Elize Parker: Afrikaans is vervullend

Aangename kennis

Om te skryf, is vir Elize Parker soos asemhaal. Hierdie joernalis en skrywer van romantiese en geestelike fiksie se wortels lê in Bloemfontein waar sy aan Meisieskool Oranje gematrikuleer het. Alhoewel sy ’n loopbaan in die regte oorweeg het, het sy gou van plan verander toe een van haar verhale in haar eerste jaar gekeur is om in die tydskrif Sarie te verskyn. Daar en dan het sy besluit om op geen ander manier as met woorde haar brood en botter te verdien nie. Elize het onder meer klas gegee in joernalistiek, by Die Transvaler sowel as twee gemeenskapskoerante gewerk en as vryskutjoernalis vir verskeie tydskrifte geskryf. Sy was ook lank by Sarie en Lééf met hart en siel verbonde as joernalis en boeke- en verhaleredakteur. Aan die begin van 2016 het sy haar woonplek in die Kaap vir Nelspruit verruil en tans is sy omgewingsjoernalis by Die Laevelder. Vir Elize is dit belangrik om op hierdie manier aktief te help om God se skepping te bewaar. Elize is die ma van twee volwasse dogters, Ruby en Edyth. Sy is ’n ywerige leser van nie-fiksie en ook ’n rugby-entoesias. Sy is dolgelukkig iewers in die natuur of aan’t snuffel na ’n skaars en besonderse plantsoort, soos die Impalalelie.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Haar Afrikaans is liries en vol nuwerwetse nuutskeppings, veral oor die liefde. In haar artikels skryf sy ook vernuwend deur woorde te soek vir Engelse begrippe in die velde waaroor sy skryf.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Elize koop Afrikaanse boeke, ondersteun die teater en bied ook skryfwerkswinkels aan. Sedert 1998 probeer sy om elke jaar een nuwe Afrikaanse skrywer te ontwikkel.

Haar projek:

Elize is al 36 jaar besig met die skryf van boeke, artikels, essays en nou ook blogs. Haar boeke sluit liefdesverhale, familiesages, Christelike fiksie en ’n tienerroman in. Sy het ook verskeie bundels met dagstukkies geskryf en die nuutste boek met dagstukkies, Hartsgebede – Beloftes vir die Siel is in Februarie 2016 gepubliseer. Wanneer moontlik, bied sy werkswinkels aan om nuwe skrywers riglyne te gee rakende die skryf van tydskrifverhale. Sy is ook al vier jaar lank troostante in haar verhoudingskolom Liewe Elize, in die tydskrif Huisgenoot.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan elize.parker1@gmail.com
Besoek: http://lowvelder.co.za/344554/liesbet-van-die-laeveld-die-dag-toe-die-girl-een-van-die-manne-geword-het/