’n Skatkis vol letterkunde kry ‘n veilige hawe oorsee

Prof. Fanie Olivier (Foto: Netwerk24 –Loanna Hoffmann)

“Waar is daar ’n universiteit waar ’n mens kan glo dat ’n Afrikaanse skrywersargief met piëteit en sorg bestuur, ontwikkel en uitgebrei sal word? Waar, trouens, een wat regtig oor Afrikaans self gaan omgee? … Die Poësiesentrum in Gent het reeds ’n uitsonderlike versameling Afrikaanse poësie waarby my (prof. Fanie Oliver) skenking sal kan inskakel om daardie deur op Afrikaans wyd oop te hou. En veilig, glo ek.” – Digter, kritikus en akademikus, prof. Fanie Olivier, in ’n LitNET-onderhoud met Naomi Meyer.

Die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit Gent, se boekversameling, Afrika-letterkunde, het onlangs aansienlik uitgebrei na ’n skenking van prof. Fanie Olivier. Hy het ’n gedeelte van sy private biblioteek (2000 kg boeke en tydskrifte) aan die universiteit gegee. Die universiteit spog nou met die grootste versameling Afrika-Afrikaanse poësie en prosa buite Suid-Afrika asook ’n aansienlike Africana-versameling. (Zuid-Afrikahuis in Amsterdam het ook ’n pragtige versameling Afrikaanse letterkunde.)

Saam met die Ernst van Heerden-versameling (poësie, koerantknipsels, tydskrifte) het Gent nou ’n Afrikaanse taalbiblioteek wat menigte Suid-Afrikaanse navorsers beny. Olivier se skenking bestaan onder meer uit eerste drukke, handgeskrewe werk, romans, bundels van onder andere Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Johann de Lange, NP van Wyk Louw en WEG Louw, asook literêre en kulturele tydskrifte. Voorwaar ’n goudmyn waar navorsers dieper kan delf na die Afrikaanse letterkundige skat.

Universiteit Gent se navorsing op die gebied van Afrikaanse taal en letterkunde en Suid-Afrikaanse studies word as besonder doeltreffend beskryf en sedert 2017 is ’n leerstoel vir die studie van Suid-Afrikaanse tale, literatuur en kultuur by die universiteit ingehuldig – die eerste vir Suid-Afrika in België (die ander leerstoel is in Amsterdam) – en die enigste in die fakulteit lettere en wysbegeerte. Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria was die eerste bekleër van hierdie pos. Vanjaar beklee prof. Wannie Carstens van Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) hierdie pos.

Afrikaanse taal- en letterkunde by Universiteit Gent

In die taal- en letterkunde-studieprogram, kan studente twee kursusse volg en vanaf die volgende akademiese jaar word ’n meestersgraad in taal en letterkunde ook aangebied. Tussen veertig en sewentig studente voltooi jaarliks die inleidende kursus in Afrikaans en talle studente skryf ook hul proefskrifte oor Afrikataal of literatuur. Hulle het die geleentheid om in Suid-Afrika navorsing te doen, te danke aan die bilaterale raamwerkooreenkomste met onder andere die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus), Universiteit van die Vrystaat, Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Wes-Kaapland).

Universiteit Gent se biblioteek beskik nou oor uitgebreide navorsingsmateriaal en die Gentse sentrum sal binnekort saam met Suid-Afrikaanse universiteite belê in vennootskappe ten opsigte van doktorale navorsing (gesamentlike PhD’s) deur Vlaamse, Nederlandse en Suid-Afrikaanse studente.

*Fanie Olivier in in 1949 in Pretoria gebore. Hy verwerf ’n MA-graad aan die Universiteit Stellenbosch in 1972, die graad Litt.Drs. in Literatuurteorie aan die Universiteit van Utrecht en die graad D Litt aan die destydse Universiteit van Potchefstroom. Hy is professor in Afrikaans aan die Adam Micklewicz-universiteit in Poznan, Pole.

Lees ook:

’n Gesprek tussen Daniel Hugo en Yves T’Sjoen by die Tuin van Digters 2017 oor internasionale betrokkenheid by Afrikaans.

Afrikaans in die buiteland. Klik hier

Lees meer oor die versameling op LitNET.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!