Die Vrystaatfees se lagmedisyne

Lag is gʼn klug!

Is jy moeg gewroeg? Gryp die dokter se voorskrif en vind berading en ontlading met die klug en ʼn rits komedies by die Vrystaatfees, stel Christiaan J de Swardt voor.

Mense in Suid-Afrika en regoor die wêreld kry swaar. Natuurrampe, oorloë, onreg, hartseer, haat en verraad. Dit word  lewend op televisie, oor die radio en in die media aan ons opgedring.

Gelukkig is daar by elke kunstefees ‘n teaterstyl waarop verhore versot is: die klug.  Teater bied ontvlugting. Mense wil graag lag. In Amerika is daar selfs lagklinieke wat deur medici voorgeskryf word om spanning te ontlaai.

Die klug bied sommer gratis berading en ontlading!

Frans Swart saam met sekerlik die kampioen van die klug, Tobie Cronje.

Vanjaar kan feesgangers hulle by die Vrystaatfees aan Lefra-produksie se klug My Vrou se Man se Mannetjie verkneukel. Frans Swart, die regisseur en vervaardiger, trakteer gehore al die afgelope tien jaar met ‘n rits Suid-Afrikaanse verwerkings in Afrikaans van die gewildste klugte uit die pen van die Engelse dramaturg Ray Cooney.

Cobus Venter en Edrien Erasmus in My Vrou se Man se Mannetjie. (Foto: verskaf)

Edrien sal hul eerste vertoning nooit vergeet nie. Sy het glo ‘n wulpse skoppie gegee en toe skiet haar skoen die lug in. Nou is dit deel van die opvoering. (Foto: verskaf)

Johan Joubert en Tessa Denton in My Vrou se Man se Mannetjie (Foto: verskaf)

Die hansworstery en kneukelkinkels word reeds in die titels van dié klugte verklik: My Boetie se Boetie se Baba,  My Boetie se Sussie se Ou of My Man se Skelmpie se Vrou…

Lag bly lekker en die klug bly gewild …

“Omdat die klug so gewild by gehore is, geniet ek om die klug op te voer. Boonop is dit elke jaar ‘n nuwe een. Elke produksie het ‘n nuwe verhaalverloop, ander kinkels en ‘n verrassende ontknoping. Dus weet die gehoor nie wat om aanstaande jaar te verwag nie. Die aanbieding van My Vrou se Man se Mannetjie handel oor die verskille tussen mans en vroue wat op ‘n lagwekkende wyse aangebied en opgevoer word. En, ja, natuurlik is dit volop gesonde stoutigheid!”

Frans meen die klug is die beste toneelstyl om  mense, veral kinders, in die teater te kry – én teatergereed te maak.  “Kinders moet teater geniet; dit moet nie vir hulle ‘n las wees om teater toe te gaan nie. Omdat ons produksies gesinsvermaak is, is ons uiteraard verantwoordelik met die inhoud daarvan.”

Frans, wat al die regie van alle genres – drama, komedie, tragedie en teater van die absurde – gedoen het, meen die klug is ʼn ánder dier! Ek sê dit onomwonde dat dit die moeilikste genre is, hoewel die sogenaamde teater-elite op ons neerkyk.  Natuurlik het elke genre sy eie tegniek en jy as regisseur word gelei deur die teks.  Al wat ek weet, jy moet hope energie hê om ‘n klug te regisseer en te speel.  Tydsberekening is alles.  Jy moet komies baie sterk kan speel.  Elke liewe beweging word tot op die T uitgewerk.  En selfs ‘n tree hier en daar speel ‘n rol.  Die stel word ook deel van die handeling en word inderwaarheid ‘n ekstra karakter.  Daarom is ek nog uit die ou skool wat glo jy kan nie ‘n klug doen sonder ‘n properse box-stel nie.”

‘Die klug moenie skaam wees nie …’

Die welslae van ʼn geslaagde klug word reeds in die eerste vyftien sekondes van die stuk bepaal. “As jy gehore daar verloor, gaan jy hulle moeilik terugkry en boei. Lag is die kruks van ʼn klug. Die hele span werk vir lag. In die klug moet jy ten minste  elke dertig sekondes lag uitlok; dis dêm harde werk!  Die storie moet goed doen.  Natuurlik is ‘n goeie klug totaal absurd.  Die handelinge kan eintlik nie in werklikheid gebeur nie.  Almal weet dit, maar tog verlekker jy jou in die penaries waarin die karakters hulle bevind.  Die klug moet ook nie skaam wees nie.  Die klug moet groot gaan en groot wees.  Schalk Bezuidenhout het by vanjaar se Fiëstas ‘n skit oor my gedoen oor hoe ek regie doen: Groot en loud!  En dis ‘n kompliment, want die klug moet groot en loud wees.”

Frans maan egter dat die regisseur en spelers nooit moet probeer om snaaks te wees nie. “Jy pak ‘n klug soos elke ander drama aan.  Jy doen karakterontleding, jy doen die analise van die storie, jy kyk waar gaan die klug heen.  Jy moet die regie so doen dat hierdie totaal onmoontlike en absurde situasies so waar en ernstig gespeel moet word.  Die spelers moet glo in hul karakters en moet dit geheel en al so uitbeeld.  Daar moet ‘n ongelooflike vinnige tempo wees.  Ek sê altyd die klug is so vinnig dat jy nie eers tyd het om jou woorde te vergeet nie.  En daar moet ritme wees.  Jy moet ook so nou en dan jou gehoor kans gee om asem te haal.  Ons kan byvoorbeeld nooit ‘n klug doen sonder ‘n pouse nie.  Dis net te veel om in te nem en mense lag net te veel om ‘n klug ononderbroke aan te bied.  Aan die einde van die stuk ontplof mense in die gehoor en dit maak dit alles die moeite werd.”

Hoewel die klug baie gewild by gehore is, word dié genre dikwels met agterdog deur resensente en kunstefeesbeoordelaars bejeën en as snert afgemaak. Kunstefeeste beskou die klug nie as snert nie, want Lefra word elke jaar deur die grootste feeste teruggenooi en die kaartjies is gewoonlik uitverkoop. Die klug My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou was pas weer die top-verkoper by Innibos. “Ek het nie die vaagste benul waarom resensente en kunstefeespanele ons klugte ignoreer nie. Dalk beskou hulle ons nie as ‘kunsmakers’ nie en dalk is ons te ‘kômmin’ om vir ʼn kunstefeesprys of ʼn Fiësta benoem te word. Dit is eintlik ironies, want ons lok mense immers teater toe daarmee,” wys Frans uit.  Hy sê die meeste resensente en beoordelaars het nog nooit ‘n klug op die planke gebring nie en weet dus nie hoeveel werk en energie ‘n klug verg nie.

Frans mymer: “En weet jy: Ek het my nog nooit aan ‘n resensent se mening gesteur nie.  Suid-Afrika het in alle geval nog net ‘n handjievol resensente oor wat bevoeg is om ‘n resensie te skryf.  Die res het nog nooit gespeel, regie gedoen of vervaardig nie.  Dus het hulle nie die vaagste benul waaroor teater gaan nie.  Ons is in die afgelope tien jaar wat ons klugte aanbied, nog nie een keer eers benoem vir ‘n speler of stuk nie.  Is ons produksies so swak?  Nee, dan sou die gehore nie na ons klugte gestroom het nie.  Feesbeoordelaars moet maar daardie vraag beantwoord.  Ons jaag egter nie pryse na nie, want dit bring nie boude op die sitplekke nie.  Ons jaag gehalte na – en ons beloning is as gehore vir ons lekker applous gee!”

In My Vrou se Man se Mannetjie ontmoet ons Isak, wat glo dat hy ‘n gelukkige huwelik het, maar verpletter word wanneer Linda, sy vrou van 18 jaar, sê dat sy hom gaan verlaat. Met raad van hul seun, Isak se bejaarde pa, sy beste vriend en ‘n bietjie hulp van die drankkabinet, neem Isak ‘n waaghalsige roete om sy huwelik te vernuwe! En dinge jeuk…

Vaardige klugspelers gesels oor die waarde van die klug, die snaakste dinge wat al met hulle op die verhoog gebeur het en vertel wat vir hulle snaaks is …

Tessa Denton

“Dis ontspannend en jy kan net lekker terugsit en lag oor die dinge waaraan ons almal soms iewers skuldig is. Ek lag wanneer iemand teen iets vasloop.” 

Tessa vertel van die keer toe sy en Edrien ‘n oomblik gehad het waar hulle hul woorde omgedraai het. Hulle was albei dadelik bewus daarvan en het gesukkel om hulle eie lag terug te hou, terwyl hulle spontaan ‘n klomp snert kwytgeraak het totdat hulle weer op die regte spoor was.

Foto: Tessa saam met Johan Joubert

Rowlen von Gericke

“Die gehoor identifiseer met sekere tonele uit hul eie lewe en sien die humor in die verkeerde hantering daarvan of selfs net die ongemaklike situasies waarin mense  mekaar soms plaas. Ek vind droë humor snaaks. Hoe meer ernstig die situasie is, hoe snaakser vind ek die blote ongemaklikheid”

 Rowlen herroep daardie keer toe hy weet die toneel gaan begin en ‘n mede-akteur was nog nie klaar met sy kostuumverandering nie… Maar: die show must go on – broek of te not!

Cobus Venter

“Ek dink gehore skaterlag, want hulle sien doodgewone mense in buitengewone omstandighede. Die karakters in ‘Mannetjie’ is gewone, alledaagse mense. Daarom kan gehore vereenselwig met die karakters wat gedwing word tot komieklike optrede as gevolg daarvan. Mense laat my lag. Ek dink, hoewel mense eintlik nogal dieselfde is – ons almal het basies dieselfde behoeftes en begeertes – is mense tog so verskillend. Die manier hoe elkeen op sy eie kleurryke manier op situasies reageer, is vir my snaaks.”

Cobus klik om saam met Edrien Erasmus in die laaste toneel te wees, is altyd skreeusnaaks. Hy wil nie te veel weggee nie, maar waarsku dis ‘n “stomende” toneel en alles draf verkeerd en hy sukkel glo erg om sy waardigheid te behou.

Johan Joubert

“Ek dink mense hou daarvan om te lag vir ander mense in vreemde situasies, maar eintlik lag mense net vir hulself, want hulle kén dié snaakse situasies goed. Juis daarom laat ‘n reeks soos Orkney Snork Nie en Leon Schuster-flieks my lag.”

 Johan kan nou glo net bloos oor die voorval by die KKNK toe hy en Paul Lȕckhoff so lekker in die kleedkamer aan’ t gesels geraak het dat hulle skoon hul invalle tydens die kruiwatoneel misgeloop het en inderhaas moes red wat nog te redde was…

Foto: Johan Joubert en Kobus Venter

Edrien Erasmus

“Dit is nogal helend om te lag oor jou eie tekortkominge. Ironie laat mens lag… Wanneer mense iets beplan en Murphy het ‘n ander plan.”

Edrien sal hul eerste vertoning nooit vergeet nie. Sy het glo ‘n wulpse skoppie gegee en toe skiet haar skoen die lug in. Nou is dit deel van die opvoering.

Paul Lȕckhoff

“Mense sien hulself meteens en pleks om daaroor te huil, lag hulle uit verleentheid! Mense wat lag, laat my lag!”

Paul bieg sónder om te blik of te bloos: “Man, eintlik is niks snaaks nie! Ons lei mos maar almal aan dieselfde skete. Maar kom kyk self en kry lagterapie. Ons almal gaan oraait wees!”

Vrystaatkunstefees – lagmedisyne

Naas dié klug, kan teatergangers ook kies tussen ‘n rits komedies:

  • 3 Susters – ‘n drama-komedie oor die soet en suur van susterskap; met Lizz Meiring, Nicole Holm, Margit Meyer-Rodenbeck.
  • Die baba met die badwater -’n Klassieke komedie wat die toets van tyd deurstaan het; met Kaz McFadden, Wynand van Vollenstee, Liezl de Kock, Liz Meiring, Karin van der Laag en Lara Lourens.
  • Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe – WEES GEWAARSKU: Jy moet lag dat die trane rol, anders spuit hulle jou met Doom!
  • Elke briljante ding – ‘n Komedie oor depressie en hoe ver jy sal gaan om ‘n lewe te red; ’n debuutproduksie met Ilne Fourie.
  • n Gewigtige saak– In ‘n wêreld wat te klein is vir ekstra groot mense, wag daar ‘n mynveld van komplikasies om elke noue hoek en draai; met Wynand van Vollenstee.
  • Harry & Jackie: Tussen die bokse – ‘n Kinkel in oor “tot die dood ons skei”; met Christel van den Bergh en Markus Haywood.
  • Half Leeg – ‘n vlymskerp blik op mans, vroue en eensaamheid; met Cintaine Schutte.
  • Irritasie vir die nasie – Oor daai dinge wat elkeen van ons se irritasievlakke die hoogtes in laat skiet; ‘n debuutproduksie deur Ilne Fourie.
  • Is die bar al oop?- Oor ons volkie se ambisie om ‘in’ te wees en al die pretensie wat met sogenaamde status en geld gepaard gaan, lok ons om met volksvreemde tradisies uiteindelik gekke van onsself te maak; met Esther von Waltzleben, Dion van Niekerk, Thys Heydenrych, Chanmari Erasmus, Ane van den Berg en Adriaan de Ridder.
  • Los asb ‘n boodskap – ‘n Tragi-komiese avontuur deur ‘n surrealistiese Suid-Afrika; met Simone Nortmann en Ilana Cilliers.
  • Manne – Met geraamtes in die kas en wraak op die brein stap vyf manne die boendoes binne … Met Chris Vorster, Hennie Jacobs, Hannes Brümmer, Theodore Jantjies, Francois Lensley en Deon Coetzee.
  • Mike en Mavis -‘n Romantiese komedie wat hulde bring aan die ou klassieke rolprente; met Wilson Dunster en Elize Cawood.
  • Operasie Holm – Marion Holm het nog ‘n jaar oorleef en deel dankbaar en plesierig die lesse, lawwighede en lollerye.
  • Schalk Bezuidenhout: Snorseun – met vlymskerp waarnemings en bytende sosiale kommentaar oor ons land.
  • Skerpskerts met Schalk Bezuidenhout, Shimmy Isaacs, Melt Sieberhagen en Hannes Brümmer.
  • NRNNSA: Die Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika die satiriese blik wat reeds verskeie kunstefeestoekennings verower het.
  • Strooijonker – oor die onrealistiese eise wat mense aan hulself by geleenthede soos ‘n huweliksonthaal stel; met De Klerk Oelofse.
  • Wie’s jou papa – ‘n eerlike, skreeusnaakse blik op ouerskap; met Hannes Brümmer.

*Kyk uit vir die produksies by Aardklop.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!