Die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) begin woeker

Daan Potgieter, nuutaangestelde uitvoerende hoof gee die agtergrond en deel sy visie.

Daan Potgieter, nou oudskoolhoof van Waterkloof Hoër, saam met van die leerders wat moes afskeid neem.

AON – Afrikaanse Onderwysnetwerk

AON – ʼn Praktiese manier om Afrikaanse onderrig by skole te ondersteun, uit te bou en te ontwikkel

Daar is onlangs berig oor die totstandkoming van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, ʼn beweging wat hom gaan toespits op die uitbou en beskerming van Afrikaanse onderrig in alle onderwysfases: vanaf voorskool tot tersiêre onderrig. Daar is verskillende rolspelers wat deel vorm van hierdie netwerk en almal het een doel voor: om die belangrikheid van moedertaalonderrig te beklemtoon en uit te lig en seker te maak dat Afrikaanssprekende kinders, in alle gemeenskappe, in die toekoms altyd die voorreg van moedertaalonderrig sal geniet. Die betrokkenes by hierdie netwerk verstaan die waarde van moedertaalonderrig, en met hierdie inisiatief sal kinders die geleentheid kry om deur moedertaalonderrig, in hierdie geval in Afrikaans, hulle volle potensiaal te kan bereik. Tog moet alle Afrikaanssprekendes ook toenemend besef dat hulle self die leisels sal moet neem en nie wag vir ander om dit te doen nie. Die AON beloof om hulp te verskaf sodat elke gemeenskap op ʼn individuele basis van nader bekyk sal word om daardie gemeenskap se behoeftes te kan bepaal. Uitdagings moet geïdentifiseer word en die nodige oplossings gevind word. Nie net moet dit vir Afrikaans gedoen word nie, maar die sprekers van ander inheemse tale moet aangemoedig word om dieselfde te doen. Moedertaalonderrig se waarde kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Moedertaalonderrig is die sleutel

Op Sondag 22 April 2018 het Rapport berig oor die stigting van die Afrikaanse Onderwysnetwerk. In ʼn artikel wat deur dr. Theuns Eloff geskryf is, maak hy die standpunt dat die enigste manier om moedertaalonderrig in die toekoms te verseker, sal wees om die volle onderwyspyplyn uit te bou. Die onderwyspyplyn verwys na die skoolstelsel in Suid-Afrika wat begin by voorskoolse onderwys en dan vloei deur basiese skoolonderrig en eindig by naskoolse onderrig soos by universiteite of ander tersiêre sentrums. Dr. Eloff beklemtoon die feit dat die enigste manier om Afrikaans as onderwystaal te laat voortbestaan, is om die hele pyplyn, sonder enige onderbrekings, behoue te laat bly.

ʼn Breë groep Afrikaanse organisasies het hande gevat met die stigting van die AON: Fedsas, die SA Onderwysersunie, die ATKV, Helpende Hand se skole-ondersteuningsentrum (SOS), die Afrikaanse Taalraad en die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Die eerste taak van die AON sal wees om Afrikaans landswyd in die openbare skole te bevorder en te beskerm. In die tweede plek moet daar gekyk word na ʼn model vir onafhanklike of private Afrikaanse skole. Alhoewel albei hierdie strategieë belangrik is, sal daar eers net op die eerste een gefokus word.

In hierdie artikel verskaf dr. Eloff kommerwekkende statistiek oor Afrikaans as onderrigtaal. Net 10% van die hoër- en laerskole in Suid-Afrika gebruik Afrikaans as onderrigmedium en slegs die helfte hiervan is eentalig Afrikaans. Voorts is daar baie min openbare kleuterskole in die land wat Afrikaans gebruik, slegs 2000 sulke kleuterskole. Omdat die meeste voorskoolse skole op ʼn private grondslag bedryf word, kies die eienaars van kleuterskole om tweetalig of enkeltalig Engels te wees. Dit beteken die begin van die pyplyn van Afrikaanse onderrig is reeds in gevaar. Sonder Afrikaanse voorskoolse onderwys, sal Afrikaanse laerskole kwyn en sal die Afrikaanse hoërskole nie genoeg leerders hê nie. Uiteindelik sal dit beteken dat sonder Afrikaanse matrikulante, daar nie ʼn behoefte vir naskoolse Afrikaanse opleiding sal wees nie.

Hy spreek ook sy kommer uit dat baie Afrikaanssprekende ouers (wit, bruin en swart) onder die wanindruk verkeer dat Engels die taal van die toekoms is en dat Engelse onderrig hulle kinders ʼn groter kans op sukses in die lewe gee. Die voordele van moedertaalonderrig word totaal misgekyk.

Elkeen van die verskillende organisasies wat deel vorm van die AON se kundigheid sal ingespan word. So sal die SOS se ‘wolkskole’ virtuele Afrikaanse onderrig kan verskaf waar daar ʼn gebrek aan Afrikaanse wiskunde-onderwysers is. Die SAOU sal daarop fokus om die vakkennis van onderwysers by te werk en Fedsas sal sorg dat beheerliggame opgelei sal word om goeie korporatiewe bestuur by skole toe te pas.

Dr. Eloff skryf voorts dat die AON ʼn belangrike taak sal hê om skole, wat onder politieke druk van provinsiale departemente kom soos wat by Hoërskool Overvaal gebeur het, met raad en daad by te staan.

Die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) sal die AON finansier. Die TAO het onlangs ook ʼn advieskomitee en ʼn spesialiskonsultantgroep aangestel om die finansiële haalbaarheid van private of onafhanklike Afrikaanse skole te ondersoek. Dis ook belangrik om daarop te let dat die AON Afrikaanse onderrig op ʼn nierassige wyse wil beskerm en bevorder in ooreenstemming met die grondwetlike regte van alle Suid-Afrikaners.

In ʼn meningstuk op Maroela Media, sê dr. Leopold Scholtz, veteraanjoernalis en politieke kommentator, dat die nuus oor die stigting van die AON goeie nuus is. Afrikaans moet as onderrigtaal op skool gered word om te keer dat Afrikaans nie later bloot net ʼn kombuistaal sal word nie.

Dr. Scholtz verwys na die vyf vlakke waarop ʼn taal gebruik word: Tuis, op kulturele vlak, op owerheidsvlak, in die onderwys en op handelsvlak. Hy is van mening dat Afrikaans op handels- en owerheidsvlak feitlik heeltemal verdwyn het. Op onderwysvlak is Afrikaans ook aan die kwyn. Die enigste gebied waar Afrikaans wel sterk staan is op kulturele vlak.

Hy voeg by dat enige minderheidstaal wat in ʼn taalvyandige omgewing moet oorleef, ʼn skraal kans op oorlewing het.

Dr. Scholtz beklemtoon dit dat velkleur van Afrikaans ontkoppel moet word. Om Afrikaans eksklusief vir die wit sprekers toe te eien, was histories ʼn reusefout, sê hy. Almal wat Afrikaans praat, ongeag velkleur, sal hande moet vat en aktief aan die werk moet spring.

“Ons het dieselfde moeder,” sê hy. “As sy sterf, is ons almal weeskinders.”

 Meer oor die AON

Die AON sal voorlopig met die finansiële ondersteuning van die TAO uit Pretoria bedryf word. Die organisasie se direksie bestaan uit nege lede, met Theuns Eloff as voorsitter. Die ander lede is: Ronald Balie, afgetrede skoolhoof van Ceres in die Wes-Kaap; Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand; Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, die nasionale verteenwoordigende organisasie vir skoolbeheerliggame; Astrid de Vos, trustee van die Trust vir Afrikaanse Onderwys; Anzil Kulsen, skrywer van jeugliteratuur en projekorganiseerder verbonde aan die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV); Louis Swanepoel, afgetrede skoolhoof en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU); Bobo van der Westhuizen, voorheen Hoofdirekteur Finansies, Fasiliteite en Bedryfsdienste aan die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus; en Janetta van Niekerk, stigter en hoof van die privaatskool Laerskool Die Krans.

Vir meer inligting stuur ‘n e-pos aan yolande.aon@gmail.com

Lees ook

https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/private-afrikaanse-skole-beplan-20180422

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/red-onderrig-in-afrikaans-so-20180420

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/afrikaans-is-ons-almal-se-ma/

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!