‘n Nuweling om dop te hou

Verona het pas haar debuutalbum Maskers vrygestel en beplan om nog diep spore in die vermaaklikheidsbedryf te trap.

Min het Verona Goslett geweet dat sy eendag as sangeres gaan naam maak toe sy op vierjarige ouderdom uit volle bors liedjies in die motor saam met haar tannie gesing het! Tog het ’n droom vir die pragtige blondekop kleindorpiemeisie ’n werklikheid geword met die vrystelling van haar debuutalbum, Maskers. Petronell Vorster het met haar gesels.

Haar komvandaan …

Verona, wat nie ’n vreemdeling in die vermaaklikheidsbedryf is nie, het reeds oor die afgelope paar jaar naam gemaak as aktrise, realiteitsprogramster, televisieaanbieder, radio-omroeper en joernalis en nou beplan sy om haar fokus 100% op haar sangloopbaan te plaas.

Vir Verona was die verwesenliking van haar droom om haar naam op die omslag van ’n CD te sien egter nie ’n vinnige of maklike paadjie nie en het die lewe alreeds wye draaie met die 26-jarige boorling van Meyerton geloop.

Na sy haar matrieksertifikaat in 2009 aan die Hoërskool D.R. Malan in Meyerton verwerf het, het Verona ’n B.Sc.-graad by die Universiteit van Pretoria aangepak. Sy het egter gou besef dat dit glad nie die rigting is waarin sy moet of wil wees nie en besluit toe om vir ’n B.A.-graad in Taalpraktyk aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus in te skryf.

Haar loopbaan

In die oorgangstydperk het Verona ’n kursus in drama by Brümilda van Rensburg se dramaskool voltooi. Dit is ook dié kursus wat vir Verona verskeie deure in die vermaaklikheidsbedryf oopgemaak het. Nie net het sy die rol van Brionay in 7de laan vertolk nie, sy was ook die naaswenner van Bobby van Jaarsveld se Jy is my liefling-realiteitsreeks op kykNET en was saam met haar goeie vriend, Llewellyn du Plessis, die vervaardiger en aanbieder van die ASTV-reeks, Vir Ewig en Altyd, wat oor die troubedryf gehandel het.

Na Verona haar honneurs in Joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus voltooi het, het sy onder meer vir die tydskrif Finesse, as mede-omroeper van die ontbytprogram op 90.6 FM en vir die tydskrif Wild & Jag/ Game & Hunt gewerk. Sy werk steeds by laasgenoemde as joernalis waar sy ook aan die stuur van hul sosiale media en videoproduksies is.

Verona se sangtalent het reeds vroeg in haar lewe begin blom. Sy het as 8-jarige sanglesse by Heidi Schoeman se Ateljee vir Uitvoerende Kunste begin neem en gedurende haar skoolloopbaan het sy aan verskeie eisteddfods, skoolkonserte en kunstefeeste deelgeneem. Haar betrokkenheid by kore (onder meer skoolkore, die Impromtu-koor en Suid-Gauteng Jeugkoor, Cola Vocé) lê haar ook na aan die hart. Volgens Verona het haar stem nie net geweldig ontwikkel in die kore nie, maar sy het ook wonderlike herinneringe opgebou. “In 2007 het ek saam met Cola Vocé in Europa getoer. Ons het in Italië in ’n katedraal gesing waar die hele koor gehuil het! Daar staan ons, in hierdie gebou, met duisende jare se geskiedenis om ons en ons sing en dis so mooi… Die oomblik was net te groot.”

Die droom van ’n eie album het Verona egter nooit verlaat nie en twee jaar gelede het sy een dag by die werk op Facebook op Muse Productions afgekom. Na Verona kontak gemaak het met Hugo Ludik (Hugo is onder meer bekend as een van die lede van ADAM) is die bal aan die rol gesit en kon Verona haar droom begin bewaarheid.

Verona saam met Vaughan Gardiner en Hugo Ludik van Muse Productions

Die album

Verona beskryf haarself as baie kieskeurig en erken laggend dat “dit waarskynlik is hoekom Maskers my twee jaar gevat het om te voltooi”. Tog wil dit voorkom of Verona se selferkende kieskeurigheid vrugte afwerp. Haar eerste enkelsnit, wat ook Maskers getiteld is, het reeds binne weke van die vrystelling die topspeellyste van onder meer 90.6 FM Stereo en SFM Streek Radio gehaal. Verona se musiek word tans op verskeie radiostasies landwyd (en selfs twee internasionale stasies in Namibië) gespeel.

Dié enkelsnit wat sy saam met Hugo Ludik geskryf het, lê Verona na aan die hart omdat dit deur ’n goeie vriend geïnspireer is. “Ek het ’n vriend wat reeds jare lank in die vermaaklikheidsbedryf as harlekyn werk. Hy het my eendag vertel hoe hy hierdie gesig opverf en hoe bevrydend dit vir hom is. Want niemand weet wie hy is nie, hy kan wees wie hy wil. Ek besef toe dat ons almal dit doen. Ons almal het probleme wat ons wil wegsteek, jy is bang mense veroordeel jou en gevolglik lewe ons almal agter maskers.”

Kom ons ontmasker. Kom ons word sterker. Haal af jou masker, kyk wat skuil daar agter. Gee jouself vlerke, jy weet jy’t geen perke. Haal af jou masker …

Die musiekvideo is hier!

Verona se  eerste Afrikaanse enkelsnit, Maskers, vanaf haar gelyknamige debuutalbum wat eersdaags uitgereik word, is onlangs vrygestel en het reeds ‘n  nommer 1-plek op beide 90.6 VCR en SFM Streek se trefferparades bereik.  Die snit, wat deur haar en Hugo Ludik geskryf is, het ’n folk-pop-aanslag. Die musiekvideo vir hierdie liedjie is deur KeyArt Services vervaardig.

Wat hou haar toekoms in …

Vra jy Verona uit oor haar musiekstyl beskryf sy dit as folk-pop. “Die album is propvol inspirerende lirieke wat mense uitdaag om oor hulself en hul lewe te dink,” sê sy.  Verona het ook baie inspirasie geput uit haar lewe en die dag-tot-dag dinge wat sy ervaar het om die liedjies op die album te skryf. “’n Vriendin wat Kanada toe geïmmigreer het, my oupa wat oorlede is, my verhouding met my kêrel en selfs flieks waarna ek gekyk het of dinge waarvan ek gelees het, het die lirieke op my album geïnspireer.”

Verona het nog baie planne vir die toekoms. Behalwe die ontwikkeling van haar sangloopbaan en die moontlikhede wat daarmee gepaardgaan gaan, sal sy ook graag in ’n Afrikaanse film wil speel. Verona werk ook hard daaraan om ’n suksesvolle loopbaan in die joernalistieke bedryf te bou. “Ek het rooimiere en sal nooit net kan sing nie,” lag sy.

Maar een ding is seker, die pragtige blondekop het hope talent en is beslis nie net nog ’n blonde popsangeres nie. “Vir my is dit baie belangrik om getrou aan myself te bly en met Maskers voel ek dat, hoewel ek miskien klanksgewys in ’n ander rigting beweeg het as wat ek beplan het, dit steeds ek is. Ek wil nie soos iemand anders lyk of klink nie en ek hoop wanneer mense na my musiek luister hulle sal hoor dat dit anders is.”

Verona se debuutalbum Maskers is aanlyn beskikbaar. Harde kopieë sal ook binnekort op die rakke wees.

Volg haar hier:

Facebook: https://www.facebook.com/verona.artist/
Twitter: @verona_vertel
Instagram: @verona_vertel

Foto: Hanri Human Photography

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!