'n Taal met seggenskap

Afrikaans het ‘n storie, ‘n interessante geskiedenis en ‘n lewendige toekoms. Reis saam op die spoor van Afrikaans, vind meer uit oor die Taalmonument en vergewis jouself van Suid-Afrika se talewet.

Van "agterlike boerse tongval" tot 'n woordeskat wat edel gedagtes vlerke gee

Hierdie "armsalige kombuistaaltjie" het 'n handjievol doelgerigte en begeesterde mense passievol die wiel aan die rol laat sit en 'n skryftaal en kultuurtaal het tot stand gekom wat vandag beskryf kan word as 'n hartstaal waarin meesterlike gedige, teater en romans verskyn.

Die ontwikkeling van Afrikaans word as een van die drie taalwonderwerke in die wêreld beskryf. In 50 jaar het Afrikaans van 'n huis-, tuin- en kombuistaal gevorder tot 'n kansel-, universiteits- en ekonomiese taal wat met enige ander taal in die wêreld kan meeding. Kom saam op reis deur 'n taal en haar mense en leer meer oor wat in Afrikaans gebeur!

Afrikaans - 'n kleurspel vol karakter en verskeidenheid

Afrikaans word "wyd en syd" gepraat.Vreemdeling-Nederlands, veranderde omstandighede weens meedingende koloniale magte in´n unieke Afrika-konteks, verleen uiteindelik aan Afrikaans sy eiesoortige karakter met Germaanse grammatika en letterkunde wat die aardse warmte van Afrika en Asië in 'n kleurspel van woorde uitdruk.

Ten spyte daarvan dat Afrikaans so ´n jong taal is, vertoon dit reeds, net soos die ou Europese tale, variante of dialekte. Daar word duidelik onderskei tussen Maleisafrikaans of Kaapse Afrikaans asook Oranjerivierafrikaans. In Suid-Afrika kry jy ook mense wat sê hul praat Soweto-Afrikaans, Tsotsi-Afrikaans of Fly-Afrikaans. Lees hier oor die verskillende dialekte: https://en.wikipedia.org/wiki/Tsotsitaal_and_Camtho)

Het Afrikaans nog plek?

Tydens die 2011-sensus het dit aan die lig gekom dat Afrikaans die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika is met meer as ses miljoen moedertaalsprekers (Zulu en Xhosa is die twee ander taalgroepe) en met bykans net soveel mense wat dit as tweede of derde taal praat. Tog is daar ’n opvatting dat Afrikaans aan die kwyn is en nie deur baie mense gepraat word nie. Volgens die sensus is die opvallendste taalverandering dat daar ’n toename in huistaalsprekers van Engels is, met ’n afname in Afrikatale en ’n geringe toename in Afrikaans. Dit is ’n geval van taalverskuiwing.

Skuif ons taalwêreld?

Taalverskuiwing geskied wanneer mense van ’n taalgroep daardie taal met ’n ander taal vervang. Soms is dit net gedeeltelike verskuiwing – wanneer die verskuiwing net binne ’n sekere konteks plaasvind, bv. Afrikaanssprekendes wat by restaurante en tydens inkopies Engels praat, maar by die huis Afrikaans praat. Wanneer mense egter die ander taal die heeltyd gebruik en die oorspronklike taal afskeep, word dit totale taalverskuiwing. Die afsterf van die taal is die finale fase van taalverskuiwing. Dit geskied gewoonlik oor ’n lang tydperk en in verskillende fases. Tweetaligheid wat oorgaan in vervangende tweetaligheid, waar die spreker hulle eie taal met die dominante taal begin vervang, is een van hierdie fases. Dit lei tot sprekers wat hul moedertaal nie meer ordentlik kan praat nie en uiteindelik eentalig word. Lees volledige artikel hier.

Afrikaans sorg vir homself

'n Taal met baie tonge. 

Afrikaans is van vroeg af deur te veel groeperings mense, in te veel streke, onder te veel verskillende omstandighede, gepraat om ooit gelykvormig te wees. Ilse Salzwedel (2012) praat van Afrikaans se “onvertelde stories”. Sy gesels hieroor op Litnet. In hierdie “onvertelde stories” van Afrikaans se halfontdekte wêrelde lê streekstaalspore van sy vroeëre polities gemarginaliseerde variantsprekers waarin hul meer as net hulle taalskatte koester. Hulle bewaar ook verhale van hulle lotgevalle, geargiveer in hulle Afrikaanse leefwêrelde, en vertel dit in hulle dialekte.

"Geologiese variëteite van Afrikaans is die murg van ons taal. Dit is so mooi." Dit is die woorde van dr Dirk van Schalkwyk, 'n man met passie vir Afrikaans.

Wat sê taalkenners?

Dr Dirk van Schalkwyk - Hy is die voormalige hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en is op Bethanie gebore waarna hy sy doktorsgraad by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), met sy studie oor die fonetiese dialekte (of variëteite soos hy dit noem) in die taal van die Rehoboth Basters, verwerf het.

“Dialekte kom oral voor, selfs onder verskillende ouderdomme, plekke of rasse.” Hy het studies begin doen om die verskille in die taal op te spoor. 'n Paar jaar, honderde onderhoude en vele reise later, kon hy uiteindelik sy bevindinge deel.

Variante wat in die uitspraak van woorde kan voorkom, soos byvoorbeeld die woord “konyntjie” verduidelik mooi. Hierdie woord kan op verskillende wyses uitgespreek word - soos “kinynkie”, “kanainkie”, “kernynkie” of selfs “kokkenynkie”. Die variante word ook nie net beperk tot die uitspraak van enkele woorde nie, maar selfs verskeie slagspreuke en sêgoed is opgespoor.

Op die vraag “Hoe gaan dit?” het dr Dirk van Schalkwyk ook interessante sêgoed teëgekom. “Nee, ek is darem nog padvaardig, maar moet net nie my 'bonnet' oopmaak nie,” sê 'n vrou op Langebaan en “Ek is vanoggend soos die wind, ek weet nie waarheen ek op pad is nie en ek weet ook nie of ek weer gaan terugkom nie,” was 'n man op Aranos se antwoord.

Woorde kan ook vervang word met interessante “mooiseggende woorde”, soos byvoorbeeld, 'n laatlammetjie kan 'n “pensioenvretertjie” en toebroodjies kan “smeerigytjies” wees. Taalkenner, prof Christo van Rensburg besin oor die term: "Vrye Afrikaans". Lees meer ...

 

 

Kom meer te wete oor die geskiedenis en ontstaan van Afrikaans

 

  Lees meer ...

 

Taalnuus.

Afrikaans.com sal gereeld ‘n verskeidenheid interessante nuusartikels wat op Afrikaanse webtuistes verskyn en van toepassing is op die Afrikaanse leefwêreld onder julle aandag bring.  

Lees meer ...

 

Die oorsprong van Afrikaans – ‘n tydlyn.

Reis saam met ons op die spoor van Afrikaans – vanaf haar ontstaan in ongenaakbare omstandighede as omgangstaal tot vandag.

Lees meer ...

 

Taalmonument

Afrikaans is die enigste taal ter wêreld wat kan spog met ‘n monument tot sy eer.  

Lees meer ...

 

Talewet

Die wet op die gebruik van amptelike tale. 

Lees meer ...