KKNK 2018 – Die volgende fase van evolusie en ontwikkeling is hier!

“Die kunste het ’n enorme rol om nasiebou in Suid-Afrika te bevorder. Waar Suid-Afrika nou is, is die kunste se rol nóg belangriker.” Hugo Theart (feesbestuurder, KKNK)

Oudtshoorn het sy vere reggeskud en alles is in plek vir die 24ste Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) wat vanaf Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April plaasvind. Vir ʼn volle week maak die mense van Oudtshoorn hulle huise en harte oop vir besoekers en kunstenaars wat van oral oor na die dorp in die Klein-Karoo kom om hier fees te vier.

Ons nooi jou om jou feeservaring met ons te deel. Span jou sosialemedia-platforms in en gebruik die hutstekens: #onmisbaar en #kunskierig. Vertel ons van jou hoogtepunte

Nadat Rhodé Snyman in Desember 2017 die tuig neergelê het as die uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK en Klein-Karoo Klassique aanbied, is Hugo Theart, die voormalige kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, as waarnemende uitvoerende hoof aangestel.

Crispin Sonn (Foto: verskaf)

Op die vooraand van vanjaar se KKNK, sê Crispin Sonn, die voorsitter van Kunste Onbeperk, dat alhoewel hy geweldig opgewonde is oor hierdie 24ste KKNK, wat sy eerste as voorsitter van die direksie is, is hy ook redelik angstig. “Daar is ʼn hele paar skuiwe gemaak. Ons het so ʼn bietjie van die terrein verander en daarom is ons senuagtig om te sien of dit gaan werk. Gelukkig het daar al heelwat positiewe terugvoer oor die skuiwe gekom en die mense is opgewonde oor die nuwe Kuierbuurt. Dit is die nuwe tuiste vir die feesterrein op die gras van Oudtshoorn-sportgronde (REC) en die Vredestraat-sportterrein,” sê hy.

Crispin, die seun van oudambassadeur Franklin Sonn, sê hy is dankbaar oor die belangrike rol wat die KKNK sowel as Kunste Onbeperk deurlopend oor die jare gespeel het om die gemeenskap te bevorder en aan jong kunstenaars die kans te bied om hul stemme te laat hoor. Iets waaroor hy veral opgewonde is, is Kunste Onbeperk se Teksmark. Hierdie Teksmark het verlede jaar in November vir die tweede maal plaasgevind. By die geleentheid is 15 nuutgeskrewe tekste voorgedra (gelees of gespeel) en kunstefeeste, die Baxter-teater en NATi (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) kon besluit watter van hierdie toneelstukke hulle graag verder sou wou ontwikkel. By vanjaar se KKNK debuteer twee stukke van Kunste Onbeperk se 2018 Teksmark: Bauke Snyman se Swerfgoed en Du Toit Albertze se Die meermin-kompleks. Drie stukke van 2016 se Teksmark maak ook vanjaar op die fees in Oudtshoorn ʼn draai: Amee Lekas se Die dans van die Watermeid, Marina Albertyn se Melk & Vleis en Ingrid Winterbach se Ons is almal freaks hier.

Hugo Theart ontvang die Fleur du Cap-teaterprys namens Kunste Onbeperk vir Teksmark.

Teksmark

“Twee weke gelede (Maart 2018) is Kunste Onbeperk se Teksmark met die Fleur du Cap-teaterprys vir innovasie bekroon. Dit was beslis vir ons ʼn veer in die hoed. Die beoordelaars het gesê dat hierdie projek se strewe om Suid-Afrika se kontemporêre teater te ontwikkel deur ʼn markplein te voorsien vir plaaslike dramaturge, het hulle baie opgewonde gemaak. By dieselfde geleentheid was dit ʼn riem onder die hart om te sien hoeveel jong kunstenaars is bekroon vir die uitstekende werk wat hulle lewer. Daar is ʼn lekker Engelse gesegde wat lui: Young people doing it for themselves. Een plek waar ʼn mens veral sien hoe jong mense ʼn plek vir hulleself oopkerf, is in die kunstebedryf. Hulle skram nie weg van moeilike onderwerpe nie en is bereid om daaroor te praat en daaroor te skryf,” sê Sonn.

Op die agenda – die moontlikheid van ‘n eie teater vir Oudtshoorn …
Alhoewel hy (Sonn) in die suidelike voorstede van die Kaap bly, sal Oudtshoorn vir die duur van die fees sy tuiste wees. Hy sien veral uit daarna om teaterproduksies by te woon, lekker te kuier by plaaslike restaurante en laataand oor ʼn glasie rooiwyn diep gesprekke oor Afrikaans en die kunste te voer. Tog sal daar ook hard gewerk word, borge sal voorgestel word en belangrike gesprekke sal gevoer word. Een ding waaraan daar dringend aandag gegee moet word, sê hy, is die feit dat Oudshoorn, na 24 jaar van uitstekende kunstefeeste, nog nie ʼn teater van sy eie het nie.

“Vir my is dit tragies,” sê Sonn. “Ons gaan hande vat met die munisipaliteit en die sakekamer om te sien hoe ons so ʼn projek van die grond af kan kry. Dit is die enigste manier hoe ons oor die langtermyn die kunste sterker in hierdie streek kan vestig. Die afgelope paar maande wat verby is, het ons reeds verskeie gesprekke gevoer met die munisipaliteit, die plaaslike gemeenskap, die sakekamer en die rolspelers in die Eden-distrik. Die KKNK is nie net van belang vir Oudtshoorn nie, maar vir die hele streek en dit is belangrik om te begin kyk na die volgende fase van die evolusie en die ontwikkeling van die fees in die streek.”

Sonn sê alhoewel hy baie spyt is oor die feit dat Rhodé Snyman se rol as uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk nou tot ʼn einde gekom het, is dit vir hom besonder lekker om saam met Hugo Theart te werk. Die voordeel van iemand soos Hugo, sê hy, is dat hy as skrywer en vervaardiger self diep spore in die kunste getrap het en dat hy ook ʼn fantastiese verhouding met die kunstenaars het. Hugo is boonop uitstekend wanneer dit by administrasie kom. Dis veral vir hom lekker dat hy en Theart, saam met die ander bekwame lede van die direksie, ʼn passie vir die kunste deel en hard sal werk om seker te maak dat die KKNK nie bloot net vermaak nie, maar ook ʼn dieper boodskap laat.

Op sy beurt sê Hugo Theart dat vanjaar se Klein-Karoo Nasionale Kunstefees beslis ʼn familiefees gaan wees. “Die program bied iets vir almal: snykantteater, uiteenlopende musiek en hope jeug- en kindervermaak. In die Kuierbuurt, op die Oudtshoorn-sportgronde, word hope gesinsvermaak aangebied. Dit sluit die kunsmark se stalletjies, deli- en wynproeë, die ATKV-Speelbos, die Absa Rooiplein, musiek deur die dag by die Castle Lager-verhoog en aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog in. ʼn Weekkaartjie van R255 bied toegang tot al die vermaak en dagkaartjies kos R85 per dag,” sê Theart.

Moenie die ervaring misloop nie …

Laurinda Hofmeyr – Afrika My Verlange / Afrique mon Désir

In Afrika my verlange / Afrique mon Désir span legendariese regisseur, David Kramer, kragte saam met die veelbekroonde sanger en komponis, Laurinda Hofmeyr, en baskitaarspeler en vervaardiger, Schalk Joubert. Tesame met ‘n wêreldklas-ensemble van sangers uit Wes-Afrika, ontdek hulle ‘n skatkis van Afrika-poësie en raai wat? David Kramer het die regie behartig.

Laurinda, ook ‘n ambassadeur vir Afrikaans, is ‘n meester van die kuns om musiek by poësie te voeg. Tydens haar loopbaan van meer as twee dekades het sy byna eksklusief gewerk met gerekende Suid-Afrikaanse digters. In die beoefening van haar unieke kunsvorm het sy nuwe lewe gegee aan die werk van, onder meer, Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Sheila Cussons, Uys Krige en NP van Wyk Louw.

Sy het ‘n buitengewone vermoë om die musiek te hoor, die ritmes te voel en die visies te sien wat in digters se werk verskuil is. Laat in 2016, na die uitreiking van haar vierde album, het ons gepraat van die subliminale tema van ‘verlange na Afrika’ wat dikwels teenwoordig is in die gedigte wat sy kies om te toonset. Tydens die sestiger- en sewentigerjare het baie Suid-Afrikaanse skrywers in ballingskap beland, wat in sommige gevalle selfopgelegd was.

Wanneer die implisiete eksplisiet gemaak word, gaan die deur na ontdekking oop.

Hierdie album is ‘n juweel in die kroon van Laurinda se werk. Sy blaas op meesterlike wyse lewe in die pyn, verlange, interne konflik, ryk visies, krete en fluisteringe van sommige van die mees geëerde digters in Frans en Afrikaans. Die werk is sorgvuldig geweef om die tema van Afrique mon désir / Afrika my verlange.

Elke komposisie is subtiel ondersteun deur die onuitwisbare trekklavierklanke wat agtergelaat is deur die oorlede Régis Gizavo. Elke snit is voortreflik verwerk deur die geniale Schalk Joubert. Elke lied is pragtig gesing – met Afrikaans, Frans en Lingala wat hul plekke vind in die heelal van verlange vir Afrika.

Die projek word aangebied en ondersteun deur die Cape Town Music Academy (CTMA).

Dit is op 2 en 3 April (2018) by die KKNK te sien.

Klik hier vir kaartjies.

Musiekaanbod

Van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf sal op die Huisgenoot-verhoog in die Kuierbuurt te sien wees en daar is ses aandkonserte: Awê Kaktus, Boontoe: Engelstemme, Karoo-nag, kykNET – Dans op die vlaktes, Rymklets van Oos tot Wes en Sterrenag – Musiek met hart.

Baron van Reede-straat sal weer ʼn allegaartjie van internasionale en plaaslike straatkunstenaars wees. Dit is ook die plek waar musiek en gesprekke gevoer sal word op kykNET- en RSG se verhoë. Netwerk 24 se Feeskafee, die ATKV se Boeke-oase is bestemmings om nie mis te loop nie. In die oggende gaan Ivor Price Die Burger se Praat Saam-gesprekreeks lei.

Reeds met die inkomslag in Oudtshoorn sal wapperende baniere, veelkleurige plakkate, die reuk van pannekoek en boerewors op die kole, vrolike straatmusikante en jolige feestannies jou dadelik vertel dat jy deel is van ʼn belangrike hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse kultuurkalender: die KKNK. Moet dit nie misloop nie!

Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjieverkope: Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home.

Verblyfbesprekings kan by verblyf@kunste.org.za of 044 203 8600 gedoen word.

Kyk hier …

KKNK-Facebookblad
Uit die gemeenskap: Die Hoorn – Opgewonde oor dorp
Rapport: Hanlie Retief gesels met Crispin Sonn

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!