Moedersdag: Die vreugde van ma-wees

“Alles wat ek is, of ooit kan droom om te wees, is te danke aan my ma.” So het die Amerikaanse president, Abraham Lincoln, jare gelede gesê. Hoe waar is hierdie woorde nie? Ma’s en hul onbaatsugtige liefde kan met reg gevier word. Op Moedersdag, wat hierdie jaar op Sondag 13 Mei val, moet ʼn mens jou ma op jou hande dra, as sy nog daar is. Drie ambassadeurs vir Afrikaans, wat self die voorreg beleef om ʼn ma te wees, vertel vir Alita Steenkamp so ʼn ietsie van die vreugde van ma-wees.

Die spilpunt waarom Marelize Swanepoel se hart draai, is sewe jaar oud, in graad 1 en ʼn regte klein aspatat! Marelize en manlief Adriaan het lank vir Monja gewag. Na verskeie behandelings en ʼn stresvolle swangerskap met ʼn paar dreigende miskrame, het die volmaakte dogtertjie opgedaag, tot almal se groot vreugde. Marelize sê Monja is ʼn goeie kombinasie van haar en Adriaan se beste maar ook uitdagendste eienskappe. Sy het ʼn baie sterk persoonlikheid, maar terselfdertyd ʼn baie sterk moederinstink wat net wil versorg. Wanneer sy in die omtrek is wanneer iemand seerkry, wil Monja sommer net help.

“Ons kan soms so lag vir die klein snip,” sê Marelize. “Ons was onlangs op vakansie en op die grootpad het ons haar geleer die spoedgrens is 120 km per uur. Toe ek nou die dag in die dorp nader aan 100 as aan 60 gery het, was haar woorde: ‘Mamma, jy mag nie 100 ry nie, ons is nie op die snelweg nie. Dankie!’ Eintlik is sy baie oplettend en wys vir haar jare.”

Vir Marelize lê die grootste vreugde van ma-wees in die naby oomblikke met haar kind. As Monja op haar skoot kom klim terwyl sy televisie kyk, of soggens in ma en pa se bed kom kruip en daar word gekielie en gelag, is daar niks meer wat sy kan vra nie.

Marelize is tans besig met haar BA Honneurs (Afrikaans Taalkunde) aan die Universiteit van Johannesburg. Sy is ook betrokke by die ATKV se Skitter-in-Afrikaans-werkswinkels en bedryf ʼn webblad waarop sy gratis Afrikaanse Huistaal- en Eerste Addisionele Taal-hulpbronne en metodiek aan onderwysers en leerders verskaf. Haar liefde vir Afrikaans dra sy ook na haar kind toe oor. Marelize het Monja vroeg al aan Afrikaans blootgestel met verskillende flitskaarte en daar word graag voorgelees. Noudat Monja self leer lees het, lees sy ywerig elke aand vir haar ma ʼn storie.

Marelize sê die een ding wat sy by haar ouma, Lettie Bloem, geleer het, is dat jy twee ore en een mond gekry het. Jy moet dit ook in daardie verhouding gebruik en eerder luister voordat jy kritiseer. Sy probeer ook hierdie lewenswysheid by Monja inskerp.

“Die dag toe Monja in ons lewe gekom het, het ek vir die eerste keer besef hoeveel liefde ek het om te gee. Ook die feit dat my hart groot genoeg is om my man en my kind lief te kan hê, sonder dat een ooit hoef te kompeteer om liefde te ontvang. Net nou die oggend, op pad skool toe, terwyl ons lekker musiek geluister het, het Monja so op my skouer geklop. “Mamma, jy is die beste mamma waarvoor ʼn dogtertjie ooit kan vra.” As jou kind so iets vir jou sê, dan klop jou hart tjoklits.”

Die oomblik wat Elize Parker oor haar dogters, Ruby en Edyth begin praat, skitter haar oë. Ruby is tans die kopieredakteur by die tydskrif GQ en voltooi vanjaar haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk. Edyth woon in Amsterdam en werk in ʼn laboratorium terwyl sy haar doktorsgraad in immunologie aan die Cambridge Universiteit voltooi. Die twee het totaal uiteenlopende karakters, sê Elize. Die een is ʼn totale, flambojante ekstrovert en die ander ʼn introvert wat tog baie sterk standpunt oor sekere kwessies kan inneem.

“Al twee my kinders is uitgesproke oor sekere gender-sake, hulle is polities baie bewus en gesprekke met hulle ontaard gou in ʼn debat. Dis vir my baie lekker om twee kinders te hê wat my vriende is en wat ook ernstig voel oor die goed waaroor ek ernstig voel.” Sy lag en voeg dan by: “Dis baie lekker om na elf jaar van enkelma wees, twee kinders te hê wat uiteindelik inkomstebelasting betaal!”

Elize, die skrywer van liefdesverhale en Christelike fiksie, bestuur ook haar eie digitale platform Rhombus Media waarop sy omgewingstories deel. Haar kinders se pa was Engels, maar Elize sê in die huis het sy daarop aangedring dat hulle Afrikaans praat, dit is immers hul moedertaal. Sy glo vas daaraan die veiligheid en geborgenheid wat Afrikaans, hul moedertaal, aan hulle gegee het, het hulle besonder goed toegerus om ook uitstekend met Engels oor die weg te kom. Tans werk Ruby in ʼn Engelse omgewing en Edyth doen haar doktorsgraad in Engels aan ʼn Britse universiteit, maar wanneer hulle by die huis is, praat hulle Afrikaans.

“Ma-wees is vir my die unieke manier wat die Here geskep het om ʼn mens se karakter te ontwikkel. Dis ʼn wonderlike oomblik as ʼn ma begin om by haar kinders te leer. Hierdie twee millenniërs van my benader die lewe soos ʼn tipiese millenniër, van ʼn totaal ander kant af. Elke keer as ek met hulle gesels, is dit vir my ʼn verjongingskuur. Ek weet nie wat mense sonder kinders doen nie, maar ek vermoed die Here het hulle karakters klaar afgerond. Mense met kinders het nog baie persoonlikheidsontwikkeling nodig en hoe meer kinders jy het, hoe meer ontwikkel jou karakter,” sê Elise.

Die een ding wat sy by haar ma, Fransie Williams, geleer het en wat sy ook aan haar kinders geleer het, is dat ʼn mens altyd ʼn keuse het om nee te sê. Sy het by haar ma ook geborgenheid ervaar en geleer hoe belangrik dit is om vir jou kinders beskikbaar te wees. Selfs al beteken dit dat jy soms op ʼn vliegtuig moet klim en ʼn krisis by ʼn kind gaan oplos.

“Of ek nou met die een kind by die Labia ʼn fliek oor ʼn skrywer of joernalis gaan kyk, en of ek met die ander een in die koffiewinkel, Motherland, naby die katedraal in Kaapstad sit, altwee besig op ons skootrekenaars, dis heerlik. Die grootste vreugde lê daarin dat hulle juis anders en nie eenders is nie!”

Annelien Pienaar, die avontuurlustige kok wat ʼn heerlike nuwe swenk in Suid-Afrikaanse kookkuns gegee het met haar webblad, Boerekos met ʼn Twist en wat nou ook al ʼn gelyknamige boek en TV-reeks het, verwys altyd liefderik na haar drie telge as die drie filistyne. Hulle is Peet (18), Hardus (14) en Anè (7). Om ʼn ma te wees wat matriek en graad 1 in een jaar skryf, is glad nie maklik nie, lag Annelien.

Sy vertel dat sy, toe al drie kinders reeds daar was en lankal hulle familiename oftewel verbuigings daarvan, gekry het, op die betekenisse van hulle name afgekom het. Peet, oftewel Petrus, verwys na rots, iets wat Peet beslis is, want hy is sterk en standvastig. Hardus se doopname verwys na ʼn kryger met ʼn spies en die beskrywing pas haar rooikopkind goed. Anè se naam beteken gebed. Op ʼn tydstip wou die twee boeties baie graag ʼn sussie hê en Annelien het verduidelik dat dit nie sal gebeur nie, maar dat hulle wel daaroor kan bid. Na drie maande het sy vir hulle gesê dat hulle nou die saak moet oorgee aan die Here. Tot haar groot verbasing het sy ontdek dat sy reeds drie maande swanger was, dus was Anè die antwoord op baie gebede.

Vir Annelien lê die vreugde van ma-wees in die gebalanseerdheid van haar kinders. “As ek kyk hoe ongelukkig party gesinne is, dan voel ek so dankbaar oor die harmonie in ons huis. Daar is wedersydse respek van die kinders vir mekaar, maar ook vir my en hul pa, Hanru. Vir ons is dit heerlik om in die somermaande op die stoep, wat op die Magaliesberge uitkyk, te sit en kyk hoe die drie in die swembad baljaar. Natuurlik is daar altyd ietsie lekker soos nat beskuit of koue waatlemoen vir die honger wolwe wat uit die swembad kom.”
Een van die dinge waaroor Annelien baie sterk voel, is dat haar kinders ordentlike Afrikaans in hulle teksboodskappe moet gebruik. Indien sy ʼn boodskap vol SMS-taal kry, beantwoord sy dit glad nie. Sy is dankbaar om te sien dat hulle al drie goeie Afrikaans in die regte konteks kan gebruik.

Soos wat dit ʼn uithalersjef betaam, hou sy daarvan om haar kinders met lekker kos te bederf. Solank daar genoeg vleis op die spyskaart is, eet hulle alte lekker, lag sy. Tog bly die gunstelingdis nou maar ʼn regte bord boerekos met soet en sout groente, stysel en ten minste twee soorte vleis.

Annelien sê sy het twee goed by haar ma Hantie geleer: “In die eerste plek my geloof, en dan ook my positiwiteit. Ek probeer hard om dit aan my kinders oor te dra en vir hulle te wys hoe ek dit in my lewe toepas. Al gaan dit ook soms swaar, word daar elke dag vir ons voorsien. As dit eendag al is wat hulle van my kan onthou, dat ek gelowig geglo het dat alles ten goede sal uitwerk, sal dit vir my goed wees. Dit, en miskien hoe ek altyd oor iets kan lag.”

Ambassadeurs vir Afrikaans spog oor hul ma’s se wyshede

Charles Skeen: My ma, Maria Magdalena Elizabeth, se waardevolle wysheid was: Kyk altyd na die son wanneer dit opkom en bid vir wat die dag gaan bring. Hy sal met jou wees.

Therien Roodt: My ma, Elmarie, het menige kere die woorde van Spreuke 31:10 aan my voorgelees, selfs toe ek nog ʼn klein dogtertjie was: “ʼn Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.” Dan het sy ook die volgende raad aan my gegee: “Werk hard my kind en gee net altyd jou bes want dis hoe jy die vrugte pluk. Pas jouself op en kyk mooi na jouself. As jy sien jou knieë raak skurf, is dit ook oukei, want jy is saans op jou knieë, besig om te bid. Dit is waar jou krag vandaan kom.”

Jody Hendricks: My ma, Beulah, se wyse woorde was altyd: Dit wat jy doen as niemand jou sien nie, is wie jy werklik is.

Jannie du Toit: My ma, Marthie du Toit, was ʼn engel op aarde. Sy het altyd die volgende woorde gesing, dit bedoel en self beoefen. Al is die woorde Engels, is dit ʼn waarheid wat in enige taal geld: “Be unto others kind and true, always unto others do as you’d like others do to you.”

Su-An Müller-Marais: My ma, Johanna Müller, en ek doen ʼn heerlike ma en dogter verhoogstuk wat ons Ma-en-Dogter-Mal(l)emeule noem en wat ons op Moedersdag opvoer. By haar het ek deur die jare die volgende wyshede gehoor: Moenie jou ontstel as iets nie uitwerk soos jy beplan het nie. Berus by die feit dat alles ten goede sal meewerk. ’n Man is fisies nie in staat daartoe om iets terug te sit op die plek waar hy dit gekry het nie… en om dit te vind as hy dit weer soek nie. ʼn Goeie vrou se kombuis-oppervlak moet altyd skoon wees, selfs al is jou skottelgoed vuil. Die laaste waardevolle wysheid is: Die liefde oorwin alles.

Francois Meyer: My ma, Anne-Marie Meyer, het my geleer dat ek my groente moet eet, want soms kan dinge waarvan jy nie hou nie jou op die ou end sterker maak.

Anna Davel: My ma, Susan Davel, het my geleer dat ʼn mens nie kleinserig moet wees nie en dat selfbejammering ook ʼn vorm van selfsugtigheid is. Verder is haar raad ook om nie toe te laat dat ander mense of omstandighede jou waardes bepaal nie. Jy moet dit self doen.

Charnelle Fortuin: Die een ding wat my ma, Mitsi Groenewald, my geleer het, is dat daar altyd ʼn rede is om te glimlag. Depressie is vir mense wat dit kan bekostig. As jy dit nie kan bekostig nie, moet jy dit nie lay-by nie.

Heleen Meyer: My ma, Letteli Nel, se goeie raad is om nooit jou brûe te verbrand nie, al is jy ook hoe kwaad vir iemand. Jy moet ook nie iets van iemand sê wat jy nie bereid is om voor hulle te sê nie.

Laurinda Hofmeyr: By my ma, Joan Hofmeyr, se voordeur hang ʼn bordjie wat sê: Young at heart, slightly older in other places.

Fanus Minnaar: Dinge wat ek by my ma, Isabel Minnaar, geleer het, is: As iets lekker lyk om te eet, eet dit. As iets lekker lyk om te doen, doen dit. As jy iets doen, doen dit tot die beste van jou vermoë. Wat my ma my ook gesê het, is mense se opinies en stories is als goed en wel, maar persoonlike ervarings is beter.

Schalk Bezuidenhout sê ʼn stukkie wysheid oor sy ma, Gerda, is: Moet haar nie kwaad maak nie!

Sybrand Harris: Ek dink my ma, Marlene, se wysheid het gelê in haar aanvaarding – die spasie wat sy geskep het om dit vir myself uit te pluis, te sê as sy dink ek is nou deksels naby aan droogmaak en om, maak nie saak wat ek toe aangevang het nie, my altyd te omhels in liefde. Ek sal sê haar grootste wysheid was haar stilte en haar liefde, en dit is blywend!

Jopie Coetzee: Wat ek kan onthou, is dat my ma, Marietjie, gesê het ʼn mens moenie ʼn ding begin as jy dit nie kan klaarmaak nie. Sy het ook gereeld vir my gesê die gesondste ding in die lewe is gesonde verstand.

Driekie Grobler: My ma, Rita Maritz, se wonderlike wysheid is dat jy nooit sal kan bepaal wat ander mense vir jou sê, wat hulle teenoor jou doen en wat hulle oor jou dink nie, maar jy het altyd ʼn keuse hoe jy daarop reageer. Dít gaan van jou ʼn wenner of ʼn verloorder maak.

Christa Steyn: My ma, Jeanette, is regtig ʼn ystervrou wat baie mooi na ons gesin kyk. Ek kan net dankbaar wees vir die voorbeeld wat sy stel. Ek het soveel liefde, respek en waardering vir my ma as vrou en as steunpilaar vir die hart van die huis. My ma is regtig die toonbeeld van ʼn vrou en hoe ʼn vrou haarself as ʼn dame moet gedra. Jy kan haar altyd deur ʼn ring trek, maak nie saak watter tyd van die dag dit is of waarheen sy op pad is nie. Sy lyk altyd netjies, is altyd versorg en doen altyd moeite met haarself. En dit is een ding wat sy nogal vir ons drie dogters ingeprent het: Maak nie saak wat jy aanhet nie, solank jy net netjies lyk. Al trek ʼn mens ʼn sweetpakbroek aan, en jy gaan winkels toe, moet jy netjies lyk. Jy moenie onversorg of onvroulik lyk nie. Sy het ons deurgaans bewus gemaak daarvan: Jy is ʼn vrou en jy moet so optree.

Gert van Tonder: My ma, Susanna, het altyd gesê: Waak daarteen wat jy doen en wat jy sê, want jou naam loop vooruit en jy kom agterna. Ware woorde voorwaar!

Ma se wysheid

Ons leer so baie by ons ma’s en dikwels word haar wyse woorde ons lewenskompas. Kan jy nog onthou? Deel jou ma se wysheid en haar woorde word verewig op ’n digitale kaartjie wat jy kan druk of aanstuur. Jy het nog tyd tot 11 Mei. Klik hier.