KKNK 2018: Rymklets van Oos tot Wes – YOMA vertel …

Yoma by die KKNK.

Van links: Noemwoord, Early B, YOMA en HemelBesem (foto: Jaco Marais)

 “Jou moedertaal moet bevrydend wees, nie ‘n traliehek waardeur jy loer nie.” – YOMA

Vanjaar was die vyfde keer dat Rymklets van Oos na Wes by die KKNK aangebied is en weereens het die kunstenaars dit reggekry om die persepsie oor rymklets en die kultuur van hip-hop te verander. Die produksie, wat in 2017 die Kanna vir beste musiekproduksie ontvang het, vermaak oud en jonk en die verskillende style en hoe dit oor die jare verander het asook die geskiedenis van hip-hop, word treffend en energiek uitgebeeld. HemelBesem, YOMA en EarlyB het die verhoog met plaaslike talent gedeel en een van die nuwe uitblinkers was IXA, die grootste Afrikaanse hip-hop-kunstenaar in Namibië.

Ambassadeur vir Afrikaans en rymkletser, YOMA deel haar indrukke oor vanjaar se produksie:

“Vir die laaste paar jaar is daar altyd ‘n paar duisend mense by die rymklets-verhoog om die musiek te geniet en te ondersteun. Daar was jonk en oud, party het gesit en ander het gestaan, verskeie rasse en selfs mense in rolstoele. Toe Oxijin my aankondig, het die mense geskree en ek’t so amped en tuis gevoel!

“Die normale pas waarteen my hart klop is spoedig aangepas deur die bas van rymklets. Na my swangerskap was hierdie feitlik my eerste show en dit was epic! Oudtshoorn het altyd so baie liefde vir ‘n mens en liefde maak alles die moeite werd. In rymklets vind ek purpose, identiteit, satisfaksie en eenheid. Dis lekker om te weet dat ek daai met mede-rymkletsers in gemeen het. Ek het die verhoog met legends soos HemelBesem, Ixa, Whaden Johannes, Oxijin, Dj J-efx, EarlyB, ens. gedeel! Ek sou wel ge-like het dat daar nog ‘n vrou of twee betrokke moes wees, maar ek hoop dat dit volgende jaar die geval sal wees. Waarom? Omdat vrouestemme kragtig is en gehoor moet word. Ons vroue moet saamstaan en mekaar ophelp waar nodig.

“Vir my set het ek besluit op Wille Kat, My Pens, Sê Wat Jy Wil a cappella en Tsunami. Dis als snitte vanaf my Moedertaal-album en is goed ontvang. Ek was op en af op daardie verhoog en het elke oomblik ten volle geniet! Voor en na my optrede, maak ek seker ek ondersteun die ander rymkletsers deur eerder saam te rap of dans, daar is immers eenheid in hip-hop. Ek het baie na my dogter, Engel, verlang en alhoewel sy nie ver was nie, wou ek daardie ervaring ook met haar deel, maar vir nou is die klank nog te hard vir haar nuwe ore.  Omdat my album oor haar handel, voel ek haar altyd by my wanneer ek optree en die liedere sing.”

“Mense moet besef dat hulle genoeg is en tot enigiets in staat is.”

“Weereens het ek besef hoe kragtig rymklets is, veral na die tyd toe vroue en mans na my toe gekom het met glinsterende oë van dankbaarheid. Bloot vir die feit dat ek my ding in my moedertaal, op ‘n beat doen wat slaan! Platforms soos die bied hoop. Dit gee jongmense iets om na te strewe, want wat is ‘n mens sonder ‘n doel? Na my optrede het ek na die Jukebox-tent beweeg om met die pragtige mense te connect. Daar’s ’n klomp foto’s geneem, drukkies gegee en ek glimlag steeds: Ai, dit was so mooi.

“Niks wat ek aanpak, gaan net oor my nie, dit gaan oor die wat hulself oopmaak om moontlik beïnvloed/geïnspireer te word deur dit wat ek het om te bied.

Die impak van die vertoning en rymklets op vroue en veral jongmense?

“Die vroue wat na die tyd na my toe gekom het, het baie empowered gevoel. Dus is dit uiters belangrik dat vroue hul ding doen. Om te dink ek was die enigste vrou op daai verhoog en dis nie iets wat ek ligtelik opneem nie, want vir daai oomblik verteenwoordig ek ander vroue.

“Vir horde jongelinge daar buite is rymklets die fondasie waarop baie van hul waardes neergelê word. Met die werk wat ek met ATKV-Crescendo doen, moedig ons ook die jongelinge aan om getrou te bly aan hul aksent en dialek. Jy moet praat soos jy praat en jy moet trots daarop wees.

“Dis waarom  daar verskeie dialekte en sleng op daardie verhoog gedeel word om die idee dat hoe jy eintlik praat as normaal gesien moet word, oorgedra kan word.

“En vir die wat nie weet nie, die jongmense daar is so passievol oor rymklets dat wanneer hulle jou optrede opneem, gaan hulle huis toe om dit daar verder te bestudeer.”

Laaste woord van YOMA

“Dankie vir die liefde en ek kan net staan waar ek staan omdat julle in my glo en dit beteken die wêreld vir my!”

Vir diegene wat die produksie en YOMA misgeloop het en nie haar album, Moedertaal, daar in die hande kon kry nie – jy kan dit by yoma@besembos.co.za bestel. Dis ook op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk ook:

YouTube-video van Ixa, rymkletser van Namibië.

Yoma se video, Tsunami, een van die snitte op haar Moedertaal-album.

Lees ook …

ATKV Crescendo bied ’n platform vir liedjieskrywers-sangers. Klik hier

Stuur ‘n WhatsApp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!