Adam Small-fees 2018 – ’n Passievolle liefdesverklaring vir Afrikaans

Pniël Concregational Kerksaal en Kerk

Die Adam Small-fees in Pniël (die aangesig van God) wat vanaf 23 – 25 Februarie 2018 plaasgevind het, was ‘n passievolle liefdesverklaring vir Afrikaans, vir boeke, vir skrywers, vir storievertellers en musiekmakers. Tessa Louw deel haar indrukke.

Vir my was Ambassadeur vir Afrikaans, HemelBesem (Simon Witbooi) die hart en siel van vanjaar se fees. Simon gesels met passie oor die inhoud van sy boek, God praat Afrikaans. Afrikaans is gister, dis vandag en dis môre, sê Simon en ek verstaan presies wat hy bedoel. Ons moet ikone hê om na op te kyk en hierdie ikone hoef nie bekende mense te wees nie. Dit kan ‘n ma of ‘n pa of ‘n onderwyser of ‘n buurtannie wees. Dit moet iemand wees wat ons op die regte pad help.

Ek kyk na Simon, ek luister na hom. Hy praat so mooi Afrikaans – gesegdes, idiome, metafore – dat ek hard moet sluk aan die knop in my keel. Is ons taal dan wragtig só mooi? Ja, dit is! Ek is trots Afrikaans. Trots Suid-Afrikaans. Trots.

Hoe wens ek dat Adam Small hier kon wees om na Simon te luister, maar dan weer, dalk is hy hier. Ons sit mos nou onder God se aangesig … enigiets is moontlik.

Vanjaar se fees is weereens moontlik gemaak deur die feesorganiseerder en programleier, prof. Darryl Earl David. Eerwaarde Leon Klate van die Pniël Congregational Kerk en mnr. Matthew Cyster van die Pniël Erfenis en Kultuur Trust het gehelp om alles tot in die fynste detail te beplan en ook gesorg dat die program seepglad verloop.

Darryl David, Leon Klate en Matthew Cyster

Die Fees het afgeskop met Fanie Olivier wat die werk van Adam Small – die man, die protesteerder, die dramaturg en die digter – bespreek het onder die titel: Swart Landskap – Vergesigte rondom ‘n ander wêreld.

Rina Theron, afgetrede boer van Leipoldtville, gesels oor haar boek, Sandveldkos.

Rina se pragtige boek bevat staaltjies en resepte eie aan die Sandveld en sy mense. “Ek het die resepte ingedeel in kos vir begrafnisse en feesdae, basaargebak, boerekos, geregte gemaak tydens slagdag asook ‘n afdeling oor die bekende Sandveldse heerboontjie en die spierwit Sandveld-aartappel. Ek kon ook nie nalaat om ‘n afdeling oor vis en seekos in te sluit nie. Verder is daar wenke oor enigiets van koekbak en meubelolie, tot skoonmaakmiddels en medisyne uit die natuur.”

Met Sandveldkos ontvang Rina die Gourmand, world cookbook awards 2017 vir die “Best Local Cuisine Book in South Africa”. Sandveldkos staan ‘n kans om op 24 Mei vanjaar in China as die beste kontrei-kookboek ter wêreld aangewys te word.

Hanne innie lig, voete op die grond.

Links is Chaireyah Fredericks en regs “My naam is Feboewharie” – ‘n poppekasvertoning.

Kobus Moolman lees voor uit sy kortverhaalbundel, the swimmimg lesson and other stories.

Keagan Bailey, ‘n plaaslike skrywer, lees gedigte voor uit sy selfgepubliseerde bundel, Bloedstroom.

Mike Lowry, bekende veearts, boer en skrywer gesels oor sy interessante lewe. Boeke wat Mike geskryf het, is: The Lion And The Lamb, The Rhino And The Rat en The Tiger And The Tortoise.

Anne-Mari Lackay, plaaslike inwoner, dra van haar gedigte voor wat sy vir die plaaslike gedigtekompetisie ingeskryf het.

Dr. Rosalie Small gesels oor haar oorlede man, Adam Small.

Braam de Vries, vertoon sy aangrypende film, Adam Small – Die Dokumentêr.

Basil Appolis voer ‘n uittreksel van sy toneelstuk, “My word! Redesigning Buckingham Palace”, op. Hierdie toneelstuk is gebaseer op die lewe en werk van die ontslape skrywer, Richard Rive.

Die inspirerende Irene Fischer wat breinskade opgedoen het na ‘n afgryslike ongeluk, gesels oor haar lang pad na herstel en sê: “Ek is nog hier”.

Ampie Coetzee is tans besig om van Breyten Breytenbach se gedigte in Engels te vertaal.

Johan Nel het Ampie se pragtige vertalings voorgedra.

Chaireyah Fredericks lees voor uit haar boek, 40 stories, 40 woorde op 40.

Valda Jansen gesels oor haar debuutroman, Hy kom met die skoenlappers.

Laetitia Solomons Maneul – lees haar gedig, Happy Anniversary, voor.

Adrian Lackay – mede-skrywer van Rogue.

Breyten Breytenbach lees van sy ongepubliseerde gedigte voor.

Ondersoekende joernalis, Jacques Pauw, het gepraat oor sy boek, en die verwikkelinge daaromheen, The President’s Keepers.

Fanie Olivier en Braam de Vries.

Ambassadeur vir Afrikaans, Charnelle Fortuin, was ook daar.

Gaireyah Fredericks, Charnelle Fortuin, Dr HS Theys en Laetitia Solomons tydens die fees.

Breyten Breytenbach en Charnelle Fortuin.