SA Akademie vir Wetenskap en Kuns – Bekronings 2018

Vandeesmaand het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die presteerders van vanjaar bekend gemaak en dit is behoorlik ‘n skatkis van bydraes wat vereer is.

Die toekennings word tydens twee bekroningsgeleenthede, onderskeidelik in Pretoria (18 Julie) en Stellenbosch (21 September), oorhandig.

Leon van Nierop, een van Suid-Afrika se bekendste roprentresensente, het vanjaar ’n spesiale erepenning ontvang vir sy bevordering van die rolprentkuns.

Sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprentbedryf, Daar doer in die Fliek, span die kroon op sy kuratorskap van die fliekkultuur in Suid-Afrika en word deur die Akademie beskou as “’n monument vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf”.

Katinka Heyns Barnard het in haar huldigingswoord gesê die waarde van hierdie werk lê in Leon se oorsigtelike deeglikheid, onderskraag deur baie aandag aan kleiner detail. “Sy periodisering in dekades is ‘n nuttige raamwerk; dit gee ‘n kleiner konteks binne die groter raamwerk, wat help om die tekortkominge van rolprente en die vermaaklikheidswaarde daarvan te begryp.”

Leon van Nierop

(Foto: Andrea Caldwell)

“Wat my veral verbly van die spesiale toekenning, is die feit dat ek Daar Doer in die Fliek in doodgewone Afrikaans geskryf het, sodat dit ook toeganklik vir die gewone fliekganger is. Ek kon dit in akademiese taal geskryf het, maar het dan die publiek uitgesluit.

Die feit dat dit nie die Akademie gepootjie het in die besluit om die toekenning aan my te maak nie, is prysenswaardig. Dit is ook die eerste prys wat ek in 43 jaar vir filmresensies wen nadat ek letterlik elke dag van my lewe oor film skryf en geskryf het. Om daarvoor vereer te word, veral deur iemand soos Katinka Heyns, beteken vir my die wêreld. Ook die feit dat (Suid-) Afrikaanse film nou besig is om wêreldwyd aandag te trek en selfs te kompeteer. “

*Leon van Nierop was vier jaar lank spesiale professor in filmwese en hoof van die Filmskool by die TUT. Hy het 20 jaar lank filmwerk aan verskeie universiteite gedoseer en het twee boeke oor rolprentwaardering geskryf. Sy draaiboek vir Wolwedans in die skemer is verfilm en Ballade vir ‘n Enkeling het die Tempo-toekenning as beste rolprent van die jaar ontvang. Sy jongste draaiboek, Verklikker, word vanjaar verfilm. Hy is tans ook besig met onderhandelinge om verdere episodes te verfilm vir die kykNET-reeks Daar doer in die fliek.

Vader John Newton Johnson

(Foto: Netwerk24)

“Die rol van die kerk het nooit eintlik verander nie. Dit is om mense nader aan Christus te bring en medeliefde vir mekaar te leer,” sê hy.

Nóg ’n spesiale erepenning is vanjaar toegeken aan Vader John Newton Johnson (79) van Bloemfontein wat beloon is vir sy “uitsonderlike bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal in die Rooms-Katolieke Kerk in Suid-Afrika”.

Vader John het sy liefde vir Afrikaans by sy ma geërf. Sy pa was Engels, maar sy ma het gesorg dat haar kinders haar moedertaal saam met die Rooitaal onder die knie kry.

Om die Roomse liturgie in Afrikaans te vertaal was vir hom ‘n liefdestaak, maar hy is vinnig om uit te wys dat hy deel was van ‘n span wat dié projek in 1975 onderneem het. Wat hom gedryf het, was die persepsie dat Katoliek gelyk is aan Engels, terwyl daar daardie jare al talle Afrikaanssprekendes in die Katolieke Kerk was, onder wie bekende letterkundige figure soos Karel Schoeman, Edith Raidt, Sheila Cussons en vader Bonaventure Hinwood.

Die vertalings is uit die oorspronklike Latyn gedoen. Benewens Afrikaans, Engels en Latyn is hy ook Frans magtig en kan hy Nederlands en Duits lees.

In ‘n tyd wat groot dele van die wêreld na ‘n sekulêre leefstyl neig, is Johnson steeds positief oor die kerk.

Een van die ander redes waarom hy deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer word, is omdat hy verskeie Afrikaanse oratoriums landwyd gestig het – in 1992 een in Oudtshoorn, in 2002 een in Port Elizabeth en in 2015 die Bloemfonteinse oratorium.

Vader John geniet dit in Bloemfontein omdat die stad so Afrikaans is. Hy is positief oor dié taal en sê iets soos die opkoms van meer en meer talentvolle Afrikaanse bruin akteurs op TV maak hom opgewonde oor die toekoms van Afrikaans.

Prof. Herman Wasserman

(Foto verskaf)

“Om ’n toekenning soos die Stalsprys te ontvang is tegelykertyd ’n erkenning en ’n aansporing. Dat die Akademie my werk erken en bekroon is ’n eer wat ek hoog op die prys stel. Die toekenning is egter ook ’n aansporing om aan te hou werk om nuwe insigte en kennismoontlikhede te ontsluit in die belang van die breër gemeenskap. Die akademiese lewe is ’n voortdurende gesprek. Hoe wyer ’n mens kyk, hoe meer stemme jy hoor en hoe beter jy leer luister, hoe meer word jy verryk. Die Stalsprys is ’n aanmoediging om hierdie gesprek te bly voortsit.”

Prof. Herman Wasserman, hoogleraar in mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad en Direkteur van die Sentrum vir Film- en Mediastudies, ontvang die Stalsprys vir kommunikasiekunde en joernalistiek. Sy navorsingsbydrae op nasionale en internasionale vlak is omvattend. Sy werk op veral twee terreine is invloedryk, naamlik die studie van wêreldjoernalistiek oor onder meer die ontwikkelende verhouding tussen China en Afrika binne ‘n verskuiwende geopolitieke konteks en spesifiek Suid-Afrika se rol in hierdie verband. Prof. Wasserman is een van die sameroepers van die internasionale Globale Media-etiek-tafelrondes, wat kwessies rakende media-etiek in ‘n geglobaliseerde samelewing ondersoek en internasionaal daaroor publiseer.

Prof. Christo van Rensburg

(Foto: Verskaf)

“Prof. Christo het standhoudend sy belangstelling in Afrikaans in wydheid en rykdom, in akademiese begronding en in die internasionalisering van die Afrikaanse taalkunde bewys. Ook het hy sy kundigheid en kennis in die Afrikaanse taalkundelandskap teruggeploeg.” – Huldiging Sophia Kapp

Lees meer oor hom hier.

Prof. Christo van Rensburg ontvang vanjaar die C.J. Langenhovenprys virTaalwetenskap. Hy is emeritus professor van die Universiteit van Pretoria en is tans navorsingsgenoot aan die Noordwes-Universiteit, waar hy sy navorsing oor Afrikaans voortsit. Prof. Van Rensburg is veral in taalwetenskapkringe bekend vir die werk wat hy gedoen het om Afrikaans se variëteite te identifiseer, op te teken en te ontleed, en om hierdie variëteite in die Afrikaanse taalwêreld te integreer.

Prof. Emile van Zyl

(Foto: Verskaf)

“Ek kon na my loopbaan by die WNNR ’n ongelooflike geleentheid by die Universiteit Stellenbosch benut – nie net die akademiese- en navorsingsuitsette nie, maar ook om vir 26 jaar met ongeveer 70 M- en D-studente oor alle grense heen te werk en hulle deur te sien.  Dit was harde, maar baie bevredigende werk. Die Havenga-prys is ‘n besondere erkenning en besonders omdat dit een van die hoogste vererings is, maar veral omdat ek verskeie vorige ontvangers persoonlik ken en baie respek het vir elkeen as akademici en internasionaal-bewese navorsers en ek myself dus  in besondere geselskap bevind.”

Die Akademiepryse word oor ’n wye veld toegeken en nog ‘n baie spesiale toekenning is die Havengaprys vir Lewenswetenskappe – ’n prestigeprys wat slegs eenmalig aan ’n persoon toegeken word. Prof. Emile van Zyl, verbonde aan die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch is vanjaar bekroon vir sy oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied.

Prof. Van Zyl se oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike gebied word weerspieël in sy navorsingsuitnemendheid en ‑mededingendheid, sy invloed op die vakdissipline en sy akademiese vakkundigheid. Vir reeds meer as ‘n dekade beywer prof. Van Zyl hom onverpoos vir die gebruik van omgewingsvriendelike alternatiewe vir fossielbrandstowwe.

Lees meer oor die ander pryswenners hier.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!