Jeugdag 2018 – Jongmense wat lawaai en laat waai – in Afrikaans!

Op 16 Junie vier ons Jeugdag ter herinnering aan die jongmense wat op daardie dag in 1976 opgestaan het teen ongeregtigheid en ongelykheid. Baie mense het daardie dag die hoogste prys betaal vir dit waarin hulle geglo het. In ooreenstemming met die aanhef tot die grondwet van Suid-Afrika is hierdie dag ongetwyfeld ’n huldeblyk aan veral die jeug wat geveg en gely het vir geregtigheid en vryheid in ons land.

Jeugdag gaan egter nie net oor die verlede nie, maar ook oor vandag en môre.

Dit is ’n viering van ons grondwet en die waardes, regte en vryhede wat ons vandag geniet. Dit is ’n huldeblyk aan almal wat gestreef het na ’n regverdige en demokratiese samelewing en dit gaan oor die toekoms waarvoor ons almal verantwoordelikheid moet neem.

Die gebeure in 1976 het ongetwyfeld gelei tot ’n nuwe generasie van doelgerigte en vasberade jongmense, wat vandag, ook in Afrikaans, gelykheid en vryheid koester en werk aan ’n land en samelewing waarin hulle en hul kinders kan gedy.

Met Jeugdag om die draai het Petronell Vorster en René Arendse namens Afrikaans.com met ’n paar jong Afrikaanse lawaaimakers gesels oor hul drome, idees, suksesse en die opwindende dinge wat hulle in Afrikaans doen.

Dit het kief geword om Afrikaans te wees. Nie lank gelede nie, kon jy om die dood nêrens ‘n T-hemp met ’n Afrikaanse slagspreuk op koop nie. Afrikaanse musiek het bestaan uit mense wat kyk hoeveel keer hul namekaar in een liedjie kan rym of jodel en fliek kyk in Afrikaans was iets wat ons ouers met heimwee uit hul kinderdae onthou het. Maar dinge het verander. Veral jongmense is nie meer skaam om hul drome in hul moedertaal na te jaag en uit te leef nie.

Passievolle, doelgerigte en vasberade leerders van Goodwood College deel hul drome en werk hard om dit waar te maak!

Jeugdag 2018 – Maria Strauss van Graafwater deel haar suksesresep.

Johnny Potsanyani – Het leer Afrikaans praat; omdat hy wou!

Getroud Met Rugby. Johnny Potsanyani vertolk die rol van T.J wat deur Schalk en Iva (Johan Scholtz en Nadia Beukes) aangeneem is. (Foto: KykNET)

Johnny Potsanyani het vinnig in kykers se harte geklim as die bekkige T.J. in kykNET se sepie Getroud met Rugby. Wat kykers dalk nie weet nie is dat dié 16-jarige se eie lewe die van sy sepiekarakter spieëlbeeld, want Johnny het saam met sy ewe bekende ouboet, Christopher van der Westhuizen (julle kan meer van Christo hier onder lees), in die huis van Sharon en Christo van der Westhuizen grootgeword.

Johnny het ook saam met sy ouboet gewerk aan die 2016-film Jou Romeo. Tog het die jong man nog groot planne vir die toekoms!

Kykers ken jou as die gladdebek TJ in Getroud met Rugby. Hoe het jy in die sepie beland?

Ek was eers in ’n kortfilm met die naam Vryslag toe iemand by Getroud met Rugby my raakgesien het en vir my die rol van T.J. aangebied het.

Afrikaans.com verneem dat jy Afrikaans uit eie keuse aangeleer het. Vertel ons meer?

Ek het my liefde vir Afrikaans ontwikkel deur my jaloesie op my gesin wat almal kon Afrikaans praat en ek wat die ‘odd one out’ was. Ek het toe besluit ek gaan aanhou afluister tot ek Afrikaans verstaan! Ek sal nooit die dag vergeet toe my pa vir my ma ’n grappie vertel en ek uitbars van die lag nie! My ma en pa se reaksies was die beste!

Jou ouer broer, Christopher, is ook ‘n suksesvolle akteur. Het sy sukses jou keuse om ook ‘n loopbaan in die bedryf te volg, beïnvloed?

Christopher speel ’n groot rol in my lewe as akteur en ek bewonder altyd die manier hoe hy toneelspeel. Dit is asof hy gemaklik en ontspanne is en presies weet wat hy doen. Vir my is dit soos om na ’n baie opwindende rugbywedstryd te kyk.

Op 16 is jy een van Afrikaans se jongste lawaaimakers. Hoe belangrik is die taal vir jou en sal jy aanhou om Afrikaans te bevorder?

Afrikaans is vir my ’n baie belangrike taal en alhoewel dit nie my moedertaal is nie, is dit my aanneemtaal wat basies my eerstetaal geword het. Net soos my aanneemouers my aangeneem, het, het ek Afrikaans aangeneem en my eie gemaak. Ek is baie lief vir Afrikaans!

Watter raad het jy vir tieners/jongmense wat ‘n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf wil aanpak?

As jongmens is jy nog besig om jou plek in die lewe te ontdek. Wanneer jy drama doen, moet jy jouself heeltemal opsyskuif en die karakter wat jy vertolk, word. Dit is baie moeilik en vat baie, baie harde werk, maar die resultaat is ongelooflik bevredigend.

 

Piet Matipa – Lawaaimaker wat jou ’n dwarsklap gee.

Piet Matipa is nie bang of skaam om homself te wees nie! Foto: Verskaf.

Piet Matipa is jonk, swart, Afrikaans en gay. ’n Afrikaanse lawaaimaker wat niemand kan miskyk nie! Dié jongman het onder meer al naam gemaak as joernalis, skrywer (hy het in 2017 gedebuteer met Dwarsklap) en TV-aanbieder.

Piet is ook uitgesproke oor sy liefde vir Afrikaans en laat gereeld die wenkbroue lig in sy rubrieke.

Wie is Piet Matipa regtig?

Ek weet self nie. Grappie. Ek is maar ’n eenvoudige, vervelige en soms oppervlakkige skrywer wat hom in die bose Johannesburg bevind. Tipiese stadsjapie, want vir my sal jy nie in ’n tent kry of by die see nie. 

Jy het dit reggekry om groot sukses relatief vroeg in jou lewe te behaal. Hoe het jy dit reggekry? 

Ek dink sukses is relatief en subjektief. Ek sien my lewensreis nie as ’n suksesvolle een nie, maar wel een wat ek tot dusvêr oorleef. Die geleenthede wat soos vars tamaties na my kant toe gegooi is, is danksy verskeie mense. Vanaf skool tot my professionele lewe. Ek sou nie melk in my yskas gehad het as dit nie vir gawe en geduldige mense was nie.

Was ‘n loopbaan in die joernalistiek/vermaaklikheidswêreld vir jou vanselfsprekend? Hoe het jy agtergekom jy kan en wil skryf (in Afrikaans).

Dit het soos ’n natuurlike geboorte gebeur. Media24 het vir my ’n beurs aangebied. Nooit sou ek dink dat ek so baie in die taal sou tik nie – lekker, maar soms moeilik. Nadat ek vir drie jaar lank ’n joernalis was, het ek maar besluit om aanhou te skryf. Dis al wat ek kan doen, danksy ’n Afrikaanse speltoetser. Nou sit ek hier en tik my vingers rooi. Gelukkig darem in ’n sappige, heerlike taal.

Hoe sal jy jou verhouding met Afrikaans beskryf? 

Afrikaans is my lewensmaat.

Hy kyk baie mooi na my. Hy help my om te kommunikeer. Ek het dit al ’n miljoen keer gesê: Ek dink in Afrikaans, bid in die taal en droom in die taal. Suid-Afrika is ’n wonderlike land. Ons het soveel tale en dit behoort aan almal. Al wil mense taal toedien aan ’n groepering, behoort ’n taal aan die persoon wat kies om dit aan te neem.

Jy is nie bang of skaam om wenkbroue te laat lig met jou skryfwerk nie… Wat inspireer jou?

Alles wat skeef is in die wêreld, want dis wat interessant is. Dit is ook baie lekkerder om oor die stoute goed in die lewe te skryf en te lees. Dit prikkel mense meer. Om oor konvensionele liefde te skryf, is vervelig, want ons weet hoe dit moet wees. Om oor off-beat liefde te skryf, verlei jou nuuskierigheid.

Wat sal jou raad aan jongmense wees wat ‘n loopbaan in die Afrikaanse joernalistieke/vermaaklikheidsbedryf wil aanpak?

Omarm die taal asof dit jou kêrel of jou meisie is. Die taal het ’n toekoms en die taal is mooi. Mens vloek ook lekker in Afrikaans.

Christopher van der Westhuizen – Het sy stem gevind.

Op net 19 jaar oud kan Christopher van der Westhuizen reeds met vier films agter sy naam spog en het hy groot planne vir die toekoms.

Vandat Christopher op 12-jarige ouderdom sy verskyning in die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom gemaak het, was daar nog geen keer aan die ambisieuse jongman nie. Rolle in Agent 2000 en Jou Romeo het verseker dat Christopher homself stewig in die bedryf gevestig het.

Behalwe vir sy deeltydse studies in Kreatiewe Skryfwerk deur Unisa, is Christopher tans meestal betrokke by teaterwerk en kan hy in Vir Ander (deur Jannes Erasmus) by die Vrystaat Kunstefees (9 – 15 Julie 2018) gesien word.

Jy is net 19, maar het reeds vier films onder die belt. Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Ek kan iets filosofies probeer antwoord soos “My soektog na die waarheid”, maar ek gaan dit eenvoudig stel: Ek dink dit is hardkoppigheid. Daar is nie ’n ander opsie vir my as om stories te vertel – op die bes moontlike manier nie. Dit laat my lewendig voel, en daarom het ek net aangehou.

Die Afrikaanse filmbedryf het eers in die middel 2000’s werklik op die been gekom, hoe voel jy oor die bedryf tans? Wat wil jy as akteur nog bereik en wat wil jy sien verander in die bedryf?

Oor die bedryf voel ek hoopvol. Daar is soveel geleenthede vir groei op elke front. Nuwe produksies druk die plaaslike mark in nuwe rigtings in. Dit is wonderlik. Ons maak soveel nuwe stories en kyk weer met nuwe oë na ou stories. As akteur wil ek net vir so lank as moontlik soveel as moontlik stories vertel. Ek dink ek sal wil sien hoe ons meer kanse vat in die bedryf. As ons minder kyk na “die ander” as “kompetisie” en hulle net sien as nog ’n persoon wat iets uniek kan lewer, dink ek sal ons meer veiligheid in die bedryf ervaar. Om almal se uniekheid in ’n pot te kan gooi en “potjiekos” te kry. Ek voel dit sal ’n wonderlike konsep wees om te probeer regkry.

Hoe voel jy oor Afrikaans en die feit dat jy jou loopbaan in Afrikaans kan beoefen?

Ek is baie lief vir die taal en Afrikaans neem die hoofrol in die meeste van my lewe. Om dan myself te kan uitdruk in my onthou-taal is uiteraard iets besonders.

Watter raad het jy vir tieners/jongmense wat ‘n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf wil aanpak?

Vind wie jy is en maak jouself! Hou net aan. Moet nie wag vir iemand om jou te gebruik in iets nie, maak iets en gebruik jouself! Skiet ’n kortfilm op jou foon, leer soveel jy kan en wanneer jy reg voel; stuur dit vir almal wat jy ken! Johnny Clegg het onlangs op Zoid Afrika gesê: Do your job, get your work out there. Ek glo vas daaraan. Vind wat jy wil sê en kry dit daar buite. Soek en vind jou stem!

Wolwe-Dans; Vars aanslag op Afrikaanse musiek.

Die manne van Wolwe-Dans, Landru Ehlers en Danré van der Spuy.

Die tweemangroep van Johannesburg wat bestaan uit Landru Ehlers en Danré van der Spuy is bekend vir hulle vars aanslag en akoestiese rockklanke en het met hul 2016- debuutalbum, Groete van My, luisteraars regoor Suid-Afrika laat regop sit om te luister.

Wolwe-Dans het gestalte gekry in die koshuisgange van die manskoshuis Excelsior op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus en voor die twee hul oë kon uitvee kon hul elk met ‘n onderwysgraad, ’n platekontrak en ‘n Ghoemabenoeming spog! Nie sleg vir twee outjies in hul vroeë 20’s nie.

Beide Danré en Landru werk tans as onderwysers by die Hoërskool Florida in Roodepoort. En hulle is nie net passievol oor musiek maak in Afrikaans nie, die jeug lê hul ook na aan die hart.

Luister hier na Wolwe-Dans:

Danré van der Spuy.

Danré is passievol oor musiek maak in Afrikaans en om ’n stewige fondasie vir ander jongmense in sy rol as onderwyser te lê. Foto verskaf.

Waar kom jou passie vir sing vandaan? Was dit ‘n lewenslange droom om ‘n sanger te word?

My ouers en veral my oupa het van jongs af ’n liefde vir musiek by my gekweek. Ons het altyd na verskillende tipes musiek geluister en wanneer ons by my oupa gaan kuier het, het hy vir ons klavier gespeel. In graad 9 het ek lid geword van ’n band en was by die groep betrokke tot ek gaan studeer het. Tydens my studies het ek aan Sêr deelgeneem en aan die einde van my vierde jaar is Wolwe-Dans gestig. Musiek was dus nog altyd deel van my lewe en is definitief my groot passie.

Waaraan skryf jy Wolwe-Dans se sukses toe?

Daar is verskeie faktore wat bydra tot Wolwe-Dans se sukses. Ek dink ons musiek is eerlik en mense kan daarmee identifiseer. Maar ‘n groot deel van ons sukses kan toegeskryf word aan harde werk en deursettingsvermoë. Ons ondersteuningstelsel speel ook ‘n groot rol. Van ons platemaatskappy tot ons ouers en familie.

Jy is ‘n onderwyser. Hoe belangrik is die Afrikaanse jeug vir jou? Wat dink jy maak Afrikaanse jongmense spesiaal?

Die jeug is ons toekoms en moet al van jongs af op die regte pad gelei word en reg voorberei word vir die lewe. Dit is vir my die groot lekker van die onderwys. Afrikaanse jongmense vandag is baie kreatief en kom met ‘n hele nuwe uitkyk op die lewe. En mens kan dit eintlik sien as mens kyk na die hoeveelheid jong talent wat uitskiet in die vermaaklikheidsbedryf en al die nuwe idees en produkte waarmee hulle vorendag kom.

Watter raad sal jy aan Afrikaanse jongmense gee wat die Afrikaanse musieklandskap wil betree?

Werk hard en bly konstant. Die bedryf is soms ‘n riller, maar dit is ook wat dit so lekker maak. Mens weet nooit wat om die draai lê en wag nie en wanneer daar ‘n geleentheid kop uitsteek, gryp hom met albei hande aan. Wees altyd eerlik met jouself en wees altyd wie jy is, want as kunstenaar is dit wat jou uniek maak. Mense wil weet wie jy is, nie ‘n namaaksel van iets of iemand anders nie.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!