Arabiese Afrikaans in die kollig by die Kaapstadse Ramadaan & Leefstylekspo

Die Radio 786 Ramadaan-ekspo het van ’n klein begin by die Kaapstad Mark in Epping tot by die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum gegroei – een van die grootstes van sy soort. Oor die drie dae, kan toeskouers deel in die tapisserie van kleure en kontrasterende teksture wat die kleurvolle persoonlikheid van Kaapstad EN van Afrikaans vasvang!

Die Cape Town Ramadaan & Lifestyle Ekspo (Kaapstadse Ramadaan & Leefstylekspo), nou in sy negende jaar, vind vanaf 4 – 6 Mei by die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum (CTICC) – saal 6 & 7 – plaas. Die ekspo fokus op die kultuur en tradisies van die Kaapse Moesliems, asook op Afrikaans en het ten doel om Ramadaan en die leefstyl van die Moesliems nader aan die breër gemeenskap te bring.

’n Hoogtepunt

Die uitstalling ‘From the Cradle to the Grave’, wat die klem plaas op onder meer Arabiese Afrikaans, is geborg deur die Dagbreek Trust. Die oorkoepelende fokus van die uitstalling is die kultuurgebruike en tradisies van die Kaapse Moesliems. Daar sal ook pamflette oor die voordele van  moedertaalonderrig vir die publiek beskikbaar wees.

Die Bo-Kaap is oorwegend Moslem en talle Kaapse Moslems praat Afrikaans én Arabies, met interessante woorde en gebruike wat vermeng.

*Die Rooikruis Kinderhospitaaltrust is vanjaar die begunstigde van hierdie gemeenskapsfondsinsameling.

Daar is meer as 100 stalletjies met halaalgeregte en Islamitiese kleredrag en doeke, parfuum, juweliersware, varsprodukte, huishoudelike items … die lys is lank!

Nog ’n hoogtepunt is die interaktiewe kookteater, waar toeskouers hulle sal kan verlustig in die geure en smake van die geregte. Daar gaan heerlik gekook en geproe word en daar is baie pryse om te wen. Op Vrydag, 4 Mei, vanaf 15:30 tot 17:30 kook die SBA se Marlene le Roux , Karen Meiring en Sandra Prinsloo.

Van die gebruike wat uitgestal word, is onder andere: die ‘Doekmaal’ (naamgewing), Ramadaan (vas) en Janaazah (begrafnisseremonie). Op Sondag, 6 Mei, om 10:00 is daar ‘n trouseremonie wat nie misgeloop moet word nie. Die Islamitiese Kuns en Kalligrafie-uitstalling is pragtig en beslis ook die besoek werd.

Lees ook …

Die Bo-Kaap en Afrikaans. Klik hier.