Laurinda Hofmeyr: Sy wil mense aanraak deur musiek

Aangename kennis

Laurinda Hofmeyr, ’n veelbekroonde musikant, het die vermoë om met haar musiek ’n musikale prentjie te verf van woorde wat as gedigte met reg op hul eie voete kan staan. Laurinda het in ’n musikale huis grootgeword en reeds in Graad 10, aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria, het sy die Groot Verseboek oopgeslaan en ’n melodie by HA Fagan se “Ek het ’n huisie by die see” gevoeg. Terwyl sy besig was met haar BMus Ed- graad aan die Universiteit van Pretoria, het Laurika Rauch haar genader om hierdie komposisie op ’n nuwe CD op te neem en op daardie wyse het “Huisie by die see” volksbesit geword. Laurinda het al verskeie CD’s die lig laat sien en talle bekroonde produksies op die planke gebring. Laurinda woon in die Paarl en is getroud met Jantjie Taljaard, ’n mediese dokter en die twee het ’n dogtertjie, Joanie.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Laurinda sê dat hoewel sy haar taal dikwels meng, sy toenemend ’n waardering het vir mense wat iets op ’n gemaklike, helder en skerp manier in suiwer Afrikaans kan sê. Van die kragtigste poësie is egter ook in die mengelmoes van Kaapse Afrikaans te vinde. Afrikaans is in wese ‘n bastertaal. Hoe meer variante, hoe ryker die taal.

Hoe leef sy in Afrikaans?

In die Paarl waar sy woon, praat die mense meestal Afrikaans. Sy lees graag in Engels en Afrikaans, maar dis merendeels Afrikaanse poësie wat haar inspireer om skeppend te wees en in die woorde te delf totdat daar ’n melodie in haar gedagtes vorm. Sy vind Antjie Krog se “Met woorde soos met kerse” waarin poësie uit al die verskillende inheemse tale in Afrikaans vertaal is, ‘n baie waardevolle boek omdat mens toegang kry tot ander inheemse tale se kultuurskatte deur jou eie hart se taal.

Haar projek

Laurinda se vierde CD wat ek wou sê het in 2015 die lig gesien met toonsettings van onder meer C. Louis Leipoldt se Sekretarisvoël, NP van Wyk Louw se Ons kan nie praat nie en Gerrit Brand se Onse Vader. Laurinda het ook pas ’n pragtige melodie by DJ Opperman se Negester en stedelig gevoeg

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan trekeend@mweb.co.za of besoek haar webtuiste: www.laurindahofmeyr.co.za