Sue Pyler: ’n Kletskous soos min!

Aangename kennis

Kleintyd het Sue Pyler daarvan gedroom om eendag ’n mediese dokter te word. In haar graad 12-jaar het juffrou Louise Louw van Hoërskool Outeniqua haar talent raakgesien, haar ingeskryf vir ’n nasionale dramakompetisie en toe sy dit wen, het sy haar loopbaankeuse vir die eerste keer heroorweeg. Sue, wat grootgeword het in George, het besluit om eers ná skool ’n oorbruggingsjaar te volg. Daardie jaar het sy gemeenskapsradiowerk gedoen, toneel gespeel en besluit die teater waarin sy eendag gaan beland, gaan nie ’n teater by die hospitaal wees nie. Sue het ingeskryf vir ’n dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch en in haar finale studiejaar die kans gekry om by gemeenskapsradiostasies te begin uitsaai. Na ses maande het RSG haar genooi om die program Befonk aan te bied en sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt. Sue moes aan die begin van 2015 haar tassies pak en in Johannesburg kom vestig toe sy aangestel is as aanbieder van Middag op RSG. Selfs die Hoëveldse donderstorms kry dit nie reg om vir Sue stil te maak nie. Om te praat laat immers die wêreld om haar draai.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Sue se Afrikaans is kleurvol want sy hou daarvan om so ver as moontlik elke streek se Afrikaans deel te maak van die Afrikaans wat sy praat. Die egtheid en eiesoortigheid van streekstaal soos die van die Noord-Kapenaars, die mense van die Kaap en die Karoo onder andere, bekoor haar.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sue sê die lewe in Johannesburg is grotendeels Engels, maar sy geniet dit om Afrikaans by die werk te praat. Elke kuier by haar familie is heerlik, want dan word daar behoorlik in Afrikaans gekuier.

Haar projek:

Middag op RSG is propvol interessante nuusbrokkies en Sue en Ettienne Ludick gesels land en sand met die luisteraars. As kind is sy gereeld stilgemaak omdat sy kwansuis te veel gepraat het, maar as radio-omroeper is dit beslis ’n pluspunt om so glad met die mond te wees. Sue word ook gereeld gebruik vir boekvoorlesings op RSG en sy het al onder meer Chris Karsten se Die dood van ’n goeie vrou en Anastasia de Vries se Taxi huis toe voorgelees.

Maak kontak:

Stuur ’n e-pos aan suepyler@gmail.com of volg haar op Facebook of Twitter:
https://www.facebook.com/suretha.pyler
https://twitter.com/SuePyler