Rumarcques, alias Oxijin, help om talent te slyp

Aangename kennis

Al het Rumarcques Gelderbloem se lewenspad hom al na ver plekke soos die Noord-Kaap geneem, is hy in murg en been ʼn Worcesteriet. Rumarcques, wat ook bekend is as die kletsrymer Oxijin, het gematrikuleer aan Worcester Sekondêr. Na skool het hy by FASfacts in Worcester, begin werk, ʼn organisasie wat werk om mense bewus te maak van die skadelike gevolge van Fetale Alkohol Sindroom, en te help om dit te voorkom. Hier het hy die kletsrymer Simon Witbooi raakgeloop en die twee het saam begin werk aan projekte en sekere idees wat ʼn meer kunstige aanslag het. Op dié wyse is sy kuns ontwikkel en het hy die nodige skryftegnieke aangeleer en oor die jare het Rumarcques en Simon al dikwels saamgerap. Rumarcques het ook betrokke geraak as mentor by die ATKV se Crescendo Liedjieslypskool waar hy ander jong musikante help om hulle kuns te slyp.

Vyf kitsfeite oor Rumarcques

  • Rumarcques is aan die einde van 2015 gediagnoseer met kanker maar na behandeling is hy tans in remissie.
  • Rumarcques se gedig Grensloos, wat hy ná hierdie ervaring geskryf het, word gebruik as tema vir die ATKV Crescendo-konsert met dieselfde titel.
  • Op Worcester, is hy betrokke by Expression Sessions. Dit is ʼn platform vir mense om hulle kunste (ongeag wat dit is) ten toon te stel.
  • Hy is die pa van ʼn tweejarige dogtertjie.
  • Rumarcques hou van lekker kos soos ʼn heerlike potjiekos en veral enige Afrikaanse poedings soos Telefoonpoeding, ʼn gunsteling wat sy ouma altyd gemaak het.

Rumarcques oor Afrikaans?

Afrikaans is vir Rumarcques die taal waarin hy homself die beste kan uitdruk en die taal van sy hart. Dis vir hom heerlik om Afrikaans as sy eie te kan gebruik in die kuns wat hy beoefen. Hy glo vas elkeen het ʼn plek in Afrikaans se heerlike diversiteit en daarom mag ons almal eienaarskap van die taal neem.

Sy projek

Afgesien van besoeke aan skole waar hy leerders inspireer en help met die ontwikkeling van hul talent, tree Rumarcques gereeld op as seremoniemeester by verskillende plekke soos onder meer die Grensloos Crescendo Konsert. Hy en Simon Witbooi, oftewel HemelBesem, het ook vroeër vanjaar ʼn paar plekke besoek met hulle konsert Straatpredikante. Rumarcques is ook ʼn omroeper by ʼn plaaslike radiostasie, Vallei FM, en sy program, Jeugfokus, is ʼn weeklikse hoogtepunt.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan oxyjin@besembos.co.za of besoek sy Facebookblad.

Sien ook: https://www.facebook.com/1513753085334262/videos/1523632667679637/