Dana Snyman: Storiesendeling

Aangename kennis

Noem die naam Dana Snyman en een woord kom dadelik by jou op: stories. Oor die jare het Dana Snyman homself bewys as ’n uitmuntende storieverteller. Sy stories is kaalvoetstories maar altyd geskryf met patos, ’n traan by die lag. As alleenkind moes hy vir homself maats in sy verbeelding optower wat saam het hom verskeie avonture beleef het.

Kleintyd het Dana nooit daarvan gedroom om boeke te skryf nie. Na sy weermagopleiding het hy ’n paar uiteenlopende werke gedoen – hy was ’n veiligheidswag, ’n skakelbordoperateur, ’n onwillige verkoper van fliekkaartjies en hy het in ’n boekwinkel gewerk. Op ’n relatief laat ouderdom het hy besluit om joernalistiek te gaan studeer. Sy loopbaankeuse is veral gemotiveer deur die feit dat hy altyd graag koerant gelees het.

Dana se loopbaan skop af by Die Laevelder. Daarna het hy as misdaadverslaggewer by Beeld gaan werk. Sy volgende skuif was na die Huisgenoot en dis in hierdie tyd wat Dana se skryfwerk hom bo die res laat uitstaan het. In 2007 word hy by die reistydskrif Weg as reisjoernalis aangestel. In 2005 word sy eerste boek, Uit die binneland, by Human & Rousseau gepubliseer en dis dadelik ’n blitsverkoper. ’n Hele paar bundels het oor die jare uit Dana se pen verskyn.

Dana is ook ’n bekroonde rubriekskrywer en het onder meer al ’n hele paar ATKVeertjie-toekennings vir sy rubrieke ontvang. In 2008 waag Dana ’n heerlike sprong toe die akteur Frank Opperman hom nader om vir hom ’n eenmanstuk te skryf. Die Uwe Pottie Potgieter was ’n dawerende sukses en is intussen opgevolg deur Wyk 14, Rooi Kaart en Die Klaagliedere van ds Tienie Benade. Dana se skryfwerk gekombineer met Frank Opperman se talent op die verhoog, maak dit elke keer ’n wenresep.

Wanneer Dana nie êrens heen op pad is nie, is sy tuiste sy huis in Jacobsbaai, aan die Weskus, wat ook as sy kantoor dien. Die amperse Karoolandskap van die Weskus wat in die somermaande taamlik dor is, gekombineer met die see aan die ander kant, is vir Dana die ideale kombinasie.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Dana sê sy Afrikaans klink nie oral dieselfde nie. Dit kom verskillend van verskillende mense en gemeenskappe in die land se tonge af, en dis mooi en goed só. Sy Afrikaans ken ook nie velkleur nie. Sy Afrikaans verbind hom aan almal en alles rondom hom. Ook die landskap, die fonteine en riviere en berge, praat Afrikaans. Wanneer hy deur die land ry, merk hy altyd op hoe die bordjies langs die pad ook Afrikaans praat. Dana sê hy glo die beste manier om vir Afrikaans se voortbestaan te veg, is om die taal met respek te gebruik. Wat jy sê, is dikwels ook wat jy doen.

Hoe leef Dana Afrikaans?

Afrikaans is vir Dana soos suurstof wat ’n mens se liggaam natuurlik aan die lewe hou. Afrikaans is vir hom iets onafwendbaar. Noudat hy ouer word, probeer hy altyd om goeie, suiwer Afrikaans te praat. Afrikaans mag dalk amazing wees, sê hy, maar hy verkies om sommer net te sê: Afrikaans is ’n mooi taal. Hy probeer om ’n Afrikaans te praat en skryf wat helder en eenvoudig en ’n bietjie aards is.

Sy projek:

Dana is as’t ware ’n storiesendeling wat met sy skryfwerk hard veg dat die kuns van storievertel nooit verlore gaan nie. Dana se nuutste boek, In die blou kamp. is Suid-Afrika se heel eerste versameling Facebook-stories. Die skrywer het baie van sy verhale aanvanklik daar geplaas en só heelwat reaksie ontlok. Dis vir Dana altyd besonder lekker wanneer mense hul stories met hom deel. Sy ander boeke wat elk ’n uitmuntende versameling besonderse vertellings is, is: Op die toneel, Hiervandaan – Op reis in die geliefde land, Onder die radar, en Anderkant die Scrap. Dana bied ook tans ’n reisprogram, Op pad met Dana, op Via – kanaal 147 – aan.

Maak gerus kontak:

Indien jy een van jou stories met Dana wil deel, stuur ’n e-pos aan danaskrywer@gmail.com

Ambassadeursprojekte:

Klik hier om meer te leer van ons ambassadeursprojekte.