Elsje van Jaarsveld: Gebore met ʼn neus vir nuus en aktualiteit

Aangename kennis

Met ʼn onuitputlike nuuskierigheid oor hoe die wêreld werk, kon Elsje van Jaarsveld nie ʼn beter beroep as die van radio-omroeper gekies het nie. Reeds in haar skooljare in Brits, het sy ywerig deelgeneem aan redenaarskompetisies en met ʼn bietjie hulp, haar toesprake geskryf. Na skool is sy opgelei as ʼn haarkapper maar uiteindelik geweet sy wil graag nuusgebeure en interessanthede met mense deel. Sy het ʼn B.Komm-graad in Kommunikasiewetenskap aan die Noordwes-Universiteit behaal. Hierna het sy ʼn aanstelling as handelsmerkbestuurder by die landboumaatskappy, MGK, tans Obaro, gekry. Met ʼn pos as verkoper by kykNET se Ontbytsake, het sy haar voet in die deur gekry in die televisiebedryf. Sy het ook ʼn stemtoets by Pretoria FM geslaag en daar as joernalis begin werk. Elsje het ʼn ruk lank nuusbulletins vir E-nuus geskryf, maar daarvan bly droom om self uit te saai. In 2015 het Pretoria FM haar ʼn pos as omroeper aangebied. Intussen het Elsje ook ʼn honneursgraad in sakebestuur met spesialisasie in markrisikobestuur aan Unisa voltooi. Sy is getroud met Barend, ʼn ingenieur en die twee woon in Centurion.

Vyf kitsfeite oor Elsje

  • In 2006 was sy deel van Span Suid-Afrika wat in Los Angeles aan die Championship of Performing Arts gaan deelneem het.
  • Haar beagle, Gabby, is tans die enigste kind in die huis.
  • Sy hou steeds daarvan om bruide mooi te maak vir hulle troudag en doen bruide se hare op ʼn deeltydse basis.
  • Sy is ʼn avonturier wat hou van rekspronge, boomtoptoere en om impulsief, sonder enige vaste reisplan, die vreemde in te vaar.
  • In haar oggendprogram gesels sy weekliks met iemand by ʼn diereskuiling en daar word dikwels ʼn tuiste vir een van die honde by die skuiling gevind. By die 2018 Liberty-Radiotoekennings is haar program as die beste gemeenskapsprojek aangewys.

Elsje oor Afrikaans

Haar liefde vir Afrikaans is in haar ouerhuis gekweek. Afrikaans onderstreep alles wat sy is en uitleef: Kuns tot besigheid, reis tot dans. Dis die taal waarin sy die wêreld verstaan.

Haar projek

Elsje is die aanbieder van Kontreikuier op Pretoria FM, ʼn laatoggend kuierprogram propvol lekker musiek, boekresensies en interessante gesprekke. Sy hou daarvan om met uitskieters te gesels of mense wat een of ander persoonlike uitdaging oorkom het. Vir Elsje is dit heerlik om haar, as deel van Pretoria FM se span omroepers, vir die bevordering van Afrikaans op vele vlakke – sosiaal, kultureel en godsdienstig – te beywer.

Maak kontak: Stuur ʼn e-pos aan elsjevj@gmail.com

Volg haar op Facebook: https://web.facebook.com/elsje.walt

Twitter: @elsjevj

ʼn Reeks van haar sakegesprekke, Hoe om te wen in besigheid, is in boekformaat deur Carpe Diem-Uitgewers uitgegee. Lees meer daaroor by: https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-hoe-om-te-wen-in-besigheid/