Die bevordering van Afrikaans is ‘n leefwyse – Kaptein John Cornelius Witbooi

“Ons ken eintlik nie ʼn ander aksent nie en ek geniet dit om so te praat, want ʼn mens is baie gemaklik daarin, en dit val goed op die ore. Vir my het Afrikaans ʼn leefwyse geword. Ek lewe die taal elke dag en ek doen baie moeite om die taal te bevorder, te beskerm en te ontwikkel. Wanneer ʼn taal jou leefwyse geword het, dan sê dit eintlik alles. Afrikaans is beslis onmisbaar vir my!” – Kaptein John Cornelius Witbooi (stamhoof van die Witbooi Nama-stam)

Vir Kaptein John Cornelius Witbooi bly dit baie lekker om betrokke te wees by ʼn projek wat matrikulante in die Riebeekvallei bystaan met die voorbereiding vir die eksamen en latere studies. Kaptein Witbooi het ingeskakel by die Stigting vir Bemagtiging in Afrikaans (SBA) se Brugbouprogram. Hierdie program is ʼn individuele mentorskapprogram gerig op matriekleerders, veral die wat leierskapsvaardighede toon.  Hiermee word gepoog om die akademiese sukses van die leerders te waarborg. Hy is betrokke by die matriekleerders van vier sekondêre skole: Bergrivier in Wellington, Schoonspruit in Malmesbury, Roodezandt in Saron en Saxonsea in Atlantis. Kaptein Witbooi sê hierdie program hou hom baie besig en dit bly ʼn finansiële uitdaging omdat fondse altyd beperk is.

Hy is ook vanjaar weer een van die beoordelaars van die ATKV se Rieldanskompetisie en in die volgende paar maande moet hy saam met die ander beoordelaars help om 120 deelnemende dansgroepe uit te dun totdat daar uiteindelik 15 finaliste oorbly wat op 8 Desember in die finale ronde gaan meeding. Op die vraag of hy self ook nog die riel kan dans, lag hy en sê hy dat hy dit wel kan doen, maar nie naastenby so goed soos die jongklomp wat behoorlik stof kan opskop nie.

Kaptein Witbooi is ook die stamhoof van die Witbooi Nama-stam in Suid-Afrika en hierdie leierskap is ook vir hom van besondere belang omdat sy herkoms, nes Afrikaans, vir hom baie kosbaar is. Hy praat ʼn heerlike Nood-Kaapse Karoo-Afrikaans, die aksent waarmee hy grootgeword het.

Leer ken hom van nader. Klik hier.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!