Irma Eloff

Irma Eloff: Irma maak ’n verskil

Om op die jong ouderdom van 39 jaar aangewys te word as die Universiteit van Pretoria (UP) se Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, wil nogal gedoen wees. Voeg daarby dat prof. Irma Eloff die eerste vroulike dekaan van hierdie fakulteit was en dit maak die prestasie soveel groter. Tog is Irma nie iemand wat hierdie prestasie kop toe gevat het nie. Met haar aanstelling in 2008, het sy bloot net ingespring en hard gewerk, sonder om haarself op die skouer te klop. Irma is in Port Elizabeth gebore maar het in Krugersdorp grootgeword. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.

Irma behaal haar BA-graad aan die Noordwes-Universiteit, met Engels en Sielkunde as hoofvakke. Hierna verwerf sy haar BEd (Psig) en MEd (Psig) -grade albei cum laude, by die Universiteit van Pretoria. In 1997 verwerf sy haar PhD by die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Irma het onmiddellik aanklank by die akademiese wêreld gevind en het bloot vir ’n kort tydperk as opvoedkundige sielkundige gepraktiseer voordat sy in ’n pos as tegniese assistent by Tukkies se Fakulteit Opvoedkunde aangestel is. Hier klim sy vinnig die leer na lektor, senior lektor, medeprofessor en professor, departementshoof en skoolvoorsitter.

Tussen 2001 en 2002 kry Irma die geleentheid om as ’n besoekende professor in die Departement van Sielkunde by Yale-universiteit in die VSA haar kennis te deel. Sy is ’n gegradeerde Nasionale Navorsingstigting-navorser en het al verskeie toekennings vir haar navorsing in opvoedkunde en opvoedkundige sielkunde ontvang. Sy gee ook lesings oor haar vakgebied op verskeie plekke in die wêreld. Irma het talle artikels in akademiese tydskrifte gepubliseer en het drie boeke oor lewensvaardighede, wat opvoedkundige sielkunde insluit, geskryf. As deel van haar akademiese pligte aan die Universiteit van Pretoria was sy by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke. ’n Navorsingsveld wat haar geweldig interesseer, is die impak wat MIV/vigs op ma’s en kinders het, en die Kgolo-Mmogo-projek fokus op sulke ma’s. In 2012 is sy in die kategorie Onderwys, as een van die drie Invloedrykste Vroue op Sakegebied en in die Regering in Suid-Afrika aangewys. Irma se termyn as Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde het na twee ampstermyne aan die einde van Mei 2016 tot ‘n einde gekom, maar sy bly aan as ’n vol professor.

Irma is ’n voormalige president van die Opvoedkunde-vereniging van Suid-Afrika, die huidige ondervoorsitter van die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en lid van die Academy of Science of South Africa (ASSAf).

Irma het haar man, Danie Eloff, tydens haar voorgraadse studiejare in Potchefstroom ontmoet. ’n Ware Potchefstroom-12-karaat diamant, noem sy hom. Hulle het twee seuns, Daniël en Rohann wat albei aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Irma se groot liefde is die Oos-Kaap en dis vir haar heerlik om tyd deur te bring in hul vakansiehuis in Kleinemonde, ’n kusdorpie naby Port Alfred. Sy hou van kosmaak en dis gewoonlik wanneer hulle daar op vakansie is wat die mansmense behoorlik met allerlei heerlike disse bederf word. Irma is ook ’n groot leser en verkies nog boeke van papier bo die elektroniese manier van boeklees.

Dis veral in die laaste tien jaar wat sy toenemend bewus geword het van die belangrikheid van Afrikaans, sê sy. Nadat sy op die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies is, het sy gesien watter belangrike en breë rol Afrikaans in die samelewing speel.

Van haar kant af skaar sy haar by diegene wat veg om die behoud van Afrikaans, naas Engels, as medium van onderrig by universiteite – tesame met die uitbouing van inheemse tale. Van een ding is sy egter seker: sover soos die mens se geskiedenis terug strek was een ding nog altyd waar en dit is dat indien jy iets probeer onderdruk, maak jy dit net sterker. So wat ook al mag gebeur, Afrikaans gaan sterker anderkant uitkom.