27 tot 30 Junie: Innibos 2018 – Die bal is aan die rol!

Moeg vir die ysige winterkoue in jou area? Dan is Nelspruit die plek om te wees vanaf Woensdag 27 Junie tot Saterdag 30 Junie. Nie net kan jy hier sonnige, matige wintersdae beleef nie, maar jy kan boonop deel hê aan een van die heerlikste kunstefeeste in die land: Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees. Hierdie fees het twee keer in ʼn ry die Fiësta-toekenning gewen as gewildste kunstefees.

Innibos se Petticoat Lane – Foto Laevelder.

Innibos Kunspark – Foto Laevelder.

Vanjaar se feestema is Dis hoe ons rol! en op Woensdag 27 Junie word die fees aan die rol gesit met ʼn Kuns-in-beweging-parade waaraan meer as 800 mense gaan deelneem. Innibos 2018 se program is propvol gestop met wonderlike produksies, uitstaande kunsuitstallings, boeke en boekgesprekke, musiekteater en feesverhoë met heerlike musiek.

In 2017 het die ATKV-Boeke-oase ʼn splinternuwe staanplek gekry by die nuwe kultuursentrum van Hoërskool Nelspruit. Vanjaar is die aanbod nog groter. Nie net vind daar elke dag om 10:00 ʼn boekgesprek plaas nie, maar RSG saai ook daagliks Monitor en Spektrum van daar af uit en die Netwerk24-gespreksreeks onder leiding van Ivor Price, ʼn Afrikaanse ambassadeur, vind ook daar plaas. Op Woensdagaand 27 Junie gaan prof. Fransjohan Pretorius saam met die bobaas-storieverteller Louis Changuion om ʼn kampvuur sit en oor die talle stories wat geweef is rondom die legende van die Kruger-miljoene, gesels. Ander interessante aspekte van die Anglo-Boereoorlog in die Laeveld sal ook in hierdie Storievuur uitgelig word. Fransjohan is ook ʼn Afrikaanse ambassadeur.

Hier word die verbeelding geprikkel.

Innibos fokus ook op die volgende geslag lesers.

Dis goed om te weet dat Innibos ook fokus op die volgende geslag lesers. Vanjaar word die Kinder Storie-krôl vir die tweede keer aangebied en beloof om weer die kleinspan se verbeelding te prikkel. Die kleingoed kan na vier stories luister by onderskeie “storietente” in ’n storiedorp propvol fantasie. Hierdie Kinder Storie-krôl is die gedagtekind van Marlene du Toit, eienares van Mosaïek Kleuters in Nelspruit en was verlede jaar besonder gewild.

Dana Snyman.

Mathys Roets.

Die Sappi Boeke-crawl wat die inspirasie was vir hierdie Kinder Storie-krôl is elke jaar een van die gewildste items op die fees en vanjaar gaan feesgangers na die Sudwala-grotte geneem word. Hier gaan hulle na skrywers soos Dana Snyman, ʼn Afrikaanse ambassadeur en Daniel Hugo luister terwyl Mathys Roets en Laurika Rauch musiek gaan verskaf. Vir die wat lus is vir lekker lag, is die Komedie-crawl die antwoord. Die komediante op hierdie plesierrit is Wicus van der Merwe, Joey Rasdien, Melt Sieberhagen en Schalk Bezuidenhout, ʼn Afrikaanse ambassadeur.

Die toneelaanbod op vanjaar se Innibosfees is weer van hoogstaande gehalte. Hier is vier produksies wat debuteer op die fees. Kleedkamer blues met onder andere De Klerk Oelofse en Wessel Pretorius en Marthinus Basson as regisseur. Soebatsfontein met Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel is ʼn drama oor twee vriendinne op ʼn padreis. Die drama 3 Susters met Nicole Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Lizz Meiring is geskryf deur Louis Pretorius van Die Boekklub-faam. Die vierde debuutproduksie is die komedie Antie Pohl. Dié stuk handel oor die teenpole wat mekaar aantrek en Sorina Erasmus (die Flooze van 7de Laan) en Cobus Venter speel daarin.

Elize Cawood.

Elize Cawood en Wilson Dunster is vanjaar weer te sien in ʼn wonderlike twohander, Mike en Mavis en Lefra se klug, My man se skelmpie se skelmpie se vrou beloof om die lagspiere te prikkel.

Innibos-feesgangers gaan ook die voorreg hê om te kan kyk na die veelbekroonde eenmanstuk Die reuk van appels met Gideon Lombard in die hoofrol. Nêrens, Noord-Kaap met De Klerk Oelofse, Geon Nel en Albert Pretorius het eweneens verskeie toekennings ingepalm en is ook by Innibos op die program.

Magdalene Minnaar is te sien in Klassieke Kamers.

Liefhebbers van klassieke musiek word nie afgeskeep nie en die vlagskipproduksie, Klassieke Kamers, gaan musiek uit die boonste rakke bied. Een van ons Afrikaanse ambassadeurs, Magdalene Minnaar, sal saam met Jannie Moolman, Engelie Le Roux en José Dias deel van die produksie wees.

Talle besoekers woon ʼn kunstefees by om op die feesterrein te kuier en hier gaan dit ook vanjaar weer kook. Soos elke jaar is die hooffeesterrein weer by Hoërskool Bergvlam. Afgesien van die Standard Bank-hoofverhoog op die feesterrein waar topmusikante elke aand te sien sal wees, is daar ook vier kuierverhoë waar meer as 300 kunstenaars gaan optree. Die Boma-kuierteater is ook op die feesterrein. Hier sal gratis, kort toneelstukke te sien wees en teatergesprekke plaasvind. Die gewilde Bosmôl spog met talle uitstallers wat van dwarsoor oor die land kom om hulle produkte hier in die Laeveld uit te stal. Vir die hongeriges sal daar enigiets van biltong en droëwors, roosterkoeke, calamari, aartappels in enige vorm, gebraaide gekrummelde sampioene en allerlei liplekkeretes wees. Die kykNET-Bosbioskoop is ook op hierdie terrein en die kleingoed kan by die Woelwaters-kindervenue besig gehou word. Al die vermaak op die feesterrein is gratis en ingesluit by die hektoegang.

Op Vrydagaand 11 Mei het Nelspruiters ʼn voorsmaak gehad van al die heerlike vermaak wat deel gaan vorm van hierdie jaar se Innibosfees met die gratis afskopkonsert wat ook op die feesterrein plaasgevind het. Kunstenaars Willem Botha, Touch of Class en Bok van Blerk het lekker musiek gemaak en die bal behoorlik aan die rol gesit vir 2018 se Innibos Laeveld Nasionale Kunsfees.

Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder vir Innibos reken 2018 se program is die beste program wat daar nog ooit vir hierdie fees was. “Dit is ʼn uitstekende en gebalanseerde program en ons het fantastiese toneelproduksies, die beste wat daar tans beskikbaar is. Die Boeke-oase is omtrent verdriedubbel van verlede jaar en daar is ook ʼn pragtige kunsuitstalling van Anton, Hanli en Esra Bosch, die bekende Laeveldse pottebakkersfamilie op die terrein.

Tydens Innibos voer Schalk Bezuidenhout ʼn gesprek met Erns Grundlingh oor sy biografie, Truitjie roer my nie.

“Ek is ook baie opgewonde oor die handwerkkunskompetisie wat nou in sy tweede jaar is. Ons het meer as 1000 inskrywings van dwarsoor die land gekry. Dit is die mooiste handgemaakte items en nêrens anders in die land kry jy so ʼn kompetisie waar handwerkkuns op die voorgrond is nie. Die hoofkunsuitstalling vir Innibos 2018 gaan ook iets besonders wees. Johan Myburgh is die kurator en die tema vir hierdie uitstalling is Landskappe. Dan gaan dinge op die feesterrein ook soos gewoonlik in die oortreffende trap plaasvind. Ek hoop die mense stroom na ons fees toe. Almal wat nog nie voorheen hier was nie behoort te kom kyk wat hierdie fees so spesiaal maak,” sê Sandra.

By www.innibos.co.za kan jy die volledige feesprogram kry en meer oor die verskillende produksies, verblyf en uitstallings lees.

Stuur ‘n WhatsApp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!