Die Afrikaanse uitgewersbedryf blom

“In 2004, was daar volgens die verkoopsyfers van Nielsen Bookdata, net 22% van die plaaslik-gepubliseerde boeke in Afrikaans geskryf, teenoor 77% in Engels. Teen 2015 is die bordjies verhang en het die Afrikaanse boeke in die Suid-Afrikaanse boekmark tot 45% gestyg teenoor Engelse boeke wat tot 53% afgeneem het. Binne hierdie gunstige mark vir Suid-Afrikaanse uitgewers, is die posisie van Afrikaanse uitgewers besonder rooskleurig en veral vir Afrikaanse fiksie is dit baie gesond.” – Marga Stoffer, uitgewersbestuurder by NB-Uitgewers

Die Afrikaanse boekbedryf floreer en plaaslike uitgewers, soos byvoorbeeld Jonathan Ball-Uitgewers en Penguin Random House , wat voorheen hoofsaaklik net Engelse boeke uitgegee het, het nou ook by die veranderende mark aangesluit en hulle Afrikaanse aanbod aansienlik uitgebrei.

Kitsfeite

  • NB-Uitgewers is die grootste uitgewer in Suid-Afrika, met LAPA tweede op die lys.
  • Volgens Nielsen BookScan het 15 LAPA-boeke in 2017 die lys van die Afrikaanse topverkopers gehaal.
  • Drie Afrikaanse topverkopers vir 2017 was: Kook en Geniet (Human & Rousseau); Vrou in die blou mantel (Human & Rousseau) en Mentje, kind van Pas-Opkamp (LAPA).
  • Die drie beste algehele topverkopers in Suid-Afrika was: The president’s keepers (Tafelberg); Oxford South African school dictionary (Oxford University Press) en Born a crime (Pan MacMillan South).
  • Irma Joubert se Mentje, kind van Pas-Opkamp beklee ‘n trotse 60ste plek op die algehele topverkoperslys. Dit sluit Afrikaanse en Engelse boeke in asook boeke wat oorsee uitgegee is.
  • Op die lys van uitgewers wat die meeste eenhede in Suid-Afrika verkoop het (alle titels en oorsese boeke), beklee NB Uitgewers en LAPA onderskeidelik die vyfde en sesde plekke.
  • Die wêreldwye regte vir die Engelse vertaling van Jaco Jacobs se jeugboek, ‘n Goeie dag vir boomklim (LAPA), is aan ‘n onafhanklike uitgewery in Brittanje verkoop.
  • Mentje, kind van Pas-Opkamp (LAPA) het in Nederland verskyn voordat dit in Suid-Afrika op die rakke was.
  • Sacrificed, die vertaling van Offerlam (Chanette Paul en uitgegee deur LAPA) is in Suid-Afrika en in die VSA bekendgestel en Offerhande (Chanette Paul) het in België verskyn.
  • Tussen stasies (Irma Joubert en uitgegee deur LAPA) verskyn in Noorweë.

Meer oor LAPA

LAPA is ‘n akroniem vir Lees Afrikaans, Praat Afrikaans. LAPA se aanbod is groot en divers en sluit kinder- en jeugverhalefiksie, die Romanza-klub en ‘n niefiksie-afdeling in. Alles teen bekostigbare pryse.

LAPA se ontstaan strek sovêr terug as voor die Tweede Wêreldoorlog, toe Johannes Petrus van der Walt ‘n publikasieprogram, Springbok-Biblioteek, onder die vaandel van die destydse Unie-Boekhandel begin het. In 1958 het Van der Walt se seun, Manie aangesluit en in 1961 is die maatskappy herdoop tot JP van der Walt en Seun (Edms.) Bpk. – ‘n naam wat jare lank sinoniem was met klubboeke. In Oktober 1996 het die ATKV die maatskappy gekoop waarna die naam na LAPA verander is. LAPA Uitgewers is ‘n volfiliaal van die ATKV-groep en werk veral nou saam met die ATKV se taal- en kultuurafdelings.

In 2017 het LAPA-boeke verskeie pryse losgeslaan. Ons noem net ‘n paar:

  • Koop saam Kaaps van Koelsoem Kamalie en Florie Schrikker is as nasionale wenner van die Gourmand World Cookbook Awards in die kategorie Beste Plaaslike Cuisine, aangewys en het ook die Nielsen Booksellers Choice Award-kortlys gehaal.
  • Jaco Jacobs se rympieboek, Moenie hierdie boek eet nie!, was die wenner van die tweejaarlikse Exclusive Books IBBY SA-toekenning.
  • Rosita Oberholster het die ATKV-Woordveertjie vir Romanses gewen vir Troue in ‘n towerbos.
  • Dark Traces deur Martin Steyn is in die VSA met ‘n Kirkus Star Review bekroon en ding mee vir die gesogte 2018-Kirkusprys van US 000.

LAPA wen ‘n Tinteltong as die uitgewer wat Afrikaans bevorder … want “LAPA luister na hul lesers”.

Op 21 Februarie, Internasionale Moedertaaldag, is LAPA Uitgewers vereer met ‘n TInteltong-toekenning, toegeken deur AfriVriendelik.

Tinteltong-toekennings 2018: LAPA ontvang ‘n Tinteltong as die uitgewer wat Afrikaans die beste bevorder. Van links na regs: Ian Dennewill, Izak de Vries, Sylvia de Wet en Sumarie Erasmus van LAPA, met Gerhard van Huyssteen, ‘n lid van die ATKV se direksie. Van Huyssteen was ook die gasspreker by die toekenningsgeleentheid.

Wie is Naledi?

Naledi is in 2005 op die been gebring en spog vandag met verskeie treffers. Naledi maak onafhanklike boekmaak ‘n avontuur.

Van Naledi se 2018-publikasies sluit in:
Donderweer Gedagtes deur Almero Welgemoed – gedigte en kortverhale oor onderwerpe soos geloof, selfmoord en huishoudelike geweld.
Openbare Domein deur Daniel Hugo – ‘n bundel “wat ‘n belangrike groeipunt in sy oeuvre verteenwoordig”.
Bidsnoer deur dramaturg Pieter Fourie – verras met nuwe verse.
Vandag wil ek my blou skoene dra deur Koos Kombuis – ‘n digbundel met “toeganklike verse wat tog diepsinnig is …”
Tweede kanse deur Stefan Enslin – ‘n storie oor lewe, grootword, regte en verkeerde keuses …
As sy weer kom deur Marlize Hobbs – die storie van ‘n lesbiese vrou wat haar diepste gedagtes en ervarings deel.
Oop oë deur die lewe deur Gerhard Ferreira – reisverhale en ander kortverhale deur die blinde skrywer oor sy reise na bv die Himalajas.

Lees meer oor skrywers by Naledi.

Kraal Uitgewers

Kraal Uitgewers is ‘n klein, maar gespesialiseerde uitgewersmaatskappy wat hoofsaaklik fokus op die publisering van gehalte-boeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis sowel as publikasies wat die geskiedenis kan verander, regstel en sterk standpunt inneem oor, onder meer, politieke en maatskaplike kwessies in Suid-Afrika. Kraal Uitgewers publiseer hoofsaaklik nie-fiksie.

Wie is Kraal Uitgewers?
Kraal Uitgewers is in 1999 gestig. Dit was die liefde en passie vir spesifiek die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog van Paul Alberts, een van Suid-Afrika se bekendste joernalistieke fotograwe, en kol. Frik Jacobs, voormalige direkteur van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, wat uiteindelik tot die stigting van hierdie unieke uitgewershuis gelei het. Sedert 2010 is die uitgewer deel van die Solidariteitsbeweging en sit die maatskappy sy funksie as uitgewer van geskiedkundige Africanawerke voort, maar fokus ook sterk op aktuele werk. Alana Bailey is uitvoerende hoof.

Oor NB-Uitgewers

  • NB-Uitgewers is die grootste algemene uitgewery in die Suid-Afrikaanse boekemark en die markleier in volwasse fiksie, kinder- en jeugboeke en niefiksie. Hulle gee hoofsaaklike boeke vir die algemene Suid-Afrikaanse handelsmark uit en ook taal- en letterkundetekste vir skole. Hulle publiseer in alle genres, hoofsaaklik in Afrikaans en Engels, maar gee ook boeke in van die plaaslike Afrikatale uit
  • NB-uitgewers publiseer onder sewe hoofdrukname: TafelbergHuman & RousseauQueilleriePharosKwelaBest Books en Lux Verbi.
  • Afrikaanse liefdesverhale word onder die drukname Jasmyn, Melodie, Satyn, Hartklop en Mirre gepubliseer.

Protea Boekhuis

Protea Boekhuis, in 1992 gestig, is die grootste onafhanklike uitgewer in Suid-Afrika. Hulle gee werke van hoogstaande gehalte uit en hul lys sluit in fiksie en niefiksie, kinderboeke, jeugromans, historiese werke, akademiese werke en kontemporêre tekste. Nicol Stassenis die besturende direkteur.

So wil jy graag publiseer?

Uitgewers het almal hul eie riglyne en voorskrifte, maar kyk gerus na die webtuistes hierna vir inligting hoe om te maak as jy jou manuskrip wil instuur:

LAPA
Naledi 
NB Uitgewers, klik hier vir fiksie, hier vir niefiksie en hier vir kinder- en jeugmanuskripte.
Protea Boekhuis 
Jonathan Ball

Hier kry jy goeie raad

SA Vryskutskrywers – staan Afrikaanse vryskutskrywers met raad en daad by. Hier kry jy ook ‘n lys van skryfkursusse.

Lees ook:
Oor die Afrikaanse boekebedryf. Klik hier. 
Afrikaans verkoop die meeste boeke in Suid-Afrika. Klik hier.

Lees ook

Ons wil jou soektog vergemaklik! Loer in ons argiewe of benut die soekfunksie.


Waarna soek jy?