Die verskriklike waarheid … ‘n Myl in die skoene van Ellen Pakkies

Jill Levenberg vertel …

Die aangrypende drama, Ellen, Die Storie van Ellen Pakkies, is vanaf 7 September 2018 op die grootskerm te sien. Jill Levenberg gesels met Afrikaans.com oor hoe sy voorberei het om die rol van Ellen Pakkies te speel.

Wanneer ’n liefdevolle ma haar eie kind se lewe neem, ruk dit jou tot stilstand. Hoe is dit moontlik? Skok en verbystering … wêreldwyd het die vraag weerklink … hoe is dit moontlik?  Ellen Pakkies word in 2007 verhoor op ‘n aanklag van moord … die moord op haar seun, Abie Pakkies.

Die hofsaak het ‘n venster laat oopgaan na ‘n wêreld waaroor baie liewer ‘n sluier sou wou trek. Moedeloosheid, magteloosheid, verskrikking en hopeloosheid … ‘n plek waar duisende mense, dikwels die armstes van die armste hulle bevind. Lewend begrawe in die hel van dwelmverslawing.

Die ware lewensdrama van Ellen Pakkies en haar mense het groot reaksie ontlok en dit is juis hierdie aangrypende verhaal wat eersdaags lewe kry op die silwerdoek. So as jy ook wonder,  en dapper genoeg is om die waarheid in die oë te kyk, is daar net een manier om uit te vind wat gebeur het, en dit is om Ellen, Die Storie van Ellen Pakkies te gaan kyk! Jy gaan beslis nie spyt wees nie, want dit is een van daardie rolprente wat jou tot stilstand bring. Dit is ’n hulpkreet wat gehoor móét word en ons almal tot aksie dwing.

Net soos met elke ander goeie fliek, is daar ’n sterk rolverdeling nodig om die boodskap en realiteit van die situasie effektief oor te dra. In hierdie verhaal rus dié groot verantwoordelikheid grotendeels op die skouers van Jill Levenberg, wat die skoene van die regte Ellen Pakkies moet volstaan.

Die aktrise, wat bekend is as Mymoena in die kykNET-sepie Suidooster, het ’n BA-graad (Honneurs) in Drama en Engels en was van dag een af baie opgewonde om betrokke te raak by hierdie rolprent en het haar skitterend van haar taak gekwyt!

Nie net kry sy dit reg om die seer, desperaatheid en eerlikheid van die ongelooflike sterk vrou – op wie die prent gebaseer is – perfek vas te vang nie, maar sy druk ook haar eie, unieke stempel op die karakter af.

Kyk die lokprent hier vir ’n voorsmakie van haar besonderse vertolking van Ellen:

Dit is  geen verrassing dat Jill Levenberg vanjaar aangewys is as Beste Aktrise by die Silwerskermfees… juis vir hierdie rol nie. Jarrid Geduld, wat die rol van Abie speel, is ook aangewys as Beste Akteur.

Amy Jephta het die prys vir Beste Draaiboek gewen.

Só het Silwerskermfeeswenner, Jill Levenberg, voorberei vir haar rol as Ellen Pakkies

Maar hoe berei ’n mens voor om iemand te speel wat ’n storie het, maar nog self ook leef om dit te vertel? Annelien van Basten het namens Afrikaans.com met haar gesels.

Jill Levenberg saam met Ellen Pakkies. Jill vertolk die rol van Ellen in  Ellen, die Storie van Ellen Pakkies wat ‘n hartseer hoofstuk in die Pakkiesgesin se lewe na die grootskerm bring.

Foto’s: Lindsey Appolis

Waar het jy van dié rol gehoor en hoekom wou jy deel wees van die produksie?

“’n Paar jaar gelede het hulle vir die eerste keer oudisies gehou toe hulle beplan het om die fliek te maak. Ek het gaan oudisie vir die rol van die buurvrou, maar niks teruggehoor nie. Die film het toe nie op daardie stadium gerealiseer nie. Later het ek gehoor dat Daryne Joshua die regisseur gaan wees en dat hulle nou die film gaan skiet. Ek het vir hom ’n e-pos gestuur en gevra dat ek baie graag deel van die film wil wees, al is dit dan net ’n klein rol. ’n Paar weke daarna het ek gehoor dat ek Ellen gaan speel. Ek kon dit nie glo nie en het sommer in trane uitgebars. Dis nogal vreemd, maar Ellen se verjaardag is op 6 Desember soos my ouma s’n en Abie het op 27 Augustus verjaar, soos my ma. Ellen se kinderdae was ook in Kensington, in dieselfde straat!

Dis moeilik om ’n karakter te speel van so ’n opspraakwekkende figuur. Hoe het jy voorberei vir hierdie rol?

“Om voor te berei het ek baie navorsing gedoen oor Ellen. Ek het die boek gelees wat oor haar geskryf is en van die internet en YouTube gebruik gemaak om meer uit te vind oor haar saak. Ek het ook weggetrek van haar huis af en ’n klein huisie langs die strand gekry, want ek het geweet dat ek myself moes isoleer en stil word. Naby die strand kon ek myself leegmaak.”

Hoe het Ellen jou gehelp om die beste weergawe van haar te speel?

“Ons het baie gesels, saam gehuil, saam gelag – oor positiewe en minder-positiewe dinge. Sy het my baie ondersteun en sy inspireer my nou nog. Sy kies om tot vandag toe in dieselfde huis te bly waar alles gebeur het, omdat sy so ’n groot hart vir haar mense het. Ons albei is baie lief vir God en ons gemeenskap en wil graag ’n verskil maak.”

Wat was die grootste uitdaging van die rol?

“Die feit dat ek ’n ‘toestand van disassosiasie’ moes vind, wat die term is waarmee die sielkundige vir Ellen beskryf het net voordat sy vir Abie vermoor het. Ek het geweet as ek dit vind, ek die persoon binne my sou kry wat tot so iets in staat is, en dit was ’n groot uitdaging. Ek het intensiewe navorsing gedoen om presies te weet wat behels ’n ‘toestand van disassosiasie’.”

Moes jy enige fisiese veranderinge ondergaan vir die rol?

“Ja, ek moes ’n ouer vrou en ma speel. Dit het vereis dat ek die ‘moegheid’ en depressie, van die liggaam wat mishandeling geken het, moes ek vind. Dit alles affekteer jou as ’n mens in so ’n omgewing woon. Ek het baie van die ma’s in Lavender Hill dopgehou – hoe hulle asemhaal en hoe hulle staan. Daryne Joshua het gesê dat hy my nie presies soos Ellen wou hê nie, maar eerder wou hê dat ek moes versinnebeeld waardeur hierdie vroue gaan.”

Wat was die lekkerste deel daarvan om deel te wees van hierdie produksie?

“Die akteurs en produksiespan het almal saamgetrek omdat ons besef het dat ons besig was met iets groot en die energie was regtig goed op stel. Ons het mekaar ondersteun. Dit was ook lekker om te sien hoe opgewonde die mense in Lavender Hill was omdat hulle situasie aandag kry en het my baie krag gegee. Om teenoor soveel talentvolle mense te speel en om saam met Daryne Joshua en Zenn van Zyl te werk, was ook ’n groot voorreg.”

Is daar iets wat jy by Ellen en haar storie kon leer?

“Dat deursigtigheid wedersydse genesing kan bewerkstellig. Om ander mense deur jou waarheid te genees. Sy het my laat uitkom oor die feit dat ek gemolesteer is toe ek ses was. Dit het my bevry en het nie meer ’n houvas op my nie.”

Hoekom moet mense hierdie fliek gaan kyk?

“Ek wil die Suid-Afrikaanse publiek aanmoedig om ons fliek te ondersteun, want as jy ’n kaartjie koop, maak jy seker dat die volgende storie ook weer vertel kan word. Moenie vervalste weergawes koop nie. Met jou kaartjie, ondersteun jy die ekonomie, die industrie, en skep jy weer werk vir ’n volgende geleentheid. Ons films kry baie aandag oorsee, maar ons het die Suid-Afrikaanse publiek nodig om ook agter ons te staan. Daar is ’n baie belangrike boodskap in die rolprent, gaan kyk dit asseblief.”

Dwelmafhanklikheid is ’n groot probleem – veral op die Kaapse Vlakte – dink jy daar is hoop dat dit ooit beter sal word?

“Ja definitief. As ander lande kan, kan ons ook. Ons moet kyk na die werkloosheid. Ons moet kyk hoe ons polisie, ensovoorts hanteer word en na hulle salarisse, want hulle word gedryf na korrupsie om te kan oorleef. As die regerende partye net soveel aandag aan dwelms kan gee soos wat hulle nou fokus op die nie-rook-in-publieke-areas-wetgewing, dink net watter verskil dit kan maak as daar regtig op die dwelmprobleem gefokus word.”

Daryne Joshua (Noem My Skollie) was die regisseur van hierdie ongelooflike ware verhaal, wat vervaardig is deur Schalk-Willem Burger en Paulo Areal se TMPBC (The Moving Billboard Picture Company) in samewerking met M-Net, kykNET Films en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en word deur Filmfinity (Edms) Bpk. uitgereik.

Gesels saam op sosiale media!

Facebook: https://www.facebook.com/Die-Ellen-Pakkies-Storie-208819606253993/

Instagram: @ellenpakkies

Twitter: @EllenPakkies

Agter die skerms

(Foto’s: Lindsey Appolis)

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!