Montagu Boekefees: 26 tot 29 Julie 2018 – verdryf die winterkoue met boeke, muskadel en Klein-Karoo-hartlikheid.

Montagu se Boekefees, geborg deur Wesgro, vind vanaf 26 tot 29 Julie plaas en dis beslis nie ’n fees wat jy wil misloop nie. Pak dus gerus daardie padkos en vat die pad na die mooie Montagu en gaan deel in die feestelikheid. Jy kan uitsien na kwaliteit boekbesprekings, sal kan skouers skuur met bekende skrywers, luister na goeie musiek, jou tong streel met muskadel en heerlik smul aan die kos.

“Die gemeensaamheid en die plattelandse gasvryheid saam met ’n ongelooflike versameling skrywers van uiteenlopende agtergrond, oortuiging en politieke standpunte sorg vir warm gesprekke en verbreed die denke. Dis ’n uitsonderlike geleentheid om jou gunstelingskrywers te ontmoet en met hulle te gesels, maar om ook voorgestel te word aan ’n nuwe generasie skrywers.” – Mareletta van Zyl Mundey – mede-organiseerder en bestuurder: Montagu-Ashton Toerisme.

Kom luister en praat saam

Enige boekliefhebber – of jy Engels of Afrikaans is – sal ’n skrywer of boek by die Montagu Boekefees vind wat jou boekehart warmer sal laat klop. Die gastelys sluit van die land se mees opwindende skrywers in: Karin Brynard, Riana Scheepers, Jan-Jan Joubert, Wilna Adriaanse, Chanette Paul, Haji Dawjee … die lys is lank. En hulle pak uiteenlopende onderwerpe aan wat jou sal laat dink en saampraat.

Karin Brynard wat internasionaal bekendheid verwerf het met haar spanningsverhale soos Tuisland en Onse Vaders, gaan Vrydagmiddag praat oor hoe haar boeke soms met een voet in die waarheid staan. Die titel van haar praatjie is:  “Feite en Fiksie – wanneer albei saamspan vir witwarm lekkerlees-stories”.

Wilna Adriaanse, skrywer van boeke soos Dubbelspel, ’n Klein lewe, Die boek van Ester en Vier seisoene kind kyk met ’n meer filosofiese bril na haar skryfwerk en praat oor “Wat skryf my geleer het”.

Die bekende skrywer en politieke ontleder, Jan-Jan Joubert, praat Vrydag oor sy boek Wie gaan in 2019 regeer?. Soos ons vir Joubert ken, kan jy eerlike analises en pittige ontledings verwag. Joubert het die vermoë om selfs die mees eentonige politieke landskap met entoesiasme en opwinding te besaai.

Don Pinnock, skrywer, fotograaf, omgewingskundige en kriminoloog skop Vrydagoggend die program af met ’n eksklusiewe voorskou van sy boek The Last Elephants wat later vanjaar verskyn. Pinnock is onlangs bekroon vir sy boek Gang Town en is bekend vir sy onskatbare bydraes as ondersoekende joernalis en fotograaf.

Haji Dawjee is ’n jong, vars en uitdagende stem wat gehoor moet word. Dis die stem van ’n nuwe generasie jong Suid-Afrikaanses wat die alledaagse sienings bevraagteken en die normatiewe skerp en eerlik uitdaag. Dis definitief ’n bespreking wat jy nie moet misloop nie. Haar boek Sorry, not sorry is een van die boeke wat op jou moet-lees-lysie van 2018 behoort te wees. Dawee is in lewende lywe net so uitdagend soos haar geskrewe werk en dit behoort tot ’n lewendige bespreking te lei. Soos Ferial Haffejee die boek beskryf: “Screamingly funny, achingly painful, excoriatingly honest.”

Die skrywersprogram fokus egter nie net op fiksie nie. Fotograwe, avonturiers, politieke ontleders, omgewingskundiges en geskiedkundiges sorg vir uiteenlopende onderwerpe wat sal uitdaag en fassineer. Van godsdiens tot etiket, van rotsklim tot liedjieskryf. Jy sal alles hier vind.

Skrywerswerkswinkel

Saterdag kan amateurskrywers hul potlode skerpmaak by ’n spesiale skrywerswerkswinkel wat deur Ernie Mellet, skrywer en hoofraadgewer van die Amateur Skrywersbond aangebied word. (Bespreek vooraf.) Hy is ook die samesteller van die boek Sprankel wat by die fees bekendgestel word. Dit is ’n samestelling van meer as 70 skrywers se inskrywings vir die Montagu Boekefees se skryfkompetisie.

Meer as net boeke op die fees

Donderdagaand word die Abba-produksie Thank you for the music deur die Nasionale Toneelorganisasie opgevoer. Tydens Vrydag se middagete sal die dansers van Dansescape feesgangers vermaak en tydens Saterdag se middagete ruk en riel die GB Batt Askoeke, die ATKV-rieldanskampioene van die Koo in die Montagu-distrik.

Musiek vir jou ore

Vrydagaand is ’n spesiale kos-, wyn- en musiekaand. Petronel Baard en Stef Kruger is die gaskunstenaars – die perfekte toevoeging tot sjef Bernhard Hess se kos en Mimosa se plaaslike wyne. Net ’n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar, so bespreek afsonderlik.

Saterdagaand se Boekefees-opskop saam met die plaaslike Big Karoo Band sit die gees in dié fees. Toegang tot dié aand se opskop is ingesluit in jou feeskaartjie.

* Toegang tot die feesterrein by die KWV-museumkompleks is gratis. Kaartjies vir die boekbesprekings is R100 vir die hele naweek, insluitend Saterdag se Boekefees-opskoppartytjie. Of R75 vir ’n dagkaartjie. Vrydagaand se musiek, kos en wyn saam met Petronel Baard en Stef Kruger se kaartjies is R180. Donderdagaand se Abba-konsert is R100 vir volwassenes en R60 vir kinders. Kaartjies is beskikbaar by die Montagu-Ashton Toerismekantoor by 023 – 6142471.

Bron: Mediaverklaring soos uitgereik deur organiseerders van Montagu Boekefees

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!