Hendrik Theys

Hendrik Theys: Kliptjint in murg en been

Die boorlinge van die Noord-Kaap het afgesien van die wonderlike Afrikaans wat hulle praat, ook ’n besondere liefde vir hierdie droë en dorre gebied. Hendrik Theys, die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad, is geen uitsondering nie. Hy is gebore op Griekwastad, ’n klein dorpie sowat 150 kilometer wes van Kimberley. Sy ouers moes weens moeilike werksomstandighede ’n paar keer verhuis en hy het onder meer in Postmasburg en Kuruman gewoon, maar het in Vryburg aan die Hoërskool Colinda gematrikuleer. Daarna het hy ingeskryf vir ’n BA-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Dit was moeilike tye en die studente aan hierdie universiteit het in opstand gekom teen baie dinge, maar hulle was veral daarop gefokus om op selfbeskikking aan te dring. Al het daar twee jaar verlore gegaan, glo Hendrik dat dit die paadjie was wat hy moes stap en hy glo dit het bloot van hom ’n ryper mens gemaak. Nadat Hendrik in 1976 sy graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi het, behaal hy ’n BEd asook ’n HOD aan Unisa.

Daar het ’n paar jaar verloop, maar die jong man uit die Noord-Kaap het hom nie laat terughou nie en in 1990 behaal hy ’n doktoraat in Algemene Taalwetenskap aan die Rijksuniversiteit Utrecht in Nederland.

Hendrik se pad het al die jare deur die onderwys geloop en sy loopbaan het afgeskop as ’n Afrikaans-onderwyser by Hoërskool Modderdam in Bonteheuwel waar hy 14 jaar lank werksaam was. Dis vir hom heerlik wanneer hy soms op straat voorgekeer word deur een van die kinders wat in die 42 jaar wat hy in die onderwys is, voor hom in die klas gesit het.

Hendrik woon nou al 40 jaar in die Kaap, maar hy verwys steeds na homself as ’n Noord-Kaapse kliptjint in murg en been. Dis ook waarom hy vir hom ’n nooi in die Noord-Kaap gaan haal het voordat hy hom in die Kaap gevestig het. Hy en Susan het drie kinders, twee seuns en ’n dogter en daar is al sewe kleinkinders wat besonder na aan hierdie oupa se hart lê.

Daar is nie baie tyd vir enige stokperdjies nie, want die Afrikaanse taal hou hom geweldig besig. Nie alleen is hy die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad nie, maar hy is ook ’n trusteelid van SBA (Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans). Hy het ook ’n tyd lank as raadslid op PANSAT gedien en was twee termyne lid van die Wes-Kaapse Taalkomitee. Soms kry hy darem ook die geleentheid om ’n bietjie gholf te speel of met ’n boek te ontspan.

Elke jaar in September neem Hendrik sy studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie na ’n sendingstasie toe om daar opnames van die stories van die mense en die wyshede van die oumense, te maak. Van sy groepe het al na Namibië gereis om daar die Bastergemeenskap se stories op te teken. Dis altyd heerlik om te sien hoe Afrikaans eiesoortig is van plek tot plek.

In ’n televisiegesprek het Hendrik dit eenmaal so mooi gestel: Enige taal wat jou help om jou drome te verwesenlik is ’n skat vir die land. As jong seuntjie in ’n dorp, soos hy sê, waar die enigste Engelse woord wat hulle geken het, die woord stop op die stopteken was, kon hy in Afrikaans droom en het hy hard gewerk om die drome waar te maak. Nou sal hy wil sien dat ander jongmense wat in Afrikaans droom, ook daardie voorreg moet hê. Om dit reg te kry, is dit noodsaaklik dat Afrikaans sy hoër funksies behou, sê Hendrik.