Afrikaans #onmisbaar: WhatsApp-kompetisie op RSG

Die wenner van Afrikaans.com en RSG se Afrikaans #onmisbaar-kompetisie, Petrus Vermeulen van Prieska.

Afrikaans.com in samewerking met RSG, het onlangs ’n Afrikaans #onmisbaar-kompetisie gehou. Luisteraars is gevra om klankinskrywings per WhatsApp in te stuur waarin hulle vertel hoekom Afrikaans vir hulle onmisbaar is.

Die wenner kon R5 000 WEN. Daar is uiteindelik 159 inskrywings ontvang.

Die wenner is op 19 Junie op Middag op RSG bekendgemaak en Petrus Vermeulen, ’n skaapboer uit Prieska se wêreld kon die R5 000 in sy sak steek.

Luister hier wat sê Petrus nadat hy in kennis gestel is dat hy die wenner is.

“Baie dankie vir die wonderlike voorreg om Afrikaans so in die hart te leef en praat. Mag Afrikaans nimmer as te nooit van ons wyk.” – Petrus Vermeulen

Afrikaans is vir Petrus Vermeulen “die mooiste taal in die hele wêreld” en ’n mens kan duidelik hoor dit leef in sy hart. “Dit is die taal waarin ek boer … Dit is die taal waarin ek dankie sê vir die reën …”  Luister hier na Petrus se pragtige inskrywing:

Petrus is nie net goed met woorde nie, dit blyk die man het vele talente en kan sing ook! Luister hier hoe mooi sing hy die Afrikaanse liedjies, Droomvrou en Karooliedjie.

Jy kan steeds deelneem en vir ons laat weet wat van jou hartstaal Afrikaans is vir jou besonders. Gebruik die hutsmerk #onmisbaar en laat weet ons op sosiale media (Facebook & Instagram) of WhatsApp ons. Ons hoor graag van jou. Ons nommer is: 064-652-6873. Jy hoef nie ‘n toespraak te maak nie, net ‘n sin of twee oor hoekom Afrikaans vir jou onmisbaar is.

Veldtog 3 skop af: Afrikaans is #onmisbaar – dink na oor die waarde van JOU taal

Jou taal gee jou unieke menswees vastrapplek … dis wie jy is en waar jy emosioneel tuis voel en getuig van jou kulturele hartklop. In die jongste reklameveldtog plaas Veldtog Afrikaans (wat die mooi, lekker, egtheid en eiesoortigheid van Afrikaans vier en uitbou) die kollig op dit wat Afrikaans vir al sy sprekers onmisbaar maak. Daardie eienskappe van jou taal wat dit vir jou moontlik maak om jou gedagtes te verwoord, om konsepte te verstaan sodat jy dit kan toepas, wat jou verbeelding vlerke gee en jou deel maak van ’n spesifieke taalfamilie.

Afrikaans behoort aan elke Afrikaanssprekende en juis vanweë die diverse samestelling van die mense van hierdie land, is hierdie taal ’n skatkis van kulture, variante en dialekte. Wat duidelik is uit die deelname van die vorige veldtogte, is dat mense al hoe meer bewus word van die waarde van hul taal.

Jy is teen die tyd reeds bewus van Afrikaans.com en die mediaveldtogte om Afrikaans te bevorder soos “Hoe lyk JOU Afrikaans? en “Waarom is Afrikaans vir jou #onmisbaar?

Met Veldtog 3 bou ons voort op die #onmisbaar-tema, maar ons vra nou meer spesifiek dat mense sal nadink oor die WAARDE van die taal vir hulle.

Milanie Vosloo, projekbestuurder, Veldtog Afrikaans

“Hierdie kontemporêre veldtog sal jou opnuut opgewonde oor en trots op jou taal maak. Nege mense uit alle vlakke, beroepe en kulture vertel hoe taal aan hulle identiteit gee, wat die waarde van Afrikaans vir hulle is en hoe hulle hierdie besondere taal geniet. Hulle verwys veral na die opvoedkundige, ekonomiese en kulturele waarde van Afrikaans. Soos reeds uit ons vorige veldtogte duidelik was, is taal meer as die woorde wat ons praat. Dis ons wortels én ons vlerke: daarom onlosmaaklik deel van ons identiteit.” – Milanie Vosloo, projekbestuurder, Veldtog Afrikaans

Neem deel en gee JOU taal ’n stem

Oor die volgende paar weke sal jy op sosiale media en in die breër media hoor en sien hoe Afrikaans se ambassadeurs en beskermhere en -vroue daad by die woord voeg en hierdie vraag beantwoord.

Ons nooi jou  om op ons sosiale media-platforms (Facebook/Instagram) met die hutsmerk #onmisbaar deel te neem en vir ons te vertel: “Wat maak jou taal vir JOU spesiaal?” So, neem deel en gee JOU taal die stem wat dit verdien!

Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense

Op Afrikaans.com verken ons die Afrikaanse taalhutspot waar ons die lig sal laat val op die groot verskeidenheid binne ons vriendelike, hartlike taalfamilie – van Griekwa-Afrikaans tot Kaaps, skryf en -streektaal … praattaal. Leer ken die oorsprong en ontdek die wye landskap van Afrikaans. Die eerste reeks behandel Oranjerivierafrikaans (Griekwa- en Namakwalandse Afrikaans), Kaapse Afrikaans (Kaaps en Bo-Kaaps) en Oosgrensafrikaans (landelik, stedelik, praat- en skryftaal).

Verryk jouself weekliks op Afrikaans.com waar jy jou kennis oor jou taal kan uitbrei.

Koester jou taalskat – Afrikaans se warm aardse klanke met die ritme van Afrika roer ons om ’n rede … luister hier.

Amanda Stone – die Khoi-Noi lees ‘n stukkie voor uit haar gedig: Sara Baartman

Denver Breda – “Ons maak ons taal mooi …”

Kaptein John Cornelius Witbooi (Nama-stamhoof) se liefdestaal …

Francisco McKenzie (Kaptein Autshumao) vreesloos EN Afrikaans

Meer oor Veldtog Afrikaans*

* Veldtog Afrikaans is ’n inisiatief van Dagbreek Trust wat jare gelede in die lewe geroep is om Afrikaans te ondersteun en te bevorder. Veldtog Afrikaans bring reeds sedert 2015 die waarde van die taal onder ons aandag.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!