Fliekmaak in jou moedertaal – Danie Bester van Film Factory-faam vertel meer …

Die Afrikaanse rolprentbedryf het oor die afgelope paar jaar baie sukses behaal, maar is daar ‘n toekoms daarvoor in ons land? The Film Factory SA se Danie Bester praat met Annelien van Basten oor fliekmaak in jou moedertaal.

Jy het hulle seker al almal gesien! Ivan Botha en Donnalee Roberts se inspirerende liefdestreffers (wat jy gerus hierdie Valentynsdag kan kyk), Pad na jou Hart en Vir Altyd. Die Huisgenoot-drama, Vir die Voëls en Anoescka von Meck se roman, Vaselinetjie, se grootskermdebuut… en dan praat ons nie eers van die fantastiese filmverwerking van die gewilde destydse televisiereeks, Ballade vir ‘n Enkeling, nie. Hierdie prente word beskou as baanbrekerswerk in die Afrikaanse rolprentbedryf en met goeie rede.

The Film Factory SA is sinoniem met van die grootste lokettreffers wat nog in die Afrikaanse rolprentbedryf gemaak is. Die dae van middelmatige gewone films is verby en hulle is konstant besig om nuwe genres en moderne tegnieke na die mark te bring. Maar met die huidige stand van sake kan ‘n mens nie help om te wonder of hulle moeite verniet is en of daar enigsins ‘n toekoms is vir diegene wat wil flieks maak in hulle moedertaal nie.

Danie Bester

Danie Bester en Lelia Etsebeth (Foto: Randburg Sun)

Danie Bester (43), die vervaardiger en eienaar van hierdie suksesvolle maatskappy, is getroud met aktrise en rolprentkenner, Lelia Etsebeth, en hulle het twee pragtige kinders. Hy gesels openlik oor die effek van moedertaalonderrig op en die toekoms van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.

Hoe het jy in die rolprentbedryf beland?

“Ek het Rolprentkunde by AFDA in Johannesburg studeer. Daar het ek studente ontmoet wat al van kindsbeen af rolprentmakers wou wees en stories wou vertel. Ek het glad nie so daarby uitgekom nie. My gesin moes vanaf die Paarl na Johannesburg verhuis en ek het eensaam gevoel in die groot stad. Ek het ontsnap deur bioskoop toe te gaan. Eers het ek net normale prente gekyk en daarna Cinema Nouveau-flieks, wat ‘n groot indruk op my gemaak het. Dit was ‘n hele nuwe wêreld vir my, want ons het nie M-Net gehad toe ek klein was nie. Dat daar mense is wat hierdie rolprente maak en wat hulle rol daarin is, het ek eers later verstaan. Verder kon ek ook vereenselwig met die kombinasie van kreatiwiteit en praktiese aanslag van ‘Showbiz’ en het van die begin van my kursus besef dat dit is wat ek met die res van my lewe wil doen.”

Hoekom werk jy in Afrikaans?

“Een van my dosente was Deon Opperman. Hy het sterk gevoel daaroor dat die beste manier vir ‘n kunstenaar om homself uit te leef, hetsy in die skryfkuns of teater, sal in sy moedertaal wees. Die vermoë om jouself regtig te kan uitdruk en ‘n dieper verbintenis met jouself te maak, moet in jou moedertaal wees en uit ‘n plek in jou hart kom. Dis hoe jy jou beste stories skep. Dit was ‘n groot ding tussen ons Afrikaanse en Afrika-studente om flieks te maak wat diep is, met baie hart, en wat ook ‘n sterk verbintenis met Suid-Afrika gehad het. Die land en ons menswees is baie dieper gesetel in ons. Nie om Engelssprekende Afrikaners te verkleineer as ek dit sê nie, maar hulle het altyd gesukkel om hierby uit te kom. Dit was die grootste rede hoekom ek in Afrikaans begin werk het.”

Dink jy daar is ‘n toekoms vir die Afrikaanse rolprentbedryf?

“Soos wat ons rolprente maak, probeer ons konstant om die kwaliteit te verbeter. Party van ons flieks is regtig op internasionale standaard. Ons teiken Suid-Afrikaanse gehore en wil hê dat dit plaaslik goed moet presteer. Daar word egter ook deesdae daarop gefokus om Afrikaanse films by oorsese rolprentfeeste te vertoon en flieks soos Vir die Voëls, Vuil Wasgoed, Vaselinetjie en Meerkat Maantuig is besig om ook sukses daar te behaal. Dit gee ons ‘n heerlike platform om ons kultuur aan die wêreld te wys. Die uitdaging is natuurlik dat ons altyd met Engelse rolprente meeding, selfs op die plaaslike loket, maar daar is egter steeds ‘n marklojaliteit teenoor Afrikaans en dit is een van ons grootste bates. Dit bly egter ons verantwoordelikheid, as rolprentmakers, om goeie en hoë gehalte flieks te maak wat mense wil sien.”

Die film: Vir Altyd

Is daar genoeg werk vir Afrikaanse akteurs?

Lelia, wat tans besig is met haar doktorsgraad in drama en spesialiseer in aksente, antwoord:
“Ek dink dis voordelig om ‘n Afrikaanse akteur te wees, want jy het werksgeleenthede wat jy nie noodwendig in Engels sou hê nie. Engelse rolprente en reekse word hoofsaaklik vanaf Amerika of Engeland ingebring, terwyl Afrikaanse en Afrika-inhoud spesiaal vir ons mense geskep word en die akteurs kan deel wees hiervan. Dit beteken egter nie dat jy jouself moet beperk nie, want as jy meertalig is, het jy natuurlik meer geleenthede hier en oorsee.” Danie: “Afrikaanse akteurs, regisseurs, vervaardigers en sangers het natuurlik ook die voordeel van feeste, wat regdeur die jaar aangebied word, en baie geleenthede en blootstelling verseker.”

Wat kan gedoen word om die voortbestaan van ons land se rolprentbedryf te verseker?

“Solank daar ‘n vraag is, sal daar ‘n mark wees. Plaaslike ondersteuning is baie belangrik en kykers moet eintlik spesiaal in hulle vermaakbegroting voorsiening maak vir byvoorbeeld Afrikaanse flieks. Dit sal ons weer help om aan te hou om hoë gehalte produksies te maak.”

Dink jy dat die geleenthede in taal doodloop omdat moedertaalonderrig uitgefaseer word?

“Ek is ‘n groot voorstaander van moedertaalonderrig in alle tale. Almal moet die geleentheid hê om in hulle eie taal onderrig te ontvang. Dit is die eerste stap in die vorming van identiteit. Meertaligheid is egter ook belangrik. Ek glo dat as ons tien jaar terug al seker gemaak het dat daar ten minste drie Afrika-tale in Afrikaanse skole aangebied is en dit ‘n verpligte vakkeuse gemaak het, ons vandag gesprekke rondom die behoud van moedertaal in verskillende tale kon aanpak. Dit sou ons ook meer bewus gemaak het van mekaar se herkoms en manier van uitdrukking gee. As ons mekaar se tale en kultuur ken en respekteer en ons toewyding wys tot die wyer Suid-Afrikaanse gemeenskap, sal ons taal nie meer bedreig word nie en kan ons ons moedertaal beskerm.”

Kan iemand wat Afrikaans onder die knie het aksente makliker bemeester?

“Dit is belangrik vir Afrikaanse akteurs om vaardig te wees met al die verskillende aksente van ons eie taal. Mense in Pretoria klink anders as diegene in Johannesburg en die Kaap, so dit is belangrik om eerstens veelsydig te wees in jou eie taal voor jy aanbeweeg na ander aksente.”

Die film: Vaselinetjie

Watter raad het jy vir jongmense wat in die vermaakbedryf wil werk?

“Die vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika oorvleuel baie. So dis belangrik om vroeg iemand te kry om mee saam te werk wat jou tekortkominge aanvul en saam met wie jy vorentoe kan beweeg. Jou persoonlike en werkslewe is na aan mekaar. Een voer in die ander in en dis waar jou inspirasie vandaan kom. Dis ‘n baie uitdagende bedryf wat grotendeels deur hart, eerder as logika gedryf word, en wat jy insit gaan jy uitkry.”

The Film Factory SA glo beslis dat daar ‘n toekoms en regmatige plek vir Afrikaans in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf is en beplan ‘n hele rits vrystellings vir 2018 om op hulle sukses voort te bou, waaronder: Meerkat Maantuig op 16 Maart, Thys en Trix op 22 Junie en Stroomop wat op Vrouedag vrygestel word.