Eric Wasserman

Eric Wasserman: Gee terug

Genoeg is genoeg, het Eric Wasserman in Februarie 2015 besluit en uit sy pos as Hoof Finansiële Beampte van die Absa Groep se Finansiële Dienste Besigheidseenheid bedank. Die vermoeiende daaglikse gependel op die besige N1-snelweg tussen Johannesburg en Pretoria was een van die redes waarom hy hierdie besluit geneem het. Hy wou ook graag so ’n bietjie meer tyd gehad het om ander dinge te doen, en veral om ’n bietjie terug te gee in die gemeenskap. Eric is een van die trustees van die Dagbreek Trust. Hy het in Pretoria grootgeword en aan Hoërskool Eldoraigne gematrikuleer waar die skrander student vyf onderskeidings in matriek behaal het. In 1982 behaal hy die BCom (Rek)-graad cum laude aan die Universiteit van Pretoria. In 1983 verwerf hy ’n Honneursgraad in Rekeningkunde sowel as ’n sertifikaat in die Teorie van Rekeningkunde. Hy slaag die Raadseksamen in 1984 en voltooi in 1988 sy klerkskap by Ernest & Young. In 2001 word ’n diploma in Gevorderde Bankwese aan hom toegeken deur die Randse Afrikaanse Universiteit, tans UJ.

Eric se loopbaan het hom op interessante paaie geneem. Hy sluit hom in Oktober 1989 aan by die SAL as ’n finansiële adviseur met die verantwoordelikheid om die SAL voor te berei vir kommersialisering. Daar was baie min kundigheid en dit het harde werk gekos om alles in plek te kry sodat privatisering kon gebeur. Eric het mettertyd besef privatisering is nie meer deel van die beplanning nie weens politieke redes en hy het in Desember 1997 besluit om aan te beweeg na ’n volgende uitdaging. Eric word aangestel as die finansiële direkteur van die World Travel- reisondernemings wat deel was van die Genfoods-groep. In November 1999 word dit oorgekoop deur die Bidvest Groep en hy word kort daarna as die Besturende Direkteur van World Travel (Edms) Bpk (Insluitend Gentravel), aangestel.

In September 2000 skuif hy na Absa as Hoofbestuurder: Groepsfinansies. Hier is hy telkens na ’n nuwe posvlak bevorder totdat hy in Januarie 2011 as die Hoof Finansiële Beampte van die Groep se Finansiële Dienste aangestel word. Vanaf 2007 is hy ook trustee van Absa Pensioenfonds en direkteur van nege Absa-filiale, insluitend lewens- en korttermyn-versekeringsmaatskappye in Suid-Afrika en die res van Afrika asook bate- en fondsbestuursentiteite in Suid-Afrika. Wanneer Eric nou na sy loopbaan terugkyk, sonder hy die tydperk by Absa uit as die hoogtepunt. Dit was ’n hoogs mededingende bedryf en hy moes ook op die voorvoet wees van tegnologie om in die globale omgewing werksaam te wees en dit het dit so interessant gemaak.

Eric en sy vrou Giesela woon in Midstream en hulle het drie dogters, elk met hul eie gesin en daar is al drie kleinkinders. Vir hom lê die vreugde van kleinkinders daarin dat jy al die voordele kan geniet van die onvoorwaardelike liefde wat die kleinkinders betoon, sonder om met die verantwoordelikhede van ouerskap te sit. Hy en Giesela hou baie van die natuur en van kampeer en wanneer daar kans is vat hulle die pad na bestemmings soos die Kgalagadi Oorgrenspark, die Caprivi, Zambië, Namibië en Botswana. Eric betreur die feit dat soveel Afrikaanssprekendes besluit om eerder hul kinders na Engelse skole te stuur. Die belangrikheid van moedertaalonderrig is tog al deur en deur wetenskaplik bewys. “’n Mens kan nie na taal in isolasie kyk nie en Afrikaans is vir my meer as net ’n taal. Dit is ook my identiteit en my kultuur en daarom is Afrikaans vir my so belangrik. Koester ons taal,” sê hy.