Gielie Hoffmann: Geestelike veerkragtigheid is sy forte

Aangename kennis

Gielie Hoffmann se grootwordjare in ’n gesonde plaasgemeenskap het hom as mens help vorm. Op die plaas Hofdal, Knoppieslaagte naby Centurion, het hy as vierde generasie Hoffmann sy eerste tree gegee. Na sy studies aan die Universiteit van Pretoria het Gielie vir twee jaar gaan skoolhou voordat hy besluit het om met die kennis wat hy opgedoen het ’n nuwe rigting in te slaan. Tans is hy ’n lewensafrigter en geestesbreier wat met top atlete en sportspanne werk. Hy tree ook op as leierskapskonsultant in die onderwysomgewing en as ’n mentor vir kreatiewe persone wat meer produktief wil wees. Gielie is opgewonde om deel te wees van ’n groep jong mense wat verandering in ons land teweeg wil bring. Die dinge wat Gielie opgewonde maak, is ’n mooi sonsondergang, ’n suksesvolle Blou Bulle-seisoen, ’n stoep met stilte, spasie, bome, ’n bries en ’n uitsig, kreatiwiteit in al sy vorme en tyd saam met mense vir wie hy lief is. Gielie is besonder woordvaardig en in sy rubrieke vir Netwerk 24 skryf hy sy verlede met kleurvolle beelde oop. Sy boek #TheToughAthlete, oor geestelike veerkragtigheid, is beskikbaar op Amazon.com. Hy geniet lang staptogte en erken ’n streep hedonisme wat hom al die lekker dinge soos goeie kos en wyn, kuns en musiek, voluit laat geniet.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Gemaklik, lewendig, kleurvol, dinamies en onuitputbaar, sê Gielie.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Gielie verwoord sy diepste emosie in Afrikaans met sy rubrieke en sosiale kommentaar. Hy verbeel hom ’n beter môre in Afrikaans. Afrikaans is vir hom die taal van versoening. Deur Afrikaans bou hy ’n beter Suid-Afrika.

Sy projek:

In die rubrieke wat Gielie vir Netwerk24 skryf, deel hy sy standpunt oor ’n verskeidenheid onderwerpe of loop hy dikwels op sy voetspore terug. Gielie hoop om rubrieke in ’n bundel te publiseer. Hy doen ook baie leierontwikkeling en werk nou saam met die ATKV om hierdie leierontwikkeling landwyd in Afrikaans te doen. Hy geniet dit om jong Afrikaanses in moeilike en veranderde tye te oriënteer. Gielie bestuur ’n opwindende fotografie-projek, #DisMySuidAfrika, op Instagram in Afrikaans. Daarmee poog hy om die kleinste oomblikke vol van groot waarhede vas te vang.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan gielie@gieliehoffmann.co.za
Instagram: @gieliehoffmann
Twitter: @gieliehoffmann
Facebook: https://www.facebook.com/gielie.hoffmann?fref=ts