Izelle Venter

Izelle Venter: Sy hou van uitdagings

Izelle Venter gooi nie maklik tou op wanneer sy haar oog op ’n sekere doelwit het nie. Sy het ingeskryf vir ’n regsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch, maar gou geweet die regte is nie die rigting wat haar gelukkig gaan maak nie. Op universiteit het sy kennis gemaak met die joernalistieke wêreld in die vorm van die universiteit se joolblad, Akkerjol en die Maties se intervarsitykoerant, Tamatie. Al wou sy haar hele lewe lank nuus lees op televisie, het sy op die wyse die bekoring van geskrewe joernalistiek ontdek. Vol selfvertroue het sy ingeskryf vir ’n Honneursgraad in joernalistiek, maar dit het eers mooipraat gekos voordat sy tot die kursus toegelaat is. Vandag is sy baie dankbaar vir daardie stukkie genade, want so het sy die geleentheid gekry om werklik haar drome na te jaag. Reeds in 1998 het sy besef sy is een van die gelukkige mense wat die regte beroep gevind het.

Haar loopbaan in die joernalistiek het met ’n vaart weggespring as assistent by De Kat. Later het sy oorgeskuif na Caxton waar sy as bylae-assistent van Marie Claire, Style, Food & Home en Living & Loving gewerk het. Haar eerste pos as iemand wat die leisels moes vashou, het gevolg toe sy as assistentredakteur van Skottel/Dish aangestel is. Hierna was sy skrywer en besturende redakteur by VISI, assistentuitgewer van Eat-In en toe redakteur van TVPlus en later Move!

Izelle het haar gou onderskei as ’n raakvatredakteur, ten spyte van die feit dat sy baie jonk was toe sy van hierdie redakteursposisies moes vul. Sy het nie geskroom om sekere veranderings by die tydskrif Insig aan te bring toe sy in 2006, skaars dertig, die pos as redakteur oorgeneem het nie. In die hoogs mededingende tydskrifbedryf, die toename in lesers wat aanlynkopie lees en ’n gevolglike afname in sirkulasiesyfers, het Insig in Julie 2007 sy deure gesluit.

Izelle het hierna by Huisgenoot, YOU en DRUM as leefstylredakteur aangesluit. In 2011 is sy in die pos as hoofredakteur van Media24 se vlagskip-weektydskrifte, Huisgenoot, YOU en DRUM aangestel. Vir Izelle was dit nog altyd ’n voorreg om werk te kan doen wat jou uitdaag om gemeenskappe te vorm en inhoud te skep wat werklik ’n verskil maak. By die tydskrifte het sy altyd gepoog om nie net die lesers in te lig nie, maar ook te inspireer en te vermaak. Sy het hierdie selfde doelwit voor oë met die loopbaanskuif wat sy in 2016 gemaak het.

In Maart 2016 het Izelle oorgeneem as kanaalhoof van Media24 se Afrikaanse leefstylkanaal, VIA. Al werk sy nou nie meer met ink op papier nie, bly die uitdagings om inhoud te skep in die leefstylgenre wat Afrikaanse kykers opgewonde sal maak oor hierdie televisiekanaal, groot.

Izelle, wat haar skoolloopbaan aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Braamfontein voltooi het, is getroud met Charl Bezuidenhout en hul twee seuntjies maak die gesin voltallig. Soos enige beroepsvrou is die grootste uitdaging vir Izelle om seker te maak haar gesin bly haar belangrikste prioriteit. Dit kort soms goeie beplanning om al die balle in die lug te hou.

Vir Izelle is dit besonder lekker om deel te wees van ’n proses waar Afrikaans sy staal kan wys as brugbouer en terselfdertyd die reeds bestaande diversiteit van sy sprekers beter omarm. Vir haar kom Afrikaans natuurlik, dis die grootste deel van haar lewe, en ook haar brood en botter. Afrikaans is nie iets waaroor sy poëties of nostalgies raak nie … trouens, dis so deel van haar dat sy nie objektief daarna kan kyk nie. Deur die lens van Afrikaans, kyk sy na die wêreld.