Ivor Price wil die inklusiewe rol van Afrikaans by die ATKV bemark

Die bekroonde joernalis en uitsaaier Ivor Price is gereed om taal en kultuur by die ATKV uit te brei.

Deur Christiaan J de Swardt

Afrikaans is vir my onmiskenbaar, want ek sien dit soggens wanneer ek my tande in die spieël borsel. Dit lê in die lagplooitjies, wat ek by my pa geërf het; in die ryke woordskakering wat ek by my ma geërf het. Ek hoor dit wanneer ek redekawel, dink en droom. Ek proe dit wanneer ek by my ouerhuis eet.

Ek is Afrikaans – en Afrikaans is ek!

Só sê die bekroonde joernalis en uitsaaier Ivor Price (38). Dié veelsydige orator,  wat ook ‘n ambassadeur vir Afrikaans is, brei nou sy belange as onafhanklike mediapraktisyn in Afrikaans by die ATKV as taal- en kultuurbemarker uit. Sy talent en vaardigheid is met drie ATKV-Mediaveertjies bekroon.

Ivor het bekendheid (en omstredenheid) as ‘n RSG-omroeper en SABC2-nuusleser verwerf. Nou is hy die aanbieder van Landbouweekliks op die DStv-kanaal VIA.

“Ek reis die land plat om boere se uitsonderlike stories te vertel. Ek probeer om uit te vind wat in boere se koppe en harte aangaan, eerder as bloot op hoeveel hektaar hulle boer en hoe duur hulle trekkers is. Ek hoop dat ek deur my TV-program hoop kan skep; nie net oor die landboubedryf nie, maar oor die ontsaglike potensiaal wat Suid-Afrika nog inhou. Ek is diep ontroer deur ons landbouers se toewyding tot Projek Suid-Afrika. Ons regering is geneig om hulle die slaansakke te maak. Hoeveel keer het jy al politici hoor sê dat die boere sleg is? Ja, daar is waarskynlik ’n hele paar vrot appels soos in enige bedryf, maar die meeste doen hulle deel vir nasiebou. Hier dink ek, byvoorbeeld, aan die MD Foundation op Ficksburg wat die grootste deel van hul winste gee om huise te bou, en als van skole tot klinieke te vestig vir mense wat andersins nie daartoe toegang sou hê nie. Ek kan ook nooit die glimlag van Etienne van Wyk, ’n skaapboer van Marydale in die Noord-Kaap, vergeet nie. Hy is ’n bruin plaaswerkerskind oor wie ’n wit boer hom in sy kinderdae ontferm het. Vandag is hy self ’n boer.”

Nou wil Ivor ook ʼn verskil by die ATKV maak.

Buiten sy werk as TV-aanbieder, joernalistiek-opleier en rubriekskrywer was hy nog altyd gemoeid met sakeontwikkeling in die Afrikaanse medialandskap – onder meer in verskeie hoedanighede wat hy vroeër by veral Media24 vervul het; onder andere as uitgewer van ’n groep gemeenskapskoerante.

Met dié ondervinding, wat behels jou opdrag?

Afrikaanssprekendes – alle Afrikaanssprekendes – kry nie altyd genoeg erkenning vir ons aktiewe rol in die sakebedryf, politiek of burgerlike gemeenskap nie. Baie van ons voel gefrustreerd omdat ons stemme nie altyd gehoor word nie. Ek glo selfs hierdie frustrasie kom uit ’n goeie plek: die versugting om meer te doen vir ons land, eerder as om af te stig tot klein, Afrikaanse mishope. Nou het  ek die geleentheid om baie spesifiek Afrikaans en die ATKV te bemark. Ek is lief vir Afrikaans en ek glo dat ons deur strategiese vennootskappe met sakeondernemings, organisasies en ander taalgroepe groter resultate kan behaal.

Wat is die doelstellings?

Ek was nog altyd onbeskaamd Afrikaans, en is ook al etlike jare lank ’n vriend van die ATKV. Ek voel dus bevoorreg om nou ook hierdie organisasie te help om nuwe sakevennootskappe en -geleenthede te help ontsluit met beide ou én nuwe vriende van die taal. Afrikaanses is nie net trots op hul taal nie, maar ook absoluut verbind tot Projek Suid-Afrika. My groot taak is om groei- en uitbreidingsgeleenthede vir die ATKV te help identifiseer om nie net die taal nie, maar al die kultuurgemeenskappe binne Afrikaans te versterk en uit te brei.

Tussen Afrikaanspraters – ongeag die demografie – is daar dikwels onenigheid oor wie se taal Afrikaans nou eintlik is. Is daardie diskoers nog relevant en/of geregverdig?

Daar is ongelukkig steeds soveel stereotipes oor die sprekers van Afrikaans wat dikwels die ryke kultuur, herkoms en ons enorme bydrae tot Suid-Afrika oorskadu. Dit is nie alleen ’n wit taal nie. Dit is ’n bruin taal ook, én ’n swart en Indiër-taal. Die jongste sensus wys 50% van alle Afrikaanssprekendes is bruin, 40% is wit, 9% is swart en 1% Indiër. Dit is nodig dat die meerderheidstemme in Afrikaans groter eienaarskap van die taal neem – en veral sitplekke aan die hooftafel van diskoers inneem. Ons vra nie toestemming om ook aan hierdie tafel te sit nie. Ons neem bloot ons regmatige plekke in.

Die ATKV was jare lank erg op die konserwatiewe, patriotiese Christelik-Nasionale minderheid ingestel. Was daar intussen vordering in die poging tot kultuurgelykheid?

Ek glo die ATKV het in die laaste paar jaar met groot sukses die ou, grys onderrok en skoene uitgetrek. Die ATKV dra nou ‘n sexy, byderwetse en veral kleurryke nommertjie – ’n uitrusting wat die diversiteit van sy sprekers uitbeeld. Gaan kyk maar hoe lekker swem die Afrikaanse Moslem-anties by Goudini Spa in hul burkhas. Gaan kyk maar hoe ’n mengelmoes van kulture, gelowe en gesigte saam die kunstefeesverhoë bestyg. Gaan kyk hoe ’n Zimbabwiese matriekmeisie uitblink by ’n Afrikaanse spelkompetisie. Dis die ATKV wat daardie aanvoorwerk gedoen het; wat aktief verandering dryf.

Waaroor is jy veral opgewonde?

Dit maak my vreeslik opgewonde wanneer ek Afrikaans op ongewone plekke hoor… In ’n hip-hop-liedjie deur ’n bekende Zoeloe-kunstenaar, in die strate van Hyderabad in Indië, by Somaliërs op Bellville-treinstasie. Die taal léwe. Ons dink en droom in Afrikaans, en verreweg die meeste van ons wil hande vat met ander taalsprekers. Die dae van “Praat Afrikaans of hou jou bek” is verby. Nou leer ons van mekaar, en ons nooi ander taalsprekers tot ons intiemste ruimtes.

Jy is dikwels in mense se intiemste ruimtes. As radio- of TV-aanbieder, onderhoudvoerder of gesprekleier van diskoerse by kunstefeeste stel jy jouself aan kritiek bloot. Hoe verskans jy jou daarteen?

Ek is bevoorreg dat my sakebelange en talente so uiteenlopend is. My werk is my alles, maar ek is eers ’n mens voor enigiets anders. Ek kry ook seer, maar ek lag darem meestal. Wanneer ʼn mens in die openbare oog lewe, is jy heeltyd blootgestel aan kritiek. Dis ook reg so, want kritiek lei weer tot geleenthede om dikwels moeilike kwessies eerlik aan te pak – en saam vir oplossings te soek.

Wat is die sleutel tot ’n sinvolle, gebalanseerde onderhoud en diskoers?

Die geheim is om so wyd as moontlik te lees: koerante, webwerwe, die geskriffel teen toiletmure, die geraas op sosiale media. My groot fassinasie is hoekom mense glo wat hulle glo; om te verstaan hoekom hulle sekere besluite maak. As joernalis moet ek bewus wees van wat gedurig rondom my aangaan. Dis altyd vir my belangrik om soveel as moontlik mense by spesifieke gesprekke te betrek; om ’n verskeidenheid van stemme tafel toe te bring sodat ons nie bloot mekaar warm praat nie, maar bepaalde kwessies werklik vorentoe kan vat. As gesprekleier word my persoonlike mening eintlik irrelevant. Ek wil eerder die regte, moeilike vrae vra wat mense aan die dink sal sit, en ’n saak tot op die been sal sny.

Wat is jou lewensleuse?

My dagboek is skrikwekkend vol. Ek het onlangs selfs begin om goeie slaap te skeduleer. Die strewe bly balans. Beplanning gee rigting. Ek reis wyd  en voel bevoorreg om elke dag soveel interessante mense te ontmoet.

My lewensleuse is eenvoudig: Ek wil opgebruik wees as ek sterf!

  • Lees ook Christiaan J de Swardt se onderhoud oor Ivor Price – Nou boer hy vooruit! – in Vrouekeur van 18 Mei 2018.

Hoe lyk Ivor Price se Afrikaans? Hy vertel vir Afrikaans.com by Woordfees 2018:

ATKV-MSW se besturende direkteur, me Deidre Le Hanie, bedank

Me. Le Hanie is ongeveer ’n jaar gelede as besturende direkteur van die ATKV-MSW aangestel. In ‘n nuusverklaring, sê die direksie en uitvoerende komitee van die ATKV-MSW dat hulle opreg dankbaar is vir haar onbaatsugtige diens, leierskap en die herbelyning van die ATKV-MSW se strategie. Hulle wens haar alle sukses toe met haar toekomsplanne.

Me. Sonél Brits, die huidige maatskappysekretaris, sal intussen as besturende direkteur waarneem totdat ’n nuwe besturende direkteur aangestel word.

Afrikaans.com wens me Le Hanie voorspoed toe op die pad vorentoe.

Lees ook …

Die inklusiewe rol van Afrikaans, erfenis, nasiebou en versoening binne die ATKV. Klik hier vir die volledige artikel.

Prof. Hein Willemse

“Die ATKV staan in diens van die totale Afrikaanse gemeenskap en die breë multikulturele Suid-Afrikaanse samelewing … Derhalwe moet daar ruimte geskep word om multikulturele gesprekvoering en handevat binne die Suid-Afrikaanse samelewing te fasiliteer. Daarmee saam moet ’n veelvoudige erfenisstrategie bevorder word …  met ondersteuning van en beywering vir die belange en aspirasies van ander taal- en kultuurgroepe. “ – ATKV-direksie

Prof. Danie Goosen

Die ATKV het ’n duidelike beleid oor inklusiwiteit en wil teen die jaar 2020 die eksklusiewe benadering van die verlede bewustelik vervang met ’n beleid van inklusiwiteit sodat die rykheid en diversiteit van die Afrikaanse leefwêreld deel van die maatskappy kan uitmaak. In’n artikel op die ATKV se webtuiste, word Proff Hein Willemse en Danie Goosen se standpunte oor die spektrum van Afrikaans se inklusiwiteit opgesom en sê prof. Willemse dat Suid-Afrika se “grootste bate is dat hy kultureel divers is en dat mense van uiteenlopende agtergronde in hierdie land leef. Hierdie diversiteit gaan alles in ons land beïnvloed – ook ons tale. Kreolisering is egter meer as net vermenging van tale – dit behels die vorming van nuwe kulture.”  Prof. Danie Goosen sê weer dat ’n “oop en skeppende Afrikaans slegs binne die ruimte van omskrewe grense bestaan” en hy beskou Willemse se  standpunt oor kreolisering as die “ongeldigmaking van Afrikaans”.

Prof. Wannie Carstens

“Versoening is ’n duur woord … Indien dit nie gepaard gaan met ’n begrip van die pyn van die verlede nie, rol versoening soos water van ’n eend se rug.” – Leon Wessels soos aangehaal deur Wannie Carstens

Wannie Carstens praat oor die versoening in ons land en sê dat die proses wat gevolg moet word, van groot belang is. Daar moet met ’n oop gemoed geluister word en geleentheid vir oop kommunikasie moet daargestel word. “Nasiebou kan hierby gevoeg word  – juis omdat nasiebou en versoening kernelemente van die ATKV se visie is.”

Click here to add your own text

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!