Spel is nie speletjies nie … daar is heelwat Op die Spel.

In die derde reeks van Op die Spel, was daar ’n kinkel in die kabel en was dit skoolleerders wat om die gesogte titel van beste speller meegeding het. Die wenner van die voorlaaste episode, Christiaan de Beer (graad 11), het ’n studiebeurs ter waarde van R150 000 (met komplimente van Atterbury Trust) gewen en 2018 se Op die Spel-kampioenElsa-Marié van der Watt (graad 8), is uiteindelik op 28 Maart gekroon en het met die R25 000 weggeloop. Haar uiteindelike prysgeld het amper R95 000 beloop. Chanté Klaase was die naaswenner en het R15 000 ontvang. Die wenner en naaswenner se skole het ook onderskeidelik R25 000 en R15 000 ontvang. Die finaliste is ook met VivA-skoolpakkette ter waarde van R9 000, bederf.

Die finaliste van links na regs: Elsa-Marié van der Watt (wenner), Chanté Klaase (naaswenner), Christiaan de Beer (wenner van die studiebeurs) en Almé Hugo.

Of spelling belangrik is? “Al wat ek kan sê, is dat dit wel belangrik is. Ek gaan nie nou al die redes uitlig nie – jy kan dit mos gaan Google! – maar daar is ʼn rede waarom onderwysers altyd so aangaan oor jou taal en spelling. Ruk jou taal reg!” – Elsa-Marié van der Watt, wenner van Op die Spel 2018.

Afrikaans.com het per e-pos met Elsa-Marié van der Watt gesels. Sy gaan tans in Leuven, België skool – die Van der Watts se huis vir die volgende jaar.
Elsa-Marié vertel sy is amper 15 en is vanjaar in die derde leerjaar van die Belgiese middelbare onderwys by Paridaens Instituut in Leuven. Sy was verlede jaar (toe die huidige Op die Spel-reeks opgeneem is) in graad 8 in die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. Sy sê sy sien uit daarna om volgende jaar weer in graad 10 daar in te val.

Elsa-Marié is die oudste van drie kinders en het ’n jonger suster en broer, Jani (13) en Steyn (amper 11). Sy neem aan ’n paar buitemuurse aktiwiteite deel, onder andere dans, strykorkes, viool, klavier, teorie en debat … en dan het sy nog stokperdjies ook! Dit sluit in bak, dans, klavier en viool speel en lees.

Op stel tydens die opname van Episode 9. Elsa-Marié van der Watt is tweede van regs. Kykers van vanjaar (2018) se Op die Spel, was menige Woensdagaand in totale ongeloof oor die spelvermoë van die deelnemers. Hulle is dalk jonk, maar kan hulle spel! O-N-G-E-L-O-O-F-L-I-K – ONGELOOFLIK! 

Die spelkoningin, Elsa-Marié van der Watt, op die kassie tydens ’n opname van Op die Spel. 

Een lekkerte vir Elsa-Marié was om voor dieselfde spieël as die akteurs van Binnelanders opgedollie te word.  

Die top 2-spellers saam met Rian van Heerden. Chanté Klaase en Elsa-Marié van der Watt.  

Vir verdere video’s van die program en ‘n video van die wenner, gaan na kykNET se webtuiste.

Lees hier wat sê Elsa-Marié oor haar ervaring by Op die Spel:

Wat het jou oortuig om deel te neem?
My ma, Marike, het drie jaar gelede aan die eerste seisoen deelgeneem, en dit het na baie pret gelyk. Ek het ook al baie aan die WOW-Spelfees deelgeneem (in graad 5 was ek derde algeheel en in graad 6 ook ‘n finalis), so spelkompetisies was nie vir my vreemd nie. Toe ek die geleentheid kry om moontlik deel te neem, het ek net geweet ek moet dit met albei hande aangryp.

Hoe was die Op die Spel-ervaring vir jou as deelnemer?
Dit was ‘n absoluut wonderlike ervaring, en ek dink nou nog met ‘n glimlag terug aan die herinneringe. Daar was ‘n paar stresvolle oomblikke toe ek net gewens het die verfilming wil nou klaarkry, maar die meeste oomblikke het ek baie geniet en omtrent elke nuwe oomblik was vir my ‘n nuwe lekkerste oomblik. Die een waar ek uitgevind het ek het gewen, was beslis die beste. Ek kan nou nog nie oor dit kom nie!

Is daar enige staaltjie/s wat jy oor die aanbieders kan vertel?
Rian wat óf aspris was, óf verkeerd gelees het dat “bad” in plaas van “bak” my stokperdjie is, het my heeltemal onkant gevang. Die eerste ding wat ek gedoen het toe ek na die eerste episode se opname by die huis gekom het, was om weer die vorm uit te haal waarop ek my antwoorde geskryf het. Ek het definitief “bak” – met ‘n “k” geskryf!

Jy het die reeks gewen. Hoe het jy gevoel toe jy as wenner aangekondig word?
Dit het onwerklik gevoel en ek kon dit byna nie glo nie – ek het nie gedink ek staan ʼn kans nie omdat ek die jongste deelnemer was. Dit het eers ʼn paar oomblikke later begin insink, en toe wou ek sommer op en af spring van blydskap en ʼn stupid dans doen!

Hoekom dink jy het jy gewen?
Om die waarheid te sê, ek weet nie! Ek weet ek het redelike goeie spel- en taalvermoë, maar ek glo steeds ek het maar net gewen omdat die ander deelnemers so gespanne was dat hulle nie helder kon dink nie.

Jou Afrikaans is duidelik uitstekend. Waar kom jou liefde vir die taal vandaan?
Dit kom beslis meestal van die boeke wat ek lees vandaan. Ek is al van kleins af mal oor lees, en het die grootste deel van my lewe net Afrikaans gelees – om eerlik te wees, ek het eers rondom graad 6 met Engelse boeke begin. Verder is dit ook net ‘n baie mooi taal – daar is darem derduisende mense wat saamstem: “Afrikaans is die mooiste taal!”

Dink jy om in jou moedertaal te leer, is belangrik?
Ja, beslis. Dit is baie makliker om so te leer – en dit kom nou van my wat op die oomblik in Nederlands moet probeer skoolgaan. ‘n Mens verstaan die werk makliker en hoef net op die feite te fokus wat jy moet leer, en nie ook op die ander goed soos sinsbou of woordeskat nie.

Leer jy ander tale maklik aan?
Ek sou sê ek leer tale redelik maklik aan, en my Engels is omtrent so goed soos my Afrikaans. Ek het verlede jaar in Bloemhof met Duits begin, en verder is ek ook op die oomblik besig om Vlaams te probeer aanleer!

Wat is jou gunstelingwoord/e in Afrikaans?
Sjoe, dis moeilik! Daar is ‘n hele paar wat in my kop gekom het – woorde soos “lekker”, “braai” en “koeksister”. Ek is net mal oor die klank daarvan, asook wat dit beteken.

Wat lees jy graag?
Dis ‘n redelike “wye” vraag, maar al wat ek lees is lekker dik boeke wat my lank kan besighou. Ek lees ook so nou en dan kortverhale, maar dit het my nou al te veel kere met onbevredigende eindes gelaat, so ek bly maar by romans en reekse! Ek lees op die oomblik baie Engels (Hunger Games, Divergent, Infernal Devices), maar het, soos ek reeds gesê het, vroeër baie (en selfs net) Afrikaanse boeke gelees – Jaco Jacobs, Carina Diedericks-Hugo, Bettie Naudé, Francois Bloemhof, Marita van der Vyver en nog ‘n hele paar ander bekende Afrikaanse skrywers was van my gunstelinge.

Hou jy van Afrikaanse flieks? Wat is jou gunsteling Afrikaanse fliek?
Ja, as dit ‘n goeie fliek is, geniet ek dit baie! Ek kan ‘n hele paar van my gunstelinge opnoem, Pretville en Vir die Voëls is definitief twee daarvan.

Was jy al ooit by ’n Kunstefees?
Nee, ongelukkig nie, maar ek wens ek kan! Ek sal graag na die KKNK toe wil gaan – dit klink amazing.

Vertel ons meer van jou toekomsdrome.
Om die waarheid te sê, ek het nog nie so baie aan my toekoms gedink nie. Al wat ek op die oomblik verseker weet, is dat ek graag ‘n verskil in die wêreld wil maak en dit ‘n beter plek wil help maak.

Gaan jy verder studeer? Indien wel, waar en waarom juis daar?
Ek gaan definitief. Ek wil baie graag oorsee – soos Engeland – gaan studeer. Ek is nog nie presies seker oor watter universiteit nie. Ek sou ook miskien ’n B-graad hier in Suid-Afrika wil doen, in Stellenbosch by Maties, en daarna kyk of ek dan oorsee verder kan gaan studeer. My pa werk by die Universiteit Stellenbosch en ek loop al op daardie kampus rond vandat ek gebore is, daarom sal dit nogal spesiaal wees as ek daar kan gaan studeer.

Enige idee wat jy wil swot?
Ek is nog nie 100% seker nie, maar om Regte te gaan studeer, is definitief reeds my eerste opsie. Dit klink baie interessant en ek wil dan graag daardie kennis ook kan gebruik om ‘n menseregteaktivis te word as ek nie ‘n advokaat word nie.

Elsa-Marié is beslis ’n jongmens van wie ons nog baie sal hoor. Met haar passie vir die lewe en ander mense voorspel ons vir haar ’n blink toekoms.

Elsa-Marié vertel vir ons uit ’n ysige België hoekom Afrikaans vir haar #onmisbaar is. 

Die appel val toe nie te ver van die boom af nie!

Marike van der Watt (Op die Spel-deelnemer in 2015) en Elsa-Marié, vanjaar se wenner, saam in ’n koue Parys.

Marike van der Watt, trotse ma van vanjaar se wenner, Elsa-Marié, het self in 2015 aan die eerste Op die Spel-reeks deelgeneem. Sy was destyds die wenner van die tweede episode. Hier is ’n kort uittreksel uit Marike se artikel op LitNET:
Nadat twee vriendinne my van kykNET se spelkompetisie laat weet het, voltooi ek ’n dag voor die sluitingsdatum my inskrywing en beantwoord die tien vrae aanlyn wat as eerste uitdunronde dien. Drie dae later, my kop nog besig met die oggend se lesings, kry ek ’n oproep van Charl Marais van Homebrew Films: ek het deurgedring na die volgende ronde, wat sommer dadelik oor die telefoon geskied. Ons drafstap deur die vrae en met die aflui besef ek “Oranjerivierafrikaans” is een woord en nie soos ek dit gespel het, “Oranjerivier-Afrikaans” nie, en het ek “Gaborone” nie dalk “Gabarone” gespel nie? Ek moet myself net keer of ek bel Charl terug om te vra of ek myself kan korrigeer. Toe hy die volgende week weer bel om te laat weet ek moet op 17 Junie in Johannesburg aanmeld, kon ek dit amper nie glo nie. Vir die volgende twee weke is my AWS, Skryf Afrikaans van A-Z en HAT Taal- en Feitegids permanent in my geselskap.

By Stark Studios sit en wag ons vir grimering en onderhoude, hou tussendeur op ’n skerm dop hoe die volgende toneel van Binnelanders oor en oor geskiet word, en maak praatjies. Daantjie (Badenhorst) is duidelik gewoond aan die lewe op stel – hy het selfs vir ’n ekstra stel klere gesorg, wys vir almal waar die koffie is, gesels land en sand (veral oor Afrikaanse musiek, waarvan ek feitlik niks weet vandat almal vir hulle “babies” sing nie). Ek probeer vergeefs nog die AWS deurgaan met die hoop dat ek iets sal raaklees wat ek tydens die spellery kan benut. Rian is vir my ’n groter bekommernis as die vrees dat ek eerste sal moet groet: Gaan hy sy tong in gif doop soos die aanbieder van The Weakest Link? Hy is beslis nie ’n Johan Stemmet nie, so geen gemoedelike gegroetery aan die gesin, vriende en kollegas nie.

Ons doen eers ’n oefenlopie waartydens elke speletjie verduidelik en die reëls gegee word. Ek spel woorde verkeerd waaroor ek nooit onder normale omstandighede sou twyfel nie, luister na ander deelnemers se woorde en weet skielik nie of hulle reg of verkeerd gespel het nie, probeer die knoppie gedruk kry wanneer ek darem die antwoord ken, maar Daantjie langs my is in sy element en spring almal telkens voor. My rug is lam en my voete dood. Annamarie kom swaai haar grimeerkwassie en Johan poets die trappe, ons kry instruksies oor wanneer ons moet stilbly en waar ’n mens moet afloop as jy die onderspit delf. Rian verklap niks van die arsenaal kwinkslae wat hy uit die onderhoudmateriaal versamel het nie …

En dan is dit tyd vir: Ligte! Kamera! Aksie! Lees gerus die volledige artikel op LitNET.

Lees ook:
As jy wil weet hoe dit gekom het dat die Van der Watts nou vir die jaar in Europa bly en wat die rol is wat Afrikaans in hierdie avontuur speel, gaan lees dan gerus hulle blog,.(die vannerwatts se lewe in Leuven).

Tuisspeletjiewenner:

Elna Knoetze – wenner van kykNET en Afrikaans.com se Op die Spel-tuisspeletjie.

Ons het ’n wenner!

Die wenner van die Op die Spel-tuisspeletjie en dus die R10 000-prysgeld (met komplimente van Afrikaans.com en kykNET), is Elna Knoetze van Port Elizabeth. Baie geluk, Elna.

Afrikaans.com het per e-pos met Elna gesels.

Elna (66) vertel sy is getroud met Theuns en hulle woon reeds die afgelope dertig jaar in Port Elizabeth. Hulle het drie volwasse kinders en twee kleindogtertjies. Elna sê sy lees gereeld vir hulle voor, veral kindergedigte.

Hierdie besige ouma is nooit ledig nie en hou haarself besig met naaldwerk, ontwerp, tuinmaak, kosmaak en musiek.

“Die liefde vir taal gaan vir my hand aan hand met emosie, ontdekking en menseverhoudings. Dis nodig vir uitdrukking, begrip en kommunikasie. Hoe beter jou taal, hoe beter kan jy oordra en verduidelik.”

Hoekom Elna besluit het om aan die tuisspeletjie deel te neem? 
Elna sê goeie spelling was nog altyd vir haar belangrik. Sy het ook al die vorige reekse van Op die Spel gekyk omdat sy daarvan hou om haar eie spelvermoë te toets. Sy het juis van Afrikaans.com en die tuisspeletjie te hore gekom tydens die eerste episode van die pasafgelope reeks … en dan was die aanloklike prysgeld ook nie te versmaai nie en moes sy net deelneem. “Nou weet ek ook waar om die regte spelling van ’n woord te gaan soek, buiten die woordeboek … Afrikaans.com! Dit was lekker om te sien hoe lief ander mense vir Afrikaans is. Ek het ook Ton Vosloo se artikel baie geniet, veral omdat ek ook van Uitenhage is en by dieselfde skool as hy gematrikuleer het.”

Elna vertel voorts dat sy die antwoorde redelik vinnig kon gee, behalwe wanneer sy op die spellyste moes seker maak van koppeltekens, hoofletters of waar die antwoord uit meer as een woord bestaan het.

Is moedertaalonderrig belangrik? “Beslis, veral gedurende die vormingsjare. Ek dink dit verseker ook groter begripsvermoë en sukses. As dit daar is, sou ek sê die aanleer van ’n tweede taal is makliker.”

Elna lees graag – Engels en Afrikaans – en sommer meer as een boek op ’n keer. Op die oomblik is sy besig met Elders, omdat sy dit oorweeg om self die Camino te gaan stap en Jan – My Franse kosverhaal. “Ek hou van resepteboeke en lees ook graag outobiografieë … en dan ook koerante en tydskrifte.”

Elna se gunstelingwoorde in Afrikaans? 
Rooibos, skeut, prontuit, wag-’n-bietjie-bos, jammerlappie.

Gunsteling- Afrikaanse musiek?
Joshua na die Reën, Twee, Koos du Plessis, Riana Nel, Mathys Roets en Kaleidoskoop.

Elna het die volgende te sê vir jongmense wat dink spelling is nie belangrik nie.
“Moenie alles aan die tegnologie oorlaat nie. Skryf soms ook met die hand en doen moeite om korrek te spel. Dit is voordelig vir die leerproses en goed vir kommunikasie.

Wat van Afrikaans is vir haar #onmisbaar?
“Afrikaans is vir my #onmisbaar, want dit is in my hart … deel van wie ek is. Ek het al dikwels, wanneer ek iets ervaar wat my roer, die begeerte gehad om dit met iemand na aan my te deel; in gees en deur middel van my taal … Afrikaans.

Wat sy met die R10 000 gaan doen?
“Ek was nog nooit by ’n kunstefees nie, maar het myself belowe om volgende jaar Woordfees toe te gaan. Nou het ek die fondse!”

Hoe het die tuisspeletjie gewerk?
Kykers kon weekliks aan die tuisspeletjie op Afrikaans.com se webtuiste deelneem. Daar was volledige spellyste op die webtuiste beskikbaar sodat deelnemers kon oefen en naslaan – wat die keuse van die regte spelling van elke woord (multikeusevrae) makliker gemaak het. Deelnemers kon weekliks, direk na afloop van die TV-program op Afrikaans.com deelneem en het dan tot die volgende Dinsdag 12:00 tyd gehad om in te skryf.

Elke wenner van elke ronde het deurgedring na die finale ronde waar die 10 wenners (van vorige rondes) by Episode 13 ’n laaste speletjie gespeel het om die wenner te bepaal. Deelnemers moes aan elke ronde deelneem om na die finale ronde van die tuisspeletjie deur te dring en om in aanmerking vir die R10 000 te kom.