Flip Buys

Flip Buys: Die krag agter Solidariteit

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging se wortels lê in die rooi grond van die Noordwes. Hy het grootgeword op Tweebosch, die eertydse familieplaas naby Delareyville. Na sy matriek aan Hoërskool Sannieshof, begin Flip met sy studies in Potchefstroom by die universiteit wat toe as die PU vir CHO bekendgestaan het. In 1988 behaal hy ’n graad in Kommunikasiekunde met Staatsleer as sy ander hoofvak. In 1992 verwerf hy ’n honneursgraad in Arbeidsverhoudinge aan die RAU, nou die Universiteit van Johannesburg. Tydens sy studiejare in Potchefstroom was hy lid van die studenteraad, voorsitter van die skaakklub, ondervoorsitter van die sendingdiensorganisasie, Hulpprojek, en redakteur van die meningstydskrif Perspektief. Flip het ook later kursusse in Politieke Ekonomie by Wits en Projekbestuur by die NWU gevolg.

Flip se heel eerste aanstelling was by Eskom as Hoof van Arbeidsverhoudinge en Kommunikasie by die Matimbakragstasie. Hierna skuif hy na die Mynwerkersunie (MWU) wat onder sy leierskap tot die vakbond Solidariteit omskep is. Met visioenêre leierskap het Flip voorgeloop en die vakbond uiteindelik herontwerp as die Solidariteit Beweging. Die beweging bestaan uit ’n “familie” van 18 organisasies en dit verteenwoordig 350 000 gesinne. Die doel van die beweging is om ’n toekoms te help skep waarin die Afrikaanse gemeenskap vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan. Vir Flip lê die grootste werksbevrediging daarin wanneer hy sien dat die beweging ’n praktiese verskil in mense se lewens maak.

Flip dien sedert 2015 as raadslid van die Noordwes-Universiteit. Hy is ook ’n trustee van die Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Flip is ’n direkteur van die FAK en die Rapport Onderwysfonds, die Helpende Hand en Pretoria FM. Hy is ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; lid van FNB Kommersieel se Adviesraad vir Gauteng-Noord; direkteur van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy; direkteur (alt) van die Rand Mutual Versekeringsmaatskappy en direkteur (alt) van die Erfenisstigting.

Flip is getroud met Melanie en die egpaar het drie dogters en ’n seun. Bernard en Janke werk al, Nina is ’n student by die NWU in Potchefstroom en Marli is in die hoërskool. Die gesin kuier graag saam om ’n braaivleisvuur. Flip is ook ’n kranige skaakspeler wat op skool provinsiale kleure in skaak verwerf het. Hy het ook al die geleentheid gehad om vriendskaplik teen die Rus Garry Kasparov, skaak te speel. Sy droom is dat daar ’n Afrikaanse skaakopening ontwikkel word wat vergelyk kan word met die van die Russiese, Hollandse of Franse openinge.

Dit is nie bloot net die Solidariteit Beweging wat hard veg vir Afrikaans se regte nie. Flip is ook hartstogtelik lief vir die taal. Dit maak hom warm onder die kraag wanneer iemand vra hoekom hy Afrikaans in ’n demokratiese land wil bevorder. Hy glo vas elke Afrikaanssprekende het die reg om die taal op ’n positiewe en opbouende manier te bevorder sonder om enige ander taal af te kraak. Hy gun elke ander taalgroep hierdie selfde voorreg.

“Kleintyd was dit nie vir my ʼn bewustelike besluit om lief te word vir Afrikaans nie. Dit was déél van my ‒ rondom my ‒ soos die grond en die gras en die geskiedenis. Soos water deel is van ʼn vis se bestaan en gelyktydig ʼn bestaansvoorwaarde is, so is Afrikaans vir my onafskeidbaar deel van wie en wat ek is. Dis die water waarin en waardeur ek leef, en die lewensasem wat ons moet deel – ook met nie-Afrikaanse mense. Ek glo almal moet kan deel in die vreugde van die Afrikaanse sonskyn,” sê Flip.