Veldtog #onmisbaar!

Dalk ontsnap jy graag tussen die blaaie van ’n Afrikaanse boek en is die kunstefeeste van die hoogtepunte van jou jaar. Klein Tambotieboom se lirieke vertroos jou wanneer jou emosies laag lê of HemelBesem inspireer jou … dalk skaterlag jy vir Nataniël se droë-diep humor en geniet jy sommer net Kobus Galloway se nuutste strokiesprente … Afrikaans sorg dalk vir jou brood en botter … hoe dit ook al sy – Afrikaans is meer as net ‘n taal – dis ’n leefstyl. Dis jou Afrikaans. Dis #onmisbaar.

Afrikaans is #onmisbaar! Lees hier …

Die veldtog …

Sewe miljoen Suid-Afrikaners praat en lééf Afrikaans – ‘n taal wat op eie bodem tot stand gekom het – eiegoed wat gegroei en ontwikkel het tot ‘n akademiese taal waardeur sprekers internasionaal presteer en plaaslik floreer.

Afrikaans.com kan nie ‘n Suid-Afrika sonder dié taal indink nie, daarom beskou ons Afrikaans as #onmisbaar en beklemtoon ons die belangrikheid van die taal en sy sprekers in hierdie reklameveldtog.

Hierdie interessante veldtog het oor ‘n hele aantal maande gestrek en is ondersteun met feitelike inligting op Afrikaans.com en in die media oor die waarde van Afrikaans t.o.v. onderrig, kultuur en die ekonomiese bydrae. Hierdie feite is op ons tuisblad gepubliseer onder ‘Het jy geweet?’

Die reklameveldtog se oogmerk was soos volg:

  • Suid-Afrikaners is opnuut bewus gemaak van die waarde en nut van Afrikaans vir verskillende mense, sektore, ekosisteme en hulself.
  • Bewustheid is geskep van die impak van Afrikaans met spesifieke fokus op moedertaalonderrig, sy sprekers se leefwêreld, die uniekheid van die kultuurlewe en die prestasie en selfwaarde van die sprekers van die taal.
  • Die publiek is aangemoedig om Afrikaans nie net te verken en te vier nie, maar om ook eienaarskap te neem en dit op te pas!

Kyk hier …

Neem deel

Miljoene mense leef daagliks Afrikaans op een of ander manier. Dis die taal waarin jy jou brood verdien, kuier, droom, lag … Maar hoe sal jou wêreld wees daarsonder? Wat is vir jou kosbaar … #onmisbaar help jou dink oor wat Afrikaans vir JOU beteken.

Ons nooi jou uit om met die hutsmerk #onmisbaar op sosiale media deel te neem. Neem foto’s, deel jou gedagtes … vertel ons waar en wanneer jy Afrikaans as kosbaar beleef … daar waar dit waarde toevoeg … daar waar dit persoonlik betekenis het … daar waar Afrikaans ‘n verskil maak!

Kyk hier …

So ‘n bietjie inspirasie …

Die vlymskerp Kobus Galloway het op sy unieke tong-in-die-kies-manier Afrikaans #onmisbaar uitgebeeld. Hou die sosiale media-platforms dop en gesels saam. Deel jou bydrae met die hutsmerk #onmisbaar of kontak ons en gesels saam.

Die eerste suksesvolle veldtog – ‘Hoe lyk jou Afrikaans?’ – van www.afrikaans.com het die publiek bewus gemaak van die kleurvolheid en diversiteit van die Afrikaanse landskap met betrekking tot die unieke manier waarop die taal gepraat en geleef word. Die tweede veldtog, Afrikaans #onmisbaar, kommunikeer op ’n ernstiger noot die effek wat dit sal hê as Afrikaans nie meer so toeganklik en bekombaar is soos wat dit tans is nie. Die reklameveldtog doen ’n beroep op digitale deelname deur mense uit te nooi om met die hutsmerk #onmisbaar te vertel waarom Afrikaans binne hulle konteks en ervaringswêreld onmisbaar is.

Sê Milanie Vosloo, projekbestuurder: Veldtog Afrikaans: “Soos met die eerste veldtog: Hoe lyk jou Afrikaans?, probeer ons denke stimuleer sodat die publiek hulself sal afvra: ‘Wat sal ek mis en verloor as Afrikaans nie meer daar is nie? Wat sal gebeur as my kinders nie meer Afrikaanse onderrig ontvang nie? Wat kan ék doen om die taal te koester?”

Afrikaans ís onmisbaar! Veldtog #onmisbaar is ’n belangrike bousteen in die bewustheid daarvan.

Click here to add your own text