Streekwenner 3: Modimolle (Limpopo)

Modimolle – op pad na die hart van die Bosveld (Foto: southofafrica.co.za)

‘n Foto op die pad na die dorp wat in 1878 gepubliseer is.

Foto: Modimolle Toerisme

Die bekende baken, Kranskop, wat 1 151 meter bo seevlak uittroon.

Die bekende Luiperdbome van Limpopo. (Foto: Johan Paquay)

Modimolle – die Bosveld op sy beste!

Modimolle is ‘n gewilde vakansiebestemming en wildbesigtiging is ‘n gewilde tydverdryf. Hierdie foto is geneem by die Monate Game Lodge.

Nylstroom, amptelik Modimolle (“Plek van die Geeste”), is ‘n dorp in die Waterberg-streek van die Suid-Afrikaanse provinsie Limpopo, sowat 135 kilometer noord van Pretoria. Die ekonomiese basis van Nylstroom is landbou (met sitrusvrugte en druiwe as die vernaamste produkte), veeteelt en toerisme.

In die veertigerjare van die 19de eeu vertrek ‘n groep Voortrekkers, bekend as die Jerusalemgangers, onder “die profeet” Johan Enslin, op soek na die Heilige Land. Toe hulle die gebied van die huidige Nylstroom bereik het, glo hulle dat hulle die oorsprong van die Nylrivier ontdek het en vestig hulle in die streek. Die naam van die dorp en die nabygeleë Nylrivier verwys nog steeds na hulle tog en oortuigings. Lees meer hier.

Modimolle het meegeding met Groblersdal en Naboomspruit (Mookhophong).

#Onmisbaar – Ontmoet Ina Lessing en Frik le Roux met hul plaaslike lekkernye.

Ina Lessing se konfyt en Frik le Roux se boerewors is uit ma-se-kombuis. Langenhoven het nie verniet gesê: “As jy suksesvol wil wees, moet jy gewone dinge buitengewoon goed doen …” Vind uit waarom hierde twee legendes is van Modimolle en hoor die liplekker Afrikaans op hul tonge wanneer hulle gesels oor hul passie … lekker kos!

Tannie Ina Lessing, Pieter Koen (een van die aanbieders by Kwêla) en Oom Frik le Roux.

Tannie Ina Lessing met haar bekende konfyt.

Lessing Konfyte het begin as ‘n stokperdjie, onder die afdak met twee potte! Twintig jaar later het dit tot ʼn reuse- sake-onderneming uitgekring!

Ina Lessing is sedert 1990 doenig met die inmaak van vrugte, groente en die kook van ‘n wye verskeidenheid van konfyte. In 2013/14 is Ina as Sanlam/ Lanbouweekblad se vroue-entrepreneur aangewys.

ʼn Diepgewortelde geloof en daarmee saam vertroue en planne beraam, asook soms kanse vat en baie inisiatief aan die dag lê, het alles bygedra tot die sukses wat hierdie konfyt-onderneming vandag is. Dit is baie positiwiteit, ondersteuning van die familie en ʼn bakkievrag liefde wat dit volhoubaar maak. Die kook en inlê gebeur op Modimolle en die verpakking en verspreiding vind vanaf Centurion plaas.

Ina Lessing se Wildsvleis-kasserol met maroelajellie en droë vrugte

1,5 kg wildsvleis met bene in stukke gesaag.
MARINADE
500 ml rooiwyn
4 knoffelhuisies, gekneus
10 ml gedroogde, gemengde kruie
100 ml olie
30 ml bruinsuiker
15 ml Worcestersous
50 ml botter
2 uie
1 wortel, gerasper
2 selderystingels, gekap
2 tot 3 lourierblare
6 heel naeltjies
6 wonderpeperkorrels
50 ml vars suurlemoensap
500 ml vleisaftreksel
250 ml rooiwyn
500 g droëvrugte
50 ml Ina Lessing-maroelajellie.

Metode:

Marineer vleis twee dae lank in marinade. Verwyder vleis uit marinade en behou die vloeistof. Verhit botter en braai uie, wortel en seldery in swaarboompot. Braai vleis tot bruin en plaas in kasserol. Skep uie-en-wortelmengsel bo-op. Gooi marinade oor. Voeg lourierblaar, naeltjies, wonderpeperkorrels en suurlemoensap by. Geur goed na smaak met aromat, sout en vars gemaalde peper. Plaas in oond en prut 3 uur lank by 160C. Vul vloeistof aan met rooiwyn en vleisaftreksel soos benodig. Vir ekstra geur kan 250 ml room bygeroer word net voordat dit voorgesit word.

Besoek haar webwerf vir nog resepte uit haar ma se kombuis. Klik hier.

Regte, egte boerewors … die reuk van varsgemaalde en geroosterde koljander, naeltjies, sout, peper en worcestersous … eg Suid-Afrikaans en lekker vir ontbyt, middagete of saam met die braai … enige tyd! Frik le Roux het die kuns vervolmaak.

Het jy geweet dat boerewors as varsvleisproduk in Suid-Afrika deur ‘n wet gereguleer word? Daar bestaan ‘n wet vir slaghuise wat boerewors verkoop en dit moet ‘n minimum van 80% vleis en vet bevat, dus kan goedkoop “vullers” soos graanbrood, soja of water nie onbeperk bygevoeg word tydens die maak daarvan nie. Oor die jare, het worsmaak ‘n hoogs ontwikkelde en gespesialiseerde kuns geword en baie families oorhandig hul besondere kuns van worsmaak oor van geslag tot geslag. Kyk hier hoe maak jy jou eie …

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!