Prof. Christo van Rensburg ontvang die gesogte Jan H. Marais-prys

Prof. Christo van Rensburg het feitlik sy hele loopbaan gewy aan navorsing om die geskiedenis van Afrikaans na te vors. Op ʼn glansfunksie wat op 30 Mei in Stellenbosch gehou is, is hy vir sy lewenslange bydrae beloon deur die toekenning van die gesogte Jan H. Marais-prys. Hierdie prys word sedert 2015 jaarliks toegeken om erkenning te gee aan ʼn “uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal  deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans.” Prof van Rensburg deel die prys vanjaar met prof Marinus Wiechers, ʼn regsgeleerde en voormalige rektor van Unisa.

Sy loopbaan

Prof. van Rensburg is tans ʼn navorsingsgenoot, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Reeds terwyl hy met sy Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands besig was aan die Universiteit van Pretoria, het hy ʼn aanstelling in die Afrikaanse departement gekry en tot aan die einde van sy loopbaan was hy verbonde aan universiteite. Tien jaar daarvan was by die Universiteit van die Vrystaat. Sedert sy aftrede is hy by Noordwes-Universiteit betrokke as navorser.

Hy vertel hy was in die tagtigerjare, toe werksaam by die Universiteit van die Vrystaat, die projekleier van ʼn omvattende studie oor Griekwa-Afrikaans. Die studie is deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing befonds en daar was talle medewerkers, waaronder plaaslike, sowel as studente uit die buiteland. Daar is sy nuuskierigheid vir eens en vir altyd geprikkel oor die interessante onderwerp.

Sy navorsing

“Vroeër is daar gesê dat Afrikaans uit Nederlands kom, maar die navorsing wat ons gedoen het met betrekking tot Griekwa-Afrikaans, het dit duidelik gewys dat dit sterk deur Khoi-Khoi beïnvloed is. Ek het later selfs uitgevind dat hierdie Khoi-Afrikaans se eerste boustene gelê is nog voordat Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het.

“Mense dink verkeerdelik dit was Nederlands wat oorgegaan het tot Afrikaans. Ek kon nog nie enige bewyse daarvoor kry nie. Waarvoor ek wel bewyse gekry het, is toe Afrikaans gestandaardiseer is, hier van 1917 af, was daar ʼn geweldige toevloei van Nederlandse materiaal om Afrikaans te verryk. Daarom is ons woordeskat baie Nederlands, maar ons sintaksis verskil baie van dié taal.”

Later vanjaar verskyn daar ʼn nuwe omgewerkte weergawe van die boek, So kry ons Afrikaans, wat in 2012 by LAPA verskyn het. Die Afrikaanse Taalraad gee die boek uit onder die titel, Van Afrikaans gepraat. Die boek, wat deur Malan Media uitgegee word, sal ook in Engels as Finding Afrikaans verskyn.

Oor die prys wat aan hom toegeken is, sê prof Christo: “Ek is baie nederig daaroor maar dan gelyktydig geweldig trots. Alhoewel dit vir my baie lekker is om die prys te kry, het ek nog ʼn hele klompie werk om te doen. Ek is baie ver van klaar af met navorsing oor die geskiedenis van Afrikaans.”

‘n Reusebydrae …

Sy bydrae tot ’n beter begrip van die herkoms van die taal het ‘n verskuiwing en groei in die opvattinge oor Afrikaans teweeggebring.

Begin by Afrikaans se taalgeskiedenis…

Die murg van Afrikaans is te vinde in sy variante, dialekte en streektaal waarin die warmte van Afrika en Asië gedy. Die taalskatte wat ons koester, vind oorsprong in hierdie ryk en diverse geskiedenis en deur hierdie geskiedenis te ontsluit, wil rolspelers nuwe deelname en meelewing verseker. Die dikwels gemarginaliseerde en verwaarloosde Afrikaanse dialekvorme en die vooruitsig op die opname daarvan in die uitstalvensters van die taal is van die grootste belang.

Die oorsprong van Afrikaans

Afrikaans is ’n familie van dialekte. Die Afrikaanse spreektaal lyk anders as Standaardafrikaans (wat ons ken as die Afrikaanse skryftaal). Afrikaanse flaaitaal, Kaapse Afrikaans en Noordwestelike Afrikaans lyk byvoorbeeld heel anders. Soos ons Afrikaans se voetspoor volg, moet ons sover moontlik rekening hou met die tekens van al sy verskillende dialekte/variante.  Afrikaans.com het prof. Van Rensburg se kennis ingespan vir die opstel van ons interaktiewe Oorsprong van Afrikaans – ‘n tydlyn.

“Met die standaardisering van Afrikaans is besluit om die vereenvoudigde Nederlandse spelling te volg om Afrikaans te skryf, alhoewel Nederlands bykans nie in Suid-Afrika gepraat is nie. Die binnelandse vorme van Afrikaans wat deur ʼn verskeidenheid sprekers gebruik is, is nie as Standaardafrikaans erken nie. Verafrikaansing van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls het voortdurend plaasgevind, en in die AWS 11 van 2017 is daar vir die eerste keer, na 100 jaar, ʼn beginselbesluit geneem dat alle variëteite van Afrikaans toegang tot die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls kan kry.”

Praat… skryf… spel JOU Afrikaans… “Standaardafrikaans is vriendelik en behoort aan elkeen wat die taal praat. Standaardafrikaans is nie ’n dialek nie… dis ’n ding wat gemaak word deur sy sprekers. Dit is ’n vriendelike kommissie wat Standaardafrikaans maak. Hulle kan hom maak soos sy sprekers wil hê dit moet lyk… maar ons moet die ding doen. Ons moet hulle rede gee om dit anders te maak.”– Prof. Christo van Rensburg.

Prof. Van Rensburg se droom vir ’n ‘Vrye Afrikaans’

Hy omskryf die term so…

  • Dat elkeen van Afrikaans se mooi dialekte ’n gekoesterde plek in die Afrikaanse taalwêreld (sal) geniet.
  • Dat hierdie Afrikaans, wat sedert 1994 vrygelaat is en vir homself moet sorg, sy vryheid moet geniet en as vanselfsprekend as ‘Vrye Afrikaans’ bekend sal staan.
  • ‘Vrye Afrikaans’ het geen grense nie en is die mees getransformeerde taal in Suid-Afrika.
  • ‘Vrye Afrikaans’ speel nie ’n partypolitieke spel nie. Die omhang van politieke etikette sal nooit, nooit, nooit weer moontlik wees nie.
  • Afrikaanssprekers is net aan mekaar taalskatpligtig.
  • Die ‘Vrye Afrikaans’ waaroor ek droom, is ’n Afrikaans sonder ’n groot gebaar. Uit hierdie Afrikaanse aarde en soos hierdie Afrikaanse aarde.
  • ‘Vrye Afrikaans’ werk nie met onnodige omhaal nie en het nie kunsmatige, blink maselwoorde nie. ‘Vrye Afrikaans’ werk met gewone, opwindende Afrikaanse woorde. ‘Vrye Afrikaans’ is skoon Afrikaans. Hoë woorde gooi hy uit. En elkeen kan self nog steeds nuwe Afrikaanse woorde maak.
  • Ek droom ook van ’n ‘Vrye Afrikaans’ met baie trots. Alles wat sy sprekers wil doen, kan hulle in ‘Vrye Afrikaans’ doen.
  • En daar is nagenoeg 7 miljoen Afrikaanssprekers wat ’n span met die naam  ‘Vrye Afrikaans’ vorm – die derde grootste taal in Suid-Afrika. Of almal deel van hierdie span wil wees, moet elkeen self besluit. ’n Wenspan bou egter op sy sterkpunte en stygende getalle is een hiervan.

Welgedaan prof Christo. Afrikaans.com salueer u vir die wonderlike bydrae tot die Afrikaanse taal.

Prof. van Rensburg deel die prys met Marinus Wiechers, ’n regsgeleerde, voorheen verbonde aan die Regsfakulteit van Unisa en voormalige rektor van daardie instelling. Vanweë die voortreflike nominasies wat die keurkomitee ontvang het, word die prys van 0,5 miljoen rand gelykop tussen professore Van Rensburg en Wiechers verdeel. Elkeen ontvang ook ’n bronsbeeld deur Coert Steynberg, voormalige skoonvader van Marinus Wiechers. Hy het die weg gebaan vir erkenning van die administratiefreg as ’n sleutelonderdeel van die Suid-Afrikaanse reg. Sy seminale werk het ’n model van die Franse Administratiefreg in Suid-Afrika nagevolg waardeur hy ’n nog immer beduidende bydrae tot die nuwe bedeling in SA gemaak het.

Lees meer oor die Jan H. Marais-fonds hier.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!