Hermann Giliomee

Hermann Giliomee: Historikus van Stilbaai

Professor Hermann Giliomee kan met reg sy plek as taalstryder vir Afrikaans tussen taalstryders soos Arnoldus Pannevis, Oom Lokomotief en Gustav Preller volstaan. Die professor is een van ywerige kampvegters om Afrikaans as voertaal by die Universiteit van Stellenbosch te behou.

Hermann Buhr Giliomee is in 1938 op Sterkstroom in die Oos-Kaap gebore. Hy het skoolgegaan in Porterville en daarna het hy geskiedenis gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.

Prof Hermann het een maal in ’n onderhoud gesê sy broer het op Hermann se vyftigste verjaarsdag gesê die mense maak ’n fout wanneer hulle sy politieke sieninge as links of regs wil groepeer; hy was sy hele lewe bloot dwars gewees. Tog reken hy dit is nie ’n geval van dwars wees nie, maar eerder waar ’n akademikus behoort te wees: marginaal en krities.

Dit was juis hierdie neiging om van die regering te verskil wat hom in die Apartheidsjare in onguns by die destydse establishment gebring het. Hy is in die sewentigerjare nie toegelaat om by sy alma mater, die Universiteit van Stellenbosch, klas te gee nie en was vir twee dekades lank by die Universiteit van Kaapstad werksaam.

Dit was juis daar op Ikeys wat hy die hartseer ervaar het van swart studente wat swaarkry omdat hulle nie in hul eie taal kon studeer nie, maar in die wêreldtaal, Engels. Daarom verstaan hy juis die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig, selfs op tersiêre vlak. Die wegwys by die Universiteit van Stellenbosch het hom nie verbitterd gemaak nie en hy het bloot besluit dat hy hulle verkeerd sou bewys. Meer as dertig jaar later voer hy steeds die stryd om die behoud van Afrikaans, veral by die Universiteit van Stellenbosch waar hy tans buitengewone professor in die Departement van Geskiedenis is.

Van 1995 tot 1997 was hy president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede. Hy is ook ’n geskiedskrywer van formaat en uit sy pen het ’n hele paar besonderse boeke verskyn waaronder die veelbekroonde Die Afrikaners: ’n Biografie waarvoor hy die Helgaard Steyn-prys vir Literatuur ontvang het. Dit was nie die enigste prys wat Hermann Giliomee in sy loopbaan ontvang het nie. ’n Besonderse toekenning was die NP van Wyk Louw-medalje wat hy in 2013 van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het. Hierdie medalje word driejaarliks toegeken en die Akademie het vermeld dat prof Giliomee die medalje ontvang het vir sy metodologies-wetenskaplike denke om nie geskiedenis aan allerhande teorieë of heersende idees te toets nie, maar om elke tydperk in die geskiedenis uit sy eie reg en in sy eie konteks te verstaan. Dit is iets wat Hermann Giliomee reg deur sy loopbaan gedoen het.

Die professor se liefde vir geskiedenis is kleintyd deur sy pa se interessante geskiedkundige vertellings geprikkel. Hy en sy vrou, Annette, wat eens as argitek gepraktiseer het, woon in ’n huis in Dalsig, Stellenbosch. Die huis kyk uit oor die dorp en vier skole en is in die sestigerjare deur Annette ontwerp.

Hermann Giliomee het altyd sy briewe aan die koerant onderteken met: “Historikus van Stilbaai”. Sy bydrae tot die behoud van Afrikaans word toenemend belangrik soos wat die taalstryd om die behoud van Afrikaans al hoe feller word.