Soomloos – Suidoosterfees 2017

Die Suidoosterfees speel met Afrikaans. Gooi die taal met draaie en swaaie – Dr. Willa Boesak

Elke fees het sy eie gees, sy eie persoonlikheid. Dalk het dit te doen met die samestelling van die program, die ligging of die feesgangers. Elke fees het sy eie nukke, sy kreukels wat uitgestryk moet word. Maar elke fees het ook sy vreugdes en oomblikke wat jou hart en siel laat juig, wat jou laat besef jou wortels is hier, in Suid-Afrika.

Ilza Roggeband gee haar indrukke

Die Suidoosterfees is ’n fees soos geen ander. Dis ’n stadsfees met ’n diverse gehoor. Musiek is die hoofbestanddeel en daar is altyd ’n soeke na nuwe talent. Dis ’n kort fees. Of altans dit voel kort. Dit begin altyd op Versoeningsdag, 27 April, en op 1 Mei 2017, die laaste dag van die fees, was daar een enkele konsert.

2017 se feesproduksies is alles by Kunstekaap aangebied. Jy kon dus tussen die Teater en die Operahuis, die Arena en die Fluweelkamer rondbeweeg sonder om in ’n kar te spring of jou sweterig te stap.

Die program was kort en kragtig. Die dramas kon op een hand getel word en daar was drie stukke, wat deur Nati (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) ondersteun is, op die fees te sien: Piekniek by Mpande née Dingaan, Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran en Die Vlammende Fez.

Die akteur Chris van Niekerk is Sondagaand ná die afsluitingskonsert van die 14de Suidoosterfees in die Kunstekaap in Kaapstad vereer as beste toneelspeler vir sy spel in die musiekproduksie Die Vlammende Fez, waarin die lewe van die digter ID du Plessis belig word. Die produksie was onder leiding van Basil Appollis. Hy en Niël Rademan (vervaardiger) en Basil Appollis (regie) gesels met Afrikaans.com.

Die Vlammende Fez

Legendes

Die tema van die 2017-fees was Legendes. Nie net is erkenning gegee aan kunstenaars wat hul stempel afgedruk het op die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nie, maar ook jong kunstenaars, môre se legendes wat hul talent ten toon kon stel.

Die fees is opgedra aan professor Jakes Gerwel, die plaasseun van Kommadagga wat deur die Suidoosterfees sy droom van ‘soomloosheid’ laat realiseer het – ’n droom wat voortleef.

Pieter Cloete het met Niël Rademan, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, prof. Brian Figaji (feesvoorsitter), prof. Wannie Carstens (Noordwes-Universiteit), prof. Steward van Wyk en Hendrik Theys (ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad), gesels oor die groot gees wat ’n ononderhandelbare plek vir Afrikaans voorgestaan het.

Professor Jakes Gerwel en die Suidoosterfees

Die musiekprogram het opgemaak vir die tekort aan drama met uitstekende produksies soos Die Riel van Hip-hop wat die diversiteit van dans en musiek op die Kaapse Vlakte gevier het. Dit was duidelik dat die produksiespan, onder leiding van Shihaam Domingo en met musiekregie deur Frazer Barry en Camillo Lombard, ure en ure aan die produksie gewerk het. Hopelik gaan hierdie produksie, ’n juweel wat gekoester moet word, deur baie meer mense beleef kan word.

’n Nuwe klank in Afrikaans – Die Riel van Hip-hop

Daar was verskeie ander hoogtepunte, ook onder die kleiner produksies. Vir Marimbamakiti het Elsabé Daneel en Fatima Dike saamgespan en gedigte voorgelees met begeleiding deur ’n groep jong marimbaspelers, almal plaaskinders uit die Grabouw-omgewing en onder leiding van Betsie Ryke. Dit was roerend om woorde deur digters soos NP van Wyk Louw en Ronelda Kamfer te hoor terwyl die kinders musiek maak.

Kaapse (Khoi) Jazz was nog ’n besliste hoogtepunt. Die Kaap mág maar jazz speel en om ’n sangeres soos Sylvia Mdunyelwa te sien optree, was ’n voorreg. Dan was daar die gevestigde talent gemeng met jong talent in Legendes Klassique met ’n uitstekende program saamgestel deur Wayne Muller.

Onder die afdeling Jong Sterre, het Aunty Gabieba uitgestaan. Christian Bennett is Aunty Gabieba en met haar pers rok en tulband bied sy ’n kookprogram op TV aan. Sy is skreeusnaaks, praat Kaaps, kan op haar voete dink en op die koop toe het elke lid van die gehoor ’n roti gekry toe ons by die deur uit is. “You get a roti! You get a roti! You get a roti!” het sy soos ’n ware Oprah geroep.

Jong stemme

Een van die belowende jong akteurs wat by die 2017-Suidoosterfees te sien was, was Whaden Johannes. In Mamre vertel hy die stories van vier mense van Mamre, die klein Weskus-dorpie wat as ’n Morawiese Sendingstasie begin het. Regie is behartig deur Nico Scheepers.

In ’n hart-oopmaak-onderhoud met Pieter Cloete, vertel hy die storie van sy mense … sy dorp … en hoe dit hom gevorm het.

Mamre – Whaden Johannes

Die kersie op die Suidoosterfees se koek het tot Maandag gewag toe Amanda Strydom, Vicky Sampson en Gloria Bosman die verhoog vir Legendary Divas gedeel het. Wat ’n belewenis! Onder die baie bekwame musiekleiding van Janine Neethling het die drie vroue gewys waarom hulle as van die beste stemme in die land bestempel word. Die musiek is met ’n fyn hand gekies, die vertolkings – soms alleen, soms saam – het jou hoendervleis gegee. Hierdie was nie ’n konsert wat net lukraak saamgegooi is nie. Daar was ’n boodskap, ’n baie sterk boodskap, en om dit deur die stemme van hierdie drie formidabele vroue te hoor, was ’n grootse gebeurtenis. Mag hierdie produksie ook op meer verhoë afspeel.

Die Suidoosterfees speel met Afrikaans. Gooi die taal met draaie en swaaie. Soos dr. Willa Boesak in Die Riel van Hip-hop beskryf het waar Afrikaans oral sy wortels het: Afrika, Asië en Europa; die kaaseters, die wyndrinkers en die speserysoekers.

Die Suidoosterfees het ook van die meelewendste gehore van alle kunstefeeste. Hulle praat saam, beaam en lewer kommentaar. Hulle juig en jive. Dis aansteeklik en ’n mens wens dat jy van daardie entoesiasme kan bottel en dit saamneem na ander feeste. Dis ’n fees wat ’n veer in die hoed verdien – veral omdat hulle voortdurend op soek is na nuwe talent.

Suidoosterfees – Dis feestyd in die Kaap

Vanaf 27 April tot en met 1 Mei 2017 gaan daar vyf dae lank behoorlik fees gevier word in die Moederstad. Dis ’n besondere geleentheid waar Afrikaans, as versoenende taal, in die middelpunt van alles staan.

Die tema van vanjaar se Suidoosterfees is Legendes en die Kunstekaap-sentrum speel weer gasvrou vir die fees. Nie net word daar vanjaar erkenning gegee aan kunstenaars wat hul stempel afgedruk het op die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nie, maar ook jong kunstenaars, môre se legendes, kry die geleentheid om hulle talent ten toon te stel.

Feesprogram – iets vir almal

Niël Rademan, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees sê vanjaar se feesprogram is uiteenlopend, opwindend en bied iets vir elke smaak. Benewens die reuse simfoniekonsert, ’n Bollywood-dansvertoning, eksklusiewe kabaretteater, skaterlagkomedie, Kaapse Khoi-Jazz, drama en ’n koorskouspel, gaan daar heerlike sinergie wees wanneer rieldansers en rymkletsers op een verhoog ontmoet.

In Die Vlammende Fez, met musikante soos Loukmaan Adams, ’n tradisionele Kaapse Maleier-sanggroep en Chris van Niekerk as stemkunstenaar, word teatergangers meegesleur op ’n reis deur ID du Plessis se lewe en werke wat vervleg word met Maleier-melodieë.

Piekniek by Mpande, née Dingaan is ’n verwerking van Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel se Piekniek by Dingaan wat in 1988 as protesteater opslae gemaak het. Schalk Joubert, Ludwig Binge, Ilana Cilliers, Karli Heine, Nicole Holm, Marlo Minnaar en Pierre Theron is die nuwe generasie stemme wat met woord en lied teen die Heilige Koeie protesteer. Die produksie is tydens vanjaar se Woordfees en ook by die KKNK met groot lof ontvang.

In Weerklink van ’n wanklank, ’n eenman-memoir wys die legendariese Pieter-Dirk Uys sy slag as komediant en kabaretkunstenaar, en hierdie terugblik op sy grootwordjare, sy familie, sy gestoei met die sensuurraad, word ’n viering van die onvermydelike hoogte- en laagtepunte van Suid-Afrikanerwees.

In Kunstreffers: Konsert van Hoop wat op Vryheidsdag aangebied word, deel kunstenaars soos Karin Kortje, Coenie de Villiers en Karin Hougaard die verhoog met die uitblinkers van die Suidoosterfees-talentsoektog 2016. Hierdie vertoning, onder die bekwame musikale leiding van Janine Neethling, is ’n musiek- en dansskouspel soos min.

Die Fluweelkamer is die uitstalruimte vir ’n hele paar uitmuntende musikale vertonings onder meer Aucamp! Hierdie is kabaretmusiek deur Mr. Cat & The Jackal vir die teks, geskryf deur Hennie Aucamp. Aucamp! lewer vlymskerp kommentaar op kwessies soos geweld, seksuele emansipasie en sensuur.

Vir die klassieke fynproewer is Legendes Klein Klassique ’n produksie om nie mis te loop nie. Die talentvolle pianis, Ilse Schumann wat deesdae in Wene woon, en die Odeion-Strykkwartet, speel die klavierkwintet van Brahms asook die stuk Kommadagga van die Kaapstad-gebore komponis, Shane Woodborne. Kommadagga is die geboortedorp van Jakes Gerwel aan wie die werk opgedra is.

Jong stemme

Een van die belowende jong akteurs wat vanjaar te sien is by die Suidoosterfees is Whaden Johannes. In Mamre vertel hy die stories van vier mense van Mamre, die klein Weskus-dorpie wat as ’n Morawiese Sendingstasie begin het. Regie word behartig deur Nico Scheepers.

Soldaat is die storie van ’n jong man wat dit sy persoonlike missie maak om sy gemeenskap te verander. Ephraim Gordon is te sien in hierdie eenmanstuk, ’n stuk wat hy saam met Amy Jephta geskryf het. Weer eens ’n unieke geleentheid om nuwe, vars teatertalent in Suid-Afrika te ondersteun.

Wat kan dan nou lekkerder en meer Afrikaans wees as om te sien hoe rieldansers en rymkletsers hande vat. In die produksie, Die riel van Hip-hop, gaan ’n verskeidenheid hip-hop-kunstenaars, onder meer DJ Ready D, Tribal Echo, Zenobia Kloppers, Vito Heyn en die wenners van 2016 se ATKV-Rieldanskompetisie, Die Betjies van Betjiesfontein, die verskeidenheid van ons land en sy mense met woord, musiek en danse vier.

Poppeteater

Heerlike poppeteater, Die onwaarskynlike verhaal van Miko, bied aan die jongspan iets opwindends om in die teater te beleef. Klein Miko verdwyn spoorloos uit Moegoeberg se hospitaal en Elisha Zeeman is die manipuleerder wat hierdie storie met marionette vertel.

Live Love Bollywood is ’n heerlike skouspel van Bollywood-danse en vir 75 minute gaan teatergangers sukkel om hulle voete stil te hou. Die Taare-dansers bring Bollywood na die Kunstekaap Operahuis.

Flieks

Vir die fliekvlooie is daar ’n heerlike versameling Afrikaanse rolprente wat gaan draai: Sy klink soos lente, Noem my Skollie, Vlees, Die Bok, Planke toe en Dis Koue kos, skat.

Kuns uit die Kaapse Vlakte

Vanjaar word ’n besondere wens van dr. Jakes Gerwel waar wanneer ’n kunsuitstalling van dr Conrad Theys by die Suidoosterfees open. Dr. Gerwel het altyd daarvan gedroom om die Kaapse Vlakte-kunstenaars se werke tydens die Suidoosterfees uit te stal, en met hierdie uitstalling word dit waar.

Diskoers

’n Aantal heerlike, interessante diskoerse is ook op die spyskaart by die Suidoosterfees en aanbieders soos Ivor Price, Lynette Francis en Freek Robinson neem die leiding met temas soos: Dra Sport by tot Nasiebou?, Visbronne: Wie kry en wie kry nie? en Die stand van Afrikaanse universiteite. Hierdie Jakes Gerwel-gesprekke vind by die kykNET & Kie isiBaya en SARU-Museum plaas.

Nuttige skakels

Laai die program hier af:
Besoek die Suidoosterfees-webtuiste.
Twitter: @suidoosterfees
Kry jou kaartjies hier.

Kyk hier …