Luister na die eerste snit van Fotostaatmasjien Oorgeklank en beplan vir vanjaar se Tuin van Digters

Binnekort raak Wellington in die Boland weer digterlik wanneer die sewende jaarlikse Tuin van Digters, ’n projek van die Breytenbach-sentrum,  op 14 en 15 September plaasvind. Twee volgepakte dae wanneer dit weer tyd is om te beleef hoe verskillende digters, kunstenaars, musikante, liefhebbers van poësie en mense uit verskillende gemeenskappe, taal- en kultuurgroepe – oud en jonk – digkuns ervaar.

Luister hier na die eerste snit van Fotostaatmasjien Oorgeklank.

Die Fotostaatmasjien-franchise hou aan met groei. Een van die vertakkings van Bibi Slippers se bekroonde debuutdigbundel is Fotostaatmasjien Oorgeklank, wat ontstaan het toe solokunstenaars, Willemien Rust en Jude Harpstar, met Bibi se go-ahead begin werk het aan ‘n oudiovisuele aanbieding van die bundel. Willemien speel die klavier, met Jude op die harp. Die bundel verwys geredelik na pop culture en musiek, iets wat saam met die ritmiese karakter daarvan die komposisies geïnspireer het. Bibi het by die eerste reeks vertonings gedigte voorgelees, en is te hoor in Outobiografie i. Die synth pop songs word deur Willemien en Jude gekomponeer en gesing. Hulle beplan om ‘n vollengte album in 2019 vry te stel. Lees meer op Klyntjie.com.

Hierdie genre is besig om te ontplof in Afrikaans. Fotostaatsmasjien van Bibi Slippers is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan.  Dit is nou ook te sien as teaterstuk by Aardklop.

Tuin van Digters is vanjaar buitedieboek: 14 – 15 September 2018

Vanjaar se tema is buitedieboek. Daar word op nuwe en anderste wyses deur woordskeppings, kuns, openbare ruimtes, musiek, klank en sang uiting gegee aan woorde, frases en gedigte. In Afrikaans, en deur ander tale in Afrikaans. En andersom.

Buite die boks en boek:  ’n Vol program

Vanjaar word die klem gelê op vertaling uit Afrikaans na ander tale en hoe buite die boek, en buite die boks, gedink sowel as gedoen kan en moet word om Afrikaanse gedigte aan ander taalgroepe, spesifiek Engels- en Xhosa-sprekendes – die Wes-Kaap se twee ander ampstale – en ook ander tale bekend te stel. ’n Groepgesprek hieroor word deur PEN Afrikaans aangebied. Afrikaanse, Engelse en isiXhosa-digters sal van hulle werke voorlees – in die oorspronklike taal, met die vertalings van die gedigte in die agtergrond op skerms. Digters wie se gedigte in die US Woordfees-bundel, ConVerse, in die drie tale vertaal is, neem hieraan deel.

Ander programitems wat die tema buitedieboek aanspreek, sluit in Breyten in Engels deur Ampie Coetzee, wat besig is om gedigte van Breyten Breytenbach in Engels te vertaal; die identiteit en poësie van hip-hop deur Annie Klopper, wie se doktorstesis hieroor handel, en ’n bespreking en uitstalling van ‘Parys Suite’, ’n publikasie van gedigte buite die tradisionele konteks van ’n gepubliseerde bundel, met die middelpunt daarvan ’n poësiefilm deur Diek Grobler met ’n trio gedigte deur Carina van der Walt.

Digters van die digprojekte van die Breytenbach Sentrum – insluitend leerders van die Weltevrede Skool en die digter Diana Ferrus se Mengelmoesdigters – wys wat buite die boek met gedigte gedoen kan word – in die skryf en in die oordra daarvan.

Groepuitstalling

Kunstenaars wys in die groepuitstalling in die Breytenbach-galery wat hulle met die woorde van gedigte kan maak. Feeskunstenaar Henk Serfontein haal in “Handskrif” sewe formidabele vrouedigters, naamlik Jeanne Goosen, Antjie Krog, Wilma Stockenström, Lina Spies, Diana Ferrus, Melanie Grobler en Joan Hambidge, behoorlik uit hulle bundels (met hulle instemming!)

En nog meer …

Daar is ook sang en voordrag deur digters en kunstenaars wat elkeen op ’n eie manier buite die tradisionale boek dink en skep. Hulle sluit in Daniel Hugo en Yves T’sjoen wat praat oor Vlaamse digters in Afrikaans, Willemien/Philomien& in Afrikaans en Frans en die Kaapse bekendstelling van Ons Klyntji Internasionaal. Ook op die program is voorlesings, toonsettings van gedigte en optredes deur onder andere Carel Trichardt, Petro Wessels, Niel Rademan, Elsabé Daneel, Toast Coetzer en The Buckfever Underground met geïmproviseerde musiek en voordrag van Afrikaanse en Engelse gedigte, Tribal Echo, Laurinda Hofmeyr met Afrique mon désir, en ’n verering van die Joods-Afrikaanse digter Olga Kirsch met ’n biografie deur Egonne Roth.

Die program

Laai die volledige program af.

Kaartjies en besprekings

Kaartjies is R300 per persoon vir albei dae (Vrydag en Saterdag), R120 per persoon net vir Vrydag, R220 per persoon net vir Saterdag, R60 per dag per student en gratis vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans.

Bespreek by Jeanne-Marie Gerber by besprekings@breytenbachsentrum.co.za of 021 873 2786 of 073 435 1022.

Meer inligting

Francois Lötter: Feesorganiseerder, en bestuurder: Breytenbach Kultuursentrum, Burgerstraat 14, Wellington (021 873 2786, 083 408 1902) of fees@tuinvandigters.co.za

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!