Michael le Cordeur

Michael le Cordeur: Pedagoog en taalman van Wellington

Wellington, die geskiedkundige Bolandse dorpie in die Wagenmakersvallei, het ’n ryk tradisie van opvoedkundiges wat hier werksaam was. Dit is dus die gepaste tuiste vir dr Michael le Cordeur, Hoof van die Departement Kurrikulumstudie aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch. Hy het grootgeword in Wellington en in 1976 aan Hoërskool Bergrivier gematrikuleer. Hy behaal ’n BA- en BA Honneursgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland. By hierdie universiteit was hy bevoorreg dat professore soos Jakes Gerwel, Tony Links en Adam Small help slyp het aan sy lewe. Hierna verwerf hy ’n BEd aan Unisa asook ’n bestuurskwalifikasie aan die Nagraadse Bestuurskool van die Universiteit Stellenbosch. Hy behaal ook ’n MEd in Afrikaanse Kurrikulumstudie en ’n PhD in Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Michael skop sy loopbaan af as ’n Afrikaans-onderwyser aan sy alma mater, Hoërskool Bergrivier, maar bly nie vir altyd net ’n gewone onderwyser nie. Eers word hy bevorder as adjunkhoof van Weltevrede Sekondêr, daarna as skoolhoof van Hoërskool Kylemore en later as kringbestuurder van Onderwys op Stellenbosch.

Vanaf die Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie skuif hy na die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit van Stellenbosch waar hy Afrikaans-Didaktiek op voor- en nagraadse vlak doseer. Michael se eie navorsing fokus sterk op die verbetering van leerders se lees- en skryfvermoë met behulp van die media, inligtingstegnologie, taalbeleide, moedertaalonderrig en taalidentiteit.

Hy is die skrywer en medeskrywer van etlike handboeke. Saam met Marlene le Roux skryf Michael die boek Die Klopse van Wellington, 100 jaar se onvertelde stories (2013). In 2015 het hy ’n hoofstuk gelewer in Naspers se eeufeesboek oor Die Bydrae van Bruinmense tot die Afrikaanse Media. Michael neem aktief deel aan die openbare debat oor taal, die onderwys en sport deur middel van gereelde rubrieke in die plaaslike media. Sy rubrieke verskyn gereeld in verskeie koerante, soos Die Burger, Rapport, Die Beeld en die Paarl Pos.

Michael se jongste boek, Ons kom van vêr, is op 16 Desember 2016, vrygestel. ‘n Boek wat hy aan prof Adam Small opgedra het, omdat hy volgens hom “die moed gehad het om terug te keer na die openbare lewe nadat hy lank met apartheid geworstel het.” Michael beskou dit dan ook as ‘n wonderwerk van versoening. Volgens dr Franklin Sonn, slaag hierdie gesprek oor Afrikaans en die bruin mense daarin om “veral bruin Afrikaanssprekendes se trots in hul taal te laat herleef.”

Michael se bydrae is nie bloot net beperk tot die akademiese sy van die lewe nie. Hy dien in verskeie gemeenskapsorganisasies in leiersposisies waaronder 18 jaar as voorsitter van die Skolesportvereniging. Hy is ook voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee en ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad. In hierdie raad het hy veral ’n leidende rol geneem om alle Afrikaanse organisasies te verenig in een verteenwoordigende liggaam. Hy is tans ’n direksielid van die ATKV, die SBA en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en is ook verkies tot die uitvoerende komitee van die US se Konvokasie. In 2008 word hy deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon met die Elisabeth Steijn-medalje vir sy bydrae tot onderwys. In 1997 ontvang hy ’n premierstoekenning vir sy bydrae tot gemeenskapsontwikkeling en in 2014 het die Universiteit van Stellenbosch sy hoogste toekenning, die Kanseliersprys, aan hom toegeken.

Michael se vrou Sonia is ’n Afrikaans-onderwyser aan Hoërskool Bergrivier in Wellington. Hulle het twee kinders, ’n seun en ’n dogter. Mischke, hul dogter, werk tans as ’n bemarker. Sy het ’n Hons BCom verwerf en hul seun, Estéve is besig met ’n honneursgraad in inligtingstegnologie. Michael is baie trots op sy stokperdjie, die kweek van krisante wat tot ’n fyn wetenskap ontwikkel is. Hierdie liefde het hy by sy pa geërf.

Michael vertel dat al het sy ouers finansieel baie swaargekry, was daar altyd meer as genoeg leesstof in die huis. Daar in sy ouerhuis het hy die poësie van Adam Small en NP van Wyk Louw ontdek en is ’n diep liefde vir ons taal by hom gekweek. Hy wil mense toenemend aanmoedig om in die voetspore van Nelson Mandela te volg wat ’n leidende rol gespeel het om Afrikaans te help transformeer van ’n taal van verdrukking, tot ’n taal van versoening en omhelsing. Afrikaans het nou sy regmatige plek in ons land gekry, sê hy.