Sandra Prinsloo

Sandra Prinsloo: Gelukkig op die verhoog

Sandra Prinsloo se loopbaan in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf strek oor meer as vier dekades en ’n mens kan nie anders as om haar as een van ons heel blinkste sterre te beskou nie. Jamie Uys se rolprent,The Gods must be Crazy, waarin sy te sien was as Kate Thomson, het jare lank aaneenlopend in oorsese filmteaters gedraai en menige mense wêreldwyd het vir Sandra in aksie gesien. Tog het sy nooit besluit om haar roem oorsee te gaan soek nie. Oor die dekades heen het sy plaaslik van krag tot krag in uiteenlopende verhoog-, televisie- en rolprentproduksies gegaan. In haar loopbaan is sy male sonder tal bekroon vir haar uitmuntende spel. Dit het egter nie bloot net by toneelspeel gebly nie. Sandra het haarself ook as uitmuntende regisseur bewys.

Min het Sandra op vyfjarige ouderdom, toe sy begin het met balletklasse, besef dat sy nie roem as ballerina nie, maar wel as aktrise, sou verwerf. As kind was sy skaam en teruggetrokke, maar nadat sy sekere karakterrolle in ballet met groot sukses aangepak het, het sy besluit om drama by die Universiteit van Pretoria te gaan studeer. Haar eerste werklike kennismaking met die teater was in haar hoërskooldae aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria waar sy in die Breytenbachteater plekke aangewys het. Na voltooiing van haar Honneursgraad in drama, het sy by die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste aangesluit. Wat vir haar veral uitstaan as ’n hoogtepunt by TRUK was om saam met die regisseur Francois Swart, te werk na wie sy as ’n visioenêre regisseur verwys.

Sandra het haarself gou bewys en reeds op die jong ouderdom van 27 het sy die rol van die formidabele Cleopatra vertolk. Sandra was ook te sien as Tiemie in PG du Plessis se Siener in die Suburbs waarin Marius Weyers die rol van Jakes vertolk het. Die twee sou dikwels daarna ook in romantiese rolle teenoor mekaar te staan kom. Sandra sonder die rolle van Hedda Gabler, Cleopatra, Katharina (Vasvat van ’n feeks), Nina (Die Seemeeu) en Magdaleen (Die Naaimasjien), as hoogtepunte in haar verhoogloopbaan, uit.

Benewens haar verskyning in meer as honderd toneelstukke het Sandra ook in verskeie dramas voortreflike spel gelewer. Dit sluit reekse soos Known Gods, Erfsondes, Konings, Torings, Hartland en Fluiters in. Sy het ook twee heerlike geselsprogramme aangebied, RaakPraat met Sandra op SABC2 en Sandra op ’n drafstap op kykNET en hierin het sy die geleentheid gekry om met verskillende gaste oor ’n breë spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing te klets.

Die lys toekennings wat Sandra in haar loopbaan ontvang het, is lank. Daar is onder meer Kannas, Fiëstas, Aardklop-toekennings en ’n hele swetterjoel ander pryse, maar een wat beslis uitstaan is die Orde van Ikhamanga (silwer) wat in 2014 aan haar toegeken is vir haar uitmuntende bydrae tot die kunste.

Sandra het al in ’n onderhoud na haarself verwys as ’n sigeuner wat maklik van een plek na ’n ander verhuis, maar haar permanente tuiste is haar pragtige huis in Kalkbaai wat oor Valsbaai uitkyk. Dis daar waar al haar hondekinders ook woon en waarheen sy elke keer terugkeer. Sandra glo daaraan om ’n fikse en gesonde leefstyl te beoefen en wanneer sy kans kry, gaan stap sy vroegoggend met haar honde langs die see. Sy doen ook graag Pilates-oefeninge of swem in die see.

Sandra lag en sê sy probeer hard om nie haar tale te meng nie, want mev Rupert het destyds vir haar gesê om jou tale te meng, is bloot intellektuele luiheid. Tog praat sy glad nie Afrikaans wat jou laat voel dit hoort in ’n borstrok nie. Al werk sy soms ook in Engels, bly Afrikaans vir haar die taal waarin sy haarself die beste en die maklikste kan uitdruk. Vir haar is Afrikaans ’n pragtige, moderne taal wat met trots haar plek in ons samelewing kan volstaan.