Sinki Mlambo: Sinki bou brue met tale

Aangename kennis

Om ’n pragtige, jong, sjokoladebruin Xhosavrou teë te kom wat perfekte Afrikaans praat, slaan sommiges stom maar skep ook geleentheid vir interessante gesprekke. Sinki Mlambo, ’n kommunikasiekundige by Revlon gebruik soms hierdie verrassingselement om mense bewus te maak dat daar nie meer plek is vir stereotipes in die Afrikaanse gemeenskap nie. Hierdie boorling van Oos-Londen was vir lank die enigste swart leerder in haar skool, Grens Afrikaanse Laerskool . Sy het Kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universiteit studeer en was primaria van haar koshuis, Oosterhof, asook lid van die Studenteraad. Sinki het haar keurige Afrikaans by haar pa, ’n Afrikaans-onderwyser, geleer maar tog is haar moedertaal Xhosa. Sinki sing pragtig en sy luister graag Afrikaanse musiek, veral die wat in die kategorie rooiwynmusiek, soos sy dit noem, val. Dis musiek van Amanda Strydom, Anna Davel en Johannes Kerkorrel, maar die kontemporêre klanke van Bouwer Bosch, HemelBesem en Karen Zoid laat ook haar hart vinniger klop.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Sinki sê haar Afrikaans lyk soos Rubik se kubus, daar is vele gesigte/fasette. Sy is veral opgewonde daaroor dat sy dit telkens regkry om die tradisionele prentjie van ’n Afrikaanssprekende te verander. Al is Xhosa haar moedertaal, is Afrikaans ’n belangrike deel van wie sy is.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sinki noem haarself ’n Afroboer en neem aktief deel aan gesprekke oor die toekoms van Afrikaans. Sy dien ook op die direksie van die Taalraad. Sinki hou van Afrikaanse letterkunde en die Bybel op haar bedkassie is ’n Afrikaanse Bybel.

Sinki se projek:

Daar is vir Sinki niks lekkerder as om iemand in hul moedertaal te groet nie, want dit vorm ’n band wanneer iemand sien jy poog om die taal van sy of haar hart te verstaan. Sy glo veral dat meertaligheid jou vlerke gee. Sinki nooi jongmense uit om hande te vat en te help om interkulturele gapings in ons land met taal te oorbrug.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan sinkimlambo@gmail.com