirks – Deelnemer aan 100% Stellenbosch
“Hierdie produksie het ons op soveel vlakke aangeraak. Dit was ‘n voorreg om my kinders, Theo en Melite, ook deur die proses te kon neem.”

Nicol Stassen

Nicol Stassen – Besturende direkteur van Protea Boekhuis – feesganger
“Die Woordfees gee wonderlike blootstelling aan ons skrywers … en dis so waardevol juis omdat daar nog soveel leemtes is in die ondersteuning van ons jong skrywers en kunstenaars.”

Indien jy ‘n Netwerk24-intekenaar is kan jy Hanlie Retief se onlangse onderhoud met Saartjie Botha lees. Klik hier.

Baie geluk aan die US Woordfeesorganiseerders. Tot volgende jaar!

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!