Hofuitspraak ‘n WEN vir moedertaalonderrig

Die Grondwethof se uitspraak oor Engelse onderrig in Afrikaanse skole is “nie net ’n oorwinning vir Afrikaans nie, maar vir alle tale en moedertaalonderrig in sy geheel”. – Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV

Die Grondwethof het Donderdag, 26 Julie, die Gautengse departement van onderwys se verlof tot appèl met koste van die hand gewys.

Die uitspraak bepaal dus dat indien daar naburige Engelse skole is wat die kapasiteit het om leerders in te neem, Afrikaanse skole nie gedwing kan word om Engels as onderrigtaal te gebruik nie.

Die Gautengse hooggeregshof het in Januarie beslis dat die Hoërskool Overvaal nie 55 Engelse leerders hoef te aanvaar nie, aangesien twee nabygeleë skole oorgenoeg plek het vir dié leerders. Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het hom toe tot die Grondwethof gewend.

Karien sê deur jou kind na ’n skool te stuur waar hulle opvoeding voortgesit word in hul moedertaal, word die grondslag vir beter kognitiewe en sosiale ontwikkeling gelê. Moedertaalonderrig bevorder ook geletterdheid en help om fundamentele vaardighede soos kritiese denke vas te lê.

“Moedertaalonderrig vanaf die grondslagfase lei tot verbeterde taalvaardigheid in ’n tweede taal. Moedertaalonderrig kan jou kind dus help om makliker ander tale, soos Engels, aan te leer. Om te verseker dat kinders vaardig raak, nie net in tale nie, maar op alle vakgebiede, moet hulle geleer word in ’n taal wat hulle verstaan, ’n taal waarin hulle tuis voel  ̶  hul moedertaal,” sê sy.

“Die voordele van moedertaalonderrig strek egter verder as net kognitiewe ontwikkeling, akademiese prestasie, kreatiwiteit en selfvertroue. Kyk ons na die groter geheel, word ons erfenis en kultuur deur moedertaalonderrig bewaar terwyl dit ook meertaligheid in ons gemeenskappe bevorder.”  Lees meer hier.

Behaal sukses deur moedertaalonderrig

Internasionale Moedertaaldag word jaarliks op 21 Februarie gevier. Daarom word Februarie gewy aan ‘n grootskaalse bewusmakingsveldtog om mense in te lig oor die belangrikheid van moedertaalonderrig.

Die lekkerte van leer in jou moedertaal

Omdat dit vir ons almal ‘n saak van erns is om alle moedertale te sien groei en gedy, het Afrikaans.com, die Afrikaanse Taalraad, die ATKVFEDSASVivA en Helpende Hand saamgespan om inligting saam te stel wat die boodskap doeltreffend en duidelik oordra en om seker te maak dat almal die voordele van moedertaalonderrig sal besef sodat ouers ingeligte besluite sal neem wanneer hulle kinders moet skool toe gaan.

Hierdie nuttige inligting en ook artikels oor moedertaalonderrig, is nou alles op een plek op Afrikaans.com se webtuiste.

  • Ons besweer die talle mites oor moedertaalonderrig en bemagtig jou met feite.
  • Ons gee jou toegang tot die nuutste navorsing.
  • Ons gee jou raad en ondersteuning sodat jy kan seker maak jy rus jou kind toe om sy/haar volle potensiaal te onwikkel om eendag suksesvol te wees.

Moedertaalpakket om onderwysers en ouers toe te rus

Ons is veral opgewonde oor die gratis kleurryke plakkate wat ons saam met ons vennote bymekaargesit het en wat op die afrikaans.com-webtuiste beskikbaar is.

Die moedertaalboekie wat op afrikaans.com se moedertaal-blad beskikbaar is, vervat al die inligting oor die belangrike keuse wat jy oor moedertaalonderrig moet maak en is ook gratis aflaaibaar. Jy kan dit druk en aanstuur vir enigeen wat met hierdie belangrike besluit worstel. Die tien belangrikste vrae en antwoorde, asook die wetenskaplike navorsing wat die voordeel van moedertaalonderrig onteenseglik toelig, word ook verskaf, sodat jy uiteindelik ‘n ingeligte besluit kan neem.

Lees ook …

Moedertaalonderrig ontwikkel veeltaligheid

Moedertaalonderrig en meertaligheid

Die suksessyfers

Moedertaalonderrig nie ‘n opsie nie, wat nou?

Ken jou taalregte

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!