Sophia Kapp: Haar skryfwerk voed haar siel

Aangename kennis

Sophia Kapp, skrywer van opwindende, byderwetse liefdesverhale, het vroeg in haar lewe met boeke kennis gemaak. Sy het in Durban grootgeword en as enigste kind was ’n storieboek die heel beste geselskap. Sophia het ’n MA-graad in Tale aan die voormalige UOVS behaal en lank in ’n akademiese rigting gewerk. Terwyl sy aan die Noordwes-Universiteit Vertaal- en Tolkstudie doseer het, het sy vir twee agtereenvolgende jare die Rapport-prys as mees inspirerende dosent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte gewen. Terwyl Sophia as ’n voltydse taalpraktisyn by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gewerk het, het sy besluit om haar regterbrein uit te daag en haar eerste liefdesroman geskryf. Hierdie verhaal, Die erflating, is met die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans bekroon. Nog twee van haar boeke is met dieselfde prys bekroon. Sy is benewens skrywer ook ’n voltydse taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Indien sy nie besig is om te skryf nie, kuier sy graag met vriende. Sophia het een seun wat haar hele hart is en hulle woon in Centurion.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Sophia sê haar Afrikaans omarm haar. Dit is wyd, ryk, breed, diep en omvattend. Dit is robuus genoeg om die lewe in sy volle omvang vas te vang en fyn genoeg om die broosste in menswees te beskryf.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sophia verdien haar brood en botter in Afrikaans en daarom is haar oorlewing direk gekoppel aan die oorlewing van Afrikaans. Elke oomblik van haar werksdag is in Afrikaans ingebed.

Haar projek:

As taaladviseur by VivA help sy om die taal gebruikersvriendelik te maak. Die webtuiste www.viva-afrikaans.org het onder meer ’n taalnavraagdiens wat gratis beskikbaar is vir enige gebruiker wat registreer en die app aflaai. VivA het ook 17 woordeboeke op hul databasis. Tans is daar ’n heerlike kompetisie, Varsgebek, waarmee enigeen met nuwe of onopgetekende woorde of uitdrukkings, opwindende pryse kan wen. Sophia se jongste roman, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva het vroeg in 2016 by LAPA-uitgewers verskyn en sy is reeds besig met ’n volgende verhaal.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan sophiakapp@gmail.com
Besoek www.viva-afrikaans.org