Innibos 2018 – feesgangers vertel

Wat maak van ʼn kunstefees ʼn sukses? Is dit die aantal besoekers wat elke dag deur die hekke van die feesterrein stroom? Is dit die ekonomiese inspuiting wat die fees aan die plek waar dit aangebied word, gee? Of is dit bloot die feit dat daar heerlik in Afrikaans feesgevier en gekuier kon word?

Daar is gekuier, geëet, gedans, gelag, hope feeskos verorber, baie biere gedrink, stories vertel, musiek en teater gemaak en gesing: vir vier dae is daar behoorlik fees gevier in Nelspruit en omgewing. Alita Steenkamp was daar.

Innibos het afgeskop met ʼn Kuns-in-beweging-parade wat die stad op horings geneem het. (Foto’s Laevelder)

Hoewel dit veels te vroeg is om in rand en sent te kyk na die sukses van vanjaar se fees, was hierdie 15e Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees ʼn reusesukses, gemeet aan die fantastiese feesproduksies, uitnemende kunsuitstallings en heerlike musiek op die verhoë. Waarlik iets vir elke smaak. Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder vir Innibos, sê wat veral vir haar uitstaan van vanjaar se fees is die skitterende opdragproduksies wat by die fees gedebuteer het. “Hierdie vyf produksies, Soebatsfontein, Uit die Bloute, Anti Pohl, 3 Susters en Kleedkamerblues, was al vyf van hoogstaande gehalte en het almal ʼn baie goeie ontvangs van die gehoor gehad. Dis egter nie net hierdie vyf produksies wat baie byval gevind het nie. Ek dink vanjaar was ons mees gebalanseerde feesprogram ooit.”

Die ATKV-Boeke-oase is ʼn gewilde bymekaarkomplek vir boekliefhebbers.

Sandra sê voorts dat 2018 se boeke- en kunsprogram baie uitgebrei het en dat die fees wat genres betref, definitief gegroei het. Die kunslokaal van Hoërskool Nelspruit wat die afgelope twee jaar die tuiste van die ATKV Boeke-oase was, blyk die ideale terrein daarvoor te wees. Dit is ook hiervandaan wat RSG daagliks ʼn gedeelte van Monitor en Spektrum uitgesaai het. RSG Kuns en Skrywers en Boeke is ook in die week regstreeks van daar uitgesaai.

Een ding wat Innibos uniek maak, sê Sandra, is die eenmalige gebeurtenisse soos die Sappi Boeke-crawl, die Verrassingsete en die Komedie-crawl. Waar die ander produksies van fees tot fees gaan, is die samestelling van hierdie allegaartjies, uniek aan Innibos. “Die Boeke-crawl was nog altyd een van ons vlagskipproduksies en die kaartjies daarvoor word elke jaar opgeraap. Uit die terugvoer wat ons ontvang het, was dit weer vir baie mense ʼn hoogtepunt. Die meeste feesgangers se terugvoer was dat hierdie die lekkerste fees is waarop hulle al ooit was, en ek hou daarvan om hulle te glo,” sê ʼn tevrede Sandra.

Andy Lubbe, Innibos se Feesbestuurder

Sandra Jacobs, Innibos se Media- en Bemarkingsbestuurder.

Abigail en Suné Blom is twee niggies wat dol is oor boeke en stories.

Andy Lubbe, Innibos se Feesbestuurder, sê die weer was vanjaar vir hom ʼn besonderse hoogtepunt. Vir die duur van die fees was dit heerlike sonskyndae wat ʼn mens heeltemal laat vergeet het dat dit eintlik in die middel van die winter is. “Ons is baie geseënd met ons somerweer in die middel van die winter, want ons is baie afhanklik van die hekinkomste. Dit maak ʼn baie groot deel van ons begroting uit en as dit ʼn reënerige of baie koue dag is, dan bly die mense maar weg,” sê hy.

Andy sê hulle voel baie tevrede met hoe die dinge verloop het op die feesterrein. “Ons het oor die jare hierdie feesterrein ontwikkel en baie verander, maar ons het nou die wenresep beet. Ek dink die atmosfeer en alles werk vir ons so ek glo dit gaan dieselfde bly. Dis ʼn vreeslike groot uitdaging om te vernuwe, want jy kan ook maar net soveel doen. Wat ons wel hierdie jaar vir die eerste keer by ons fees gehad het, en ek glo ook dit is die eerste vir enige kunstefees in Suid-Afrika, is die ysskaatsvertoning Winter Wonderland wat by i’langa Mall se splinternuwe ysskaatsbaan aangebied is. Dit was baie gewild en al drie vertonings was uitverkoop,” sê hy.

Vir die kunsliefhebbers het vanjaar se fees ook baie gebied. In plaas daarvan om ʼn enkele feeskunstenaar se werke uit te stal as die hoofuitstalling van hierdie jaar se fees, was die Suid-Afrikaanse landskap 2018 se tema. Die uitstalling wat in die Burgersentrum aangebied is, is saamgestel uit die werk van hedendaagse Suid-Afrikaanse landskapskilders en was ʼn plesier vir die oog, selfs vir die minder geoefende oog. Johan Myburgh, die visuele kunskurator van Innibos, het elke weeksdag ʼn rondleiding gedoen en meer oor elke kunswerk vertel.

Innibos het ook weer eens daarin geslaag om feesgangers waarde vir hulle geld te bied. As deel van die toegangsgeld, kon jy by een van die vier verhoë op die feesterrein gaan sit en die heeldag na ʼn heerlike keur van Afrikaanse kunstenaars luister. Die Cell-C Boma wat ook op die terrein is, het aan feesgangers die geleentheid gebied om kuier-kuier aan teater en ander kunsvorme blootgestel te word met eenmanvertonings, toneelproduksies en interessante onderhoude. Vir die fliekvlooie was daar ook ʼn paar vollengte flieks soos Vuil Wasgoed, Vaselinetjie en Susters en ʼn handvol uitstaande kortfilms om te sien.

Emo Adams

Theuns Jordaan

Robbie Wessels

Iets wat van Innibos ook jaarliks ʼn onvergeetlike ervaring maak, is die heerlike musiek wat elke aand op die hoofverhoog op Hoërskool Bergvlam se rugbyveld aangebied is. Ons land se heel beste Afrikaanse musikante kry elke jaar die geleentheid om aand vir aand op die Standard Bank hoofverhoog die voete te laat jeuk met wonderlike musiek. Saterdagaand het kunstenaars soos Jo Black, Robbie Wessels, Emo Adams, Tarryn Lamb, Snotkop, Theuns Jordaan, Jay en Lianie May behoorlik vir vuurwerke gesorg. Tydens hierdie vertoning is die musiekvervaardiger, Boet Pretorius, en Leon Schuster albei vir hulle jarelange reusebydrae tot die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf vereer.

Boet Pretorius ontvang sy spesiale toekenning.

Leon Schuster is ook vereer. (Foto’s Laevelder)

Wat ons fees beslis spesiaal maak, is hoe daar teruggeploeg word in Nelspruit en sy mense,” sê Andy Lubbe. “Die bestuur is geweldig trots op die ekonomiese inspuiting wat Innibos jaarliks aan die dorp bied. Alhoewel vanjaar se syfers nog nie bekend is nie, het dit in 2016 ʼn verstommende R85.054 miljoen rand beloop. Die biertente op die feesterrein is weer deur die Lions bestuur en ʼn gedeelte van die wins van die biertente gaan dan aan hierdie organisasie wat dit weer terugploeg in die plaaslike gemeenskap.

“Dis met ʼn gevoel van ongelooflike dankbaarheid en trots wat ʼn mens so terugkyk op die afgelope fees. Ek het ʼn wonderlike span mense wat saam met my werk en ons kom al 15 jaar saam. Daar is net sewe mense in die span wat voltyds werk en elke ou het eienaarskap geneem van sy afdeling. Ek hou eintlik net die leisels vas. Dan is ek ook besonder dankbaar teenoor die gemeenskap wat ons elke jaar so fantasties ondersteun. Vir my bly dit die lekkerste ding om so tussen die mense op die feesterrein te loop en te sien hoe almal lag en alles geniet. Diegene wat nie vanjaar hier was nie, het uitgelose!”

Erns Grundlingh in gesprek met Rian van Heerden.

Netwerk 24 se stalletjie.

Kuns en kos ontmoet by Oppitafel.

Kinders is die ene ore op die storie-krôl.

Feesgangers vertel …

Cobus Venter

Daar word ongelooflik mooi na ons kunstenaars gekyk by Innibos en ek geniet dit geweldig baie. Die terugvoer op my en Sorina Erasmus se stuk, Anti Pohl, was oorweldigend positief. Ons hoop om dit nog na baie ander feeste te neem.

Schalk Bezuidenhout

Vanjaar was my derde Innibos en dit is ʼn fees om by Innibos te wees. Innibos was ook die eerste fees waar ek my eerste show gedoen het, daarom is ek so lief vir die fees.

Erns Grundlingh

Innibos is vir my elke jaar net so ʼn groot vreugde en dis  ʼn hoogtepunt om hierheen te kom. Ek glo dit is die kombinasie van die Laeveld se klimaat, en die Laeveld se mense wat dit so besonders maak. Hier is ʼn warmte, en dit is nie net die temperatuur op ‘n wintersdag in Juniemaand wat snikheet warm is nie, maar ook ʼn warmte en ʼn gasvryheid onder die mense. Ek ervaar dit van die stalletjie-eienaars, tot venuebestuurders, tot die fees se hoofbestuur en die media. Daardie gasvryheid is vir my iets besonders.

Suzanne Paxton

Innibos is een van die feeste wat die beste georganiseerd is wat betref ons werk. Dinge vloei en gebeur op tyd en vir ons wat in radio werk, is dit belangrik. Die opset hier by die ATKV-Boeke-oase is baie lekker en selfs op die hooffeesterrein voel dit nooit of jy vertrap word nie. Dan kan ʼn mens ook nog berge toe vlug as jy moeg is vir die fees. Al hierdie dinge maak van Innibos ʼn fantastiese fees.

Dana Snyman

Een ding wat van Innibos ʼn besondere ervaring maak is die omgewing. Daar is ook ʼn sekere Afrika-warmte aan die fees. ʼn Hoogtepunt vir my vanjaar was die Storievuur by die Boeke-oase waar die geskiedkundiges prof Fransjohan Pretorius en Louis Changuion stories vertel het. Die Boeke-crawl is ook ʼn unieke idee en die gewildheid hiervan wys net vir jou watter groot behoefte die mens aan stories het. Ondanks al die sosiale media en dinge bly mense honger vir gewone, eenvoudige stories.

Mathys Roets

Iets wat van Innibos ʼn besonderse fees maak, is die manier waarop ons as kunstenaars altyd ondersteun word met ʼn bydrae vir ons reiskoste en verblyf. Vanjaar het ek ook die voorreg gehad om vir die eerste keer by die Boeke-crawl op te tree. My goeie vriend Lucas Maree het my vertel van sy ervaring en gesê dat dit baie lekker is. Dit was besonder lekker om saam met Dana te sit en na sy stories te luister. Ongelukkig was dit net veels te vinnig verby!

Elret Nel (Rustenburg)

Vanjaar was ons tweede besoek aan Innibos en ons was baie opgewonde om terug te kom. Glo my, ons was nie teleurgestel nie. Soebatsfontein, met Franci Swanepoel en Sandra Prinsloo daarin was absoluut briljant. Ons het ook al die kort produksies in die Cell C Boma gekyk en dit was alles baie goed gewees.

Vuyokazi Mbhalati (Stonehenge, Mbombela)

This is my first Innibos but it is a very nice festival. The people here are very friendly, and everything is just fine. Even though I am not Afrikaans speaking, I just like it here. I like the Afrikaans music and the nice vibe. The children also had a lot of fun.

Leonard Sibiya (Stonehenge, Mbombela)

The whole week my son has begged me to take him to Innibos for the rides. That is why I ended up sitting here and around me it is all white. This is South Africa and it doesn’t matter what colour your skin is, you can enjoy the same festival. They call it cultural diversity, and I am happy to enjoy it here in Nelspruit.

Tania Spruyt (links)  en Sherill Schuler – beide van Nelspruit

Hoe lekker is dit nie om die fees hier op ons voorstoep te hê nie! Daar is elke keer iets anders om te geniet. Wat ʼn lekker atmosfeer en wonderlike dinge om te sien en te doen. – Tanya

Ek kon my kinders in die pretpark los om op die rides te ry en dan weet ek hulle is veilig. Innibos is heerlik vir die hele gesin. Dit was vir my baie lekker om vir Dana Snyman by die Boeke-crawl te beleef en so ʼn bietjie dieper in sy siel in te kyk. – Sherill

Zendré Mommsen, tweede van regs, met haar vriendinne Mary-Ann van Wyk, Nicolene Linde en Yvonne van Wyk.

Innibos 2018 was heerlik! Die atmosfeer en die uitstekende organisasie het dit besonders gemaak. Die sekuriteit was goed en die kleedkamers skoon. Wat ook vir my baie lekker was is dat jy enige plek op die veld kon sit en dit het gevoel of jy reg voor op die verhoog is. Die klank was uitstekend, helder en duidelik. Hierdie was my eerste Innibos-fees, maar ek is van plan om elke jaar weer te gaan.- Zendré Mommsen (Phalaborwa)

So is daar vanjaar gerol by Innibos!

  • Tydens die vyftiende Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees wat van 27 tot 30 Junie in Mbombela (Nelspruit) gehou is, het sowat 100 000 feesgangers saam feesgevier.
  • Die klug My man se skelmpie se vrou en 3 Susters met Margit Meyer-Rödenbeck, Lizz Meiring en Nicole Holm, is die toneelproduksies waarvoor die meeste kaartjies verkoop is.
  • Daar is 3 420 man-ure gewerk om 7 705 m² se tente op en af te slaan en 1,5 km tou is gebruik vir seilafskortings tussen die stalletjies.
  • In die Bosmôl en Petticoatlaan, die feesterrein se “hoofstraat”, is daar 2 800 handgestikte vrolike vlaggies opgehang.
  • Net die kunstenaars en tegnici wat die fees bygewoon het, het gesorg vir 1208 bespreekte bednagte in hotelle en gastehuise in Mbombela.
  • Die pannekoekstalletjie, Ytipan het 16299 pannekoeke gebak en verkoop. Daarvoor is 1880 eiers, 314 kg meel en 10 kg kaneel gebruik. Opmekaargestapel sou die pannekoektoring 24, 45 meter hoog gewees het!

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!